Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w83 1/1 bl. 8-11
  • Jy kan daardie swakhede te bowe kom

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Jy kan daardie swakhede te bowe kom
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Godgegewe hulpmiddels
  • Waarom moeiliker?
  • Alkoholmisbruik
  • Tabakverslawing
  • Masturbasie
  • Bly by Bybelstandaarde
  • Aanvaar God se hulp om verborge foute te bowe te kom
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
  • Hoe kan ek die masturbasiegewoonte oorkom?
    Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk, Deel 1
  • Wat is God se beskouing van rook?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2014
  • Hou alkohol op sy plek
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2010
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
w83 1/1 bl. 8-11

Jy kan daardie swakhede te bowe kom

DIT lyk asof daar veral drie probleme is waardeur hedendaagse jongmense sowel as baie volwassenes geteister word. Wat is dit? Alkoholisme, die rookgewoonte en masturbasie (ook bekend as selfbevlekking of outo-erotisme).

Hierdie gewoontes behaag die gevalle vlees, en die hedendaagse milieu maak dit veral moeilik om hulle te bowe te kom. Sterk drank en sigarette word byvoorbeeld wyd en syd op aanloklike wyse geadverteer. Erotiese neigings word versterk deur ’n vloedgolf pornografiese lektuur, rolprente en televisieprogramme. Maar dit beteken nie dat hierdie probleme of swakhede nie te bowe gekom kan word nie.

Godgegewe hulpmiddels

In hierdie verband is dit nuttig om die voorbeeld van die apostel Paulus te beskou. Al was hy ’n Christenapostel, het hy erken dat hy in gebreke gebly het om die dinge te doen wat hy wou doen en dat hy die dinge gedoen het wat hy nie wou doen nie (Romeine 7:14-26). Maar hy het ook gesê: “Ek kasty my liggaam en maak dit diensbaar, dat ek nie miskien, terwyl ek vir ander gepreek het, self verwerplik sou wees nie” (1 Korinthiërs 9:27). Trouens, hy kon vir sy mede-Jode sê: “Broeders, ek het met ’n volkome goeie gewete voor God gewandel tot op hierdie dag.”—Handelinge 23:1; 22:3.

Watter Godgegewe hulpmiddels is daar om ons te help om ‘ons liggame te kasty’? Wat kan ons help om ‘met ’n volkome goeie gewete te wandel’ ten opsigte van swakhede soos alkoholisme, die verslawing aan tabak en masturbasie?

God se Woord, die Heilige Bybel, is een onontbeerlike hulp. Gereelde, ja, daaglikse Skriflesing, veral van gedeeltes soos die Psalms, die boek Spreuke en die Christelike Griekse Skrifte, kan ’n groot hulp wees. Dit is waar dat ‘die mens nie van brood alleen lewe nie, maar van die waarhede wat deur die mond van God uitgaan’ en in Sy Woord, die Heilige Skrif, aangetref word.—Mattheüs 4:4.

Ons put geestelike krag uit die lees van God se Woord en Christelike publikasies wat ons help om dit te verstaan en toe te pas. Dit gee ons ’n beter begrip van wat ons Skepper, Jehovah God, behaag. Daarbenewens spoor die regverdige voorskrifte en waarskuwende voorbeelde wat in God se Woord opgeteken staan, ons aan om te doen wat reg is. Ons word sodoende gehelp om dinge wat goed en reg is lief te hê en te doen, terwyl ons dinge wat sleg of boos is, haat, ja, verafsku.—Psalm 97:10; Romeine 12:9.

Gebed tot God is nog ’n groot hulp. Christene het al keer op keer getuig hoedat gebed hulle gehelp het om teen hulle swakhede te stry. Dit was die geval met een Christin wat dit moeilik gevind het om met die rookgewoonte te breek. Nadat sy ’n mooi Bybellesing oor gebed gehoor het, het sy huis toe gegaan en opreg tot Jehovah God gebid om haar te help om met die gewoonte te breek. Van toe af het dit haar nie meer gepla nie (Filippense 4:6, 7). Wanneer ons God in alle opregtheid vra om ons te vergewe omdat ons op die een of ander gebied oortree het, kry ons verligting en help dit ons om van nuuts af in die stryd te tree.

God se heilige gees, of werkende krag, is ook ’n hulp. Dit is aan ons beskikbaar as ons daarvoor bid. Jesus het gesê: “As julle dan wat sleg is, weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal die hemelse Vader die Heilige Gees gee aan die wat Hom bid?” Daardie heilige gees is ’n sterk krag (Lukas 11:13; Sagaria 4:6). As ons ons daardeur laat lei, sal dit ons help, want die vrug van die gees sluit selfbeheersing in, iets wat onontbeerlik is om hardnekkige probleme die hoof te bied.—Galasiërs 5:22.

Ryp Christene kan ook ’n bron van hulp wees. Dit is veral waar van diegene met geestelike hoedanighede, soos die ouere manne van die gemeente. As ons ’n ouere man in ons vertroue neem, kan dit ons baie help in ons stryd. Maar ander kan ook help. Die “ou vroue” kan jonger vroue help (Titus 2:3-5). ’n Afgetrede verpleegster wat haar hele lewe lank straf gerook het, het haar byvoorbeeld voorgeneem om op te hou rook sodat sy gedoop kon word. Sy het ’n datum bepaal en vir haar intieme Christenmetgeselle van haar besluit vertel. Elke dag het een van hierdie medegelowiges haar toe gebel of besoek om morele ondersteuning te gee. Die gevolg was dat sy teen die einde van die week haar begeerte na sigarette heeltemal te bowe gekom het.

Ons het dus vier basiese hulpmiddele bespreek: (1) ons moet God se Woord, asook Christelike lektuur, lees en bestudeer; (2)  ons moet volhard in die gebed; (3) ons moet ons deur God se heilige gees laat lei; en (4) ons moet die hulp van ryp Christene inroep. Op hierdie maniere is ’n mag der menigte persone al gehelp in hulle stryd om swakhede te bowe te kom. Maar party het ’n veel groter stryd om swakhede te bowe te kom as ander. Is daar nog hulpmiddele wat hulle nuttig kan gebruik?

Waarom moeiliker?

Waarom vind party dit moeiliker as ander om sekere swakhede te bowe te kom? Geestelike onvolwassenheid speel ongetwyfeld ’n rol. Enigeen wat in gebreke bly om die gemelde hulpmiddele te gebruik, of wat dit sommer onverskillig gebruik, sal dit ongetwyfeld moeiliker vind om sy swakhede te bowe te kom.

Herkoms is nog ’n faktor. Party het skynbaar sekere swakhede van hulle ouers, of selfs van hulle grootouers, geërf net soos ’n mens vir ’n sekere kwaal, soos suikersiekte, vatbaar kan wees. Wat swakhede betref, wil dit dus voorkom of ‘die vaders groen druiwe geëet het en die tande van die kinders stomp geword het’.—Esegiel 18:2.

Nog iets wat ’n rol speel, is hoe dikwels of hoe ywerig ’n persoon ’n ongewenste weg bewandel het. Dit het ’n groot invloed op die graad van sy verslawing daaraan. Ter toeligting: ’n Persoon wat slegs ’n halwe pakkie sigarette per dag rook, sal dit waarskynlik makliker vind om met die gewoonte te breek as ’n strawwe roker wat drie pakkies per dag rook.

Die milieu kan ook ’n invloed op die probleem hê. Byvoorbeeld, ’n vrou wil dalk ophou rook, maar haar man en tienderjarige kinders rook almal. Dit sal vir haar baie moeiliker wees om met die gewoonte te breek as vir ’n vrou wie se gesin nie rook nie. As ’n persoon eweneens die gewoonte gehad het om onrein gedagtes te koester voordat hy kennis van die Bybel verkry het, sal dit vir hom moeiliker wees om gehoorsaam te wees aan die opdrag in Filippense 4:8 om edel gedagtes te koester, veral as hy sekulêre werk moet doen onder persone wie se gesprekke sinlik is.

Alkoholmisbruik

Watter ander benadering kan gebruik word deur ’n persoon wat oënskynlik ’n feitlik onoorkoomlike probleem met sy swakheid het? Dit is die sogenaamde somatiese benadering. Dit kan beskryf word as die teenoorgestelde van die psigosomatiese beginsel. Volgens die psigosomatiese beginsel is die liggaam en die gemoed een en daarom beïnvloed die gemoed en die emosies (die psige) die liggaam (die soma). Maar die omgekeerde is ook waar; die toestand van die liggaam beïnvloed die gemoed. Kankerlyers ly gevolglik dikwels aan depressie. Sekere voedingkundiges beweer dus dat ’n persoon beter toegerus sal wees om sy dranksug te bowe te kom as hy sy fisiese gesondheid deur middel van behoorlike eetgewoontes verbeter.

In een eksperiment is daar vir rotte gewone water en water met alkohol in gegee. Party rotte het baie van die water met die alkohol in gedrink, ander het betreklik min gedrink en een rot het nooit daarvan gedrink nie. Toe die rotte kos gegee is wat baie vitamiene en minerale bevat het, het hulle oor die algemeen baie minder van die water met die alkohol in gedrink. Maar toe hulle kos gekry het met ’n groot gebrek aan noodsaaklike voedingstowwe, het al die rotte begin om groot hoeveelhede van die water met alkohol in te drink. Die proefnemers, wat ’n paar vermaarde mediese navorsers ingesluit het, het tot die gevolgtrekking gekom dat daar ’n bepaalde verband bestaan tussen die waarskynlikheid van alkoholverslawing en gebrekkige voeding; ook dat genetiese verskille die verklaring was waarom verskillende rotte verskillende hoeveelhede van die water met die alkohol in gedrink het.

Hierdie bevindinge het al goeie vrug afgewerp toe dit deur lede van die mediese professie gebrulk is in hulle behandeling van alkoholiste. Die geneeshere beklemtoon egter dat ’n persoon ’n opregte begeerte moet hê om alkoholverslawing te bowe te kom voordat die voedingsbenadering geslaag sal wees, want dit sal ’n fout wees om die morele aspek van alkoholisme te ignoreer. Hulle is dit nie eens met diegene wat voorgee dat alkoholisme bloot ’n mediese probleem is nie. Hulle sien ook nie die feit oor die hoof dat diegene wat aan alkohol verslaaf geraak het toerekenbaar of nalatig was nie, al het die genetiese faktor en gebrekkige voeding ook beslissende rolle gespeel.

Diegene wat godvrugtige lewens wil lei, stel veral belang in God se beskouing van alkoholmisbruik. Sy heilige Woord laat geen twyfel dat die onmatige gebruik van sterk drank vermy moet word deur diegene wat sy guns wil wegdra nie (Spreuke 23:29-36; 1 Korinthiërs 6:9, 10). Dit is ’n ongeëwenaarde aansporing om ’n swakheid van hierdie aard te bowe te kom.

Tabakverslawing

’n Sekere geneesheer was aan tabak verslaaf en het herhaaldelik probeer om met die gewoonte te breek. Maar hy het nie daarin geslaag nie totdat hy besluit het om ’n Christen te word. Dit was nie maklik om op te hou rook nie, maar ook nie te moeilik nie (2 Korinthiërs 7:1). ’n Ander geneesheer, die dokter se bloedbroer, het dieselfde probleem gehad. In sy geval het dit geweldige inspanning geverg om met die gewoonte te breek, aangesien hy ’n strawwe roker was. Hoewel hy eindelik daarin geslaag het, het hy gesê dat sy pogings om met die gewoonte te breek hom amper tot selfmoord gedryf het.

Party voedingkundiges beweer dat behoorlike voeding ’n persoon sal help om met die tabakgewoonte te breek. Hulle glo dat diegene wat aan tabak verslaaf is, dikwels slegte senuwees het, slegte bloedsomloop het of oorgewig is en dat die kanse beter is om die verslaafdheid te bowe te kom nadat hierdie probleme reggestel is.

In ’n ander somatiese benadering (bekend as “Een stap op ’n slag”) word sigarette met verskillende filters gerook. Die roker gebruik eers ’n filter wat 25 persent van die nikotien verwyder. Twee weke lank gebruik hy dan een wat 50 persent uithaal; daarna een wat 75 persent uithaal; en laastens een wat 90 persent uithaal. Daar word beweer dat ’n persoon daarna geen probleme behoort te ondervind om heeltemal op te hou rook nie.

Masturbasie

Nog ’n probleem wat baie kwel, veral jongmense, is masturbasie, selfbevlekking of outo-erotisme. Die Bybel verwys weliswaar nie by name na masturbasie nie. Maar aangesien dit gewoonlik met seksuele fantasieë gepaard gaan, word dit beslis veroordeel deur al die tekste wat sulke denke en dade verbied. Lees byvoorbeeld Romeine 13:14; Galasiërs 5:19, 24; Efesiërs 5:3-5; 1 Thessalonicense 4:3-5; 1 Petrus 2:11.

Dit is nie ons doel om die baie omstrede onderwerp van presies hoe skadelik masturbasie vir die liggaam kan wees hier te bespreek nie. Dit is nietemin van belang dat wyle Alexis Carrel, beroemde bioloog en Nobelpryswenner, in sy boek Man, the Unknown gesê het: “Dit is alom bekend dat ’n oormaat seks intellektuele bedrywigheid belemmer”, en dat selfbeheersing noodsaaklik is as ’n mens jou geestesvermoëns ten volle wil benut. Watter somatiese benadering kan hier op die proef gestel word?

Diegene wat hulle dikwels aan masturbasie skuldig maak, is baiekeer persone wat baie senuweeagtig van geaardheid is en aan slaaploosheid ly. Tot die mate dat hulle hulle fisiese gesondheid kan verbeter, hulle senuwees kan versterk en hulle slaapgewoontes kan verbeter, dermate sal hulle ook gehelp word om hulself op hierdie gebied te beheers.

Matige eetgewoontes is nog ’n groot hulp. Die Encyclopœdia Brittanica (uitgawe van 1959) sê onder die inskrywing “Geslagsdrifstremmers”: “Dit is belangrik om ’n dieet wat ryk is aan vleis en speserye, en veral sterk drank, te vermy.” Party sal heel waarskynlik nie met hierdie verklaring saamstem nie. Ongeag die argumente wat aangevoer word, sal dit ’n mens dalk help as jy hierdie somatiese benadering op die proef stel.

Bly by Bybelstandaarde

Mense vind dit vandag moeiliker as ooit om volgens die regverdige standaarde in die Bybel te lewe. Erflikheid en ’n persoon se agtergrond en milieu is ongetwyfeld faktore wat daartoe bydra. En die feit dat Satan die Duiwel en sy demone daarop uit is om die mensdom te verlei, moet nie oor die hoof gesien word nie (Openbaring 12:12). Maar met God se hulp en deur by Bybelstandaarde te bly, kan ’n persoon die Teëstander met welslae weerstaan.—Jakobus 4:7.

Die somatiese benadering het soms gehelp om alkoholisme, tabakverslawing en masturbasie die hoof te bied. Die vernaamste redmiddele is nietemin geestelike hulpmiddele, onder meer ’n studie van God se Woord en Christelike publikasies, volharding in die gebed, die invloed van Jehovah se heilige gees en die hulp van ryp Christene. Met sulke hulp kan angswekkende swakhede inderdaad te bowe gekom word.

[Venster op bladsy 11]

Voer jy ’n stryd?

Wat moet jy doen indien jy besef dat jy alkoholmisbruik, tabakverslawing af masturbasie die hoof moet bied? Kyk of jy een of meer van hierdie God gegewe hulpmiddels beter kan benut:

1. Lees God se Woord gereeld en put krag daaruit.

2. Bid daagliks tot God en soek vertroosting en hulp by hom.

3. Vra God om sy heilige gees of werkende krag.

4. Benut die hulp wat ryp Christene kan verleen.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel