Eerlikheid maak hulle ook anders
SY HART het in sy skoene gesak toe hy die parkeerkaartjie onder die motor se ruitveër sien. Die boete was $25 (R50) en hy was ongelukkig omdat dit onregverdig was. Daar was geen tekens wat parkering verbied het nie. Wat nog erger was, was die feit dat hy van ver af was en nie kon bekostig om na die stad terug te keer om die saak te appeleer nie. Hy het dus foto’s van die omgewing geneem om te bewys dat daar nêrens tekens was wat parkering belet nie. En aangesien hy een van Jehovah se Getuies is, het hy ’n mede-Getuie gevra om namens hom in die verkeershof te verskyn.
Hier is sy vriend se verslag van wat daardie oggend in die hof plaasgevind het:
„Wanneer jy voor die regter verskyn, moet jy jou naam en adres verstrek. Dan word ’n eed van waarheid afgeneem. Voordat hulle my onder die eed gestel het, het die hofklerk, ’n bejaarde man, my versoek om my adres te herhaal. Toe ek sê: ,Columbia Heights 124’, het hy dit skynbaar herken as die adres van die wêreldhoofkwartier van die Wagtoringgenootskap en Jehovah se Getuies. Hy het hom tot die regter gewend en gesê: ,U hoef u dan nie te bekommer nie, u Edele. Hulle is goeie mense. Hulle lieg nie! Hulle lieg nooit nie! Hulle kan nie lieg nie! Hulle godsdiens laat dit nie toe nie en hulle hou streng daarby. Ek het nog nie een van hulle mans of selfs hulle vroue teëgekom wat ’n leuen vertel nie. Hulle is so eerlik soos kan kom. Ek weet van baie kere wanneer hulle ’n parkeerkaartjie kon vryspring deur net ’n wit leuentjie te vertel, maar hulle het geweier om dit te doen.’
„Toe het hy hom tot my gewend en gesê: ,Ek weet dat jy nie ’n leuen sal vertel nie, want jy weet wie dan in sy graf sal omdraai.’ ,Wie?’ het ek gevra. ,Die Regter, regter Rutherford [voormalige President van die Wagtoringgenootskap]’, het hy geantwoord. ,Ek was 47 jaar gelede sy posbode. Ek het Jehovah se Getuies geken voordat dit ’n groot organisasie was. Die Regter was ’n man duisend!’
„Hierna het die regter nie eers die moeite gedoen om my onder die eed te stel nie. Hy het my versoek om my saak te stel, en ek het dit gedoen. Sy uitspraak? ,Onskuldig.’”
Jehovah se Getuies ,wil hulle in alle dinge eerlik gedra’ (Hebreërs 13:18, NW). En hulle eerlikheid is een van die talle opsigte waarin hulle van die wêreld verskil.