Ugandese toon waardering vir „die ware lewe”
DIE sonsopkoms oor Kampala, die hoofstad van Uganda, is dikwels asemrowend mooi. Op enige van die stad se sewe heuwels kan jy die verkwikkende môrelug inasem. Groen gras, skadubome met allerlei fatsoene en die veelkleurige bloeisels van die hibiskus, flambojant en bougainvillea begroet die oog. Suikerbekkies, neushoringvoëls en fiskale beweeg in die takke rond, en ’n ibis krys in die lug. Hoe heerlik kan die lewe tog wees!
Wanneer ’n mens sulke tonele in hierdie lieflike land aanskou, is dit nie moeilik om dankbaar te voel vir die lewe en vir die wonderlike geleentheid wat die Lewegewer ons bied om vir ewig in ’n aardse paradys te lewe nie.
Maar baie mense dink nie maklik daaraan nie. Vir hulle is Uganda nie „die Pêrel van Afrika” nie. In hulle gedagtes wek Uganda herinneringe aan moeilikheid. Baie mense in Uganda self lewe in vrees vir misdadigheid, en hulle bekommer hulle oor inflasie. In minder as tien jaar het die broodprys van 1/20 sjieling tot 200 sjielings gestyg. Die meeste gesinne het familielede en vriende aan ’n gewelddadige dood afgestaan, wat die algemene gevolgtrekking laat posvat het dat ,die lewe deesdae goedkoop is’. Maar die Bron van die lewe, Jehovah God, heg groot waarde aan die lewe, soos sy geskrewe Woord openbaar. Ongeveer die helfte van Uganda se 15 miljoen mense sê dat hulle die Bybel as God se Woord aanvaar, en baie gee gehoor wanneer hulle aandag gevestig word op die Bybel se verduideliking van die grondoorsake van lyding en God se voorneme om gelukkige mense „die ware lewe” op ’n paradysaarde te laat geniet.—1 Timotheüs 6:19, NAV
Veertig jaar van vroeë pogings
Die goeie nuus van God se Koninkryk en van „die ware lewe” het Uganda in 1931 bereik. Voltydse pionierpredikers van Jehovah se Getuies uit Suider-Afrika het na Mombasa gevaar, deur die gebied gereis wat vandag Kenia is en in vrugbare Uganda aangekom. Dit was ’n land van ewigdurende somer met ’n reëlmatige reënval—’n land vol katoen, koffie, piesangs, kassawe en ander gewasse. Die besoekers het ’n mengelmoes van oor die 30 stamme aangetref, waarvan sommige baie trots was op ’n geskiedenis wat in die verlede koninkryke ingesluit het. Omdat baie mense Engels as tweede taal magtig was, was dit nie moeilik om mense te vind wat in God se Koninkryk belanggestel het nie. ’n Soortgelyke reis is in 1935 onderneem, maar die pioniers moes weer vertrek, en jare het verloop sonder dat daar veel predikingswerk in die Ugandese veld gedoen is.
Teen 1952 het Kampala ’n klein gemeentetjie van vier verkondigers gehad. Drie jaar later het N. H. Knorr, destyds die President van die Wagtoringgenootskap, en M. G. Henschel, steeds ’n lid van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies, Kampala besoek en is die eerste Ugandese in die Victoria-meer gedoop. Later het van die verkondigers getrek, en daar was ander terugslae. In 1958 was daar net een verkondiger van die lewegewende goeie nuus oor.
In 1962 het Uganda onafhanklik geword. Gedurende hierdie tydperk het die eerste groep buitelandse Getuies daarheen verhuis, hoofsaaklik van Brittanje en Kanada af, om te help waar daar ’n dringende behoefte bestaan het aan mense om Jehovah God se voorneme bekend te maak. Kort daarna het die eerste sendelinge van die Wagtoring- Bybelskool Gilead gekom, en die Koninkryksboodskap het ander dorpe bereik. Bestendige vermeerdering het gevolg, en in 1971 was daar 110 verkondigers.
Beroering en beproewing
Dramatiese politieke veranderinge het toe plaasgevind, en hierdie verwikkelinge het wêreldwyd bekend geword. Onbestendigheid en vrees het aanleiding gegee tot ’n uittog van sowel buitelanders as Ugandese. Die sendelinge van Jehovah se Getuies moes in 1973 padgee. Godsdiensvryheid is deur verbooie herroep. ’n Atmosfeer van vrees het geheers. Daaglikse benodigdhede het uit die winkels verdwyn. Baie mense het verdwyn sonder dat hulle verhoor is. Mense het dag vir dag in die skadu van die dood gelewe. In 1979 het daar uiteindelik oorlog uitgebreek, wat gelei het tot veranderinge in die regering.
Hoewel sommige Ugandese gedurende hierdie tydperk mismoedig geraak het, het ander des te meer na verligting gehunker. Jehovah se Getuies het geweet dat dit alles tydelik is en dat God gedurende sulke moeilike tye nie alleen praktiese leiding gee nie maar ook die oplossing bied vir al die mens se probleme. Deur noue omgang by vergaderinge en ’n gereelde inname van geestelike voedsel het hulle opgeruimd gebly. Waarnemers kon sien dat hulle iets spesiaals gehad het wat ander gelowe nie het nie. Interessante ondervindinge uit hierdie onstuimige tyd kan vertel word.
’n Gesinsman het herhaalde male Jehovah se beskerming ondervind. Hy was lid van ’n stam waarvan die lede veroordeel en soos diere gejag is. By een geleentheid is sy huis ’n uur lank met granate en koeëls bestook. Terwyl dit gebeur het, het hy sy vrou en kinders herinner aan Jehovah se woorde aan Josua: „Wees sterk en vol moed”, en hulle het saam gebid (Josua 1:6). Verbasend genoeg het geen koeël deur die huis gedring nie, en die granate het van die buitemure af teruggespring en ’n ent van die huis af ontplof. Toe het die broer uitgegaan en mooi met die aanvallers gepraat. Van die bure het ook vir hom opgekom. Nadat die aanvallers die huis deurgesoek en sy Bybelstudiehulpe gevind het, het hulle hom met rus gelaat omdat hy ’n godsdienstige man was. Gedurende die daaropvolgende twee dae is hy weer veroordeel en het die dood hom nog twee maal in die gesig gestaar, maar met Jehovah se hulp het hy dit oorleef.
’n Voormalige hooggeplaaste amptenaar wat standpunt ingeneem het as ’n ware Christen, is verskeie kere in hegtenis geneem. Twee van sy seuns het spoorloos verdwyn. Dit het nie sy vertroue in die Lewegewer verpletter of sy wonderlike hoop op die opstanding en die toekomstige „ware lewe” laat verdof nie. Hy het ywerig vir sy medeprisoniers gepreek en verskeie Bybelstudies begin. ’n Oud-soldaat het veral groot waardering getoon en het vinnig vordering gemaak. Na ’n paar maande het daardie man in die gevangenis begin preek. Toe die Getuie vrygelaat is, het die oud-soldaat ses Bybelstudies oorgeneem. Wat ’n heerlike verrassing was dit vir die voormalige amptenaar en die oud-soldaat toe hulle mekaar ’n klompie jare later by ’n klas van die Pionierdiensskool, wat deur Jehovah se Getuies vir voltydse predikers gehou word, raakgeloop het. Ja, die oud-soldaat het ook ’n pionier geword! Die broer wat hom die waarheid geleer het, kon sê: „Ek het my vleeslike seuns verloor, maar nou het ek ’n geestelike seun gekry.”
’n Moeder van sewe wat al meer as 13 jaar ’n Getuie is, het voor baie toetse te staan gekom. Eers het haar man haar nuwe geloof teengestaan. Toe het die binnelandse onrus hom na Kenia laat vlug, en sy moes twee jaar lank alleen vir die kinders sorg. By sy terugkeer is hy in hegtenis geneem, en terwyl hy in die tronk was, het diewe by die huis ingebreek en feitlik al die gesin se besittings gesteel. Die feit dat hierdie suster bedrywig gebly het in die waarheid en wêreldse omgang vermy het, het haar gehelp om vertroosting te vind en te volhard. Haar standvastigheid en vreugde het haar man beïndruk, en by sy vrylating het hy belangstelling in die Bybel getoon voordat hy op vroeë leeftyd dood is. Maar die gemeente het hierdie getroue vrou versterk. ’n Mede-Getuie het haar gehelp om ’n klein onderneming te begin sodat sy vir haar kinders kon sorg. Sy leer haar kinders en ander die wonderlike hoop van die ewige lewe op ’n aarde sonder probleme, en sy hou ses Bybelstudies.
In Uganda word bejaardes gewoonlik met respek bejeën, en Anna, wat al diep in die sestig is, het haar geleenthede gebruik deur ’n pionierprediker te word. Pleks van met haar buurvroue oor ellendes te praat, het sy hulle gedurende daardie moeilike tye van die goeie nuus vertel. Toe het sy die voorreg gehad om ’n spesiale skool vir pionierbedienaars in die naburige land Kenia by te woon. Terwyl sy daar was, het sy briewe van haar familie ontvang waarin hulle haar aangeraai het om nie na Uganda terug te keer nie, omdat die lewe te gevaarlik en te swaar geword het. ’n Familielid in Kenia het vir haar ’n huis aangebied en belowe om vir haar te sorg, maar sy het vir almal gesê dat sy ’n boodskap van vertroosting en hoop op ’n beter lewe het en dat die mense in Uganda dit nodig het. Sy het na Uganda teruggekeer.
Waardering vir byeenkomste
Met die bewindsverandering ná die oorlog van 1979 is godsdiensvryheid herstel, en dit het al Jehovah se Getuies baie gelukkig gemaak. Byeenkomste kon weer gehou word, en die enorme vraag na Bybellektuur het getoon dat baie mense na goeie nuus in verband met ’n beter lewe hunker. Streekbyeenkomste is gereël, en in Desember 1983 is ’n Bybeldrama vir die eerste keer aangebied. Dit het ’n groot indruk op die gehoor gemaak, want dit het oor die gesinslewe gehandel. Die volgende dag het 572, ongeveer dubbel die getal bedrywige Getuies in Uganda, na die Sportsaal van Kampala se Lugogo-stadion gekom en Koninkrykseenheid geniet met mense wat waarlik die lewe waardeer.
Baie moes opofferings maak om daar te wees. In sommige gevalle was die treingeld vir ’n egpaar meer as ’n onderwyser se maandelikse salaris. Vir verskeie gesinne het die reis na die byeenkoms tot vier maande se salaris gekos! Baie van die aanwesiges het sulke waardering vir geestelike dinge getoon.
Sendelinge se ondervindinge
Teen die einde van 1982 het vier buitelandse sendelinge in Kampala aangekom. Hulle was soos ’n nuwe geslag sendelinge na ’n onderbreking van baie jare. Die heel eerste persoon met wie een van hulle oor die goeie nuus gepraat het, was ’n jong man wat ongetwyfeld gewag het op die boodskap van hoop. ’n Bybelstudie is dadelik begin en twee maal per week gehou. Op die eerste dag dat die jong man saam met ’n ander Getuie aan die veldbediening deelgeneem het, is die twee deur gewapende misdadigers voorgekeer. Hoewel hy onervare was, het die jong broer op Jehovah vertrou en vir hulle begin preek. ’n Paar spanningsvolle minute lank het die diewe gewik en geweeg of hulle die twee moet doodmaak of nie. Toe het een van die gewapende manne vir sy maats gesê om die twee te laat gaan. Wat het die jong man ná hierdie senutergende ondervinding gedoen? Sonder aarseling het hy en sy metgesel na die volgende huis gegaan en aangehou preek! Hy is nou gedoop en het planne om ’n pionier te word.
Een van die sendelinge het ’n man ontmoet wat in Mosambiek gewerk het. Hy het dadelik gesê dat hy ’n hoë agting vir Jehovah se Getuies het, want hy het hulle skoon en ordelike kampe in Mosambiek gesien.a Hierdie man is veral geroer toe hy eenmaal ’n brandarm Getuie-gesin by ’n kamp sien aankom het. Hulle is hartlik verwelkom deur geestelike broers van verskillende stamme. Daar is dadelik in hulle materiële behoeftes voorsien, wat ’n huis, ’n stuk grond, eetgerei en klere ingesluit het. Nou smaak hierdie man dieselfde liefde en broederskap terwyl ’n Bybelstudie met hom gehou word en hy gereeld saam met Jehovah se Getuies aan Christelike vergaderinge deelneem.
Sulke ondervindinge toon duidelik dat die sendelinge, tesame met hulle Ugandese broers en susters, rede tot vreugde het. Hulle het baiemaal tekorte aan voedsel, water en elektrisiteit ondervind, en hulle het dikwels geweerskote en ontploffings gehoor, maar hulle is dankbaar vir geleidelike verbeteringe. Hulle put bevrediging daaruit om mense op die waarde van „die ware lewe” te wys. Die 250 verkondigers van God se Koninkryk in Uganda bestee gemiddeld meer as 14 uur per maand aan die predikingswerk. Daar is groot belangstelling, en baie betree die voltydse predikingswerk. Oor die 500 Bybelstudies word tans gehou in hierdie pragtige deel van die aarde wat plek-plek ’n voorsmaak van ’n aardse paradys gee. Talle Ugandese leer om hulle oë te rig op „die ware lewe” tot in ewigheid wat die liefdevolle Lewegewer, Jehovah, vir die nabye toekoms in gedagte het.
[Voetnote]
a Jehovah se Getuies van Mosambiek en Malawi is deur die owerheid in kampe gesit.
[Lokteks op bladsy 28]
Deur noue omgang by vergaderinge en ’n gereelde inname van geestelike voedsel het hulle opgeruimd gebly
[Kaarte/Prent op bladsy 27]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
UGANDA
Kampala
Zaïre
Soedan
Kenia
Victoria-meer
UGANDA
[Prent op bladsy 29]
Die heuwels van suidwestelike Uganda
[Prent op bladsy 30]
’n Groep pasgedoopte Getuies