Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w84 11/1 bl. 27-30
  • Laat die rigters jou geloof versterk

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Laat die rigters jou geloof versterk
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Basiese lesse
  • Kragtige geloof in aksie!
  • Wees op die uitkyk vir lesse
  • Bybelboek nommer 7—Rigters
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
  • Glanspunte uit die boek Rigters
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
  • Oorsig van Rigters
    Die Bybel – Nuwe Wêreld-vertaling
  • “Jehovah se swaard en Gideon s’n!”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
w84 11/1 bl. 27-30

Laat die rigters jou geloof versterk

AS JY ’n Bybelse groep persone met uitsonderlike geloof moes kies, watter groep sou jy kies? Die 12 apostels? Die 12 seuns van Jakob? Miskien. Maar jy sal genoeg rede hê om ’n ander groep van 12 te kies wie se geloof deur die Bybel aanbeveel word.

Ons verwys na die 12 manne wie se geloofsdade in die boek Rigters verhaal word. Party van hulle word in Hebreërs 11:32-34 genoem: “Die tyd sal my ontbreek as ek van Gideon, Barak en Simson en Jefta . . . sou verhaal, wat deur die geloof koninkryke oorweldig het, geregtigheid uitgeoefen, beloftes verkry, bekke van leeus toegestop, die krag van vuur uitgeblus, die skerpte van die swaard ontvlug, krag uit swakheid ontvang het, dapper gewees het in die oorlog, leërs van vreemdes op die vlug gedryf het”.

Daar het jy vier van die rigters. Hoeveel ander getroue rigters kan jy onthou? Toets jou geheue voordat jy na die lys hieronder kyk.a Jy kan waarskynlik ook party onvergeetlike dade van die rigters onthou, soos toe Simson die Filistynse vorste en mense—en homself—vernietig het deur die tempel van Dagon inmekaar te laat stort, of toe Gideon net 300 manskappe gebruik het om die hordes van Midian te verslaan. Talle mense in die Christendom het sulke verhale op Sondagskool geleer. Maar leer hulle belangrike lesse uit die boek Rigters wat hulle geloof kan versterk, hulle lewe nou kan verbeter en hulle kan help om die ‘toekomende lewe’ te verkry? (1 Timotheüs 4:8). Jy het dalk jou bedenkinge. Maar wat van jou? Het jy baat gevind by die boek Rigters wat jou geloof en Christelike lewe betref?

Basiese lesse

Lees die boek. Jy sal vind dat talle aksiebelaaide verhale jou sal boei, hetsy jy dit vir die eerste keer of weer lees. Dit sal jou baie gee om oor te praat—met jou kinders of ander jongmense, sowel as volwasse denkers. Hou egter ’n paar algemene punte wat in talle verslae gestel word in gedagte terwyl jy lees. Soos wat byvoorbeeld?

Een is dat dit baie maklik is om jou geloof in God te laat kwyn of te vergeet wat hy vir jou gedoen het. Wanneer ’n persoon van die Christelike hoop leer en dat vergifnis deur Jesus verkry kan word, is hy miskien baie ywerig. Hy woon dalk graag vergaderinge by en neem deel aan die Christelike bediening. Hy stel hierdie dinge eerste en bekommer hom nie oor materiële dinge nie, of hy ’n nuwe voertuig, ’n luuksehuis of die jongste, duur TV-toestelle het nie. Maar sal hy na ’n paar jaar ‘sy eerste liefde’ verloor? (Openbaring 2:4). Israel se geskiedenis in Rigters toon hoe maklik dit met ons almal kan gebeur.

Die eerste twee hoofstukke skik die toneel. Nadat die Israeliete die Beloofde Land onder leiding van Josua ingeneem het, het hulle nie deurgedruk en die afgodsaanbiddende, onsedelike Kanaäniete uitgewis soos hulle beveel is nie (Rigters 1:28-33). Daarom het Jehovah toegelaat dat hierdie vreemdelinge en hulle gode Israel op die proef stel (Rigters 2:19-23). Israel het die toets dikwels gefaal. Dit is waarom daar rigters was.

Die situasie met die eerste rigter, Otniël, is tipies van wat herhaaldelik gebeur het. Die Israeliete het voor onreine Baälaanbidding geswig, en gevolglik het God toegelaat dat ’n Aramese koning hulle agt jaar lank verdruk. Dit het hulle beweeg om Jehovah ‘aan te roep en God het vir hulle ’n verlosser verwek: Otniël. En die gees van Jehovah het op hom gekom, en hy het Israel gerig en uitgetrek om oorlog te voer; en Jehovah het die koning van Aram (Sirië) in sy hand gegee. Toe kry die land rus veertig jaar lank.’—Rigters 3:7-11.

Hoe dankbaar moes daardie Israeliete tog gewees het om vry te wees, net so dankbaar soos wat ons is om Christelike waarheid te leer en vry te wees van valse godsdiens! Maar wat sou in daaropvolgende jare gebeur? Die volgende vers sê: “En die kinders van Israel het weer gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE. Toe maak die HERE Eglon, die koning van Moab, sterk teen Israel” (Rigters 3:12). Jy kan die patroon sien sowel as die gevaar vir ons wanneer ons toelaat dat ons geloof swak word. Maar vir ons bemoediging gaan die verslag voort: Toe die Israeliete tot besinning gekom het, het God rigter Ehud, wat links was, verwek. Hy het ’n skerp boodskap vir vet koning Eglon gebring, wat tot Israel se bevryding gelei het. Lees die opwindende verhaal in die res van hoofstuk 3.

Kragtige geloof in aksie!

’n Ander deurlopende gedagte wat jou behoort te beïndruk, is dat God jou kan gebruik om buitengewone dade te verrig as jy sterk geloof het.—Vergelyk Mattheüs 17:20; 21:21.

’n Paar voorbeelde: Dink aan hoe Gideon met slegs 300 geloofshelde die Midianiete, wat “soos sprinkane in menigte” was, verslaan het (Rigters 7:1-25). Met Debora se aansporing het Barak verlossing in die noorde bewerkstellig van die Kanaäniete wat strydwaens gehad het met vreeslike ystersense aan die wielnawe. Let ook op dat dit in hierdie geval ’n vrou was wat die laaste slag vir oorwinning toegedien het (Rigters 4:1-5:31). Simson se krag is welbekend. Met sy buitengewone krag kon hy ’n leeu verskeur; bewapen met ’n eselskakebeen het hy duisend vyande verslaan en Gasa se stadshek uitgeruk en na die top van ’n berg gedra—Rigters 14:5-16:3.

Dit ly geen twyfel dat hierdie rigters uitsonderlike geloof getoon het nie, en hulle verdien beslis om in die boek Hebreërs as voorbeelde vermeld te word. Voorbeelde in watter opsig? Jy sal beslis nooit verwag om ’n leeu met jou kaal hande te verskeur nie. Maar jy sal voor ernstige beproewings van jou geloof te staan kom as jy probeer om elke dag as ’n Christen lojaal aan Jehovah te bly.

Miskien kom jy as ’n jong persoon op skool te staan voor groot druk om dwelms of seks op die proef te stel, of om ’n winsgewende loopbaan te volg. Dalk het jy persoonlik, of saam met jou gesin, groot materiële opofferinge gedoen om as ’n voltydse bedienaar te dien, of te verhuis na waar daar ’n groot behoefte aan sulke bedienaars is, maar dan sien jy ander Christene wat rykdom en ’n swierige lewenswyse skynbaar die hoogste prioriteite maak. Of die beproewing van jou geloof kan ontstaan omdat iemand jou ernstig teleurgestel het. Dit kan ’n persoon wees wat die leiding onder Christene gegee het, maar wie se trots hom teen sy broers laat draai het. Dit kan andersyds ’n naverwant wees wie se liefde verkoel het en wat opgehou het om Jehovah te dien.

Sal jy in enige van hierdie gevalle bemoediging uit die geloof van die rigters put? Hulle Godgegewe geloof het hulle in staat gestel om die skynbaar onmoontlike te doen. Dieselfde God kan jou geloof gee as jy dit voortdurend deur gebed en volharding in die Christelike weg soek. Geloof is ’n vrug van God se heilige gees (Galasiërs 5:22, NW). Jesus het van dieselfde gees wat Simson sterk gemaak het, gesê: “Die hemelse Vader [sal] die Heilige Gees gee aan die wat Hom hid.” Gevolglik verseker dieselfde hoofstuk in Hebreërs wat die rigters as voorbeelde van geloof noem ons dat God “’n beloner is van die wat Hom soek” (Lukas 11:13; Hebreërs 11:6). Hy kan ook jou geloof beloon.

Wees op die uitkyk vir lesse

Ons het die aandag gevestig op ’n paar lesse wat jy uit Rigters kan leer. Jy sal ongetwyfeld in ander opsigte baat vind by hierdie gedeelte van die geïnspireerde Skrif wat ‘deur God ingegee is en nuttig is tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid’.—2 Timotheüs 3:16.

Jy sal byvoorbeeld opmerk dat Gideon weens beskeidenheid hom nie op ’n weg wou begewe voordat hy seker was dat dit God se wil was nie. Later het dieselfde beskeidenheid voorkom dat sukses en aansien hom verwaand maak. Jy kan dalk hieruit leer. Onthou dat Gideon se groepie die menigte Midianiete met God se hulp verslaan het. Stel jou voor hoe die volk Gideon moes toegejuig het. Jy ontvang dalk ook lof vir een of ander buitengewone talent, miskien as ’n kragtige openbare spreker of ’n baie goeie organiseerder. In die voormelde geval het “die manne van Israel vir Gideon [gesê]: Heers oor ons, u sowel as u seun en u kleinseun, want u het ons verlos uit die hand van die Midianiete.” Hoe sou ’n persoon op soveel lof reageer? Gideon het gesê: “Ek wil nie oor julle heers nie, en ook my seun mag nie oor julle heers nie: die HERE sal oor julle heers” (Rigters 8:22, 23). Laat ons eweneens probeer om beskeie te bly en te erken dat ons talente—en ons gevolglike prestasies—uit vermoëns spruit wat God aan die mens gegee het.

Die geskiedenis van Gideon en ander rigters laat ons ook besef dat hulle, net soos ons, onvolmaakte mense was. Ons kan uit hulle foute leer.

Toe Gideon derhalwe die Israeliete hulle buit met hom laat deel het, het hy ’n baie duur efod, ’n skouerkleed, gemaak wat moontlik met juwele versier was. Ofskoon sy beweegrede hiervoor waarskynlik goed was, het sommige Israeliete dit as ’n afgod beskou en het dit die aandag weggelok van Jehovah se aanbidding by die heiligdom.—Rigters 8:24-27.

Jehovah se gees het kragtig op Simson ingewerk en hom in staat gestel om oënskynlik bomenslike dade te verrig (Rigters 14:5, 6, 19; 15:14, 15; 16:3, 28-30). Dit was ook “van die HERE” wat hy ’n sekere Filistynse vrou as eggenoot gevra het, want Simson “het rede gesoek teen die Filistyne” (Rigters 14:4). Dit het tot skermutselinge gelei waarin talle van die verdrukkende Filistyne gedood is. Dit was ook ongetwyfeld onder leiding van Jehovah dat Simson na Gasa gegaan het en by die huis van ’n hoer ingegaan het, want dit het tot nog ’n magtige daad ter vernedering van die verdorwe Filistyne gelei.b Maar dit blyk dat Simson se kontak met hierdie vroue hom kon beïnvloed het om dwaas op te tree toe hy verlief geraak het op Delila, skynbaar ’n Israelitiese vrou wat deur die Filistyne omgekoop kon word.—Rigters 16:1-21.

Sulke verhale moet ons leer dat ons altyd op ons hoede moet wees teen subtiele aanvalle van die vyand. ’n Christen besoek miskien ’n mede-aanbidder van die ander geslag met ’n eerbare doel, soos om vertroosting of bemoediging gedurende ’n krisis te gee. Maar dit is gewoonlik onverstandig om dit te doen as die twee alleen sal wees. Hulle kan hulle weens menslike onvolmaaktheid aan onbehoorlike gedrag skuldig maak, of die situasie kan die bure laat sê dat Christene se sedes net so laag is soos dié van die meeste mense in die gemeenskap.

Dink ook na oor die geloof en toegewydheid van Jefta se maagdelike dogter. Party ongetroude Christene meen dalk dat indien die regte omstandighede ontstaan sodat hulle liefdevolle, lojale eggenote kan vind hulle dalk sal trou. Maar terwyl hulle ongetroud is, kan hulle onthou dat hoewel daar geleenthede was dat Jefta se dogter verlang het om te kan trou en kinders te baar, sy altyd prysenswaardige geloof behou het in ’n spesiale toewysing wat sy in die ongehude staat kon uitvoer.—Rigters 11:30-40.

Dit is maar net ’n paar van die talle heilsame lesse wat jy uit die opwindende en geloofversterkende boek Rigters kan leer. Wanneer jy die boek gelees het, behoort jy meer as ooit tevore oortuig te wees dat Jehovah die groot Verlosser van sy aanbidders is. As jy een van sy aanbidders is, moet jy sterk, aansporende geloof nastreef, die soort geloof wat so duidelik in Rigters geopenbaar is.

[Voetnote]

a Otniël, Ehud, Samgar, Tola, Jaïr, Ebsan, Elon, Abdon. Hoewel Josua en Samuel ook rigters van Israel was, word hulle oor die algemeen nie by die groep ingesluit wat in die boek Rigters bespreek word nie.

b Die logiese gevolgtrekking is dat Simson die hoer se huis besoek het eenvoudig om oornagverblyf te kry en nie om onsedelike redes nie. Die verslag sê hy “het gelê tot middernag”, maar nie dat hy ‘tot middernag by haar gelê het’ nie.

[Tabel/Venster op bladsye 28, 29]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

DIE TYDPERK VANAF DIE VEROWERING VAN KANAAN TOT DIE BEWIND VAN SAUL

Hierdie tabel toon een van die verskeie maniere waarop die chronologiese periodes wat in die boek Rigters gemeld word, ingepas kan word in die tydperk wat elders aangedui word. Kyk Aid to Bible Understanding, bladsye 335-338, vir nadere inligting.

Die stroke is verskillend geskakeer om die tydperke te onderskei.

1473 v.G.J.

VEROWERIN van Kanaan (6)

Tussenperiode (35[?])

SIRIË (MESOPOTAMIË) onder Kusan Risataim verdruk Israel (8)

OTNIEL verslaan Sirië

‘Die land het gerus’ (40)

Moab onder Eglon verdruk Israel (18)

EHUD verslaan Moab

‘Die land het gerus’ (80)

Kanaän onder Jabin van Hasor verdruk Israel (20)

SAMGAR ‘verlos Israel’ van Filistyne.

Tydperk onvermeld

BARAK verslaan Kanaän

‘Die land het gerus’ (40)

MIDIAN verdruk Israel (?)

GIDEON verslaan Midian

“Die land het in Gideon se dae. . . gerus” (40)

ABIMELEG regeer (3)

TOLA (uit Issaskar) rig Israel (23)

JAÏR (van Gilead) rig Israel (22)

AMMON verdruk Israel (18)

300 jaar vanaf begin van Israelitiese verowering (Rigters 11:26-33)

JEFTA verslaan Ammon; rig Israel (6)

EBSAN (uit Betlehem) rig Israel rig Israel (7)

FILISTYNE verdruk Israel (40)

ELON (uit Sebulon) rig Israel (10)

ABDON (uit Efraim) rig Israel (8)

SIMON (uit Dan) rig Israel (20)

Verbondsark 20 jaar in Kirjat-Jearim

ELI Hoëpriester (40)

Filistyne verslaan Israel

Tussenperiode (5 [?])

SAMUEL Profeet, rigter

Samuel lei Israel in verowering van Filistyne (1 Samuel 7:7-14)

1117 v.G.J

SAUL Koning (40) Sy bewind begin 356 jaar na die aanvang van die verowering van Kanaan (1 Konings 6:1; Handelinge 13:21: 2 Samuel 5:4)

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel