Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w90 2/15 bl. 4-7
  • Stel jou ’n wêreld sonder hebsug voor

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Stel jou ’n wêreld sonder hebsug voor
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Hebsug uit die weg geruim deur opleiding
  • Bybelwaarhede in aksie
  • ’n Hebsugvrye nuwe wêreld
  • “Die era van hebsug”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Vermy die strik van hebsug met welslae
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Vermy steeds die strik van gierigheid
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
  • Kry gierigheid jou soms in sy greep?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
w90 2/15 bl. 4-7

Stel jou ’n wêreld sonder hebsug voor

KAN jy jou ’n wêreld voorstel waar mense saamwerk eerder as meeding? Waar mense ander behandel soos hulle self behandel wil word? Dit is die kenmerke van ’n wêreld sonder hebsug. Wat ’n wonderlike wêreld sal dit tog wees! Sal dit ooit kom? Ja, dit sal. Maar hoe kan hebsug—wat so ingewortel is in die mensdom—uitgewis word?

Ons moet weet wat die oorsprong van hebsug is voor ons ’n antwoord op hierdie vraag kan kry. Die Bybel toon dat dit nie altyd ’n eienskap van die mens was nie. Die profeet Moses herinner ons dat daar oorspronklik geen gebrek soos hebsug in die eerste mens, die volmaakte skepping van ’n hebsugvrye Skepper, was nie: “Die Rots, volmaak is sy aktiwiteit, want al sy weë is geregtigheid.” Waar kom hebsug dan vandaan? Die eerste mensepaar het toegelaat dat dit in hulle ontwikkel—Eva, omdat sy hebsugtig uitgesien het na wat sy sou ontvang as sy die vrug sou eet wat God haar belet het, en Adam, omdat hy hebsugtig verkies het om nie sy pragtige vrou te verloor nie. Moses se verdere woorde was ook op Adam en Eva van toepassing: “Hulle het van hulle kant verderflik gehandel; hulle is nie sy kinders nie, die gebrek lê by hulleself.”—Deuteronomium 32:4, 5, NW; 1 Timotheüs 2:14.

Teen die tyd van die wêreldvloed van Noag se dag was hebsug en wellus so algemeen dat “die boosheid van die mens op die aarde groot was en al die versinsels wat hy in sy hart bedink, altyddeur net sleg was”.—Genesis 6:5.

Hierdie oorheersende hebsug in die mens het tot nou toe voortgeduur en blykbaar in vandag se ondankbare hebsugtige gemeenskap sy hoogtepunt bereik.

Hebsug uit die weg geruim deur opleiding

Net soos hebsug onder mense toegeneem het, so is die teenoorgestelde ook moontlik. Hebsug kan oorwin word. Maar hiervoor is behoorlike onderrigting en opleiding nodig, terwyl streng riglyne of gedragsreëls nagevolg word. Dit klink dalk geloofwaardig, maar wie kan daardie soort onderrigting gee en sorg dat die dinge wat geleer word, toegepas—en indien nodig selfs afgedwing—word?

Sulke onderrigting moet uit ’n bron kom wat self vry van hebsug is. Die persoon wat die opleiding gee, moet geen bedekte beweegredes hê of verwag om iets in ruil vir hierdie opleiding te kry nie. Daarby moet die waarde en uitvoerbaarheid van onselfsugtigheid geleer en gedemonstreer word. Die een wat onderrig word, moet oortuig word dat so ’n lewenswyse nie net moontlik is nie, maar dat dit die beste weg is, met voordele vir homself en diegene rondom hom.

Slegs die God van die hemel kan hierdie soort onderrigting voorsien, want watter mens of organisasie op aarde het die bevoegdhede en die agtergrond daarvoor? Alle mense word gediskwalifiseer op grond van hierdie Bybelse waarheid: “Almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God.”—Romeine 3:23.

Gelukkig voorsien Jehovah, die God van die hemel, sulke onderrigting in sy geskrewe leerboek, of handleiding, die Heilige Bybel. Sy Seun, Jesus Christus, het sulke onderrig gegee toe hy ’n mens op aarde was. Halfpad deur Jesus se beroemde Bergpredikasie het hy van ’n lewenswyse gepraat wat vir die meeste van sy hoorders vreemd geklink het, want dit het onselfsugtigheid selfs teenoor ’n mens se vyande of teenstanders behels. Jesus het gesê: “Julle moet julle vyande liefhê, en julle moet bid vir dié wat vir julle vervolg, sodat julle kinders kan wees van julle Vader in die hemel. Hy laat immers sy son opkom oor slegtes en goeies, en Hy laat reën oor dié wat reg doen en oor dié wat verkeerd doen. As julle net dié liefhet wat vir julle liefhet, watter loon kan julle dan nog verwag? Maak die tollenaars nie ook maar net so nie?”—Mattheüs 5:44-46, NAV.

’n Deel van Jesus se taak op aarde was om onselfsugtige onderrigters op te lei sodat hulle op hulle beurt ander in hierdie hebsugvrye lewenswyse kon oplei. ’n Ruk na Jesus se dood en opstanding het die apostel Paulus een van hierdie onderrigters geword. In etlike van sy geïnspireerde briewe beklemtoon Paulus dat hebsug uitgeroei moet word. Hy het byvoorbeeld aan die Efesiërs geskryf: “Hoerery en allerhande onreinheid of hebsug moet onder julle selfs nie genoem word nie, soos dit die heiliges betaam.”—Efesiërs 5:3.

Vandag leer Jehovah se Getuies mans en vroue op soortgelyke wyse om hebsugtige neigings te onderdruk. Hierdie persone word mettertyd ook bekwaam om uit te gaan en ander sulke godvrugtige weë te leer.

Bybelwaarhede in aksie

Maar jy vra dalk: ‘Kan onvolmaakte mense werklik hulle inherente hebsug uit hulle persoonlikhede uitwis?’ Ja, hulle kan. Natuurlik nie volkome nie, maar in ’n mate wat heel merkwaardig is. Kom ons beskou ’n voorbeeld hiervan.

’n Verstokte dief het in Spanje gewoon. Sy huis was vol gesteelde goedere. Toe het hy die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin bestudeer. Gevolglik het sy gewete hom begin pla en het hy besluit om die dinge wat hy gesteel het aan die eienaars terug te besorg. Hy het sy voormalige werkgewer genader en erken dat hy ’n nuwe wasmasjien by hom gesteel het. Die werkgewer was so beïndruk deur sy veranderde gesindheid dat hy besluit het om nie die polisie in kennis te stel nie maar die voormalige dief bloot toe te laat om vir die wasmasjien te betaal.

Daarna het die hervormde dief besluit om almal te besoek by wie hy kon onthou dat hy gesteel het en die gesteelde goedere terug te gee. Almal wat hy besoek het, het verbasing uitgespreek oor die feit dat hy sy gesindheid so verander het omdat hy Bybelbeginsels toegepas het.

Nou het hy voor ’n groot probleem te staan gekom. Hy het nie geweet wie die eienaars was van baie van die dinge wat hy nog gehad het nie. Nadat hy tot Jehovah gebid het, het hy dus na die polisiehoofkwartier gegaan en ses stereoradio’s oorhandig wat hy uit motors gesteel het. Die polisie was verbaas, want hy was nie op hulle strafregister nie. Hulle het besluit dat hy net ’n boete moet betaal en ’n kort tronkvonnis moet uitdien.

Hierdie voormalige dief het nou ’n skoon gewete omdat hy sy misdadige en hebsugtige lewe laat vaar het sodat hy ’n deel van die wêreldwye gemeente van Jehovah se Getuies kon word.

Duisende soortgelyke voorbeelde kan genoem word. Hoewel diegene wat sulke veranderinge in hulle lewe aangebring het ’n minderheid van die aarde se bevolking uitmaak, toon die feit dat baie dit gedoen het hoe kennis en die toepassing van Bybelbeginsels mense tot goeie dade kan aanspoor.

Met elke jaar wat verbygaan, gryp al hoe meer mense hierdie lewenswyse aan. Bybelonderrig word wêreldwyd in meer as 60 000 gemeentes van Jehovah se Getuies gegee. Die Getuies verwag nie om vandag die wêreld in sy geheel te verander en hebsug onder die miljarde wat nou leef uit te roei nie. Bybelprofesie toon nietemin dat ’n hebsugvrye lewenswyse binnekort aardwyd sal heers!

’n Hebsugvrye nuwe wêreld

In die komende nuwe wêreld sal daar geen plek vir hebsug en selfsug wees nie. Die apostel Petrus verseker ons dat geregtigheid nie net ’n kenmerk van die “nuwe hemele” sal wees nie, maar ook van die “nuwe aarde” (2 Petrus 3:13). Hebsug sal, saam met siekte, droefheid en selfs die dood, onder “die eerste dinge” tel wat verbygegaan het.—Openbaring 21:4.

As die toenemende hebsug en die selfsugtige lewenswyse wat vandag oral om ons gesien kan word jou ontstel, kan jy dus moed skep! Begin nou om vir die komende nuwe wêreld te lewe wat binnekort ’n werklikheid gaan wees. Probeer met God se hulp om hebsug uit jou eie lewe uit te roei. Begin om ander te help om die voordele te sien wat ’n Christelike lewenswyse tans inhou. Stel jou geloof en vertroue in Jehovah God se belofte dat hebsug binnekort onder al die onaangename dinge sal wees waaraan ‘nie gedink sal word en wat in die hart nie sal opkom nie’.—Jesaja 65:17.

[Prent op bladsy 5]

Jesus het van ’n lewenswyse gepraat wat onselfsugtigheid bevorder, nie hebsug nie

[Prent op bladsy 7]

Binnekort—’n wêreld sonder hebsug

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel