Vrae van lesers
■ Waarom weier Jehovah se Getuies om hulle Bybelstudiehulpe te verruil vir die godsdienslektuur van mense met wie hulle praat?
Jehovah se Getuies verrig hulle openbare bediening uit gehoorsaamheid aan goddelike instruksies. Jesus het gesê dat die “evangelie van die koninkryk” gedurende hierdie “voleinding van die wêreld” verkondig sal word “in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom” (Mattheüs 24:3, 14). Die Getuies gaan dus nie na mense se huise omdat hulle na waarheid of lig soek nie. Hulle het eerder alreeds tallose ure daaraan bestee om die waarheid uit God se Woord te leer, en noudat hulle die “evangelie” of goeie nuus aanvaar het, gaan hulle gehoorsaam uit om dit met ander te deel.
Baie mense wat glo dat daar ‘iets goeds in alle gelowe steek’, ag dit miskien bekrompe om anders te dink. (Vergelyk Jesus se beskouing soos opgeteken in Mattheüs 7:13, 14, 21-23.) Die Griekse filosowe in antieke Athene het so ’n “onbekrompe” gesindheid voorgestaan en het daarvan gehou om “iets nuuts te sê en te hoor” (Handelinge 17:18-21). Maar toe die apostel Paulus voor hulle verskyn het, was dit nie om filosofieë of idees uit te ruil nie. Hy het die geleentheid gebruik om vir hulle die waarheid te vertel soos hy daarmee bekend was, of hulle dit nou bekrompe geag het of nie. Hoewel sommige van daardie Atheners met hom gespot het, het ’n aantal gereageer en gelowig geword.—Handelinge 17:32-34; 2 Korinthiërs 6:14-18.
Paulus was ongetwyfeld vertroud met sommige Griekse leerstellings, en hy het daardie kennis gebruik om ’n baie doeltreffende getuienis te gee (Handelinge 17:28). Net so is Jehovah se Getuies nie onkundig ten opsigte van ander se opvattings nie. Hulle het aansienlike basiese kennis verkry van die leerstellige opvattings van godsdienste in hulle omgewing. Sulke leerstellings is in die boek Wat het godsdiens vir die mensdom gedoen? sowel as in talle artikels in Die Wagtoring en Ontwaak! behandel. Sodanige inligting oor verskillende godsdienste is aangebied om te toon hoe dit van akkurate Bybelleringe verskil.
God se Woord waarsku Christene: “Die Satan self verander hom in ’n engel van die lig. Dit is dus niks besonders wanneer sy dienaars hulle ook voordoen as dienaars van geregtigheid nie. Maar hulle einde sal wees volgens hulle werke” (2 Korinthiërs 11:14, 15). Satan het so suksesvol as “’n engel van die lig” verskyn dat hy selfs ’n volmaakte mens, Eva, kon verlei (1 Timotheüs 2:14). Jehovah se Getuies sou dus onbesonne optree, en boonop kosbare tyd verkwis, as hulle valse godsdienslektuur aanvaar en hulle sodoende blootstel aan inligting wat bedoel is om mense te mislei. Hulle het geen begeerte om die betreurenswaardige weg van die Jode in te slaan nie, van wie Paulus gesê het dat hulle “die waarheid van God verruil het vir die leuen”.—Romeine 1:25.
Daarbenewens is die godsdienslektuur wat mense vir Jehovah se Getuies aanbied soms geskryf deur persone wat afvallig geword het, of bevat dit hulle gedagtes. Ware Christene word beveel om sulke afvalliges te vermy (2 Johannes 9-11; Titus 3:10, 11). Die Wagtoring van 1 September 1983 het dus tereg vermaan:
“ln die eerste eeu het Himeneüs en Filetus afvallig geword en probeer om die geloof van sommige om te keer. God se standaard was: ‘Vermy onheilige, onsinnige praatjies’ (2 Timotheüs 2:16-19). Christene wat by daardie standaard gebly het, sou nie daarin belanggestel het om na afvalliges te luister of enige kwaadwillige geskrifte te verkry wat dié ‘ter wille van vuil wins’ versprei nie. Waarom sulke persone se goddeloosheid finansier deur hulle lektuur te koop? (Titus 1:11). Laat ons, as lojale Christene, God se standaarde naleef, ons verstande voed met wat waar en regverdig is en die kanaal waardeur ons aanvanklik Bybelwaarheid geleer het met waardering en lojaliteit aanhang.—Vergelyk 1 Timotheüs 4:16.—Bladsy 15.
Dit is dus uit wysheid en eerbied vir God se raad dat Jehovah se Getuies nie waardevolle Bybelstudiehulpe vol Skriftuurlike waarheid verruil vir lektuur wat dwaalleringe of afvallige idees verkondig nie.