Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w83 4/1 bl. 21-25
  • Gewapen vir die stryd teen bose geeste

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Gewapen vir die stryd teen bose geeste
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Stry teen materialistiese begeertes
  • Stry teen geslagsonsedelikheid
  • Stry teen onafhanklike denke
  • “Hou aan om krag te verkry in die Here”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
  • “Trek die volle wapenrusting van God aan”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Geen deel van die wêreld nie
    Hoe om in God se liefde te bly
  • “Trek die volle wapenrusting van God aan”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
w83 4/1 bl. 21-25

Gewapen vir die stryd teen bose geeste

“Ons worstelstryd is . . . teen die bose geeste in die lug.”—EFESIËRS 6:12.

1. Watter stryd voer Christene, en hoe lank moet dit duur?

SOLANK as wat die bose geeste en die wêreld waaroor hulle beheer uitoefen, bestaan, moet ons stry om vry van hulle invloed te bly. Die apostel Paulus het geskryf: “Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel. Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug.”—Efesiërs 6:11, 12.

2. (a) Watter bykomende stryd voer ons weens die Duiwel se oorspronklike pogings? (b) Hoe toon die Bybel dat die situasie se ernstig is dat ons gewapen moet wees vir die stryd?

2 Dit is egter nie net hierdie aanvalle van buite deur bose geeste wat ons moet afslaan nie; ons oorgeërfde onvolmaaktheid, die gevolg van Adam en Eva se versuim om die Duiwel se eerste pogings te weerstaan, maak ons stryd besonder moeilik. Die Bybel sê gevolglik: “Die versinsels van die mens se hart is sleg van sy jeug af” (Genesis 8:21; Romeine 5:12). Selfs die apostel Paulus het ’n stryd gehad om te doen wat reg is. “As ek die goeie wil doen”, het hy verduidelik, “is die kwaad by my aanwesig” (Romeine 7:21-23). “Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit”, sê die Bybel (Jeremia 17:9). Hoe duidelik is dit tog dat ons gewapen moet wees vir die stryd teen die pogings van die bose geeste om ons te laat doen wat sleg is!

Stry teen materialistiese begeertes

3. (a) Wat kan ons leer uit die wyse waarop die Duiwel Eva oorspronklik genader het? (b) Hoe kan ’n persoon wat materiële dinge nastreef sy handelwyse rasionaliseer?

3 Ons kan daarvan seker wees dat die bose geeste sal probeer om materialistiese neigings in ons te kweek. Hulle sal toesien dat ons versoek word deur dinge wat ‘begeerlik is vir die oë’ (1 Johannes 2:16). Dink terug aan die wyse waarop Satan Eva oorspronklik genader het en hoe hy die aandag gevestig het op die boom met sy verbode vrug, ’n boom wat onskadelik gelyk het. Nadat hy haar belangstelling in die boom en sy vrug gaande gemaak het, het Eva gesien dat dit “’n lus was vir die oë, ja, ’n boom wat ’n mens kan begeer”. Wat het dus gebeur? “Sy neem van sy vrugte en eet” (Genesis 3:6). Bose geeste sal ’n soortgelyke taktiek gebruik en ons natuurlike begeerte na mooi dinge uitbuit. Hulle is ongetwyfeld verantwoordelik vir die rasionalisering wat soms gehoor word: ‘Wel, as ek dan moet werk om ’n bestaan te maak, kan ek net sowel baie geld verdien en baie dinge koop. Dan kan ek dit met ander deel.’

4. (a) Watter mededeelsaamheid is prysenswaardig, maar watter soort geskenke is verkeerd? (b) In watter strik wat ons moet vermy, het eertydse knegte van God getrap?

4 Dit is beslis prysenswaardig as hedendaagse Getuies van Jehovah met meer materiële besittings dit met mindergegoedes deel, net soos die vroeë Christene by hulle liefdemaaltye gedoen het (Judas 12). Maar gestel ’n persoon het bybedoelinge en gee moontlik ’n geskenk aan ’n individu omdat hy weet dat daardie persoon in ’n posisie is om hom op sy beurt ’n voorreg in die Christengemeente te gee. Dit sou inderdaad verkeerd wees! En dit sou ook verkeerd wees vir die ontvanger van so ’n geskenk om op sy beurt die gewer met daardie soort guns te vergeld. Dit sou neerkom op die aanvaring van ’n omkoopgeskenk. ’n Christen sal wyslik op sy hoede wees teen so ’n strik, ’n strik waarin eertydse knegte van God getrap het toe ’n verantwoordelike posisie aan hulle toevertrou is.—1 Samuel 8:1-3; 2 Kronieke 19:6, 7.

5. Watter gevaar bestaan wanneer materiële dinge te belangrik word in ’n mens se lewe?

5 Wanneer materiële dinge besonder prominent of belangrik in ’n persoon se lewe word, ongeag die verklaarde rede daarvoor, verkeer daardie persoon in ’n baie ernstige situasie. Wat kan gebeur? Geestelikheid kan, en word dikwels, stadig verstik. In een van sy gelykenisse het Jesus sommige beskryf wat God se waarheid leer ken het: “Hulle gaan weg en word verstik deur die sorge en rykdom en genietinge van die lewe en dra geen ryp vrug nie” (Lukas 8:14). Maar gestel dat die geestelikheid van die Christen wat te veel klem op materiële dinge lê nie verstik word nie. Beteken dit dan dat die listige benadering van bose geeste nie geslaagd was nie?

6. Watter uitwerking kan ’n Christen se materialistiese handelwyse op medegelowiges hê?

6 Nee, want kyk hoe daardie persoon se materialistiese handelwyse ander in die gemeente kan beïnvloed. Word jonger, ontvanklike lede van die gemeente byvoorbeeld aangespoor om eers God se koninkryk te soek as hulle sien hoedat ’n ander Christen hom inspan om baie geld te maak en mooi dinge te koop? Wat is jou waarneming? Is dit nie so dat wanneer nuwelinge op die weg van die waarheid die oënskynlike voordele van materiële dinge sien, hulle geneig is om ook materiële doelwitte na te streef nie, moontlik tot hulle eie geestelike ondergang?

7. (a) Waarom is die voorbeeld van ’n Christen-ouere man in Duitsland navolgenswaardig? (b) Waaraan meet die wêreld sukses, en hoe moet Christene sulke gesindhede beskou? (c) Moet ons diegene met mooi materiële dinge kritiseer?

7 Die ondervinding van ’n Christen-ouere man in Duitsland, wat toevallig ook ryk is, is opmerkenswaardig. ’n Christenbroer, wat iets van sy finansiële posisie af geweet het, het vir hom gevra waarom hy met ’n Volkswagen (’n goedkoper motor) ry en in ’n beskeie woonstel woon. Hy het in alle erns geantwoord: ‘Omdat dit ’n nadelige uitwerking op die geestelikheid van my Christenbroers en -susters kon hê as ek met ’n Mercedes Benz (’n luuksemotor) gery en in weelde gelewe het.’ Hoe verskil daardie gesindheid tog van die wêreld s’n! ’n “Opsigtige vertoon van ’n mens se lewensmiddele” is die weg van die wêreld (1 Johannes 2:16, NW). Die wêreld meet sukses aan die hoeveelheid geld en materiële besittings wat ’n persoon het. Maar mag dit nooit die geval in die Christenorganisasie wees nie! Ons moet gewapen wees sodat hierdie soort sataniese denke glad nie ons denke en dié van die Christengemeente indring nie: Ons godsaligheid saam met vergenoegdheid sal terselfdertyd meebring dat ons nie krities staan teenoor diegene wat oënskynlik te rojaal lewe nie.—1 Timotheüs 6:6-8.

8. (a) Watter voorbeeld het Jesus Christus vir ons gestel? (b) Wat kan ons ons gepas afvra?

8 Ons moet altyd ons Heer, Jesus Christus, se gesindheid en voorbeeld in gedagte hou. Hoewel Christus groot roem en rykdom kon verwerf het en in weelde kon lewe, het hy nie hierdie dinge nagestreef nie. Soms het hy nie eens dinge gehad wat baie mense as noodsaaklik beskou nie (Mattheüs 4:8, 9; 8:20). Waarom was hy so selfopofferend? Omdat hy die regte dinge eerste gestel het. Hy het besef dat God se wil absolute voorkeur moes geniet (Johannes 4:34). Hou ons die oë gevestig op sy voorbeeld en probeer ons dit navolg in die wyse waarop ons lewe? Wat is werklik ons doel in die lewe—om nou ’n maklike, gerieflike lewe te lei of om die ewige lewe in God se nuwe stelsel te verwerf?—Hebreërs 12:2, 3; 1 Petrus 2:21-24; 3:14.

9. Watter geestelike wapenrusting het ons nodig om materiële neigings teë te werk, en hoe kan hierdie wapenrusting ons beskerm?

9 In ons stryd om te verhoed dat bose geeste materialistiese neigings in ons kweek, het ons wapenrusting, geestelike wapenrusting, nodig. Ons moet “die borswapen van die GEREGTIGHEID” aanhê, wat beteken dat ons doen wat reg is in God se oë (Efesiërs 6:13, 14). En die regte ding wat ons nou moet doen, is ‘om onsself te verloën en Christus se voorbeeld te volg’, want soos Jesus voorts gesê het: “Wat baat dit ’n mens as hy die hele wêreld win, maar aan sy siel skade lei?” (Mattheüs 16:24-27; vergelyk Mattheüs 6:33.) Nog ’n baie belangrike deel van die wapenrusting is “die skild van die GELOOF” (Efesiërs 6:16). Ons moet waarlik glo in God se komende nuwe stelsel en nie op hierdie ou stelsel staatmaak om ons begeertes te bevredig nie. Moet nooit vergeet dat dit binnekort saam met al sy rykdom gaan eindig nie.—1 Johannes 2:17; Esegiel 7:19.

10. Watter deel van die wapenrusting is veral belangrik om materiële neigings teë te werk, en waarom?

10 Maar om teen subtiele vorme van materialisme te stry, het ons veral die daaropvolgende deel van die wapenrusting nodig, naamlik “die helm van VERLOSSING”. ’n Ander apostoliese brief sê dat ons “die HOOP OP VERLOSSING as helm” moet dra (Efesiërs 6:17; 1 Thessalonicense 5:8, NTP). Die “hoop op Verlossing” beteken dat ons uitsien na die beloning wat God sal gee en nie beloninge soek in die vorm van ’n maklike lewe in hierdie stelsel nie.

11. Hoe het Moses getoon dat hy “die hoop op verlossing as helm” opgehad het?

11 Moses het hierdie helm, “die hoop op verlossing”, opgehad. Selfs al is hy grootgemaak as die seun van Farao se dogter, het hy geweier om “die kortstondige genieting van sonde” in die koninklike huisgesin te kies of om “die skatte van Egipte” na te jaag. Waarom? “Omdat hy na die beloning uitgesien het.” Moses het gepeins of diep nagedink oor dit dinge wat Jehovah beloof het. Moses het nie maar net van Jehovah gehoor of gelees nie. Die Bybel sê: “Hy het volhard soos iemand wat die onsienlike God sien” (Hebreërs 11:24-27, NTP). Jehovah, en ook Sy beloftes van die ewige lewe, was vir Moses werklik. As ons Satan se aanvalle wil afslaan, moet ons hoop op die ewige lewe vir ons net so werklik wees.

Stry teen geslagsonsedelikheid

12. Wat het bose geeste geskep om ’n geslaagde aanval op baie Christene te rig?

12 Soos in die vorige artikel gemeld is, is geslagsonsedelikheid een van die vernaamste metodes waardeur bose geeste Christene tot ’n val bring. Hulle probeer om ons Godgegewe geslagsdrang—wat slegs in die huwelik bevredig moet word—te verderf. Die bose geeste het vandag feitlik oral daarin geslaag om ’n milieu sowel as situasies te skep waarin Christene versoek word om geslagsomgang buite die huweliksreëling te hê. Watter deel van die wapenrusting sal ons help om hierdie aanval van bose geeste af te slaan?

13. Hoe het Josef getoon dat hy “die borswapen van die geregtigheid” aangehad het?

13 Dit is noodsaaklik om “die borswapen van die geregtigheid” aan te hê. Ons moet vasbeslote wees om te alle tye te doen wat Jehovah sê reg is (1 Korinthiërs 6:18). Josef het hierdie wapenrusting aangehad. Toe die seksbehepte vrou van Potifar hom dag na dag gesoebat het: “Kom hou gemeenskap met my”, het Josef gesê: “Hoe kan ek dan hierdie groot kwaad doen en sondig teen God?” (Genesis 39:7-12). Net soos Josef moet ons ook nadink oor die gevolge van die onsedelike gedrag wat ons ‘bedrieglike hart’ dalk begeer.—Jeremia 17:9.

14. Hoe moet ons in aanmerking neem wat ons sal help om ons nie aan geslagsonsedelikheid skuldig te maak nie?

14 Ons moet eerstens in ag neem hoe God daardeur geraak word wanneer ons sy wet verbreek. Satan het Jehovah gesmaad deur te beweer dat mense nie aan Hom getrou sal bly wanneer hulle beproef word nie. Jehovah spoor ons dus aan: “Wees wys, my seun, en verbly my hart, sodat ek hom wat my smaad, kan antwoord gee” (Spreuke 27:11). Dink daaraan: Gaan jy God se wet verbreek en Satan bly maak en God bedroef? (Psalm 78:38-41). Hoe kan jy so iets doen as jy Jehovah werklik liefhet? Dink ook aan wat die verstandige ding is om te doen. Net Jehovah kan vir jou die ewige lewe gee. Is dit dus nie verstandig om sy wil te doen nie?—1 Johannes 5:3; Romeine 6:23.

15. Watter beskouing het diegene wat hulle aan geslagsoortredings skuldig maak nie?

15 Christene wat voor Satan se aanslag swig, verloor in werklikheid hulle geestelike gesig. Hulle gebrek aan geestelike gesig kan vergelyk word met die situasie van Elisa se dienaar. Jy sal onthou dat Elisa vir hom gebid het: “HERE, open tog sy oë, dat hy kan sien.” En die dienaar het gesien en “meteens was die berg vol perde en waens van vuur rondom Elisa” (2 Konings 6:15-17). Sien jy wie ons dophou? Dit is Jehovah, sowel as Christus en die engele (Psalm 11:4; 34:8; Hebreërs 1:14; Mattheüs 18:10). Ons is as ’t ware op ’n verhoog. (Vergelyk 1 Korinthiërs 4:9.) Hoe kan ’n persoon wat hierdie Skriftuurlike beskouing huldig en weet dat sy dade van bo dopgehou word hom aan geslagsoortredings skuldig maak?

16. Watter ander dinge sal ons help om geslagsonsedelikheid te vermy as ons dit in ag neem?

16 Jy moet ook dink aan die lig waarin dit die Christengemeente stel wanneer jy onsedelik lewe. Buitestaanders kan die gevolgtrekking maak dat daar geen verskil tussen Jehovah se Getuies en die wêreld bestaan nie, en dan kan hierdie waarnemers versuim om die lewegewende boodskap aan te neem (2 Petrus 2:2). Dink ook aan die leed wat so ’n onsedelike handelwyse jou familielede kan aandoen (Spreuke 10:1). En indien jy getroud is, kan jy jouself afvra: “Hoe kan ek my huweliksmaat so wreed behandel? Watter soort persoon is ek?” Is dit nie, wanneer ons alles in ag neem, volkome selfsugtig, kortsigtig en dwaas om geslagsonsedelikheid te bedryf nie?

17, 18. (a) Watter lewenslange stryd het die apostel Paulus gevoer, en hoe het hy daarin geslaag om te wen? (b) Wat is noodsaaklik as ons ten volle gewapen wil wees, en hoe moet ons dit opvolg?

17 Dit is weliswaar nie altyd maklik om sonde te vermy nie. Die apostel Paulus het ’n lewenslange stryd gevoer teen die verkeerde begeertes waaraan hy eens verslaaf was. Hy het geskryf: “Ek [slaan] my liggaam en maak dit diensbaar, dat ek nie miskien, terwyl ek vir ander gepreek het, self verwerplik sou wees nie” (1 Korinthiërs 9:27; Titus 3:3). Paulus het homself ‘kortgevat’. Hy het homself gedwing om te doen wat reg is, selfs al wou sy liggaam verkeerde dinge doen. Jy moet dit ook doen as jy as oorwinnaar uit die stryd wil tree.

18 Om ten volle gewapen te wees, moet jy ook gereeld tot God om hulp bid (Efesiërs 6:18). Jy kan egter nie om hulp bid en dan onsedelike lektuur lees, na onsedelike rolprente kyk of dagdroom oor of flankeer met iemand van die ander geslag nie. Jy moet in ooreenstemming met jou gebede optree!

Stry teen onafhanklike denke

19. (a) Hoe het Jehovah sy volk nog altyd gelei? (b) Hoe openbaar sommige persone onafhanklike denke?

19 Wanneer ons die Bybel bestudeer, vind ons dat Jehovah nog altyd sy knegte op ’n georganiseerde wyse gelei het. En net soos daar in die eerste eeu slegs een ware Christenorganisasie was, gebruik Jehovah vandag ook net een organisasie (Efesiërs 4:4, 5; Mattheüs 24:45-47). Party wys egter daarop dat die organisasie al sy beskouing oor sekere dinge gewysig het, en daarom redeneer hulle: “Dit toon dat ons self moet besluit wat ons gaan glo.” Dit is onafhanklike denke. Waarom is dit so gevaarlik?

20. (a) Waarvan is onafhanklike denke ’n blyk? (b) Wat sal ons help om nie ons eie beskouings belangriker as die van die organisasie te ag nie? (c) Watter eerste-eeuse voorbeeld kan ons gerus navolg?

20 Sulke denke is ’n blyk van trotsheid. En die Bybel sê: “Trotsheid kom voor die verbreking, en hoogmoed kom voor die val” (Spreuke 16:18). As ons begin dink dat ons beter weet as die organisasie, moet ons ons afvra: “Waar het ons in die eerste plek Bybelwaarheid geleer? Sou ons die waarheid geken het as dit nie was vir die leiding wat ons van die organisasie ontvang het nie? Kan ons inderdaad sonder die leiding van God se organisasie klaarkom?” Nee, ons kan nie!—Vergelyk Handelinge 15:2, 28, 29; 16:4, 5.

21. (a) Slegs hoe kan ons in ons stryd seëvier? (b) Wat moet ons nooit vergeet nie, en watter soort lewe moet ons dus nou lei?

21 As ons dink aan die magtige geeste wat teen ons stry, moet ons erken dat ons onmoontlik op ons eie kan seëvier. Maar met God se onderskraging en met die hulp en steun van sy organisasie—ons wêreldwye broederskap—kan ons nie verloor nie (Psalm 118:6-12; 1 Petrus 5:8). Ons moet egter nooit vergeet dat ons in ’n geestelike stryd gewikkel is nie en dat oorlogstyd nie die tyd is om te ontspan en slegs vermaak en die genietinge van die lewe te geniet nie. Dit is eerder die tyd vir strawwe oefening, wakkerheid en selfopoffering. Die vyand het daarin geslaag om sommige onder ons te oorreed om hulle waaksaamheid te verslap, en hulle het in die slag gebly. Mag dit nooit met ons gebeur nie! Dit sal nie as ons “die volle wapenrusting van God” aanhou en “teen die liste van die duiwel” vasstaan nie.—Efesiërs 6:11, 12.

Kan jy hierdie vrae beantwoord?

◻ Watter probleme kan vir ’n Christen en ander in die gemeente ontstaan wanneer materiële dinge besonder prominent in sy lewe word?

◻ Wat sal ons help om materialistiese neigings te weerstaan?

◻ Wat sal ons help om ons nie aan geslagsonsedelikheid skuldig te maak nie?

◻ Wat is ’n blyk van onafhanklike denke, en wat kan ons help om dit te vermy?

[Picture on page 22]

Watter uitwerking kan dit op ander lede van die gemeente hê as ’n Christen windmakerig is en sy lewensmiddele opsigtig vertoon?

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel