Insig in die nuus
Kerke onder druk
„Die kwessie van homoseksualiteit is ’n turksvy vir godsdiensgroepe in Amerika”, sê The New York Times. „Hulle is onder druk van buite om hulle tradisionele vyandigheid te laat vaar en van binne om hulle teologie te hersien.” Onderliggende faktore agter die druk is die veranderende gesindhede teenoor seks en die bewering dat Bybelgedeeltes „verkeerd vertolk of selfs verkeerd vertaal is deur teenstanders van homoseksualiteit”. Kritici van die tradisionele vertolking sê byvoorbeeld dat die stad Sodom vernietig is weens sy gebrek aan gasvryheid, wat so belangrik was vir eertydse reisigers, en weens hulle poging om die besoekers te verkrag—nie weens homoseksuele dade nie. Hulle hou ook vol dat die apostel Paulus se verwysing in Romeine 1:26, 27 na mense wat „die natuurlike verkeer verander in die wat teen die natuur is” bloot sien op „’n afwyking van kulturele norme, nie op homoseksualiteit as ’n aberrasie van die natuur nie”. ’n Aantal kerke het gevolglik hulle gesindheid teenoor homoseksuele verander, en party het selfs homoseksuele as geestelikes aanvaar.
Maar klop hierdie „modernisering” met God se wil? „Ek, die HERE, het nie verander nie”, sê die Skepper uitdruklik in Maleagi 3:6. Die Bybel sê ook baie duidelik dat „mense wat homoseksualiteit beoefen” nie God se Koninkryk sal beërwe nie. (1 Korinthiërs 6:9, 10, NAV; vergelyk Levitikus 20:13.) Die Bybel doen nie ’n beroep op Christene om ’n liberaler beskouing te verkry van diegene wat teen God sondig nie, maar maan eerder: „Doen afstand van alle vuilheid en oorvloed van boosheid, en ontvang met sagmoedigheid die ingeplante woord, wat in staat is om julle siele te red.”—Jakobus 1:21.
Godsdiensherlewing?
„Gallup-peilings toon dat meer Amerikaners godsdiens nou belangrik ag as wat soortgelyke peilings vyf jaar gelede getoon het”, berig The New York Times. Dit voeg by: „Op elke skaal wat deur Gallup gemeet is, bely Amerikaners konvensionele teologiese oortuigings.” Totale kerklidmaatskap het ook toegeneem. Maar is dit waarlik ’n godsdiensherlewing? „Hoewel die land beslis godsdienstig is”, sê George Gallup, Jr., „is godsdiens blykbaar nie die spil van baie lewens nie. Verbondenheid is swak in die sin dat godsdiens nie die voorkeur geniet nie.” Bowendien het ’n vergelyking van kerklidmate met nie-lidmate getoon dat daar weinig verskil is wat persoonlike sedes betref. „Albei steekproewe”, sê die Times „het aansienlike afwyking van tradisionele, Christelike sedenorme getoon.”
Hoewel sommige analiste toegee dat daar ’n godsdiensontwaking is, vind hulle ernstige leemtes. „Dit het nie ’n herlewing van etiese nougesetheid of Bybelstudie ter wille van etiese beginsels teweeggebring nie”, sê professor Timothy Smith, kenner van kerkgeskiedenis by Johns Hopkins-Universiteit. „Daarsonder kan baie mense geestelik gesind voel en nog hulle wêreldlike begeertes na rykdom, mag en sukses botvier. Hulle kan bely dat hulle godsdienstig is sonder om dit in die etiese deel van hulle lewe toe te pas.” Soos Jesus gesê het, ,eer sulke mense God met die lippe, maar hulle hart is ver van hom af’. Die Skepper het egter geen behae in blote lippediens nie. Sulke aanbidding, sê hy, is „tevergeefs” (Mattheüs 15:8, 9). ’n Mens moet jou lewe eerder aan God toewy en Hom met jou hele hart, siel, verstand en krag liefhê (Markus 12:30). Ja, God soek mense wat hom „in gees en waarheid” aanbid.—Johannes 4:23, 24.
Tug nodig
Ongeduldige, selfsugtige en weerbarstige kinders raak al hoe algemener, sê kindersielkundige Thomas Millar. Hy beweer dat sulke kinders ’n faktor is by die toename in jeugmisdadigheid, gebroke huwelike en geestesiekte. Die probleem, sê Miliar in The Toronto Star, is tug. Hedendaagse teorieë oor die grootmaak van kinders het ouers skuldig en bang laat voel om hulle kinders te tug. „’n Samelewing kan nie sonder reëls bestaan nie”, sê Millar. „Die ouer moet die kind leer om in te skakel by die samelewing . . . dit baan die weg vir ’n veel ryker lewe.” Hierdie advies is egter nie nuut nie. Eeue gelede het die Bybel gesê: „As die sotheid vassit in die hart van die seun, die tugroede sal dit daaruit verwyder.” Dit het aangeraai: „Oefen die seun volgens die eis van sy weg; dan sal hy, ook as hy oud word, daar nie van afwyk nie.”—Spreuke 22:15, 6.