Vermy steeds die strik van gierigheid
„Wees op julle hoede vir elke vorm van gierigheid, want ’n mens se lewe is nie afhanklik van die oorvloed van sy besittings nie.”—LUKAS 12:15, NAV.
1. Waarom is Paulus se waarskuwing teen gierigheid tydig?
ONS lewe in ’n wêreld wat materiële voorspoed aanbid. Handelsbelange voed gedurig die begeerte van mense om hulleself te verryk. Sukses word gewoonlik gemeet aan die grootte van die salaristjek. Daarom is die Bybel se talle waarskuwings teen gierigheid en die verwante euwel, begerigheid, tydig (Kolossense 3:5, vgl. NW; 1 Timotheüs 6:10). Volgens die woordeboek dui sowel gierigheid as begerigheid op „’n sterk begeerte na besittings en veral materiële besittings”. Gierigheid kan so ernstig soos hoerery of afgodediens wees, want Paulus het gewaarsku: „Ek [skryf] aan julle om nie om te gaan met iemand wat, al staan hy as ’n broeder bekend, ’n hoereerder is of ’n gierigaard of ’n afgodedienaar of ’n kwaadspreker of ’n dronkaard of ’n rower nie; met so iemand moet julle selfs nie saam eet nie.”—1 Korinthiërs 5:11; Efesiërs 5:3, 5.
2. Watter waarskuwings het Jesus en Jehovah ons teen begerigheid gegee?
2 Jesus het sy volgelinge gewaarsku: „Wees op julle hoede vir die hebsug” (Lukas 12:15). En Jehovah het selfs ’n gebod teen hierdie euwel by die Tien Gebooie ingesluit: „Jy mag nie jou naaste se huis begeer nie; jy mag nie jou naaste se vrou begeer nie, of sy dienskneg of sy diensmaagd, of sy os of sy esel of iets wat van jou naaste is nie.”—Exodus 20:17; Romeine 13:9.
Niemand kan ophou waak nie
3. Hoe is Eva en later die Israeliete deur gierigheid verstrik?
3 Die feit is dat niemand sy waaksaamheid teen gierigheid kan laat verslap nie. Toe Eva in die tuin van Eden gesondig het, was dit as gevolg van gierigheid: „Toe sien die vrou dat die boom goed was om van te eet en dat hy ’n lus was vir die oë, ja, ’n boom wat ’n mens kan begeer” (Genesis 3:6). By een geleentheid in die woestyn het die Israeliete afstootlike gierigheid getoon. Toe hulle gekla het dat hulle net manna het om te eet, en Jehovah vir hulle kwartels in oorvloed gestuur het, het hulle soos vrate gehandel en is hulle kwaai gestraf.—Numeri 11:4-6, 31-33.
4. Watter ander historiese voorbeelde lig die gevare van gierigheid toe?
4 Later, met die slag van Jerigo, was dit gierigheid wat Agan beweeg het om silwer en goud en ’n duur kledingstuk uit die buit van die stad te steel (Josua 7:20, 21). Gierigheid het Gehasi, Elisa se dienaar, gedring om geldelike voordeel uit die wonderdadige genesing van Naäman se melaatsheid te probeer verkry (2 Konings 5:20-27). Koning Agab was nog ’n gierigaard. Hy het toegelaat dat Isebel, sy heidense vrou, die dood van Nabot, sy buurman, bekonkel, sodat hy Nabot se wingerd in die hande kon kry (1 Konings 21:1-19). Ten slotte was daar Judas Iskariot, een van Jesus se intieme metgeselle, wat gierig sy posisie misbruik het deur uit die gemeenskaplike beurs te steel. En gierigheid het hom beweeg om Jesus vir 30 silwerstukke te verraai.—Mattheüs 26:14-16; Johannes 12:6.
5. Wat leer ons uit die ondervindinge van die verskillende soorte mense wat in die strik van gierigheid beland het?
5 AI daardie gierigaards is gestraf. Maar het jy opgemerk watter soort mense in die strik van gierigheid beland het? Eva was ’n volmaakte vrou wat in die Paradys gewoon het. Agan en die Israeliete het persoonlik Jehovah se wonderdade aanskou. Agab was ’n koning, miskien die rykste man in die land. Gehasi en Judas was geseën met ryk, geestelike omgang en groot diensvoorregte. En tog het hulle almal gierig geword. Dit blyk dus dat enigiemand—hoe ryk ook al, hoe groot ook al sy diensvoorreg en wat ook al sy ondervinding—in hierdie strik kan beland. Geen wonder dat Jesus gewaarsku het nie: „Wees op julle hoede vir die hebsug”!—Lukas 12:15.
6. Wat is nodig indien ons die strik van gierigheid wil vermy?
6 Maar hoe kan ons dit doen? Net deur selfbeheersing en voortdurende selfondersoek. Gierigheid begin in die hart. Om die strik van gierigheid te vermy, moet ons gedurig ons hart ondersoek om te kyk of ’n mate van gierigheid nie daar posvat nie. Die Bybel help ons om dit te doen. Hoe? Dit bevat byvoorbeeld Jesus en sy dissipels se kommentare oor gierigheid. Wanneer ons daardie kommentare ondersoek, kom ’n paar deurdringende vrae na vore wat ons onsself moet afvra om te bepaal of ons gierig is al dan nie.
Ondersoek jou beweegredes
7. Hoe help Jesus se antwoord aan die man wat by ’n geskil oor ’n erfenis betrokke was ons om onsself te ondersoek?
7 Jesus se waarskuwing teen die hebsug het voortgespruit uit ’n versoek deur een van sy toehoorders: „Meester, sê vir my broer dat hy die erfenis met my moet deel.” Jesus het geantwoord: „Mens, wie het My as ’n regter of deler oor julle aangestel?” (Lukas 12:13, 14). Daarop het hy teen die hebsug gewaarsku. Jesus wou nie betrokke raak by ’n twis oor materiële dinge nie, aangesien hy hier was om ’n belangrike geestelike taak te volbring (Johannes 18: 37). Maar hierdie gesprek bring indringende vrae na vore wat ons onsself kan afvra. Gestel ons het nie werklik gebrek gely nie, maar ons was van mening dat ons aanspraak gehad het op betwiste eiendom of rykdom, of op ’n betwiste erflating. Hoe hard sou ons stry om dit in die hande te kry? In watter mate sou ons ons diens aan Jehovah of ons verhouding met ons broers opoffer om te kry wat ons as ons regmatige eiendom beskou het?—Spreuke 20:21, NW; 1 Korinthiërs 6:7.
8. Hoe kan ons toon dat ons nie soos die Skrifgeleerdes is van wie Jesus in Lukas 20:46, 47 gepraat het nie?
8 Beskou nog ’n kommentaar van Jesus. Hy het sy volgelinge gewaarsku: „Pas op vir die Skrifgeleerdes . . . Hulle eet die huise van die weduwees op” (Lukas 20:46, 47). Wat ’n wrede manifestasie van gierigheid! Christene staan natuurlik onder verpligting om vir weduwees te sorg, nie op hulle te aas nie (Jakobus 1:27). Maar gestel jy het ’n weduwee geken wat ’n aansienlike bedrag aan versekeringsgeld ontvang het, en jy het dringend geld nodig gehad. Sou jou eerste gedagte wees om by die weduwee aan te klop omdat jy meen dat sy die maklikste oorreed sou kon word, of dat sy behoort te help omdat ,sy daar dik in sit’? Of sê nou jy het reeds geld geleen, en nou sukkel jy om dit terug te betaal. Sou jy voel dat jy maar voorlopig die weduwee se geld kon hou omdat sy ,nie moeilikheid sal maak nie’, of miskien omdat jy dink dat ,sy nie werklik die geld nodig het nie’? Ons moet versigtig wees dat ons nie beginsels verdraai wanneer ons voor geldelike probleme te staan kom nie.
9. Hoe kan ons in die strik beland om ,mense te vlei ter wille van voordeel’?
9 Judas het ook beskryf hoe gierigheid ons kan verstrik. Hy het van mense gepraat wat die Christengemeente binnegedring het en besig was om dit met hulle gierigheid en losbandigheid te verderf, mense wat „die enigste Heerser, God, en onse Here Jesus Christus verloën [het]” (Judas 4). Hulle het ook ,mense gevlei ter wille van voordeel’ (Judas 16). Ons wil nie so wees nie. Maar dink hieraan: Is ons geneig om liewer met welgestelde Christene om te gaan en nie soveel aandag aan die armes in die gemeente te skenk nie? Indien wel, kan dit wees dat ons hoop om op die een of ander manier voordeel daaruit te trek? (Vergelyk Handelinge 20:33; 1 Thessalonicense 2:5.) Is liefde die beweegrede wanneer ons aan verantwoordelike persone in die organisasie gasvryheid betoon, of hoop ons om sekere voorregte in ruil te ontvang? As laasgenoemde die geval is, is ons dalk ook besig om ,mense te vlei ter wille van voordeel’.
10. Op watter maniere is dit moontlik om geldelike wins te maak uit ons aanbidding van Jehovah? Wie se voorbeeld volg ons as ons dit doen
10 Een manifestasie van gierigheid wat Jesus erg ontstem het, was toe hy in die tempel gevind het „die wat beeste en skape en duiwe verkoop, en die geldwisselaars wat daar sit”. Ywer vir Jehovah se huis het hom beweeg om hulle uit die tempel te verdryf en uit te roep: „Moenie die huis van my Vader ’n handelshuis maak nie”! (Johannes 2:13-17). Het ons soortgelyke ywer? Dan kan ons onsself gerus afvra: Bespreek ek handelsake by die Koninkryksaal? Moedig ek sakeondernemings onder mede-Christene aan omdat dit vir hulle as my geestelike broers moeiliker is om nee te sê? Gebruik ek my baie vriende in die organisasie om my sakekontakte uit te brei? Dit betaam ons tog sekerlik nie om gierig munt te slaan uit ons verhouding met ons broers nie.
11. Watter Christelike beginsels help ons om die regte gesindheid te behou wanneer ons met mekaar sake doen?
11 Beteken dit dat Christene nooit met mekaar sake kan doen nie? Nee. Dit is net dat daar ’n tyd en plek vir saketransaksies is, en ’n ander tyd en plek vir aanbidding (Prediker 3:1). Maar wanneer Christene wel sakebetrekkinge aanknoop, moet hulle nie Bybelbeginsels vergeet nie. Wanneer ’n Christen ’n sakeooreenkoms aangaan, moet hy nie skuiwergate soek om sy morele verpligtinge te ontduik nie (Mattheüs 5: 37). En hy sal nie meedoënloos of wraaksugtig word as ’n onderneming misluk en hy geld verloor nie. Die apostel Paulus het vir die Korinthiërs geskryf: „Eintlik is julle saak al klaar verlore, omdat julle hofsake met mekaar het. Waarom ly julle nie liewer onreg nie? Waarom laat julle julle nie liewer te kort doen nie?” (1 Korinthiërs 6:7, NAV). Is jy bereid om, ter wille van die gemeente, liewer onreg te ly as hof toe te gaan?
12. Watter Bybelbeginsels sal sakemense help om die strik van gierigheid te vermy?
12 Enige Christen wat sake doen, moet baie versigtig wees. Vandag is baie sakepraktyke onverbiddelik, maar ’n Christen kan nie so optree nie. Hy moet nooit vergeet dat hy ’n dissipel van Christus is nie. Hy wil nie die reputasie hê dat hy oneerlik is of van slinkse metodes gebruik maak nie. (Vergelyk Spreuke 20:14; Jesaja 33:15.) En hy moet nooit Jesus se waarskuwing vergeet om nie van rykdom ’n god te maak, of Johannes se waarskuwing teen „die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe” nie (1 Johannes 2:16; Mattheüs 6:24). Kan jy, as ’n Christensakeman of -vrou, die versoeking weerstaan om jou op ander se gierigheid te beroep om jou verkope te bevorder? Sal jy misbruik maak van hulle ydelheid of trots om jou onderneming te stoot? Doen jy jou sekulêre werk op so ’n wyse dat jy nie skaam is om in jou gebede met Jehovah daaroor te praat nie?—Mattheüs 6:11; Filippense 4:6, 7.
13, 14. (a) Watter balans moet welgestelde Christene handhaaf ? En die wat nie welgesteld is nie? (b) Hoe help die gebed in Spreuke 30:8 ons om ’n redelike beskouing van rykdom te verkry?
13 Ten slotte, Paulus het aan Timotheüs geskryf: „Die wat ryk wil word, val in versoeking en strikke en baie dwase en skadelike begeerlikhede wat die mense laat wegsink in verderf en ondergang” (1 Timotheüs 6:9). Dit is nie ’n sonde om ryk te wees nie, hoewel rykdom sy eie probleme en versoekinge meebring (Mattheüs 19:24-26). Die gevaar is wanneer ’n mens „ryk wil word”. Een ouere man het byvoorbeeld gesê: „Die probleem ontstaan dikwels wanneer ’n man na sy ryk Christenbroer kyk en sê: ,Hoekom kan ek nie so wees nie?’”
14 Die Bybel vermaan: „Julle gedrag moet vry van geldgierigheid wees. Wees tevrede met wat julle het, want Hy het gesê: Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie” (Hebreërs 13:5). Beskou jy, as jy welgesteld is, jou rykdom as ’n gawe wat jy in Jehovah se diens kan gebruik? Jesus het by een geleentheid vir ’n ryk jong man gesê dat as hy hom wou volg, hy al sy rykdom sou moes weggee. Gestel Jesus het dit vir jou gesê. Sou jy liewer jou rykdom wou behou, of sou jy Jesus gevolg het? (Mattheüs 19:20-23). Kan jy, as jy nie ryk is nie, met jou lot genoeë neem? Kan jy die strik van begerigheid vermy? Is jy bereid om op Jehovah se belofte te vertrou: „Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie”?—Kyk ook Spreuke 30:8.
Wees ryk in God
15, 16. (a) Watter illustrasie het Jesus gebruik om sy raad oor die hebsug te ondersteun? (b) Wat was die basiese probleem van die man in Jesus se gelykenis?
15 Nadat Jesus sy hoorders gewaarsku het om ,op hulle hoede te wees teen die hebsug’, het hy vertel van ’n boer wie se grond besonder goed gedra het. Die man „het by homself geredeneer en gesê: Wat sal ek doen, want ek het geen plek waar ek my oes kan insamel nie? Toe sê hy: Dit sal ek doen: ek sal my skure afbreek en groter bou, en ek sal daar al my opbrengste en my goed insamel. En ek sal vir my siel sê: Siel, jy het baie goed wat weggesit is vir baie jare; neem rus, eet, drink, wees vrolik.” Maar daardie selfde nag het die man gesterf. AI daardie vergaarde rykdom het hom net mooi niks gehelp nie. Jesus het ten slotte gesê: „So gaan dit met hom wat vir homself skatte vergader en nie ryk is in God nie.”—Lukas 12:16-21.
16 Het die man enige duidelike sonde soos afpersing of diefstal gepleeg? Die gelykenis sê nie so nie. Hy het nietemin ’n probleem gehad. Hy het op sy rykdom vertrou vir ’n veilige toekoms en het iets belangrikers vergeet: om ,ryk te wees in God’. Dit is juis omdat ware Christene hulle verhouding met God die belangrikste saak in hulle lewe maak dat hulle die strik van gierigheid kan vermy en aldus geen deel van die wêreld is nie.—Johannes 17:16.
17. Hoe beskou ’n gebalanseerde Christen die probleem om ’n bestaan te maak?
17 Jesus het eenmaal gemaan: „Moet julle . . . nie kwel en sê: Wat sal ons eet, of wat sal ons drink, of wat sal ons aantrek nie? Want na al hierdie dinge soek die heidene” (Mattheüs 6:31, 32). Ons staan weliswaar almal voor dieselfde probleme as „die heidene”. Die meeste van ons moet hard werk om ’n bestaan te maak sodat ons die nodige voedsel, drank en klere kan koop (2 Thessalonicense 3:10-12). Maar ons laat nie toe dat hierdie dinge ons verhouding met God oorskadu nie.
18. Hoe sal vertroue op Jehovah ons help om die strik van gierigheid te vermy?
18 Jehovah is die bron van alle rykdom (Handelinge 14:15, 17). Hy het beloof om goed vir sy knegte te sorg. Jesus het gesê: „Julle hemelse Vader weet dat julle al hierdie dinge nodig het. Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word” (Mattheüs 6:32, 33; Psalm 37:25). Glo jy daardie belofte? Is jy daarvan oortuig dat Jehovah dit sal hou? Sal jy tevrede wees met wat Jehovah voorsien? In daardie geval sal jy die strik van gierigheid kan vermy (Kolossense 3:5). Jou diens aan Jehovah en jou verhouding met hom sal altyd die eerste plek beklee en jou hele lewenswyse sal blyk gee van jou geloof in hom.
Onthou jy?
◻ Watter soort mense word deur gierigheid geraak?
◻ Hoe kan ons teen gierigheid waak?
◻ Watter vorme kan gierigheid soms aanneem?
◻ Watter vrae help ons om te sien of ons die strik van gierigheid vermy of nie?
◻ Wat is ’n groot beskerming teen gierigheid?
[Lokteks op bladsy 19]
Wanneer Christene met mekaar sake doen, moet hulle nooit Bybelbeginsels vergeet nie