Die stryd om ’n juister Bybelteks
KAN jy, wanneer jy vandag ’n Bybel optel, seker wees dat die woorde wat jy lees presies dieselfde is as wat byna 2 000 jaar gelede deur die apostels Mattheüs, Johannes, Paulus en die ander Bybelskrywers neergeskryf is?
Die vermaarde negentiende-eeuse Bybelgeleerde dr. F. J. A. Hort het so gedink. Aangaande die Christelike Griekse Skrifte het hy geskryf: “Die hoeveelheid wat in enige sin as wesenlike afwyking bestempel kan word, is slegs ’n klein breukdeel . . . en kan nouliks meer as ’n duisendste van die hele teks uitmaak.” Die ontdekking van nog manuskripte, asook verdere navorsing sedert daardie tyd, bevestig die feit dat ons ’n oorwegend juiste Bybelteks het.
Maar het jy geweet dat daar ’n lang stryd gevoer is om so ’n juiste teks te kry? Een persoon wat hierby betrokke was, was Johann Jakob Wetstein (1693-1754). Kom ons kyk kortliks na sy aandeel in die stryd om ’n juister Bybelteks. Dit sal ongetwyfeld ons waardering vergroot vir die juistheid waarmee die Bybel aan ons oorgedra is.
Wetstein is in Basel, Switserland, gebore. Hy het die universiteit aldaar bygewoon en besluit om in die teologie te studeer. Hy het baie ure in die universiteitsbiblioteek deurgebring, waar hy hom in die Bybelmanuskripte verdiep het. Maar Wetstein het opgemerk dat die manuskripte verskillende lesings bevat en het besluit om sy verhandeling vir aanstelling as predikant op hierdie onderwerp te baseer.
In die verhandeling het hy ’n aanval gedoen op diegene wat beweer dat enige wysiging van die bestaande teks van die Christelike Griekse Skrifte (die sogenaamde Textus Receptus) op ’n vervalsing van die Woord van God neerkom. Wetstein het aangevoer dat dit die gesag van God se Woord sou vermeerder, nie verminder nie, om onder die verskillende manuskripte die teks te vind wat die naaste aan die oorspronklike is.
Wetstein het verlof gevra om te reis voordat hy ’n aanstelling as predikant aanvaar. Hy het gehoop dat dit hom die geleentheid sou gee om soveel Bybelmanuskripte moontlik te ondersoek. In 1714 het hy vertrek en besoek gebring aan Zürich, Genève, Parys, Londen, Oxford, Cambridge, Leiden en Heidelberg. Hy het die belangrikste Griekse en Latynse Bybelmanuskripte indringend met mekaar vergelyk en die verskille opgeteken. In baie gevalle was dit die eerste keer dat sulke vergelykings gedoen is.
Navorsing veroorsaak probleme
Terwyl hy in Londen die Alexandrynse Manuskrip (’n Griekse manuskrip wat uit die vyfde eeu G.J. dateer en die grootste deel van die Bybel bevat) ondersoek het, het Wetstein ’n verrassende ontdekking gedoen. Tot op daardie tydstip is 1 Timotheüs 3:16 soos volg in die King James Version (1611) weergegee: “God is geopenbaar in die vlees.” Die meeste ander Bybels van daardie tyd het die vers ook so vertaal.
Wetstein het egter opgemerk dat die Griekse woord vir “God”, wat afgekort is tot ΘC, oorspronklik gelyk het soos die Griekse woord OC, wat “wat” beteken. Maar ’n horisontale strepie aan die agterkant van die perkamentvel wat dofweg sigbaar was, en die latere byvoeging van ’n strepie aan die bokant, het die woord OC (“wat”) in die verkorte vorm ΘC (“God”) verander.
Met baie ander manuskripte wat nou Wetstein se vertaling bevestig, gee juiste hedendaagse vertalings die vers soos volg weer: “Hy is geopenbaar in die vlees”, of “Hy wat . . . ”, met verwysing na Jesus Christus (American Standard Version, Moffatt, Weymouth, Spencer, The New English Bible, vergelyk ook NAV, Die Lewende Bybel). Maar Wetstein is daarvan beskuldig dat hy die teks vervals en die Drie-eenheidsleerstelling aangeval het, en dit is as kettery beskou.
Daar was nog iets wat veroorsaak het dat Wetstein van kettery verdink is. Sommige vertalings van daardie tyd het 1 Johannes 5:7, 8 soos volg weergegee: “Want daar is drie wat getuig in die hemel: die Vader, die Woord en die Heilige Gees, en hierdie drie is een; en daar is drie wat getuig op die aarde: die Gees en die water en die bloed, en die drie is eenstemmig.” Maar Wetstein het bevestig dat die Trinitariese woorde wat ons gekursiveer het in latere manuskripte bygevoeg is; hulle het nie verskyn in ’n enkele van die vroeë Griekse manuskripte wat hy ondersoek het nie.
Die suspisie van kettery is aangeblaas deur jaloerse vriende wat hom sy toenemende roem beny en eerlank sy vyande geword het. Wetstein het nie juis die situasie verlig deur sy skerp kritiek op diegene wat foute in hulle werk begaan het en deur sy dikwels oorylde en driftige verdediging van sy eie navorsing nie.
Publikasie van nuwe teks gedwarsboom
Wetstein was nietemin van plan om ’n nuwe uitgawe van die Christelike Griekse Skrifte, met alternatiewe lesings gegrond op sy navorsing, te publiseer. Hierdie nuus het aansienlike ontsteltenis veroorsaak. In 1729 is klagtes by die Ryksdag van die Switserse Gereformeerde Kerk ingedien oor sy voorstel om ’n Griekse teks met “gevaarlike afwykinge” uit te gee.
As gevolg hiervan het die Dorpsraad van Basel Wetstein uit sy amp van geestelike by die gemeente van St. Leonhard geskors en die Kerklike Komitee opdrag gegee om hom te ondersoek. Onbuigsame, bekrompe gesindhede en dogmatiese vooroordeel was aan die orde van die dag, en dit is vererger deur taktloosheid, onhoflikheid en opvlieëndheid aan beide kante. Wetstein het aangevoer dat sy nuwe boek nie veroordeel kan word voordat dit gesien is nie. En tog het hy botweg geweier om proefvelle beskikbaar te stel omdat hy gemeen het dat hulle nie billik beoordeel sou word nie.
Wetstein is ook deur die Switserse ampsdraers oor sy prediking en opvattings ondervra. Waarom? Wel, sy volgehoue ondersoek van Bybelmanuskripte het hom tot gevolgtrekkings laat kom wat aansienlik verskil het van die algemeen aanvaarde opvattings.
Hy het byvoorbeeld geglo dat siele na die dood onbewus is, dat hulle slaap tot die opstanding. Wat die algemeen aanvaarde Drie-eenheidsleerstelling betref, het ’n getuie vir die ampsdraers vertel dat sy neef anti-Trinitariese onderrig in die vorm van ’n “gelykenis” van Wetstein ontvang het. Wetstein het glo die verhouding van God, Christus en die heilige gees met die “verhouding van heer, seun en dienskneg in ’n huis” vergelyk. Met behulp van die onvolledige en dikwels dubbelsinnige aantekeninge van sommige van sy studente is Wetstein deur die Switserse ampsdraers veroordeel en van sy amp as geestelike onthef.
Wetstein het Basel verlaat en na Amsterdam getrek, waar een van sy familielede ’n drukkersaak gehad het. In 1730 het Wetstein anoniem sy Prolegomena gepubliseer, wat bedoel was om sy nuwe uitgawe van die Christelike Griekse Skrifte te vergesel. Maar die meeste geleerdes het besef dat net hy vir so ’n gevorderde, wetenskaplike werk verantwoordelik kon wees.
In sy Prolegomena het Wetstein getuienis aangevoer om die volgende gevolgtrekkings te staaf: Die algemeen aanvaarde Textus Receptus was ontoereikend, en die Alexandrynse Manuskrip behoort die grondslag vir ’n nuwe teks te vorm; die vroeë Christelike Bybelskrywers het die taal van die gewone mense gebruik, en elke beskikbare middel moet aangewend word om hulle woorde verstaanbaar te maak; sulke vermeerderde lig sal die saak van die ware godsdiens bevorder en nie belemmer nie.
Daarna het Wetstein vir ’n onderrigpos aan die kweekskool van die Remonstrantse Kerk in Amsterdam aansoek gedoen. Hy is aanvaar op voorwaarde dat hy sy naam van die beskuldiging van kettery suiwer. In 1731 keer hy na Basel terug, waar dit hom 18 maande neem om die beslissing herroep te kry. Met sy terugkeer na Amsterdam veroorsaak sy voorgenome aanstelling aansienlike polemiek. Dit word egter met sorg en takt deur die dorpsraad opgelos, maar Wetstein moet verskeie voorwaardes aanvaar. Hy moet byvoorbeeld sy planne laat vaar om ’n Griekse teks van die Skrif te publiseer.
Agttien jaar lank hou Wetstein nietemin aan om gegewens te versamel vir sy groot lewensideaal—die publikasie van daardie Griekse teks. Ten spyte van die verbod wat op hom geplaas is, publiseer hy uiteindelik in 1751/52 sy Griekse teks en aantekeninge in twee groot bundels. Twee jaar later sterf hy.
Wetstein se werk as tekskritikusa word lank reeds deur volgehoue vooruitgang oorskadu, en vandag is die juiste teks waaroor hy gedroom het ’n werklikheid. Dit is nie beïnvloed deur vooropgesette idees en leerstellings nie, maar berus op gesonde teks-beginsels. Ja, wanneer jy vandag ’n Bybel optel wat van daardie Griekse teks gebruik maak, kan jy daarvan seker wees dat dit gegrond is op ’n teks wat waarlik Christelike leringe verteenwoordig. Maar slegs deur dit sorgvuldig te bestudeer sal jy dieselfde eerbied daarvoor verkry as wat Wetstein gehad het en daarvan oortuig wees dat dit die hoogste gesag is, deur Jehovah God geïnspireer.
[Voetnoot]
a ’n Tekskritikus is iemand wat vroeë manuskripte van die Bybel met mekaar vergelyk om die oorsponklike lesing te bepaal; sy werk maak juister vertaling van die Bybel moontlik.
[Venster op bladsy 26]
“Ons dink aan . . . die uie en die knoffel”
Uie en knoffel was nie alleen volop in eertydse Egipte nie, maar die plaaslike produkte was skynbaar ook van besonder hoë gehalte. In Plants and Trees of Scripture het Bybelgeleerde F. Hasselquist beweer dat “enigiemand wat uie in Egipte geproe het, moet erken dat daar nêrens in die heelal smaakliker uie te kry is nie”. Werkers aan die piramides het blykbaar groot hoeveelhede uie en knoffel verorber. Volgens die Griekse geskiedskrywer Herodotus dui ’n inskripsie in die Groot Piramide van Cheops (of Khufu) aan dat “die geld wat hieraan bestee is 1 600 talente silwer was”. As die syfer juis is, kom dit teen huidige koerse op meer as 37 miljoen rand neer.
ln die lig van die gewildheid en hoë gehalte van uie en knoffel in eertydse Egipte is dit geen verrassing dat die Israeliete, in hulle ontevredenheid in die woestyn, na Egipte wou terugkeer ter wille van hierdie pikante groentesoorte nie (Numeri 11:4, 5). Hulle was selfs bereid om hulle vryheid vir hierdie eenvoudige genieting prys te gee. Hoe maklik kan selfs alledaagse dinge ’n strik word wat ’n mens die belangriker dinge in die lewe laat vergeet!