Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w85 2/15 bl. 22-25
  • Kry gierigheid jou soms in sy greep?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Kry gierigheid jou soms in sy greep?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Gulsige begeerte na seks en die gevolge daarvan
  • Geldgierigheid en die gevolge daarvan
  • Hoe kan ons gierigheid vermy of te bowe kom?
  • Vermy die strik van hebsug met welslae
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Vermy steeds die strik van gierigheid
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
  • Stel jou ’n wêreld sonder hebsug voor
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • “Die era van hebsug”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
w85 2/15 bl. 22-25

Kry gierigheid jou soms in sy greep?

WAS jy al ooit by ’n partytjie waar daar so ’n oorvloed van heerlike voedsel en alkoholiese drank was dat jy in die versoeking gekom het om te veel te eet of te drink? Baie sal erken dat ’n vorm van gierigheid of gulsigheid soms ’n greep op hulle kry. Kan jy dit altyd weerstaan? Of gee jy soms daaraan toe, sodat jy die volgende dag met ’n kopseer of ’n babelaas of erger sit? Watter ander gevolge kan gierigheid hê? Hoe kan ons gierigheid se subtiele greep te bowe kom? Dit is ’n lewensbelangrike saak, want die Bybel sê dat ,geen gierigaard die koninkryk van God sal beërwe nie’.​—1 Korinthiërs 6:10.

Gierigheid word omskryf as buitensporige begeerte, of hebsug, ’n gulsige begeerte na meer as wat ’n mens nodig het of toekom. Dit kan verskillende vorms aanneem, waaronder geldgierigheid, ’n drang na mag of roem en ’n gulsige begeerte na voedsel, drank, seks en besittings. Dit is die basiese oorsaak van die baie euwels wat ons vandag teister. Waarom is ongeoorloofde seks en allerhande misdade aan die toeneem? Waarom eet miljoene mense te veel terwyl miljoene ander honger ly? Waarom word so baie geld op dobbelary en loterye verkwis? Wat sit agter die verduistering van private en staatsgeld, kommersiële uitbuiting en die korrupsie van staatsamptenare? En wat steek agter oorloë met hulle aaklige nasleep van verwoesting en lyding? Die verderflike greep van gierigheid.

’n Gulsige begeerte na seks en die gevolge daarvan

Gierigheid kan baie lelike vorme aanneem en ’n mens baie laag laat daal. ’n Getroude man met ’n eersteklas gesin het byvoorbeeld ’n oordrewe drang na seks gehad. Op ’n dag, terwyl hy onder die invloed was, het hy twee meisies na hulle huis gevolg in die hoop om hulle te verlei. Maar hulle vader en ’n familielid het uitgekom en hom afgeransel. Hy is hospitaal toe geneem met skedelbreuk, ’n gebreekte kakebeen en ’n erg beskadigde oog. Sy jong dogter was so ontsteld dat sy probeer selfmoord pleeg het. Sy hele gesin het geskok en verneder gevoel. Wat ’n prys moes hy betaal omdat hy nie sy geslagsdrang kon beteuel nie!

’n Ondervinding van koning Dawid van Israel staaf hierdie punt. Dawid het reeds ’n aantal vrouens gehad. Maar eendag het hy van sy dak af gesien hoe die beeldskone Batseba ’n bad neem. In plaas van dadelik om te draai en die gedagte uit sy kop te sit, het hy toegelaat dat ’n ongeoorloofde geslagsbegeerte in sy hart posvat. Hy het toe owerspel met haar gepleeg terwyl haar man, Uria, in Dawid se leër geveg het.

Toe Batseba swanger word, het Dawid eers probeer om sy owerspel te versluier deur Uria huis toe te laat kom sodat hy by sy vrou sou slaap. Maar daardie plan het misluk, en nou het hy te staan gekom voor die verskriklike moontlikheid dat Batseba as ’n egbreekster gestenig sou word. Hy het toe opdrag gegee dat Uria aan gewisse dood in die oorlog blootgestel word. Maar niks ontglip Jehovah se aandag nie. Hy het sy profeet Natan gestuur om Dawid vir sy haatlike misdade​—owerspel en die moord op die vrou se man—​te bestraf. Dawid het opreg berou gehad en het die bestraffing nederig aanvaar. Maar dit het hom nogtans duur te staan gekom. Sy eerste seun by Batseba is kort na geboorte dood, en sy huisgesin is van toe af deur baie rampe getref.​—2 Samuel 11:1-12:23; hoofstuk 13.

Hierdie waarskuwende voorbeeld van iemand wat voor versoeking geswig het, lig die kettingreaksie van sonde soos in die Bybel uiteengesit goed toe: „Elkeen word versoek as hy deur sy eie begeerlikheid weggesleep en verlok word. Daarna, as die begeerlikheid ontvang het, baar dit sonde; en as die sonde tot volle ontwikkeling gekom het, bring dit die dood voort” (Jakobus 1:14, 15). Die fout wat Dawid begaan het, was om toe te laat dat die saadjie van wellus in sy hart ontkiem en groei. Toe die sondige begeerte eenmaal posgevat het, het hy toegelaat dat gierigheid hom tot sonde dryf.

Hoe anders was dit tog nie met Josef in Egipte toe Potifar se vrou hom probeer verlei het om by haar te gaan lê nie! Hoe het Josef op hierdie versoeking gereageer? Die verhaal deel ons mee: „Sy het dag vir dag by Josef aangehou, maar hy het bly weier om by haar te gaan slaap.” Selfs sonder die morele leiding van die Tien Gebooie, wat toe nog nie gegee is nie, het hy haar geantwoord deur te sê: „Hoe kan ek dan hierdie groot kwaad doen en sondig teen God?” Uiteindelik het sy hom op ’n dag gegryp en gesê: „Kom lê by my.” Het Josef getalm en die saak probeer uitredeneer? Hy het „buitentoe gevlug”. Hy het nie toegelaat dat wellustige begeerte in sy hart ontkiem nie. Hy het gevlug.​—Genesis 39:7-16, vgl. NAV.

Geen opregte Christen sal met voorbedagte rade ’n weg inslaan wat van wellustige begeerte getuig nie. Maar onthou, Dawid het nie beplan om te sondig nie. Sy voorbeeld behoort ons dus almal te beweeg om ons opnuut voor te neem om te stry teen elke neiging tot gierigheid waar dit by ongeoorloofde seks kom. Getroud of ongetroud, jonk of oud, ons moet absoluut vasbeslote wees om sulke versoekinge onmiddellik te verwerp.​—Romeine 13:13, 14.

Geldgierigheid en die gevolge daarvan

Die berugste verraaier in die mens se geskiedenis, Judas Iskariot, is ’n treffende voorbeeld van ’n gierigaard. Hy was ongetwyfeld getrou en vry van gierigheid toe Jesus hom as apostel gekies het. Trouens, Jesus het die geldsake aan hom toevertrou. Maar mettertyd het Judas van die geld begin steel. Die Bybel sê dat „hy ’n dief was en die beurs gehad het en die bydraes geneem het”.​—Johannes 12:6.

Judas het ’n gewoontedief, ’n gierigaard, geword. Toe die belangrike Pasga van 33 G.J. nader gekom het, het Judas, nadat hy deur Jesus bestraf is, ’n ooreenkoms met die moorddadige owerpriesters aangegaan om die Here vir 30 silwerstukke te verraai. Toe die enormiteit van sy daad later tot Judas deurgedring het, het hy selfmoord gepleeg. Die dodelike greep van gierigheid het nog ’n slagoffer geëis.​—Lukas 22:3; Mattheüs 26:14-16.

Die slegte gevolge van gierigheid is legio. Talle wat op gierige wyse baie geld vergaar, bestee baie daarvan aan ’n weelderige lewenswyse. Hulle trek miskien die neus op vir eenvoudige kos en eet liewer hoogs verwerkte luuksevoedsel. Maar die oormatige inname van ryk weeldevoedsel lei dikwels tot slegte spysvertering of ernstiger probleme wat die dood kan verhaas. ’n Geneeskundige sê: „Dit is ’n nugtere sakefeit van die versekeringswêreld dat oordadige voedselinname en oorgewig by die volwassene nie goed vir die lewensverwagting is nie.”

Vir Christene is die geestelike gevaar eie aan gierigheid veel ernstiger. Materialisme het sommige Christenvroue, wie se mans goeie geld verdien, beweeg om self ’n betrekking te aanvaar al lei dit ook tot die verwaarlosing van hulle kinders en minder seëninge in die predikingswerk. Dit het jong Christene laat swig voor die glans van goed besoldigde betrekkings sonder dat hulle dit ooit ernstig oorweeg het om die voltydse bediening te betree. Pogings om die vlees te bevredig, hetsy deur ongeoorloofde seks of ’n oordrewe begeerte na geld (en die plesier en goed wat dit kan koop), kan tot ernstige sondes en selfs die verbeuring van die ewige lewe lei. „Die dinge waarmee die sondige natuur van die mens hom besig hou, loop uit op die dood, . . . As julle julle lewe deur die sondige natuur laat beheers, gaan julle die dood tegemoet.”​—Romeine 8:6, 13, NAV.

Hoe kan ons gierigheid vermy of te bowe kom?

As gierigheid jou eers in sy greep het, is dit moeilik om los te breek. Daarom is voorkoming beter as genesing. Ouers moet gierige neigings eers in hulleself en dan in hulle kinders onderdruk. Die meeste kinders is geneig tot selfsug. Daar is ’n staaltjie wat vertel van Abraham Lincoln wat eendag met sy twee seuntjies gaan stap het, maar hulle het albei gehuil. ’n Buurman wou weet: „Wat makeer die seuns?” Lincoln het geantwoord: „Net wat die hele wêreld makeer. Ek het drie okkerneute, en elkeen wil twee hê.”

Ouers moet hulle seuns en dogters konsekwent en liefdevol „oefen” in die weg van onselfsugtigheid en bedagsaamheid teenoor ander (Spreuke 22:6). Dit sal hulle baie help gedurende hul tienderjare wanneer seksuele drange en ander selfsugtige begeertes sterk kan word. Jongmense word deesdae onophoudelik bestook met dinge wat bedoel is om die geslagsdrif op te wek. Maar die Bybel sê: „Hoerery en allerhande onreinheid of hebsug moet onder julle selfs nie genoem word nie, soos dit die heiliges betaam; ook nie gemeenheid en dwase of lawwe praatjies wat nie pas nie, maar liewer danksegging. Want dit moet julle weet dat geen hoereerder of onreine of gierigaard, wat ’n afgodedienaar is, ’n erfdeel het in die koninkryk van Christus en van God nie.”​—Efesiërs 5:3-5.

Let daarop dat ’n „gierigaard” ook „’n afgodedienaar” is. Hoe so? Mense met ’n verterende drang na seks, na geld (wat aanleiding gee tot diefstal, verduistering en dobbelary), na voedsel en drank of na mag en roem word slawe van sulke begeertes en maak hierdie dinge as ’t ware hulle afgode. Hulle groot doel in die lewe is om hulle hebsugtige begeerte te bevredig. Christene wat so ’n afgodiese weg inslaan, is ongetwyfeld ,gierigaards’, soos die Bybel hulle noem, en kan uit die gemeente geban word. Hulle stel die aanbidding van hulle „gode” bo die aanbidding van Jehovah, ’n God wat ,onverdeelde trou eis’.​—Exodus 20:3-6, 17, NAV.

Radio- en TV-programme asook boeke en tydskrifte wat ’n begeerte na skadelike dinge aanwakker, hou vir Christene​—jonk en oud—​groot gevaar in. Onthou dat Dawid in ’n oomblik van swakheid deur sensuele begeerte oorweldig is omdat hy bly kyk het na Batseba terwyl sy gebad het. Skakel jy die TV af of verlaat jy die bioskoopsaal wanneer onsedelikheid vertoon word?

Ten spyte van sy misstap het Dawid Jehovah opreg liefgehad. Dit het hom gehelp om van sy sonde te herstel. ’n Ervare Christen in Afrika kon eweneens van ’n ernstige geval van geldgierigheid herstel. Weens sekere moeilikhede het hy in die skuld geraak. Omdat hy verantwoordelik was vir die geldsake van die firma waar hy gewerk het, het hy in die versoeking gekom om sonder toestemming geld te „leen”. Hy het toegelaat dat daardie „saadjie” van hebsug ontkiem en het ’n groot bedrag verduister. Toe sy werkgewers die saak begin ondersoek, het hy paniekerig geraak en uit die land padgegee. Sy vrou en kinders moes agterbly. Maar sy gewete het hom gou aangekla, en hy het besef dat hy ’n vreeslike fout begaan het. Hy het teruggekeer huis toe en uiteindelik die hele bedrag terugbetaal. Hy is deur Christen- ouere manne tereggewys en maak nou baie goeie vordering.

Wat het hom gehelp om te herstel? Gebed en Skriflesing. Hy het gevind dat baie uitdrukkings in Dawid se psalms ’n simpatieke snaar in sy eie hart geroer het en hom gehelp het om vuriger en sinvoller te bid. Hier is ’n paar voorbeelde van daardie psalms: „Wees my genadig, o God, na u goedertierenheid; delg my oortredinge uit na die grootheid van u barmhartigheid. Skep vir my ’n rein hart, o God, en gee opnuut in die binneste van my ’n vaste gees.” „Hou u kneg ook terug van moedswillige sondes; laat dit nie oor my heers nie.”​—Psalm 51:3, 12; 19:14.

As jy gierigheid wil vermy of te bowe wil kom, moet jy ,tot God nader, en Hy sal tot jou nader’ (Jakobus 4:8). Wanneer ’n Christen se hart oorloop van liefde vir Jehovah, vir die Christenbroers en vir die baie mense wat in hierdie swaar tye hulp nodig het, sal die lelike „saad” van gierigheid dit moeiliker vind om te ontkiem. Daarbenewens is die heilige gees ’n uitstekende hebsugdoder! Laat daardie sterk krag dus jou hart vul, dit van onrein begeertes suiwer en dit met ’n innige verlange vul om Jehovah te dien. Dan sal verfoeilike gierigheid jou nooit in sy greep kry nie.

[Prent op bladsy 23]

Judas Iskariot is deur gierigheid oormeester

[Prent op bladsy 24]

‘Dit is ’n nugtere sakefeit van die versekeringswêreld dat oordadige voedselinname en oorgewig nie goed vir die lewensverwagting is nie’

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel