Sal jy ’n gerug versprei?
GEDURENDE die Middeleeue het ’n ongelooflike gerug die ronde gedoen onder die sogenaamde Christene van Europa. Daar was fluisteringe dat die Jode elke jaar met Pasga ’n Christen om die lewe bring en dan sy bloed in hulle ritusse gebruik. Hulle het glo soms Christenkinders gevang en hulle verskriklik gemartel voordat hulle hulle doodgemaak en hulle bloed gebruik het. Reg tot in hierdie eeu, gedurende die Nazi-tydperk in Duitsland, is hierdie gerug gebruik as ’n verskoning om die Jode te vervolg.
Die saak is ondersoek en verskeie kere onwaar bewys, tog het dit byna 1 000 jaar voortgeduur. Sou jy dit verder versprei het as iemand jou dit meegedeel het? Ons almal sou hopelik genoeg gesonde verstand of medelye gehad het om dit nie te doen nie. Maar gerugte is hardnekkige en ingewikkelde goed. Wanneer hulle eers die ronde begin doen, is dit moeilik om hulle te smoor. Selfs vandag ontstaan onsinnige gerugte en versprei dit soos ’n veldbrand.
Procter & Gamble, ’n groot firma in die Verenigde State wat huisraadtoestelle voorsien, was onlangs die slagoffer van ’n gerug dat dit Satanisme bevorder en dat sy handelsmerk in werklikheid ’n demoniese simbool is. Volgens ’n ander algemene gerug het ’n bekende kettingrestourant wat net vinnige wegneemetes berei wurms in hulle frikkadelbroodjies gesit! Enkele jare gelede is daar algemeen geglo dat ’n lid van ’n sanggroep, die Beatles, in ’n motorongeluk gesterf het en deur ’n dubbelganger vervang is. Selfs die Wagtoringgenootskap se publikasies was al die slagoffer van gerugte—byvoorbeeld dat een van die kunstenaars in die geheim prente van demone in die illustrasies geteken het, betrap is en uitgesit is!
Het jy sulke gerugte versprei? Dan het jy—moontlik onwetend—leuens versprei, want hulle was almal vals. Die gerug oor die Genootskap se publikasies was beslis skadelik, sowel as lasterlik teenoor die ywerige Christene wat so hard werk om prente voor te berei om die tydskrifte, brosjures en boeke so aantreklik te maak. Dit is net so belaglik as om te sê dat God doelbewus ‘die man in die maan’ gevorm het toe Hy die hemelliggame geskep het.
Baie jare gelede het Jehovah God vir die Israeliete gesê: “Jy mag geen valse gerug rondstrooi nie” (Exodus 23:1). Daardie gebod is met goeie rede gegee. Sulke gerugte het slegte gevolge. Dit maak die gerugstrooier ’n leuenaar, iets wat Jehovah haat (Spreuke 6:16-19). Dit benadeel die reputasie van die individu of groep oor wie die gerug gaan. En dit mislei die persoon wat na die gerug luister en laat hom moontlik onverstandig optree (Numeri 13:32-14:4). Dit is baie liefdeloos om ons vriende so te bedrieg. Dit druis in teen God se gebod: “Julle mag nie lieg nie, en julle mag die een die ander nie bedrieg nie.”—Levitikus 19:11; Spreuke 14:25.
As ons iets wat ons gehoor het, oorvertel, moet ons dus seker maak dat ons die feite ken. Maar hoe kan ons dit doen? Iets wat ons sal help, is as ons die aard van gerugte verstaan.
Hoe ontstaan ’n gerug?
’n Gerug is “praatjies of ’n mening wat algemeen versprei word sonder enige waarneembare bron”; of, “’n verklaring of berig wat die ronde doen sonder dat enigiemand vir die waarheid daarvan kan instaan” (Webster’s New Collegiate Dictionary). Gerugte kan mondeling versprei word. Of dit kan in ’n meer “amptelike” vorm verskyn, selfs in druk of oor die radio. Die feit dat iets op televisie of in die koerant was, beteken nie dat dit waar is nie.
Hoe ontstaan gerugte? Dikwels weet niemand nie. ’n Terloopse kommentaar deur iemand kan opgeneem, herhaal en oordryf word. Die bewering dat iets kan gebeur, kan maklik verander in ’n stelling dat dit gaan gebeur, en dan kan dit verander word in iets wat gebeur het. Selfs ’n grap kan ’n gerug word as iemand dit ernstig opneem en oorvertel.
Gerugte ontstaan maklik in ’n klimaat van vrees. Toe die profeet Esegiel voorspel het watter toestande in Jerusalem sou heers terwyl daardie stad se einde genader het, het hy gesê: “Die angs kom; en hulle soek vrede, maar dit is nie daar nie. Onheil op onheil kom, en gerug op gerug is daar” (Esegiel 7:25, 26). Namate die bevolking met vrees vervul is, sou Jerusalem ’n broeines van gerugte word.
Gerugte kan ook opsetlik versin word. Toe die soldate wat die graf van die tereggestelde Jesus bewaak het, berig gebring het oor die verbasende gebeure wat hulle ten tye van Jesus se opstanding aanskou het, het die ouderlinge van die Jode hulle aangesê om ’n valse gerug te versprei. Hulle het gesê: “Julle moet sê: Sy dissipels het in die nag gekom en Hom gesteel terwyl ons aan die slaap was.” Die soldate het hulle gehoorsaam. “Hulle het toe die geld geneem en gedoen soos hulle geleer was. En hierdie verhaal is versprei onder die Jode, tot vandag toe.”—Mattheüs 28:13-15.
Waarom gerugte versprei
Die interessanter vraag is: Waarom versprei gerugte so aanhoudend? Dit is dikwels bloot omdat mense dit graag wil glo. Sommige koerantverslaggewers maak ’n loopbaan daarvan om gerugte oor vername mense te versprei. Hulle sou gou werkloos gewees het as daar nie ’n mark vir sulke stories was nie. Baie mense is soos die Grieke van Paulus se dag wat altyd gretig was om “iets nuuts” te hoor.—Handelinge 17:21.
Gerugte versprei ook omdat hulle inpas by algemene wanbegrippe en vooroordele. Die valse gerug oor Jode wat Christene doodmaak, het ongetwyfeld op ontvanklike ore geval omdat nie-Jode nie die Jode verstaan het nie. Hulle het hulle gevrees of hulle beny. Gerugte kan ook algemene besorgdheid oor iets weerspieël. Die gerug oor wurms in die frikkadelbroodjies het dalk voortgeduur omdat mense senuweeagtig is oor bymiddels en geheime bestanddele in kos. En die gerug oor Procter & Gamble het moontlik posgevat omdat so baie mense vandag met demonisme en spiritisme behep is.
Gerugte sal ook gedy waar regerings of owerhede dinge in die geheim doen. En dit kan selfs deur wensdenkery gevoed word. Dekades lank doen gerugte die ronde dat vlieënde pierings geland het, kwansuis met minsame wesens van gevorderde wetenskaplike gemeenskappe op ander planete daarin. In hierdie veelbewoë 20ste eeu vind sommige mense dit vertroostend om te glo dat hierdie wesens werklik bestaan.
Of ’n gerug kan ontstaan of oënskynlik bevestig word deur die verkeerde vertolking van feite. In die eerste eeu het die gerug die ronde gedoen dat die apostel Paulus die Jode aangespoor het om van Moses afvallig te word (Handelinge 21:21, 24). Die gerug was vals, maar dit is moontlik versterk deur die feit dat Paulus, in gehoorsaamheid aan die besluit van die apostels en ouere manne te Jerusalem, geleer het dat dit nie vir nie-Joodse Christene nodig was om onder die Mosaïese Wet te kom nie.—Handelinge 15:5, 28, 29.
Skei die koring van die kaf
Is alles wat mondeling oorvertel word dan ’n valse gerug? Glad nie. In die dae van Josua het Ragab van Jerigo vir die Israelitiese verkenners gesê: “Ons het gehoor dat die HERE die water van die Skelfsee voor julle by jul uittog uit Egipte laat opdroog het en wat julle die twee konings van die Amoriete, Sihon en Og, oorkant die Jordaan aangedoen het” (Josua 2:10, 11). Hierdie dinge wat Ragab gehoor het, was waar.
En toe Jesus wonders in die land Israel gedoen het, sê die Bybel: “En die gerug aangaande Hom is versprei oor die hele Sirië; en hulle het na Hom gebring almal wat ongesteld was, wat gekwel was deur allerhande siektes en pyne en wat van duiwels besete was, en maansiekes en verlamdes; en Hy het hulle gesond gemaak” (Mattheüs 4:23, 24). Die berigte oor Jesus was ook waar.
Hoe kan ons dan vasstel of ’n gerug waar of vals is? Hier is ’n paar dinge wat jy in gedagte kan hou wanneer iemand jou ’n sappige brokkie nuus meedeel:
Wie het dit vir jou vertel? Is hy die soort persoon wat nooit iets sê nie tensy hy seker is van sy feite? Of steek hy altyd sy neus in ander mense se sake? Probeer hy altyd om eerste met sappige stories vorendag te kom? Die bron van die berig help baie om te bepaal of dit waarskynlik akkuraat is of nie. En dit bring ons by ’n verwante gedagte: Diegene in vertrouensampte of posisies van verantwoordelikheid, soos ouere manne in ’n gemeente of ryp Christinne, moet doodseker wees van die feite voordat hulle iets oorvertel, indien hulle dit hoegenaamd moet oorvertel. Dit is waarskynliker dat mense sal glo wat húlle sê en dit sal oorvertel.—Handelinge 20:28; Titus 2:3.
Was jou informant in ’n posisie om die feite te ken? Tipiese gerugte begin dikwels soos volg: “Ek verneem van my oom, wat ’n man ken wat by . . . ” As ’n storie so begin, moet jy oppas. Party kinders speel ’n speletjie waar hulle in ’n kring staan en die een ’n kort sinnetjie vir sy maatjie langs hom fluister. Dié fluister dit dan vir die volgende een, wat op sy beurt die boodskap oordra. Wanneer die sin by die laaste een uitkom, het die kinders groot pret om te sien hoeveel dit verander het. Baie van ons het daardie speletjie gespeel. Maar het ons die les daaruit geleer? Wanneer stories oorvertel word, word daar onvermydelik ’n stertjie bygelas en is daar gou min ooreenkoms met die oorspronklike vorm. As jy nie kan vasstel waar die storie presies sy ontstaan gehad het nie, is dit waarskynlik veilig om aan te neem dat dit verdraaid of selfs heeltemal vals is.
Is die berig lasterlik? As ’n berig afbreuk doen aan die goeie naam van ’n persoon, beroep, ras of organisasie, moet jy uiters versigtig wees. Dit is die geval selfs al is jy nie besonder lief vir daardie groep of persoon nie. Laster is laster, en leuens is leuens, ongeag wie die slagoffers is. Jesus het die skrifgeleerdes en Fariseërs onomwonde veroordeel. Maar dink jy dat hy lasterlike gerugte oor hulle sou versprei?—1 Petrus 2:21, 22.
Is die berig aanneemlik? Is dit werklik waarskynlik dat ruimteskepe ons planeet besoek? Of dat ’n groot handelsmaatskappy ’n verdrag met die Duiwel sou sluit? Of versteek toegewyde kunstenaars werklik gesigte in tydskrif-prente? Berigte wat so onwaarskynlik klink, moet met meer as ’n korrel sout genuttig word.
Smoor gerugte, verkondig die waarheid
Dit wil nie sê dat verbasende dinge nooit gebeur nie. Dit gebeur soms. Maar wanneer ons daarvan te hore kom, moet ons verstandig optree en nie goedgelowig elke storie wat aan ons opgedis word, sluk nie. Toe gerugte in Palestina die ronde gedoen het dat ’n timmerman van Nasaret wonderwerke verrig, was die berigte toevallig waar (Mattheüs 4:24). Toe Johannes die Doper dit gehoor het, het hy nietemin sy dissipels gestuur om uit te vind presies wat die waarheid is (Mattheüs 11:2, 3). Dit was ’n gebalanseerde reaksie.
Toe die apostel Thomas van Jesus se opstanding gehoor het, het hy daaraan getwyfel (Johannes 20:24, 25). Maar in hierdie geval moes hy besef het dat dit nie ’n ongegronde gerug was nie. Hy het geweet van die mense wat Jesus self opgewek het en hy het gehoor hoe Jesus van sy komende dood en opstanding gepraat het (Mattheüs 16:21; Johannes 11:43, 46). Daarbenewens is hy dit meegedeel deur mense wat hy geweet het hy kon vertrou. En hulle het nie iets oorvertel wat hulle derdehands gehoor het nie. Hulle was ooggetuies, en hy kon hulle uitvra om vas te stel of hulle moontlik ’n fout begaan het.
Ja, sommige berigte wat ons ore bereik, kan waar wees. Maar gesonde verstand sal vir ons sê dat gerugte in enige nasie, dorp of selfs organisasie sal versprei, veral gerugte wat die basiese begeertes of vrese van die gemeenskap weerspieël. En daar bestaan altyd ’n sterk moontlikheid dat ’n gerug net ’n verdraaiing van die waarheid is. As jy ’n storie hoor en nie presies kan vasstel wat die bron daarvan is nie, moet jy gevolglik goeie oordeel gebruik en jou van die feite vergewis voordat jy dit oorvertel. Onthou, “by veelheid van woorde ontbreek die oortreding nie; maar hy wat sy lippe inhou, handel verstandig” (Spreuke 10:19). Moenie ’n gerugstrooier wees nie, maar eerder ’n gerugsmoorder. So sal jy die woorde van die apostel Paulus vervul: “Lê die leuen af en spreek die waarheid, elkeen met sy naaste, want ons is mekaar se lede.”—Efesiërs 4:25.
[Loksteks op bladsy 20]
Gerugte is hardnekkig—dit is baie moeilik om hulle te smoor
[Lokteks op bladsy 21]
As jy ’n gerug versprei, versprei jy dalk ’n leuen
[Lokteks op bladsy 22]
Nie alles wat oorvertel word, is noodwendig ’n valse gerug nie
[Lokteks op bladsy 23]
Was jou informant in die posisie om die feite te ken?