Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w83 11/1 bl. 17-22
  • Verenigde vrugdraers

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Verenigde vrugdraers
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Onvrugbare bome afgekap
  • “As jy in die goedertierenheid bly”
  • “As hulle nie in die ongeloof bly nie”
  • ‘Dra veel vrug’
  • “Die nasies van die aarde” seën hulself reeds
  • ’n Vrugbare olyfboom
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
  • ‘O die diepte van God se wysheid!’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2011
  • “Wie het die gedagte van Jehovah geken?”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • ’n Blaarryke olyfboom in die huis van God
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
w83 11/1 bl. 17-22

Verenigde vrugdraers

“Julle [moet] veel vrug dra . . . en julle sal my dissipels wees.”—JOHANNES 15:8

1. Hoe toon die Bybel dat Jehovah baie waarde aan vrugtebome heg?

“DIE HERE God het allerhande bome uit die grond laat uitspruit, begeerlik om te sien en goed om van te eet” (Genesis 2:9). In Israel moes jong vrugtebome drie jaar lank groei voordat die eienaar die vrug daarvan vir hoegenaamd enige doel kon gebruik. Selfs die vrugte wat gedurende die vierde jaar gedra is, moes “’n heilige feesgawe aan die HERE wees”. Die vyfde jaar kon die eienaar die vrugte gebruik soos hy wou nadat hy die eerstelinge aan Jehovah gegee het (Levitikus 19:23-25; Deuteronomium 26:1-10; Nehemia 10:35-37). In die geval van oorlog het vrugtebome spesiale beskerming onder die Mosaïese Wet geniet.—Deuteronomium 20:19, 20).

Onvrugbare bome afgekap

2, 3. Wat het Jesus in die gelykenis van die onvrugbare vyeboom gesê?

2 In die vorige artikel het ons gesien dat talle natuurlike takke van die simboliese olyfboom (Romeine, hoofstuk 11) afgekap en deur takke van ’n wilde olyfboom vervang is. In daardie gelykenis het die afgekapte takke ongelowige Jode voorgestel wat geweier het om die olyfboomstam of primêre Saad, die Messias, Jesus, te erken. In ’n ander gelykenis het Jesus die Joodse nasie met ’n hele boom vergelyk—nie ’n olyfboom nie, maar ’n vyeboom.

3 In die noordelike herfs van 32 G.J. het Jesus gesê: “’n Man het ’n vyeboom gehad wat in sy wingerd geplant was, en hy het gekom en vrugte daaraan gesoek en niks gekry nie. Toe sê hy vir die tuinier: Kyk, drie jaar kom ek om vrugte aan hierdie vyeboom te soek en ek kry niks nie; kap hom uit. Waarvoor maak hy die grond nog onvrugbaar? Maar hy antwoord en sê vir hom: Meneer, laat hom nog hierdie jaar staan totdat ek om Hom gespit en mis gegooi het. As hy dan vrugte dra, goed; maar so nie, dan kan u hom anderjaar uitkap.”—Lukas 13:6-9.

4. Hoe het Jesus getoon dat hy ’n getroue “tuinier” is?

4 Toe Jesus van hierdie vyeboom gepraat het, het hy, as die “tuinier”, reeds drie jaar probeer om geloof onder die Jode te bou. Maar ondanks hulle talle voordele onder die Abrahamitiese en Wetsverbond het slegs ’n klein oorblyfsel van die Joodse nasie die Messias aangeneem (Romeine 9:4, 5, 27). Gedurende die vierde jaar van sy bediening het Jesus sy pogings onder die Jode verskerp en simbolies om die Joodse “vyeboom” gespit en mis gegooi deur ywerig in Judea, Perea en eindelik in en om Jerusalem te preek en te onderrig.—Lukas, hoofstukke 10 tot 19.

5. Hoe en waarom is die Joodse “vyeboom” afgekap, en wanneer is dit “in die vuur gegooi”?

5 Maar halfpad deur daardie vierde jaar het Jesus, ’n paar dae voor sy dood, oor Jerusalem geween en vir die hoofstad van die Joodse nasie gesê dat sy huis verlaat is (Mattheüs 23:37-39). Jehovah, die eienaar van die Joodse “vyeboom”, het dit weer eens in hierdie vierde seisoen van intensiewe bewerking ondersoek. Toe hy dit as ’n nasie onvrugbaar vind, het hy beveel dat dit uitgekap word ooreenkomstig die beginsel wat Jesus in Mattheüs 7:19 uitgespreek het. Die Koninkryk van God is dus van die Joodse nasie weggeneem en gegee aan ’n nasie, geestelike Israel, wat die vrugte daarvan dra (Mattheüs 21:43). Hierdie oordrag het plaasgevind op Pinksterdag van daardie selfde jaar, 33 G.J. Sewe-en-dertig jaar later, in 70 G.J., is die afgekapte “vyeboom” “in die vuur gegooi” toe Jerusalem en die Joodse nasie vernietig is.—Mattheüs 3:9, 10; Lukas 19:41-44.

“As jy in die goedertierenheid bly”

6. Hoe beklemtoon die gelykenisse van die onvrugbare vyeboom en die geënte olyfboom God se goedertierenheid en strengheid?

6 Net soos die gelykenis van die onvrugbare vyeboom toon dat Jehovah se geduld perke het, toon Paulus se gelykenis van die olyfboom, wat Jehovah se goedertierenheid beklemtoon, ook sy strengheid. In sy goedertierenheid het Jehovah Johannes die Doper na die Joodse “natuurlike takke” gestuur om vir hulle te sê om ‘vrugte te dra wat by die bekering pas’ en in Jesus te glo (Mattheüs 3:8; Handelinge 19:4). Weens hulle ongeloof is hulle “afgebreek”. Hierdie afname in die getal Joodse “natuurlike takke” het ‘rykdom vir die heidene’ beteken aangesien nie-Joodse ‘wildeolyftakke’ op die Abrahamitieseverbondsboom ingeënt is om deel van die geestelike saad van Abraham te word.—Romeine 11:12, 17, 20, 21.

7. Watter waarskuwing het Paulus bygevoeg?

7 Maar Paulus voeg ’n waarskuwing by. Waar hy nie-Joodse gesalfde Christene aanspreek, sê hy: “Want as God die natuurlike takke nie gespaar het nie, sal Hy miskien jou ook nie spaar nie. Let dan op die goedertierenheid en die gestrengheid van God: gestrengheid oor die [Jode] wat geval het, maar goedertierenheid oor jou [nie-Jode] as jy in die goedertierenheid bly; anders sal jy ook afgekap word” (Romeine 11:21, 22). Om in Jehovah se goedertierenheid te bly, moes nie-Joodse Christene wat op die Abrahamitieseverbondsboom ingeënt is sterk geloof in die primêre Saad van Abraham toon. Hulle het ‘deur die geloof gestaan’, geloof waarvan hulle bewys moes lewer deur Christelike vrugte te dra—die ‘aanbieding van hulle liggame as ’n lewende, heilige, aan God welgevallige offer, ’n heilige diens’.—Romeine 11:20; 12:1, vgl. NW.

8. Op watter ander praktiese les wat uit die gelykenis van die olyfboom geleer kan word, het Paulus die aandag gevestig?

8 Paulus het die aandag gevestig op nog ’n praktiese les in die wonderlike wyse waarop Jehovah die Abrahamitieseverbondsboom in staat stel om die volle getal van 144 000 Joodse en nie-Joodse “takke” voort te bring. Hy sê voorts vir albei soorte “takke”: “Deur die genade wat aan my gegee is, sê ek vir elkeen wat onder julle is, dat hy nie van homself meer moet dink as wat ’n mens behoort te dink nie, maar dat hy daaraan moet dink om besadig te wees na die maat van geloof soos God dit aan elkeen toebedeel het. Want soos ons in een liggaam baie lede het en die lede nie almal dieselfde werking het nie, so is ons almal saam een liggaam in Christus” (Romeine 12:3-5). Deur ‘die goedertierenheid van God’ is Joodse sowel as nie-Joodse Christene toegang verleen tot die geestelike saad van Abraham. Paulus het hulle aan die volgende herinner: “Dit is nie jy wat die wortel [Jehovah] dra nie, maar die wortel vir jou” (Romeine 11:18). Om nie “afgekap” te word nie, moes hulle in God se goedertierenheid bly deur hulle eenheid as “een liggaam in Christus” te bewaar.—Romeine 11:22.

9. Watter les bevat dit vir die “ander skape”, en waarvoor moet hulle dus versigtig wees?

9 Bevat hierdie waarskuwing aan gesalfde Christene ’n les vir hedendaagse Christene wat nie geestelike Israeliete is nie? Beslis. Hoewel hulle nie deel van die geestelike saad is wat deur die Abrahamitiese verbond voortgebring is nie en gevolglik “nie aan hierdie stal behoort nie”, is hierdie “ander skape” beslis deel van die “nasies van die aarde” wat hulself deur middel van die saad kan seën (Johannes 10:16a; Genesis 22:18). Dit volg dan dat hulle geloof soos dié van Abraham moet hê, wat ook eendag op die aarde sal lewe, en moet “wandel in die voetstappe van die geloof (Romeine 4:11, 12, 16). Hulle moet hulle onderworpenheid aan die Goeie Herder, Christus, die primêre Saad van Abraham, toon. Hulle moet ook saamwerk met die oorblyfsel van die sekondêre saad van Abraham en saam met hulle “een kudde” onder “een herder” word (Johannes 10:14, 16b). Indien gesalfde Christene wat nie in God se goedertierenheid bly nie die gevaar loop om van die Abrahamitieseverbondsboom “afgekap” te word, behoort die “ander skape” mos ook baie versigtig te wees om niks te doen wat sal meebring dat hulle Jehovah se welbehae verloor nie, nie waar nie?—Romeine 11:22.

“As hulle nie in die ongeloof bly nie”

10. Wat kon gebeur as ’n Jood nie in sy ongeloof gebly het nie, en wat sou dit vir hom beteken?

10 Die gelykenis van die olyfboom bevat nog ’n algemene les wat vir gesalfde Christene en die “ander skape” geld. Ons vind dit in Romeine 11:23, waar ons lees: “Ook hulle [ongelowige Jode] sal, as hulle nie in die ongeloof bly nie, ingeent word; want God is magtig om hulle weer in te ent.” Hier sien ons nog ’n aspek van God se goedertierenheid. Toe Paulus hierdie brief (omstreeks 56 G.J.) geskryf het, was die Joodse nasie al lankal as ’n onvrugbare “vyeboom” uitgekap. Of as ons weer die gelykenis van die olyfboom wil gebruik, was die meeste van die “natuurlike takke” teen daardie tyd “afgekap” weens hulle gebrek aan geloof in Jesus, die Messias. Maar as enige individuele Jood nie in sy ongeloof gebly het nie, was Jehovah God bereid om hom weer op die simboliese olyfboom in te ent en hom ’n lid van die geestelike saad van Abraham te maak. Wanneer Jehovah so ’n berouvolle Jood teruggeneem het, het dit vir hom “lewe uit die dode” beteken.—Romeine 11:14, 15.

11. Wat het met sommige van die “ander skape” gebeur, maar wat moet hulle doen?

11 Sommige van die “ander skape” het vandag selfvoldaan geword en as gevolg van ongeloof opgehou om Jehovah te dien. Hulle het opgehou om met sy volk om te gaan. Sommige van hulle verkeer nou in groot nood, en die waarskuwings in God se Woord het ‘oor hulle gekom’. Moet hulle dink dat hulle reddeloos verlore is? God se Woord sê: “Dan sal julle daarvandaan [buitekant die “land” van God se volk] die HERE jou God soek en vind as jy Hom met jou hele hart en jou hele siel soek. As jy in die nood is en al hierdie dinge [dit wil sê, waarskuwings] aan die einde van die dae oor jou kom, sal jy na die HERE jou God terugkeer en na sy stem luister. Want die HERE jou God is ’n barmhartige God.”—Deuteronomium 4:29-31.

12. (a) Hoe het die ‘getroue dienskneg’ besorgdheid oor sulke verdwaalde “ander skape” aan die dag gelê? (b) Watter voorbeelde kan jy aanhaal om te toon dat sommige dankbaar na die kudde teruggekeer het?

12 As ’n verenigde groep vrugdraende takke in die Abrahamitieseverbondsboom, is “die getroue en verstandige dienskneg”, die oorblywende lede van Christus se gesalfde broeders op aarde, terdeë bewus daarvan dat dit noodsaaklik is dat sommige van die “ander skape” uit hul selfvoldaanheid ontwaak en weer eens vrugdraende Christene word (Mattheüs 24:45-47). Daarom reël die “dienskneg” dat artikels soos “‘Keer terug na die Herder van julle siele’”, wat in Die Wagtoring van 15 Julie 1982 verskyn het, gepubliseer word. Vanaf Maart 1982 het Ons Koninkryksbediening ’n reeks artikels met dieselfde tema gepubliseer. Het hierdie ferme leiding van die Heer se “dienskneg” vrugte afgewerp? Het sommige na Jehovah hulle God teruggekeer? Baie het. Let op die tipiese voorbeelde op bladsy 20.

‘Dra veel vrug’

13. Wat moet diegene wat selfvoldaan geword het nou doen, soos getoon deur watter woorde van Jesus?

13 Ja, enige gesalfde Christene of hulle metgeselle onder die “ander skape” wat selfvoldaan en onproduktief geword het, moet ag slaan op die waarskuwing, Jehovah se goedertierenheid beantwoord en hulp aanvaar om weer vrugbare Christene te word. In ’n gelykenis wat in verskeie opsigte verskil van die gelykenis van die olyfboom en van die onvrugbare vyeboom, het Jesus homself met ’n wingerdstok of -stam vergelyk en sy gesalfde dissipels met die takke van ’n wingerdstok. Hy het gesê: “Ek is die ware wynstok, en my Vader is die landbouer. Elke loot wat in My nie vrug dra nie, neem hy weg; en elke loot wat vrug dra, dié maak Hy skoon, sodat dit meer vrug kan dra. . . . Hierin is my Vader verheerlik, dat julle veel vrug dra; en julle sal my dissipels wees.”—Johannes 15:1-8.

14. (a) Op watter twee maniere moet alle Christene “veel vrug dra”? (b) Watter ander vereiste vir gesalfde Christene word getoon in die gelykenis van die “ware wynstok”?

14 Hoewel die “ander skape” nie takke van die Abrahamitieseverbonds-“olyfboom” of van die “ware wynstok”, Christus Jesus, is nie, moet hulle Christus se dissipels wees. Net soos al die gesalfde Christen-“takke”, moet hulle “veel vrug dra”. Hulle doen dit deur die Christelike hoedanighede van die nuwe persoonlikheid voort te bring, onder meer “die vrug van die Gees” (Galasiërs 5:22; Mattheüs 28:19, 20; Kolossense 3:5-14). Maar om werklik vrugbaar te wees, gee hulle daadwerklik uiting aan sulke hoedanighede deur deel te neem aan die werk om “hierdie evangelie” te verkondig (Mattheüs 24:14). Net soos die gesalfde “takke” van die “ware wynstok” in Christus moet bly, moet die “binder skape” ten nouste verbonde bly aan die “getroue en verstandige dienskneg”, Christus se gesalfde “broeders”. Slegs dan kan hulle hoop om “die Koninkryk te beërf wat vir hulle van die grondlegging van die wêreld af berei is’.—Mattheüs 25:31-40.

“Die nasies van die aarde” seën hulself reeds

15. Watter groter betekenis verkry Romeine 11:12 namate die Abrahamitiese verbond die volle getal van die beloofde “saad” voortbring?

15 Terwyl die Abrahamitieseverbonds-olyfboom, met sy heilige “wortel” (Jehovah) en sy stewige stam (Christus), die volle getal Joodse en nie-Joodse-“takke” voortbring, geniet die “heidene” wat nie geestelike Israeliete is nie reeds ryke seëninge. Paulus het dit voorsien en geskryf: “As hulle [die natuurlike Jode se] val die rykdom van die wêreld is en hulle tekort die rykdom van die heidene, hoeveel te meer sal hulle [Joodse gesalfde Christene se] volheid [volle getal, NW] dit nie wees nie!”—Romeine 11:12.

16.(a) Hoe het die “val” van die Jode ‘rykdom vir die heidene’ beteken? (b) Hoe ver het die inentingswerk gevorder?

16 Ons het reeds gesien dat die “val” van die Joodse nasie as ’n geheel groot geestelike rykdom vir nie-Jode beteken het. Maar die feit dat hierdie wilde-olyftakke lede van die geestelike saad van Abraham geword het, het nie die natuurlike takke—getroue Joodse Christene—wat aan die boom gelos is of na 36 G.J. ‘weer ingeënt is’ van die simboliese olyfboom uitgesluit nie. Die 144 000 takke sluit dus ’n “volle getal” Jode en ’n “volle getal” nie-Jode in (Romeine 11:12, 25, NTP). Die feite toon dat hierdie inenting tot die middel van die dertigerjare van hierdie eeu voortgeduur het. Vandag, op hierdie gevorderde stadium, is daar goeie rede om te glo dat die “volle getal” van die Joodse sowel as nie-Joodse takke ingeënt is. Enige takke wat sedert 1935 ingeënt is, sou redelikerwys plaasvervangers wees vir Joodse of nie-Joodse takke wat as gevolg van onvrugbaarheid afgekap is.

17. Hoe beteken die voltooiing van die ledetal van die saad verdere rykdom vir die “heidene”?

17 Paulus sê dat hierdie voltooiing van die ledetal van die saad van Abraham ‘rykdom vir die heidene’ beteken. Hoeveel te meer is dit tog die geval aangesien dit nie net ’n paar duisend nie-Joodse gesalfde Christene (in die vervulling van die eerste deel van Romeine 11:12) is wat geestelike rykdom en seëninge geniet nie, maar letterlik miljoene “heidene” wat nie aan die kudde in die Abrahamitiese verbond behoort nie.

18. Wat kan ons oor die beloftes van die Abrahamitiese verbonde sê, en watter deel daarvan moes dus reeds in vervulling begin gaan het?

18 Dit bring ons terug by die Abrahamitiese verbond. Die primêre saad, Christus Jesus, is nou in die hemele op die troon geplaas. Hy het die lede van die sekondêre saad vergader in die kudde in die Abrahamitiese verbond. Hy staan op die punt om “die poort van sy vyande in besit [te] neem” deur die wêreldryk van valse godsdiens, Babilon die Grote, en die res van Satan se sigbare organisasie te vernietig (Genesis 22:17, 18). Dit verbaas ons dus nie dat die laaste deel van die Abrahamitiese belofte reeds in vervulling begin gaan het nie: “Deur middel van jou saad sal al die nasies van die aarde hulself stellig seën.”—NW.

19. (a) Hoe begin mense uit “al die nasies van die aarde” om hulself te seën? (b) Wat is hulle hoop?

19 Ja, “’n groot menigte . . . uit alle nasies”, wat ’n aansienlike aantal natuurlike Jode insluit, seën hulself reeds. Met volle geloof in die Grotere Abraham, Jehovah God, het hulle aangesluit by die oorblyfsel van geestelike Israel en “dien [hulle] Hom dag en nag in sy tempel” met die ewige lewe op aarde voor oë (Openbaring 7:4, 9-17). Mag hulle voortgaan om hulself reg tot in die nuwe stelsel deur middel van die saad te seën.

Verstaan jy?

◻ Wat het die onvrugbare vyeboom afgebeeld, wanneer is dit afgekap, en wanneer verbrand?

◻ Slegs hoe kon Joodse en nie-Joodse Christene voorkom dat hulle van die “olyfboom” afgekap word, en watter les kan ons hieruit leer?

◻ Waarom kan die herinenting van berouvolle Jode ’n bron van troos wees vir enigiemand wat afgedwaal het?

◻ Hoe moet alle Christene aanhou om vrug te dra?

◻ Hoe seën baie “heidene” hulself reeds?

[Venster/Prent op bladsy 20]

Hulle het ‘teruggekeer na die Herder en Opsiener van hulle siele’—1 Petrus 2:25

’n Vrou in Normandië, Frankryk, skryf: “Na tien jaar van onbedrywigheid en verskeie onsuksesvolle pogings om terug te kom na die gemeente [van Jehovah se Getuies], het ek steeds geaarsel om die stap te doen. Met die oog op my onskriftuurlike gedrag sedert ek die gemeente verlaat het, het ek Jehovah se dissipline en die verwytende blikke van die ouere manne en die hele gemeente gevrees. Terwyl ek saam met my skoonouers met vakansie was, het ek deur ’n eksemplaar van Die Wagtoring geblaai en ’n artikel gelees wat vertel het van die geval van ’n onbedrywige broer wie se situasie met myne ooreengekom het. Daardie artikel, wat getoon het hoe vriendelik Jehovah teenoor hom was, hoe die ouere manne hom liefdevol gehelp het en hoe die lede van die gemeente hom terugverwelkom het, het my die krag gegee om na Jehovah se organisasie terug te keer.”

Suzanne, ’n Getuie in ’n gemeente in noordoostelike Frankryk, skryf: “Ek dank Jehovah, sy Seun Jesus Christus en ‘die getroue en verstandige dienskneg’ opreg vir die hulp wat aan onbedrywiges verleen word. Ek was self onbedrywig toe die ouere manne my besoek het en aangebied het om ’n Bybelstudie vir my te reel. Ek het hulle aanbod aanvaar en nou is ek baie gelukkig, want ek woon weer die vergaderinge by en ek neem gereeld aan die predikingswerk deel. Nou kan ek susterliefde betoon aan ander wat bemoediging nodig het.”

Yolande, nog ’n Franse Getuie, het jare lank nie vergaderinge bygewoon nie en opgehou bid daar sy skuldig gevoel het omdat sy Jehovah se tafel verwaarloos het. Nadat sy gehelp is om weer ’n vrugbare, bedrywige Christen te word, het sy geskryf: “Ek betuig my innige waardering aan Jehovah omdat hy my gehelp en my nog ’n kans gegee het. Ek spoor almal wat die hand om die een of ander rede verslap het aan om na Jehovah terug te keer.”

[Prent]

Met liefdevolle bemoediging het baie onbedrywiges weer ‘vrugdraers’ geword

[Diagram op bladsy 18]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Paulus se gelykenis van die olyfboom toon hoe die Abrahamitiese verbond die voltallige geestelike “saad” voortbring

ABRAHAMITIESE VERBOND (Genesis 22:16-18)

PRIMÊRE SAAD CHRISTUS (Galasiërs 3:16)

144 001 lede van die geestelike “saad” van Abraham, wat “al die nasies van die aarde” tot seën strek

SEKONDÊRE SAAD (Galasiërs 3:27-29)

Die “volle getal” “natuurlike takke” (Joodse oorblyfsel en Jode wat later bekeer is—Romeine 11:5, 12, 21, 23, vgl. NTP)

Die “volle getal” takke van die “wilde olyfboom” (nie-Joodse gesalfde Christene—Romeine 11:25)

Die “hele Israel”, 144 000 geestelike Israeliete (Romeine 11:26; Openbaring 7:4)

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel