Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w84 9/1 bl. 4-7
  • Die “hart” in God se Woord, die Bybel

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die “hart” in God se Woord, die Bybel
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Soortgelyke materiaal
  • Vasbeslote om Jehovah met ’n volkome hart te dien
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
  • Die “niere” en die “hart” in die Skrif
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Verkry ’n hart waarin Jehovah behae het
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2001
  • Het jy ‘’n hart om Jehovah te ken’?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2013
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
w84 9/1 bl. 4-7

Die “hart” in God se Woord, die Bybel

DIT ly geen twyfel dat die mens se hart meer as enige ander liggaamsorgaan deur die mens bepeins is nie. Gedigte sowel as prosa is vol verwysings daarna. Dit verbaas ons dus nie dat die hart baie aandag in God se Woord kry nie. Trouens, dit word byna duisend keer op die een of ander wyse daarin gemeld. Wat moet ons dan verstaan onder die woord “hart”?

Dit is nie buitengewoon dat ’n woord op ’n verskeidenheid maniere met verskillende nuanses van betekenis in die Bybel gebruik word nie. Let byvoorbeeld op die Bybel se gebruik van die uitdrukkings “hemele” en “gees”. Soms verwys “hemele” na die uitspansel of atmosfeer bokant die aarde waarin voëls vlieg (Genesis 1:26). Die ganse fisiese heelal, onder meer die sterre wat ons kan sien en nie kan sien nie, word soms die hemele genoem (Psalm 19:2). In 2 Petrus 3:7 word daar blykbaar na die politieke hemele verwys. Maar “hemele” verwys soms na die woonplek van Jehovah se organisasie van geesskepsele (Openbaring 12:12). Dit kan ook na die hemelse Koninkryk verwys, soos in 2 Petrus 3:13.

Dit is ook die geval met die uitdrukking “gees”. Daar word soms na Jehovah God, Jesus Christus en die engele as geespersone verwys (Johannes 4:24; 1 Korinthiërs 15:45; Hebreërs 1:13, 14). Die lewenskrag in alle lewende skepsele word ook “gees” genoem (Prediker 12:7). Die dryfkrag in ’n persoon word soms “gees” genoem, soos in Spreuke 25:28. En dit is meestal Jehovah God se werkende krag wat “gees” of “heilige gees” genoem word.—Genesis 1:2; Sagaria 4:6; Markus 13:11.

Wat dan van die “hart”? In Exodus 28:30 sien die Hebreeuse woord vir “hart” op die letterlike orgaan. Hier het Jehovah God beveel dat die borstas van beslissing oor Aäron se hart gesit moet word. Dit was die fisiese mensehart. En Psalm 45:6 het klaarblyklik ook ’n letterlike toepassing: “U pyle is skerp . . . in die hart van die Koning se vyande.”

Die hart word ook gebruik om te verwys na die middelpunt of kern van iets. In Esegiel 27:25-27 tref ons die uitdrukking “in die hart van die seë” drie keer aan, en dit beteken ongetwyfeld reg in die middel van die see. Jesus het eweneens voorspel dat hy drie dae en drie nagte lank in die “hart”, of, in die binneste, van die aarde sou wees.—Mattheüs 12:40.

Die hart word ook geassosieer met ons vreugde en droefheid of somberheid. Ons lees in 1 Konings 8:66 (NW) dat die hele Israel ten tye van die toewyding van Salomo se tempel ‘verheug en vrolik van hart was oor al die goeie dinge wat Jehovah God vir sy kneg Dawid en vir sy volk Israel gedoen het’. In Nehemia 2:2 vind ons dat koning Artasasta vir Nehemia vra waarom hy so bedroef lyk as hy nie siek is nie. “Dit is niks anders as hartseer nie”, was sy gevolgtrekking.

Die hart word geassosieer met ons gesindheid, ons houding, hetsy hoogmoedig, trots, of beskeie, nederig. Spreuke 16:5 sê: “Elke hoogmoedige van hart is vir die HERE ’n gruwel.” In Mattheüs 11:29 het Jesus andersyds gesê: “Ek is sagmoedig en nederig van hart.”

Daar word gesê dat die hart die setel is van hoedanighede—goedheid, deug, boosheid en goddeloosheid. Ons lees byvoorbeeld in Jeremia 7:24 dat die Israeliete “gewandel [het] in wat hulle in die verharding van hul bose hart beraadslaag het”. Jesus toon in Mattheüs 12:34, 35 dat goeie sowel as slegte dinge in die hart aangetref kan word.

Die hart speel ’n rol by geloof, want Paulus sê vir ons in Romeine 10:10: “Met die hart glo ons tot geregtigheid en met die mond bely ons tot redding.”

Die hart is die setel van aandrywing. Exodus 35:21 sê van diegene wat bydraes vir die tempel gebring het: “Elkeen wie se hart hom opgewek . . . het, het gekom.” Volgens Hebreërs 4:12, 13 is Jehovah se woord soos ’n skerp swaard wat “die oorlegginge en gedagtes van die hart” kan beoordeel. Ja, die hart van ’n persoon is die bron van aandrywing wat die verstand ten goede of ten kwade beïnvloed, ’n Voorbeeld van waar die hart God se volk aangespoor het om met wysheid op te tree, word aangetref in Exodus 31:6 (NW), wat lui: “In die hart van elkeen wat wys van hart is, het ek wysheid gelê, sodat hulle inderdaad alles kan maak wat ek jou beveel het.”

Maar dit is bowenal die emosies liefde en haat wat met die hart geassosieer word. Die Israeliete is beveel: “Jy mag jou broer in jou hart nie haat nie” (Levitikus 19:17). Ons lees ook dat die hart van die Egiptenare die Israeliete gehaat het (Psalm 105:25). Paulus deel ons andersyds mee: “Die doel van die gebod is liefde uit ’n rein hart” (1 Timotheüs 1:5). En Petrus vermaan ons: “As julle in gehoorsaamheid aan die waarheid julle siele . . . gereinig het, moet julle mekaar vurig liefhê uit ’n rein hart.”—1 Petrus 1:22.

Die Skrif sê ook dat kosbare herinneringe in die hart gebêre word. Ons lees gevolglik in Lukas 2:51 dat Maria, Jesus se moeder, “al hierdie dinge [oor Jesus] in haar hart bewaar” het.

Wat ’n verbasende getal verskillende funksies en vermoëns word tog aan die hart toegeskryf! Is hulle almal in die letterlike hart gesetel? Nouliks. Dit word aangedui deur die tale wat ’n duidelike onderskeid tussen ’n vleeslike hart en ’n figuurlike hart tref. Chinees sowel as Japannees het byvoorbeeld twee karakters wat albei “hartorgaan” beteken en op die letterlike hart betrekking het. Maar wanneer die eienskappe wat uit die hart voortkom, beskryf word, word slegs die eerste van hierdie karakters saam met ander elemente gebruik om ’n ingewikkelder karakter te vorm, byvoorbeeld in woorde soos liefde, haat, bedoeling en volharding. (Kyk die bygaande venstertjie.) ’n Duidelike onderskeid word dus tussen die fisiese orgaan en die persoon se beweegredes en hoedanighede getref, hoewel ’n verband tussen die twee gehandhaaf word.

Dit is insiggewend om te sien hoe die Skrif ook na ander liggaamsorgane verwys. Ons vind gevolglik dat die Hebreeuse Skrifte meer as 20 keer na die letterlike niere verwys, meestal in die Pentateug. Ons lees herhaaldelik van “die twee niere en die vet” in verband met diereoffers wat kragtens die Wet vereis is (Exodus 29:13, 22; Levitikus 3:4, 10, 15; 4:9; 7:4). Dit sien ongetwyfeld op die letterlike niere. En die psalmis Dawid het ongetwyfeld die letterlike niere in gedagte gehad toe hy geskryf het: “Ú het my niere gevorm, my in my moeder se skoot geweef.”—Psalm 139:13.

Maar het die profeet Jeremia van die letterlike niere gepraat toe hy in Jeremia 11:20 gesê het dat Jehovah die “niere en hart toets”? En kon Dawid die letterlike niere bedoel het toe hy gesê het: “Selfs in die nag vermaan my niere my”? (Psalm 16:7). Ons letterlike niere kan ons beslis nie vermaan nie. Waarna het hy verwys? Werp Jeremia 12:2 nie lig op die saak nie? Dit lui: “U het hulle geplant, ook het hulle wortel geskiet; hulle groei, ook dra hulle vrugte. U is naby in hulle mond, maar ver van hulle niere.” Dui “niere” nie hier die persoon se diepste gevoelens aan nie? Hierdie teks is skynbaar ook ’n parallel van Jesaja 29:13, wat Jesus soos volg in Mattheüs 15:7, 8 aangehaal het: “Geveinsdes, tereg het Jesaja oor julle geprofeteer toe hy gesê het: Hierdie volk nader My met hulle mond en eer My met die lippe, maar hulle hart is ver van My af.” Jesus het ongetwyfeld hier verwys na die soort persoon wat daardie goddelose diep in hulle binneste was.

Nog ’n voorbeeld is die Griekse woord vir die ingewande, splag’khna. Dit word in ’n letterlike sin gebruik in Handelinge 1:18, waar ons aangaande Judas lees: “Hy het dan ’n stuk grond gekoop met die loon van ongeregtigheid en het vooroor geval en oopgebars, en al sy ingewande het uitgestort.” Maar hoewel hierdie woord 11 keer in die Christelike Griekse Skrifte verskyn, verwys dit slegs in hierdie geval na die letterlike ingewande. In Lukas 1:78 word dit vertaal met “innige”, in 2 Korinthiërs 7:15 met “toegeneë” en in Filippense 2:1 met “innige tederheid”. In Genesis 43:30 en 1 Konings 3:26 word ra·chamim’, die ooreenstemmende Hebreeuse woord, in die Afrikaanse Bybel met “binneste” weergegee, maar dit verwys in werklikheid na die “innerlike emosies”, en dit is dan ook hoe die New World Translation dit weergee.

Dit is ook die geval met die Hebreeuse en Griekse woorde wat in ons Bybels met “hart” weergegee word. Daar word wel in enkele gevalle na die letterlike hart verwys, soos in Exodus 28:30 en Psalm 45:6. Maar in feitlik duisend ander verwysings na “hart” in die Bybel, word “hart” klaarblyklik in ’n figuurlike sin gebruik. Dit wil nie sê dat daar geen verband tussen die fisiese en die figuurlike hart is nie. Daar is. Emosionele spanning kan byvoorbeeld ’n nadelige uitwerking op die letterlike hart hê en siekte en selfs die dood tot gevolg hê. Maar dit is duidelik dat ’n onderskeid getref moet word tussen die hartorgaan en die figuurlike hart. W. E. Vine sê: “Die hart word figuurlik gebruik vir die verborge fonteine van die persoonlike lewe.”—An Expository Dictionary of New Testament Words, Deel II, bladsye 206, 207.

Uit die voorgaande is dit duidelik dat die Hebreeuse sowel as die Griekse woorde vir “hart” deur Bybelskrywers gebruik word vir ’n aantal emosies en hoedanighede wat die innerlike persoon uitmaak. Deur ons te herinner aan die belangrikheid daarvan om ons begeertes, ons hunkering en ons beweegredes dop te hou, help God se Woord ons klaarblyklik om “Hom met ’n volkome hart” te dien. Dit rus ons toe vir elke goeie werk (1 Kronieke 28:9; 2 Timotheüs 3:17). God se Woord bevat baie goeie raad in hierdie verband.

[Prent op bladsy 5]

Die hart word geassosieer met menslike gevoelens, gesindhede, geloof, beweegredes en emosies

[Prent op bladsy 6]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Chinese karakters wat die hart aandui

[Kunswerk—Chinese karakters] hart, gewoonlik figuurlik

[Kunswerk—Chinese karakters] hartorgan, fisies

Let op hoedat die basiese karakter [Kunswerk—Chinese karakters] voorkom in hoedanighede wat met die hart geasssosieer word:

[Kunswerk—Chinese karakters] liefde

[Kunswerk—Chinese karakters] haat

[Kunswerk—Chinese karakters] vergifnis

[Kunswerk—Chinese karakters] hartseer

[Kunswerk—Chinese karakters] bkommernis

[Kunswerk—Chinese karakters] bedoeling

[Kunswerk—Chinese karakters] woede

[Kunswerk—Chinese karakters] volharding

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel