Ons stryd om permissiwiteit teë te werk
“Ons worstelstryd is . . . teen die bose geeste in die lug. Daarom, neem die volle wapenrusting van God op, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en . . . staande kan bly.”—EFESIËRS 6:12, 13.
1. Wat is die algemene gevoel oor vandag se wêreld?
DAAR is iets in die lug van hierdie goddelose wêreld. Kan jy dit waarneem? Die meeste van ons sal ongetwyfeld saamstem dat wat ook al hierdie wêreld se denke en gedrag deurdring, ongesond en dodelik is. Ons kan die gevolge in ’n gemeenskap sien wat moreel en geestelik siek is.
2. Wat is een duidelike simptoom van die mensdom se siekte?
2 ’n Duidelike simptoom van hierdie siekte is permissiwiteit, wat maklik tot wetteloosheid lei. Dit is nie net die gewone beginsels van aanneemlike gedrag waarvan baie wil wegkom nie—hulle probeer eerder om van alle beperkings ontslae te raak. Hulle dring aan op die reg om te doen net wat hulle wil wanneer hulle wil en om ontslae te wees van beherende gesag, hetsy dit ouers, liggame wat die wet toepas of die gemeenskap se morele beperkings is. Wie of wat sit agter hierdie gees van ongehoorsaamheid? Waarom moet Christene ’n worstelstryd voer om sulke permissiwiteit teë te werk?
3. (a) Hoe kan ons die hoofaanstigter van die permissiwiteit en wetteloosheid wat op die aarde gedy, identifiseer? (b) Hoe toon ’n persoon dat hy uit die Duiwel is?
3 Dit is ’n bekende feit dat ongehoorsaamheid met mense in die tuin van Eden begin het. Maar wie het aanvanklik permissiwiteit ingevoer en die strik vir Adam en Eva gespan om eiesinnig te word? Jesus het die skuldige geïdentifiseer toe hy vir die skynheilige Fariseërs gesê het dat hulle ‘die begeertes van hulle vader, die Duiwel, wou doen’. Later het Jesus die Duiwel geïdentifiseer as “die owerste van hierdie wêreld” (Johannes 8:44; 14:30). Die Duiwel, wat ‘van die begin af sondig’, het om selfsugtige redes probeer om beheer van die mensdom te kry. Diegene wat wetteloosheid bedryf, is uit die Duiwel.—1 Johannes 3:8.
4. (a) Hoe omvattend is Satan se invloed? (b) Wat is die verband tussen permissiwiteit en verdorwenheid?
4 Die Skrif toon duidelik dat Satan se invloed algemeen voorkom, soos die lug wat ons planeet omring. Die apostel Paulus het van die Duiwel gepraat as “die owerste van die mag van die lug, . . . die gees wat nou in die kinders van die ongehoorsaamheid werk” (Efesiërs 2:2). Individue wat toelaat dat hulle deur die wêreld se denke verblind word, is vatbaarder vir sy invloed. Die doel van die Duiwel en sy leërskare demone is om die mensdom met alles tot hulle beskikking te mislei sodat hulle sal afsien van wat goed en reg is. Hulle verwek dus ’n gees van algehele permissiwiteit. Waarom? Omdat mense wat daardie gesindheid verkry makliker swig voor en verhard word deur die verleiding van die sonde (Hebreërs 3:13). Deur op permissiewe wyse in die vlees te saai, maai die “kinders van die ongehoorsaamheid” verderf.—Galasiërs 6:7, 8.
Christene voer ’n stryd
5-7. (a) Watter taktiek gebruik Satan teen die mensdom? (b) Watter tegniek is moeiliker om die hoof te bied? Lig dit toe.
5 Bose geeste is veral daarop uit om Jehovah se Getuies, wat probeer om God se gebooie te hou, te ondermyn en te verstrik. Paulus waarsku dat ons ’n stryd voer, “nie teen vlees en bloed nie, maar teen . . . die bose geeste in die lug” (Efesiërs 6:12). Wanneer ons te kampe het met frontaanvalle soos bespotting, vervolging en gevangesetting, is ons geestelike stryd soos openlike oorlogvoering. Terwyl sulke regstreekse aanvalle ons ons weerstand kan laat vergroot, kan ’n listige, indirekte benadering ons onverwags betrap deur die swakhede van ons vlees uit te buit. Ons moet dus altyd op ons hoede wees omdat ons dikwels subtiele of onverwagte benaderinge moet teëwerk wat daarop gemik is om ons pogings om godvrugtige beginsels na te leef geleidelik te ondermyn en om ons verhouding met Jehovah te vernietig.
6 Ter toeligting: Jy moes moontlik al jou standpunt oor die bloedkwessie inneem. Ongelowige familielede of dokters het miskien druk op jou uitgeoefen om ’n kompromis aan te gaan. In die stryd om jou onkreukbaarheid te bewaar, was jy bereid om groot spanning te verduur. Waarom? Omdat die geskil duidelik voor oë was. Jy was vasbeslote om nie God se verbooie te verbreek nie (Handelinge 15:28, 29). Dink ook aan Christenbroers wat afgeskeie van die wêreld gebly het deur te weier om politieke partykaarte te koop, selfs al het hulle weiering lyding meegebring (Johannes 17:16; 1 Petrus 3:14; 4:12-14). Ander is in die tronk gestop omdat hulle neutraal gebly het in wêreldlike geskille (Jesaja 2:4). Die weiering om op te hou om die goeie nuus te verkondig het vir sommige ander vorme van vervolging meegebring.—Handelinge 5:28, 29, 40.
7 Ja, Jehovah se volk het keer op keer sterk standpunt ten opsigte van hierdie geskille ingeneem en blyke gelewer van hulle onkreukbaarheid en lojaliteit aan Bybelbeginsels. Maar wat gebeur soms wanneer ons te kampe het met toetse wat in verband staan met die geleidelike aftakeling van getrouheid aan Christelike standaarde? Sommige struikel as gevolg van permissiwiteit.
8. Op watter gebiede moet ons ons nie laat mislei nie?
8 Ons moet op ons hoede wees vir oënskynlik onskuldige situasies wat angs kan wek oor dinge in hierdie stelsel, want dit kan die woord wat in ons hart is, verstik of ons laat sondig (Mattheüs 13:22). Dit kan net so maklik daartoe lei dat ons God se guns en die lewe verloor as wat kan gebeur wanneer ons toelaat dat vervolging en ander frontaanvalle ons weerstand aftakel of ons onderkry. Ons moenie mislei word om te dink dat slegte omgang, verkeerde vermaak, die onmatige gebruik van sterk drank en dies meer ons nie kan verstrik en nie ons geestelikheid kan vernietig nie. Hierdie dinge het hulle tol geëis.
Die treurige gevolge van permissiwiteit
9. Hoe het permissiewe gedrag vir sommige Israeliete probleme geskep?
9 Antieke Israel het as nasie baie gely toe die permissiewe gesindhede van sommige ernstige probleme geskep het. Jy sal onthou hoedat Bileam en Balak “’n struikelblok voor die kinders van Israel [gewerp het], naamlik om afgodsoffers te eet en te hoereer” (Openbaring 2:14). Hoe het dit begin? Toe sommige ’n uitnodiging van die Baälaanbidders aangeneem het om te eet en te drink, en daarna fees te vier. Die Israelitiese mans wat hulle ontevredenheid met Jehovah se voorsienings getoon het deur te verkies om met hierdie buitestaanders om te gaan, is geslagtelik geprikkel. En toe? Hulle het hulle skuldig gemaak aan hoerery met Moabitiese en Midianitiese vroue en voor dié se gode neergebuig. Dit het Jehovah se toorn teen daardie Israeliete laat ontvlam. As ’n blyk van sy veroordeling het 24 000 gesterf (Numeri 25:1-9). Watter tragiese prys tog om vir permissiwiteit te betaal!
10. (a) Hoe het Dina se permissiewe gedrag baie verdriet veroorsaak? (b) Waartoe het Salomo se permissiewe weg eindelik gelei?
10 Daar is ook voorbeelde van individue wie se permissiwiteit hulle in die moeilikheid laat beland het. Dina, Jakob se dogter, het die Kanaänitiese meisies van die land besoek. Wat het gebeur omdat Dina nie op haar omgang gelet het nie? Sy is deur een van die seuns van Hemor verkrag. So ’n skandelike dwaasheid het Jakob se seuns vertoorn en daartoe aanleiding gegee dat Simeon en Levi al die manlike inwoners in Sigem om die lewe gebring het. Jakob se ander seuns het by hulle broers aangesluit in die aanval en die stad geplunder en Jakob sodoende verdriet aangedoen (Genesis 34:1, 2, 7, 25-31). Selfs Salomo, een van die wysste manne, het permissief vir hom vroue geneem wat vreemde gode aanbid het. Hulle het geleidelik “sy hart verlei” sodat hy in sy latere jare agter ander gode aan geloop het en gedoen het wat verkeerd is in Jehovah se oë.—1 Konings 11:1-6; Deuteronomium 17:17.
11. Wat moet ons omtrent permissiwiteit in gedagte hou?
11 Wat is die les van hierdie Bybelvoorbeelde? Dit was nie ’n skielike frontaanval deur die Duiwel wat sommige ware aanbidders se ondergang meegebring het nie. Die Duiwel het eerder daarin geslaag om party deur hulle permissiewe denke geleidelik van die weg van geregtigheid te laat afdwaal.
Hedendaagse taktiek
12, 13. Op watter maniere moet ’n Christen op sy hoede bly teen Satan se taktiek?
12 Satan, “die owerste van die mag van die lug”, gebruik vandag soortgelyke taktiek. Ondermyn eers, en keer dan die onbehoedsames van die weg van geregtigheid af. Christene moet dus op hulle hoede wees teen die idees en neigings van hierdie goddelose wêreld. Hoe kan hulle andersins onberispelik bly te midde van “’n krom en verdraaide geslag”?—Filippense 2:15; 2 Timotheüs 3:13.
13 Spreuke 13:20 deel ons mee dat “hy wat met dwase verkeer, versleg”. Hoe waar tog! Saadjies van permissiwiteit word dikwels gesaai en gevoed deur kontak en omgang met slegte metgeselle, hetsy binne of buite die Christengemeente (2 Thessalonicense 3:14; Exodus 23:2a). As ons metgeselle geneig is tot wêreldlike, genotsugtige beskouings, sal daar gewis probleme ontstaan. Dit is veral die geval as ons verlok word om “te woon in die tente van goddeloosheid”.—Psalm 84:11.
14. Wat is die gewilde beskouing van genot?
14 Die wêreld oor die algemeen hou van die dinge wat dit het, onder meer die genieting van grenselose genot (2 Timotheüs 3:4). Die hedonistiese beskouing vind by baie mense byval. Dit is die filosofie dat genot die enigste of vernaamste deug in die lewe is en dat ’n mens jou morele plig nakom deur jou genotsugtige instinkte te bevredig (1 Korinthiërs 15:32). Hierdie denkwyse kan ’n Christen se lewenswyse ondermyn.
15. (a) Hoe kan ons deur die skyn bedrieg word?
15 Hoe beskou jy, indien jy op skool is, ander skoliere wat nie daarin belangstel om Jehovah God te dien nie? Hulle lyk moontlik baie gaaf. Maar baie van hulle rook en drink onwettig sterk drank. Hulle meen dat dit in orde is om breinwysigende dwelmmiddels te gebruik. Watter uitwerking sal omgang met sulke persone op jou hê? Hoeveel druk kan jy van hulle verduur voordat hulle jou ompraat of dwing om aan hulle wandade mee te doen? Gestel jy weier en hulle spot met jou en noem jou allerhande name. Is jou geloof so sterk dat jy kan voortgaan om met sulke persone te assosieer sonder om beïnvloed te word? (1 Korinthiërs 10:12). Gaan jy voor die versoeking swig en “eksperimenteer” net om te sien hoe dit voel? (Spreuke 1:10). Dink jy dat jy sterk, onversetlik, vasbeslote en lojaal aan Jehovah en sy Woord kan bly as jy met sulke omgang volhou? Indien dit jou neiging is, pas op! Slaan ag op die Bybel se raad en “vlug vir die begeerlikhede van die jonkheid”, ja, vlug vir die hoerery” (2 Timotheüs 2:22; 1 Korinthiërs 6:18). Om permissiwiteit teë te werk moet jy ‘die goeie stryd van die geloof stry’ deur enige drang of neiging na slegte omgang te weerstaan.—1 Timotheüs 6:12; 1 Korinthiërs 15:33.
16. Watter valstrikke hou omgang met medewerknemers vir ’n Christen in?
16 Soms het party tot hulle spyt deurmekaar geraak met hulle medewerkers. By baie firmas is dit die gebruik om kantoorpartytjies te hou of verjaarsdae en feesdae te vier. By sulke geleenthede word daar gewoonlik sterk drank voorgesit. Daar word moontlik musiek gespeel en gedans. As ’n Christen hom nie daarop toelê om permissiwiteit op sulke gebiede teë te werk nie, kan ’n aftakelingsproses begin. Sosiale omgang met wêreldlike persone by die werk het daartoe gelei dat sommige Christene afsprake gemaak en hulle aan hoerery en ander verkeerde dade skuldig gemaak het.
Verkeerde vermaak
17. Hoe kan permissiwiteit ten opsigte van televisieprogramme ’n mens se beskouing en begeertes beïnvloed?
17 Permissiewe gesindhede kan ook teenoor onsedelike televisieprogramme ontstaan. Die televisie het baie kinders se kinderwagter geword, maar dikwels word die programme nie behoorlik deur ouers gekeur nie, en dit lei tot baie probleme. Daar is volwassenes wat toegelaat het dat hulle deur vervolgverhale of TV-reekse geboei word. En kommersiële belange het dit gerieflik gemaak om kabeltelevisie of videokassette te hê. Hoewel dit geoorloofde gebruike het, erken baie mense dat hulle dit aanskaf sodat hulle baie van die verdorwe vermaak waarna hierdie onsedelike geslag smag in hulle eie huise kan sien. Ja, die verstand en hart kan daar reg in die voorhuis of die ontspanningsvertrek verderf word as sulke materiaal daar beskikbaar is. Hoewel sulke “vermaak” die daaglikse dieet van ’n groot deel van die publiek geword het, betaam dit Christene om Paulus se vermaning te onthou om ‘dinge wat regverdig, rein, en loflik is’ te bedink.—Filippense 4:8.
Selfondersoek
18. Watter goeie raad het Paulus in Efesiërs 5:3, 4 gegee?
18 Watter voorbeeld stel ons as toegewyde Christene vir ons gesinne en die gemeente? Beoefen ons dinge wat in ’n geestelike en morele sin goed en rein is? (2 Korinthiërs 7:1). Die hoë standaard vir ons is: “Hoerery en allerhande onreinheid of hebsug moet onder julle selfs nie genoem word nie, soos dit die heiliges betaam; ook nie gemeenheid en dwase of lawwe praatjies wat nie pas nie, maar liewer danksegging.”—Efesiërs 5:3, 4.
19. Waarom is ryp toesig by gesellighede belangrik?
19 By gesellighede is behoorlike toesig belangrik. Anders kan ’n atmosfeer van permissiwiteit insyfer en die geleentheid bederf. Word matigheid voor oë gehou wanneer daar sterk drank is? Indien daar musiek gespeel word, is dit die soort wat ryp Christene nie aanstootlik vind nie? Die Skriftuurlike raad is: “Doen alles tot verheerliking van God” (1 Korinthiërs 10:31-33). Dit versterk ons in die stryd om permissiwiteit teë te werk.
20. As wat kan Satan hom voordoen om die onbehoedsames te mislei, maar watter beskerming het Jehovah voorsien?
20 Dit is nie nou die tyd om aan die slaap gesus te word nie (Romeine 13:11-14). Die aftakeling van getrouheid aan Bybelbeginsels is ’n geleidelike proses. Satan gebruik listige taktiek om ons geloof te vernietig. Hy kan hom selfs as ’n engel van die lig voordoen (2 Korinthiërs 11:14). As ons beskerming wil geniet, moet ons “die volle wapenrusting van God” aantrek om vas te staan teen die liste van die Duiwel. Ons stryd is “teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug”. Ons het dus al die geestelike wapenrusting en beskerming nodig wat Jehovah voorsien, onder meer “die swaard van die Gees—dit is die woord van God”, om in hierdie dag van onheil weerstand te kan bied.—Efesiërs 6:11-13, 17.
21. Waarna kan diegene wat die wêreld se permissiwiteit teëstaan, uitsien?
21 Ons weet dat Jehovah binnekort die lug van permissiewe boosheid in al sy vorme sal suiwer. Die slegte invloed daarvan sal dan tot die verlede behoort. Diegene wat die einde van hierdie goddelose stelsel oorlewe, sal die daeraad van ’n pragtige Nuwe Orde van geregtigheid op hierdie aarde onder God se Koninkryk in die hande van Christus Jesus sien. Neem jou vas voor om onder diegene te wees wat daardie voorreg gaan geniet. Werk hierdie wêreld se permissiwiteit teë deur die beginsels in God se Woord beter te leer ken en toe te pas.—Psalm 15:1, 2; 19:8-12.
Kan jy onthou?
◻ Op watter twee maniere kan Satan se magte jou aanval?
◻ Watter Bybelvoorbeelde toon die gevaar van permissiwiteit?
◻ Hoe kan permissiewe gesindhede skoliere se geloof beproef?
◻ Waarom moet ons nou veral op ons gesindheid let?
(b) Watter gedagteprikkelende vrae moet jongmense oor hulle metgeselle stel?
[Prent op bladsy 25]
’n Christenkryger moet op sy hoede wees teen regstreekse aanvalle sowel as subtiele of onverwagte gevare