Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w84 9/1 bl. 8-12
  • “Wie het die gedagte van Jehovah geken?”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “Wie het die gedagte van Jehovah geken?”
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Jehovah se “gedagte” met betrekking tot die “olyfboom”
  • Liefde vir God met jou hele hart en jou hele verstand
  • ’n Vrugbare olyfboom
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
  • ‘O die diepte van God se wysheid!’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2011
  • Verenigde vrugdraers
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
  • ’n Blaarryke olyfboom in die huis van God
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
w84 9/1 bl. 8-12

“Wie het die gedagte van Jehovah geken?”

“Want wie het die gedagte van [Jehovah] geken, of wie was sy raadsman gewees?”—ROMEINE 11:34; JESAJA 40:13, Griekse Septuaginta.

1. (a) Watter uitdagende vraag haal Paulus uit Jesaja 40:13 aan? (b) Hoe verskil ’n sleutelwoord in sy aanhaling van die oorspronklike Hebreeus?

MEER as 2 700 jaar gelede is die uitdagende vraag aan die eertydse nasie van Israel gestel, soos deur ’n voormalige Joodse Fariseër in sy brief, in Romeine 11:34, aangehaal: “Want wie het die gedagte van [Jehovah] geken, of wie was sy raadsman gewees?” Die apostel Paulus het die vraag aangehaal uit Jesaja 40:13 soos dit in die ou Griekse Septuaginta vertaal is. Hierdie vertaling gebruik die woord “gedagte” (nous) in plaas van die woord vir “gees” soos dit in die oorspronklike Hebreeuse teks voorkom.

2. Wat verstaan ons onder die menslike “gedagte”? Lig dit toe.

2 Maar wat beteken die geïnspireerde uitdrukking “die gedagte van Jehovah”? In ons geval as menseskepsele het die gedagte betrekking op ons dinkproses. Ons kan byvoorbeeld ‘van gedagte verander’ en die “geestesgesteldheid” verkry “wat ook in Christus Jesus was”. (Filippense 2:5, NW; kyk ook Genesis 11:6, NW.) Ons verstandelike vermoëns is hoër as dié van enige dier.

3-5. (a) Wat toon Jesaja 55:8, 9 ten opsigte van die “gedagte” van Jehovah? (b) Waarom verbaas dit ons nie dat Paulus die uitroep doen wat in Romeine 11:33 opgeteken is nie? (c) Wat bedoel die apostel met sy woorde in Romeine 11:34? (d) Waarom kon voorchristelike skrywers nie die “gedagte” van Jehovah ken nie?

3 Wat Jehovah God, die Skepper, in gedagte het, is oneindig hoër as wat ons as onvolmaakte menseskepsele in gedagte kan hê of uit ons eie kan bedink. Hy vestig die aandag op hierdie belangrike feit in die profesie van Jesaja 55:8, 9, waar ons lees: “Want my gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle weë is nie my weë nie, spreek die HERE. Want soos die hemel hoër is as die aarde, so is my weë hoër as julle weë en my gedagtes as julle gedagtes.” Hy beoog dus iets veel beters vir sy menseskepsele, veral vir die wat in ’n verbondsverhouding met hom kom, as wat ons hier op aarde ooit kan uitdink. Daarom verbaas dit ons nie dat die “apostel van die heidene”, nadat hy ’n unieke aspek van Jehovah se reëling en die ontplooiing daarvan bespreek het, hom gedronge gevoel het om uit te roep nie: “o, Diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele en onnaspeurlik sy weë!” (Romeine 11:13, 33). Waarlik, geen mens het God se weë vooruit vir hom nagespeur nie. Daarom sê die geïnspireerde apostel vervolgens: “Want wie het die gedagte [noun] van [Jehovah] geken, of wie was sy raadsman gewees?” (Romeine 11:34). In The Jerusalem Bible lui die vers so: “Wie kan ooit die gedagte van die Here ken? Wie kan ooit sy raadgewer wees?”

4 Met daardie woorde bedoel die apostel nie dat ’n mens nie God se gedagte kan ken of verstaan nadat Hy sy gedagte geopenbaar het nie. Nee! Want God het sy gedagte aan ons bekend gemaak deur middel van sy geïnspireerde Woord, die Heilige Skrif. Wat die apostel bedoel, is dat geen mens, uit sy eie en vóór God Sy gedagte of voorneme gevorm het, ooit dieselfde ding met sy denkvermoëns kon uitgewerk of ontwikkel het nie! Geen mens het dit gedoen voor God dit nie self geopenbaar het nie. Dit is dus inderdaad so dat geen mens “die gedagte van Jehovah” geken het voordat die goddelike openbaring in die Bybel uiteengesit is nie. Geeneen van die voorchristelike skrywers van die eerste 39 boeke van die Heilige Skrif het dit geken nie, nie eers die wetgewer Moses nie.

5 Niemand kon byvoorbeeld verstaan wat Jehovah met Abraham en sy saad in gedagte gehad het nie, en niemand kon verstaan wat dit alles met die gebeure van die eerste eeu G.J. te doen gehad het nie.

Jehovah se “gedagte” met betrekking tot die “olyfboom”

6. (a) Watter belofte het Paulus in Romeine hoofstuk 11 behandel? (b) Hoe is Abraham grootliks begunstig, en waarom?

6 In Romeine, hoofstuk 11, het die apostel die voorspelde “nageslag van Abraham” bespreek, tot en met vers 34. Volgens Moses se verslae in Genesis 12:3 en 22:17, 18 het Jehovah God beloof om die bejaarde aartsvader Abraham deur sy “nageslag”, of saad, te seën; in hierdie nageslag, of deur middel daarvan, sou die God van Abraham op sy bestemde tyd al die geslagte en nasies van die aarde seën. Hoe wonderlik tog om die erfgenaam van so ’n belofte te word, en wat ’n beloning vir geloof en gehoorsaamheid was dit vir Abraham om erfgenaam van daardie belofte te word!

7. (a) Wat stel die dele van die tipiese “olyfboom” voor? (b) Waarvoor was die “takke” bestem? (c) Watter “gedagte” van Jehovah in verband met die “nageslag” moes nog geopenbaar word?

7 Die apostel vergelyk dit wat Jehovah aanvanklik in gedagte gehad het met die ontwikkeling van ’n olyfboom, ’n boom wat algemeen in sy vaderland Israel voorgekom het. In ooreenstemming met hierdie beeld was Abraham self die wortel van hierdie tipiese olyfboom. Die boomstam wat uit Abraham as die simboliese wortel gegroei het, het bestaan uit sy geliefde seun Isak, sy kleinseun Jakob, of Israel, en die 12 seuns van Jakob, die vaders van die 12 stamme van Israel. Al die afstammelinge van daardie 12 aartsvaders was van nature takke aan daardie tipiese olyfboom. As sodanig was hulle direk bestem om die beloofde “nageslag van Abraham” te word deur wie al die geslagte en nasies van die aarde geseën sou word, ooreenkomstig Jehovah se liefdevolle voorneme of “gedagte”. Maar wat hulle nie omtrent hierdie “nageslag” geweet het nie, was dat dit nie ’n vleeslike nageslag deur natuurlike afstamming van die aartsvader Abraham sou wees nie, maar wel ’n geestelike “nageslag”. Die vader daarvan sou dus groter en hoër as Abraham wees. Dit sou niemand anders as die groot Lewegewer, Jehovah God self, wees nie. Maar wie sou die vernaamste lid van hierdie “nageslag” of saad wees?

8. (a) Hoe het Jesus die Een geword wat groter as Isak is? (b) Waarom was Jesus se offer en hemelse opstanding nodig om al die geslagte van die aarde te seën?

8 Hý was groter as Isak, die seun van Abraham se oudag. Dit was “die mens Christus Jesus”, ’n nakomeling van Isak wat groter was as Isak en sy seun Jakob, of Israel, en die 12 seuns van Jakob, die 12 fondamente van die nasie Israel (1 Timotheüs 2:5). Die kind wat Jesus genoem sou word, was die “Seun van God”, want hy is deur die gees van Jehovah God in die skoot van sy maagdelike moeder Maria verwek. Trouens, sy lewe is uit die geesteryk oorgeplaas na die skoot van Maria, en haar man, Josef, was slegs die aardse pleegvader van Jesus (Lukas, hoofstukke 1-3). Maar soos sake verloop het, het Jesus nie al die geslagte en nasies van die aarde tot seën gestrek terwyl hy ’n mens op aarde was nie. Deur middel van sy volmaakte, sondelose menseoffer by Kalvarie buitekant Jerusalem in 33 G.J. kan Jesus weliswaar tot seën van die hele mensdom dien. Maar op die derde dag van sy dood in 33 G.J. het Jehovah God, sy hemelse Vader, hom uit die dood opgewek, en daarna het hy as ’n Geesseun van God na die hemel teruggekeer. Dit is van daar af dat hy al die geslagte en nasies van die aarde seën.

9. (a) Watter groter betekenis neem die simboliese olyfboom nou aan? (b) Hoeveel geestelike takke is daar, en hoe weet ons dit? (c) Hoe werp Galasiërs 3:28, 29 lig op die identiteit van hierdie “takke”?

9 Uit hierdie standpunt gesien, neem die apostel se illustrasie van die olyfboom ’n nuwe en oneindig groter betekenis aan. Die “wortel” van daardie geestelike olyfboom is dan Jehovah God, die Groot Lewegewer, die Een wat groter is as die aartsvader Abraham. Die eniggebore Seun van hierdie Grotere Abraham is Jesus Christus, die Een wat groter as Isak is. Hierdie Grotere Isak is die Hoof van die Christengemeente wat deur die gees van die Grotere Abraham, Jehovah God, verwek is. Die lede van die Christengemeente is die geestelike takke wat uit hierdie teokratiese olyfboom groei, en volgens Openbaring 7:1-8 en 14:1-3 sal hulle uiteindelike ledetal 144 000 wees. Dit is waarom ons in Galasiërs 3:28, 29 lees: “Daar is nie meer Jood of Griek nie, daar is nie meer slaaf of vryman nie, daar is nie meer man en vrou nie; want julle is almal een in Christus Jesus. En as julle aan Christus behoort, dan is julle die nageslag van Abraham en volgens die belofte erfgename.”

10. (a) Wie het die eerste reg daarop gehad om geestelike takke te word? (b) Wie van hulle is “gered”, en watter profesie het Paulus aangehaal om dit toe te lig?

10 Die natuurlike Jode van Jesus se dag, wat sy natuurlike broers was, het weens hulle natuurlike afstamming van die aartsvader Abraham die eerste reg daarop gehad om “takke” in daardie geestelike olyfboom te word. Deur die middelaar Moses was hulle in die Wetsverbond met die Grotere Abraham. Toe Jesus Christus na die aarde gekom het, het hy spesifiek na “die verlore skape van die huis van Israel” gekom (Mattheüs 10:6). Daarom was die eerste “takke” in daardie geestelike olyfboom, waarvan Jehovah God die wortel is, natuurlike Jode—die 12 getroue apostels van Jesus Christus en duisende ander natuurlike Jode. Maar slegs ’n klein “oorblyfsel” van die natuurlike Jode is “gered” as die nageslag van die Grotere Abraham en as erfgename van sy “belofte”, net soos in Jesaja 10:22 voorspel is. Paulus haal hierdie profesie in Romeine 9:27 aan.

11. (a) Wanneer is voornemende “takke” afgebreek? (b) Hoe is “takke” van ’n wilde olyfboom nou ingeënt, en op watter olyfboom?

11 Die afbreek van voornemende “takke” van “die nageslag van Abraham” het begin met die bekering van besnede Samaritane, en dit het drie en ’n half jaar ná die dood en opstanding van Jesus Christus, die Grotere Isak, ’n hoogtepunt bereik. Dit was toe dat die eerste nie-Joodse, onbesnede gelowiges, die Romeinse hoofman Cornelius en sy gesin en gelowige vriende, deur die apostel Petrus tot bekering gebring en, ná hulle verwekking en salwing met Jehovah se gees, gedoop is (Handelinge, hoofstuk 10). Op hierdie manier is die “takke” van ’n wilde olyfboom ingeënt op die geestelike olyfboom waarvan Jehovah God die lewegewende “wortel” is.

12. (a) Wat sou gebeur indien afgebreekte “takke” berou toon? Lig dit toe. (b) Waarvan was dit ’n blyk? (c) Hoe moet ons, soos Paulus, op so ’n openbaring van die “gedagte” van Jehovah reageer?

12 Maar as enige van die natuurlike Jode wat afgebreek is die saak sou heroorweeg en berou sou toon, soos Aquila en Priscilla, sou hulle weer ingeënt word en die geestelike voorreg geniet wat die Joodse nasie verloor het weens ongeloof in die Grotere Isak, Jesus Christus (Handelinge 18:1-4, 26; Romeine 16:3; 1 Korinthiërs 16:19). Dit was ’n blyk van die goedertierenheid van Jehovah God, die Grotere Abraham. Dit was hierdie uitmuntende ruimhartigheid aan die kant van Jehovah God teenoor natuurlike Jode, wat nog gelief was by God om hulle voorvaders se ontwil, wat die apostel Paulus laat uitroep het: “o, Diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God!” Wek hierdie openbaring van die “gedagte” van Jehovah ook ons hartgrondige waardering?

Liefde vir God met jou hele hart en jou hele verstand

13, 14. (a) Hoe het God die Wet voorsien, en met watter doel? (b) Wat het Jesus oor daardie Wet gesê, en van watter “hart” het hy hier gepraat? (c) Watter twee gebooie het Jesus aangehaal, en waarom moet ons hulle onderhou?

13 Jehovah God het ’n verbond gesluit met die nasie Israel, die natuurlike nageslag van die aartsvader Abraham, en die profeet Moses het as die middelaar van hierdie verbond opgetree. Dit was lank gelede in die jaar 1513 v.G.J. in die woestyn van die Sinaïtiese skiereiland by die berg Sinai. Daar het hy sy Wet aan hulle gegee. Aangaande hierdie Wet het die apostel Paulus geskryf: “Die wet was dus ons tugmeester na Christus toe, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof” (Galasiërs 3:24). En wat het Christus Jesus oor die Wet gesê wat deur Moses gegee is? Toe daar aan hom gevra is wat “die groot gebod” in die Wet is, het Jesus geantwoord: “Jy moet [Jehovah] jou God liefhê met jou hele hart [Grieks: kar·di’a] en met jou hele siel [psu·chè] en met jou hele verstand [di·a·noi’a]. Dit is die eerste en groot gebod. En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Aan hierdie twee gebooie hang die hele wet en die profete” (Mattheüs 22:35-40). Hier word die hart in verhouding tot die verstand gemeld, wat toon dat die “hart” hier figuurlik moet wees.

14 Jesus het daar uit Deuteronomium 6:5 aangehaal: “Daarom moet jy die HERE jou God liefhê met jou hele hart [Hebreeus: le·bab’] en met jou hele siel [nê-fêsj] en met al jou krag.” Ook uit Levitikus 19:18: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Ek is die HERE.” Jesus het daardie twee gebooie dus as die grootste en die naasgrootste gebooie van die Mosaïese Wetsverbond bestempel. Ons is nie vandag onder die Mosaïese Wet nie, maar daardie grondliggende vereistes het nie verouderd geraak nie. Ons moet hulle onderhou.

15. (a) Wat sit die fisiese hart aan die gang, en hoe werk dit? (b) Hoe hou die fisiese hart met die brein en verstand verband?

15 Ons weet dat dit die “gees van die lewe” of “lewensgees” is wat die fisiese hart aandryf (Openbaring 11:11; Genesis 7:22). Hierdie lewenskrag sit die hart van lewende vlees aan die gang sodat dit die lewensbloed na alle dele van die liggaam, met inbegrip van die brein, pomp. Jehovah God het gesê: “Wat die siel [nê’-fêsj] van alle vlees aangaan, sy bloed is met sy siel verbind. Daarom het Ek aan die kinders van Israel gesê: Julle moet die bloed van enige vlees nie eet nie, want die siel van alle vlees is sy bloed; elkeen wat dit eet, moet uitgeroei word” (Levitikus 17:14). Die hele liggaam kan slegs lewe wanneer die fisiese hart die lewensonderhoudende bloed na alle liggaamsdele pomp, hetsy hierdie sirkulasie van die bloed deur middel van ’n mens se natuurlike, Godgegewe hart, deur ’n oorgeplante hart uit die liggaam van iemand anders of deur ’n ongevoelige, nie-vleeslike, meganiese hart geskied. Die bloed word dus na die brein gepomp sodat die denkvermoëns aan die gang gesit word en die verstand funksioneer. Dit blyk dus dat die fisiese hart die brein voed deur dit te voorsien van die bloed waarin die aktiewe lewenskrag, die “lewensgees”, is. Of ’n persoon by sy bewussyn is of nie, die hart hou aan om die bloed na die brein en na alle ander dele van die liggaam te pomp.

16. (a) Wat is die figuurlike hart, volgens die Bybel? (b) Wat word van ons vereis indien ons Jehovah met ‘ons hele hart’ wil liefhê? (c)  Hoe het ons hom met ons hele “verstand” lief?

16 Maar laat ons verder kyk as die letterlike hart van lewende weefsel. In die Bybel stel die hart die setel van aandrywing asook van die emosies voor. Dit is die figuurlike hart, ons innerlike self. In 1 Petrus 3:4 word dit beskryf as “die verborge mens van die hart” (AB)”,die innerlike mens” (NAV). Ons word gebied om Jehovah God met ‘die hele hart’ lief te hê. Ons word ook beveel om Jehovah God met ons hele siel, met ons hele wese, lief te hê. Dit vereis dat ons die een lewende en ware God, die Almagtige, met al ons lewenskrag moet liefhê, dat ons al ons energie daaraan wy om die geopenbaarde wil van God te doen en om sy werk gedurende hierdie “voleinding van die wêreld” ten volle uit te voer (Mattheüs 24:3). Daarbenewens moet ons die God van die Bybel ook met ons hele “verstand”, ons denkvermoë, liefhê.—Markus 12:29-31.

17. (a) Watter versekering het ons as ons Jehovah met ons hele hart en verstand liefhet? (b) Hoe sal die vrede van God ons hart en verstand raak, volgens Filippense 4:7?

17 Dit spreek vanself dat, indien ons met ons hele hart en verstand blyk gee van ons liefde vir Jehovah God, hy daarin behae sal skep om ons gebede te verhoor, en hierdie versekering sal ons vrywaar teen kwellinge. Ons sal ’n gemoedsrus geniet wat hierdie onstuimige wêreld nie geniet of kan verstaan nie. Hoe so? Die apostel Paulus het dit verduidelik deur aan die geliefde Christene in eertydse Filippi, Griekeland, te skryf: “Die vrede van God, wat alle verstand [Grieks: noun] te bowe gaan, sal julle harte [kar·di’as] en julle sinne [no·e’ma-ta] bewaar in Christus Jesus” (Filippense 4:7). Ons figuurlike hart sal derhalwe nie opgewek word tot oorylde, verkeerde drange en emosionele verontrusting nie, en die gedagtes of verstand sal nie verward of verwronge wees nie. Met die hulp van die Leier, Christus Jesus, sal ’n Christen voortgaan op sy weg volgens God se geïnspireerde Bybel.

Kan jy antwoord?—

◻ Wat word bedoel met die “gedagte” van Jehovah?

◻ Hoe het Paulus die teokratiese olyfboom gebruik om die “gedagte” van Jehovah toe te lig?

◻ Wat is die figuurlike “hart”?

◻ Hoe is die “hart” en die “verstand” betrokke by ons liefde vir God?

[Prent op bladsy 9]

Die teokratiese olyfboom: Ongehoorsame Joodse “takke” is afgekap en deur Samaritaanse bekeerlinge en onbesnede nie-Jode vervang

[Prent op bladsy 11]

Die fisiese hart pomp lewensonderhoudende bloed na die brein

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel