Bly staande teen Satan se liste
“Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste [Grieks, “geslepe dade”] van die duiwel.”—EFESIËRS 6:11.
1. Hoe bewys die versoekings waaraan Jesus onderwerp is dat Satan bestaan?
BESTAAN Satan werklik? Party mense redeneer dat “Satan” in die Bybel net op die kwaad in die mens slaan. Hulle loën sy bestaan as ’n wese. Maar wat sê die Skrif vir ons? Die Evangelieverslae van Mattheüs en Lukas toon dat Christus Jesus drie keer regstreeks deur Satan versoek is, en elke keer het Jesus hom verwerp deur die Skrif te gebruik. Waarom het Jesus hom uit die Hebreeuse Skrifte geantwoord? Omdat Satan na hom toe gekom het en daardie einste Skrifte verkeerd toegepas het om hom te laat sondig en as die Seun van God, die beloofde Saad, te faal.—Mattheüs 4:1-11; Lukas 4:1-13.
2. Hoe weet ons dat Jesus hom nie sy ontmoetings met Satan verbeel het nie?
2 Dit is duidelik dat Jesus, ’n volmaakte man, hom nie hierdie ontmoetings verbeel het nie (Hebreërs 4:15; 7:26). Hy is gekonfronteer deur dieselfde een wat die mag agter die slang in Eden was, sy eie voormalige engelebroer wat eeue tevore in opstand gekom het en nou daarop uit was om die vervulling van Genesis 3:15 te dwarsboom. Satan wou hê dat die beloofde Saad sy onkreukbaarheid prysgee. Jesus was bewus van sy geslepe dade en het die Versoeker ferm verwerp. Wat was Satan se reaksie? “En toe die duiwel elke versoeking geëindig het, het hy ’n tyd lank van Hom gewyk.” Jesus het uiteraard nie van homself gewyk nie! Satan was gefrustreerd en het hom verlaat, “en daar het engele gekom en [Jesus] gedien”.—Lukas 4:13; Mattheüs 4:11.
3. Wat sê een geskiedskrywer oor die betekenis van die Duiwel se bestaan vir die Christelike godsdiens?
3 Een geskiedskrywer sê redelikerwys: “Die loëning van die bestaan en essensiële belang van die Duiwel in die Christelike godsdiens is strydig met die apostoliese leer en met die geskiedkundige ontwikkeling van die Christelike leer. Aangesien dit letterlik sinloos is om die Christelike godsdiens in ander terme as hierdie te definieer, is dit intellektueel onsamehangend om ’n Christelike godsdiens voor te staan wat die Duiwel uitsluit. As die Duiwel nie bestaan nie, het die Christelike godsdiens dit dan reg van die begin af heeltemal mis gehad wat ’n kernpunt betref.”a Daardie gevolgtrekking bied aan elke persoon op aarde vandag ’n uitdaging. Erken jy die bestaan van ’n onsigbare vyand wat daarop uit is om God se soewereiniteit en die mens se trou te ondermyn?
Satan se ware identiteit
4. Hoe het ’n volmaakte geesskepsel Satan geword?
4 Satan is ’n magtige geesskepsel, wat oorspronklik deur God geskep is as ’n engel, ’n geesseun met toegang tot Jehovah se hemelse hof (Job 1:6). Satan het egter sy wilsvryheid in verset teen God uitgeoefen; met slinksheid het hy Eva en, deur haar, Adam tot ongehoorsaamheid en die dood gelei (2 Korinthiërs 11:3). So het hy Satan geword, wat beteken “Teëstander”—’n rebel, ’n demon, ’n mensemoordenaar en ’n leuenaar (Johannes 8:44). Hoe gepas is Paulus se woorde tog dat ‘Satan hom in ’n engel van lig verander’, terwyl hy in werklikheid ’n ‘wêreldheerser van die duisternis’ is! (2 Korinthiërs 6:14; 11:14; Efesiërs 6:12). Deur ander engele tot opstand te verlok, het hy hulle uit God se lig in sy eie duisternis ingelei. Hy het “die owerste van die duiwels” geword. Jesus het hom ook as “die owerste van hierdie wêreld” geïdentifiseer. Om ’n owerste te wees, moet hy uiteraard as ’n geskape geespersoon bestaan.—Mattheüs 9:34; 12:24-28; Johannes 16:11.
5. Hoe duidelik word Satan in die Christelike Griekse Skrifte geïdentifiseer?
5 Hoewel Satan selde in die Hebreeuse Skrifte vermeld word, word hy ten volle in die Christelike Griekse Skrifte aan die kaak gestel—soseer dat ons die naam Satan 36 keer en die woord Duiwel 33 keer daar teëkom. (Kyk Comprehensive Concordance of the New World Translation of the Holy Scriptures.) Hy word ook deur ander name en titels geïdentifiseer. Johannes het twee hiervan in Openbaring 12:9 gebruik: “En die groot draak is neergewerp, die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei.”—Kyk ook Mattheüs 12:24-27; 2 Korinthiërs 6:14, 15.
6. Wat beteken die woord “Duiwel”?
6 Hier in Openbaring verskyn die Griekse woord di·aʹbo·los, wat met “duiwel” vertaal word. Volgens Grieksgeleerde J. H. Thayer beteken dit letterlik “’n kwaadspreker, valse beskuldiger, lasteraar”. (Vergelyk 1 Timotheüs 3:11; 2 Timotheüs 3:3, Kingdom Interlinear.) W. E. Vine beskryf die Duiwel as “die boosaardige vyand van God en die mens”.b
7. Waarom kan Satan sy pogings op Jehovah se volk toespits?
7 Die groot Teëstander is nie ledig nie (1 Petrus 5:8). Inteendeel, die ou spreekwoord sê: “Ledigheid is die duiwel se oorkussing.” Hy is daarop uit om alle ware Christene afvallig te maak (2 Timotheüs 3:12). En hy kan hom op Jehovah se volk toespits om ’n eenvoudige rede—hy het reeds die res van die wêreld in sy mag! (1 Johannes 5:19). Vandag se wêreld is Satan se wêreld. Hy is die heerser en god daarvan, of mense dit besef of nie (Johannes 12:31; 2 Korinthiërs 4:4). Gevolglik sal hy van enige geslepe of subtiele daad of plan gebruik maak om Jehovah se volk afvallig te maak, hetsy individueel of as ’n geheel. Kom ons ondersoek party van die maniere waarop hy te werk gaan.—Markus 4:14, 15; Lukas 8:12.
Satan se subtiele en geslepe dade
8. Watter voordeel het Satan moontlik in sy pogings teen ons?
8 Satan het ’n lang tyd gehad om menslike sielkunde te bestudeer, om die menslike natuur met al sy aangebore en aangeleerde gebreke te ontleed. Hy weet hoe om ons swakhede en ons ydelheid uit te buit. Wat is die situasie as jou vyand jou swakhede ken en jy self nie besef wat hulle is nie? Dan is jy swak toegerus om jouself te verdedig, aangesien jy nie bewus is van die swak plekke in jou geestelike wapenrusting nie (1 Korinthiërs 10:12; Hebreërs 12:12, 13). Hoe gepas is die woorde van ’n Skotse digter tog nie: ‘As ons geseën was met die vermoë om onsself te sien deur ander se oë, was daar minder flaters en meer genoeë.’
9. Wat kan die ongelukkige gevolg wees as ons versuim om onsself te ontleed en te verander?
9 Is ons bereid om onsself te sien soos ander ons sien—veral soos God of Satan ons dalk sien? Dit verg eerlike selfontleding en beoordeling en die begeerte om ’n verandering aan te bring. Selfbedrog is so maklik (Jakobus 1:23, 24). Hoe rasionaliseer ons tog nie soms om ons handelwyse te regverdig nie! (Vergelyk 1 Samuel 15:13-15, 20, 21, 24.) En hoe maklik is dit tog om te sê: “Wel, jy weet, niemand is volmaak nie!” Dit is presies wat Satan weet, en by buit ons onvolmaaktheid uit (2 Samuel 11:2-27). Hoe jammer tog om die middeljare te bereik en te besef dat jy geen vriende het nie omdat jy ander deur die jare heen despoties, onpersoonlik of onvriendelik behandel het; of om te besef dat jy min of niks gedoen het om ander mense gelukkig te maak nie. Satan het ons moontlik subtiel deur die lewe gelei en ons aangebore selfsug gebruik om ons te verblind. Ons het nie daarin geslaag om die wese van die ware sin van Christus—liefde, medelye en vriendelikheid—ons eie te maak nie.—1 Johannes 4:8, 11, 20.
10. Watter vrae kan ons ons afvra, en waarom?
10 As ons Satan wil weerstaan, moet ons onsself derhalwe ondersoek. Het jy ’n swakheid wat Satan kan uitbuit of nou besig is om uit te buit? Het jy ’n egoprobleem? Moet jy altyd die eerste of beste wees? Is trots jou verborge dryfkrag? Word jou persoonlikheid deur jaloesie, afguns of geldgierigheid bederf? Is jy liggeraak? Is jy kil en sinies? Of is jy oorgevoelig wanneer voorstelle gedoen of kritiek gegee word? Voel jy gekrenk oor raad of verwerp jy dit selfs? As ons onsself ken, kan ons sulke probleme regstel mits ons nederig is. Anders stel ons ons bloot aan Satan se aanvalle.—1 Timotheüs 3:6, 7; Hebreërs 12:7, 11; 1 Petrus 5:6-8.
11. Hoe kan Satan ons geestelikheid subtiel probeer ondermyn?
11 Satan kan ook ons geestelikheid op ’n subtiele, listige manier ondermyn. Miskien ontstel die manier waarop dinge in die gemeente of die organisasie gedoen word ons. Ons het dikwels nie al die feite nie, maar ons maak oorylde gevolgtrekkings. As ons verhouding met Jehovah swak is, is dit maklik om negatiewe denke en twyfelgedagtes oor die waarheid te koester. Party soek dalk ’n selfregverdigende uitweg uit die verantwoordelikhede wat die waarheid meebring. Satan plaas dan dislojaliteit en verraad in hulle harte. Weldra is hulle slagoffers van afvalligheid, en Satan is verheug.—Lukas 22:3-6; Johannes 13:2, 27; 2 Johannes 9-11.
12. (a) Waartoe is party deur Satan aangemoedig? (b) Hoe verstrik Satan talle in onsedelikheid?
12 Ander word deur Satan aangemoedig om hulle nie net skuldig te maak aan growwe sondes wat uitsetting verdien nie, maar om selfs van leuens en bedrog gebruik te maak in ’n poging om die gemeentelike ouere manne om die bos te probeer lei. Soos Ananias en Saffira dink hulle dat hulle die engele en God se heilige gees kan bedrieg (Handelinge 5:1-10). Derduisende het in onlangse jare in Satan se strik van onsedelikheid getrap. Die Duiwel weet dat mense se geslagsdrang sterk is, en deur sy wêreldstelsel beklemtoon, verderf en verdraai hy die rol van seksualiteit (Numeri 25:1-3). Ongetroude Christene kom dalk in die versoeking om hulle aan hoerery of ander geslagsmisbruike skuldig te maak (Spreuke 7:6-23). As getroude Christene hulle verstande en harte laat dwaal, kan hulle maklik in verraderlike gedrag verval en die eggenoot aan wie hulle trou beloof het, verraai.—1 Korinthiërs 6:18; 7:1-5; Hebreërs 13:4.
13. (a) Hoe kan die televisie ons denke vorm? (b) Hoe kan ons sodanige invloed weerstaan?
13 Ons lewe in ’n wêreld waar leuens, bedrog en gewelddadige toorn algemeen is. Satan benut die media ten volle om hierdie verdorwe mentaliteit ingang te laat vind. Televisievervolgverhale of strooisages beeld aantreklike mense uit wat in ’n weefsel van onderlinge bedrog lewe. As ons toelaat dat daardie denke ons beïnvloed, kan ons weldra voor “geringe” sondes begin swig, wat die eerste stap tot “grotes” is. Satan se subtiele voorstelle wurm hulle maklik in ons denke in. Hoe kan ons sulke invloede weerstaan? Moet nooit ‘aan die duiwel plek gee nie’, soos Paulus gemaan het. Dit beteken ook dat jy beheer uitoefen oor wie jy in jou huis toelaat deur die televisie. Moet ons nie die indringing van gewelddadige, onsedelike persone wat vuil taal gebruik en wat ons sitkamer besoedel, verafsku nie?—Efesiërs 4:23-32.
Hoe kan ons Satan weerstaan en aan God getrou bly?
14. Watter tweevoudige besluit is nodig om Satan te weerstaan, en wat verg dit?
14 Hoe kan ons onkreukbaarheid handhaaf met so ’n magtige, bomenslike vyand teen ons as onvolmaakte menseskepsele? Die sleutel word in Jakobus se woorde gevind: “Onderwerp julle dan aan God; weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug” (Jakobus 4:7). Let daarop dat Jakobus se raad tweevoudig is. Terwyl ons die Duiwel en sy wil weerstaan, moet ons ons aan God se wil onderwerp. Dit beteken dat ons God se wil moet liefhê en Satan s’n moet haat (Romeine 12:9). Jakobus sê derhalwe: “Nader tot God, en Hy sal tot julle nader. Reinig die hande, julle sondaars, en suiwer die harte, julle dubbelhartiges!” (Jakobus 4:8). Ja, in ons weerstand teen Satan is daar geen plek vir halfhartigheid en besluiteloosheid nie. Ons kan nie bekostig om ons onkreukbaarheid in gevaar te stel deur te kyk hoe naby ons aan die skeidslyn van goddeloosheid kan kom nie. Ons moet ‘die kwaad terdeë haat’.—Psalm 97:10.
15. Waarom is “die volle wapenrusting van God” noodsaaklik? Lig toe.
15 Uitnemende raad oor hoe om Satan te weerstaan, word in Efesiërs hoofstuk 6 aangetref. Hoe kan ons volgens Paulus Satan se “geslepenheid,” “planne” of “taktiek” weerstaan? (Efesiërs 6:11, Phillips, New International Version, The Jerusalem Bible). “Trek die volle wapenrusting van God aan”, maan hy. Die uitdrukking “volle wapenrusting” laat geen plek vir ’n slap gesindheid teenoor die Christelike godsdiens nie, net so min soos ’n Romeinse soldaat dit kon bekostig om slap te wees wanneer hy hom vir ’n stryd voorberei het. Hoe sou die soldaat vaar as hy hom sou toerus met die hele wapenrusting behalwe die skild en die helm? Hy kon gedink het: ‘Dit is darem ’n groot skild en die helm is so swaar. Hulle weeg baie, en ek het hulle nie werklik nodig nie.’ Stel jou die situasie voor—’n Romeinse soldaat wat bewapen is om te veg maar sonder sy vernaamste verdedigingstoerusting.—Efesiërs 6:16, 17.
16. (a) Hoe moet ons Jesus se voorbeeld in die gebruik van ons “swaard” volg? (b) Hoe kan ons op ons hoede bly teen Satan se “vurige pyle”, en wat is die gevolg?
16 Stel jou ook ’n soldaat sonder sy swaard voor. “Die swaard van die Gees” is ’n goeie verdedigingswapen, aangesien dit gebruik word om die wapens wat Satan teen die Christen gebruik weg te kap. Ons “swaard” moet altyd gereed wees. Dit sal die geval wees as ons nie ons persoonlike en gesinsbybelstudie verwaarloos nie. Maar hierdie “swaard . . . die woord van God” is by uitstek ons aanvalswapen. Jesus het dit op albei maniere gebruik (Mattheüs 4:6, 7, 10; 22:41-46). Ons moet ook. Ons moet voortdurend ons waardering vir die waarheid verskerp. Ons kan nie ons geestelikheid behou op grond van wat ons in ons eerste paar maande of jare in die waarheid geleer het nie. As ons versuim om die geestelike stroombane van ons verstand te hernieu, sal ons geestelike gesigsvermoë vervaag. Ons ywer vir Jehovah se ware aanbidding sal afneem. Ons sal geestelik swak word. Ons sal nie meer die aanvalle van familielede, vriende, metgeselle en afvalliges wat ons opvattinge bespot, kan afweer nie. Maar God sal ons van die Duiwel en sy “vurige pyle” behoed as ons ons voortdurend met “die volle wapenrusting van God” toerus.—Jesaja 35:3, 4.
17, 18. Teen wie is ons stryd, en hoe kan ons wen?
17 Ja, Paulus het klem gelê op die gevaar wat die Christenstryd behels toe hy geskryf het: “Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug” (Efesiërs 6:12). Hoe kan ons as nietige mense in so ’n ongelyke stryd weerstand bied en wen? Paulus herhaal sy gedagte: “Daarom, neem die volle wapenrusting van God op, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle alles volbring het, staande kan bly” (Efesiërs 6:13). Die sleuteluitdrukking is: “Nadat julle alles volbring het.” Dit laat weer eens geen plek vir halfhartige of verdeelde Christelikheid nie.—1 Johannes 2:15-17.
18 Laat ons dus vasstaan in die waarheid deur Jehovah se geregtigheid lief te hê, die goeie nuus van vrede te verkondig, te volhard met sterk geloof in die verlossing wat Jehovah deur Christus Jesus gee, terwyl ons op God se Woord as ons hoofsteun vertrou (Efesiërs 6:14-17). Onthou, God gee vir ons om en sal ons help om te seëvier oor die beproewinge en sorge wat ons in Satan se stelsel van dinge ondervind. Mag ons almal ag slaan op die waarskuwing: “Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ’n brullende leeu en soek wie hy kan verslind.” Ja, “hom moet julle teëstaan, standvastig in die geloof”.—1 Petrus 5:6-9.
19. (a) Watter ander noodsaaklike voorsiening moet ons gebruik om Satan te weerstaan? (b) Wat sal uiteindelik met Satan gebeur?
19 Laat ons nie Paulus se noodsaaklike toevoeging by die “wapenrusting” vergeet nie. Hy sê: “Terwyl julle met [elke vorm van] gebed en smeking by elke geleentheid bid in die Gees, en juis daartoe waak met alle volharding en smeking vir al die heiliges” (Efesiërs 6:18, vgl. NW). Ons onsigbare vyand is so magtig dat ons “elke vorm van gebed en smeking” nodig het. Ons gebede moet derhalwe opreg wees en verskillende vorme aanneem! Dit is noodsaaklik dat ons volkome op Jehovah vertrou as ons die stryd wil wen en ons onkreukbaarheid wil handhaaf. Net hy kan “die krag bo die normale” voorsien wat ons in staat sal stel om ons meedoënlose Teëstander te weerstaan. Wat ’n vertroosting is dit tog om te weet dat ons groot Teëstander binnekort in die afgrond gewerp en dan uiteindelik vir ewig vernietig sal word!—2 Korinthiërs 4:7, NW; Openbaring 20:1-3, 10.
[Voetnote]
a Satan—The Early Christian Tradition, deur Jeffrey Burton Russell, bladsy 25.
b An Expository Dictionary of New Testament Words.
Kan jy antwoord?
◻ Hoe weet ons dat Satan ’n werklike persoon is?
◻ Waarom is Satan se ander name en titels gepas?
◻ Watter selfontleding kan ons help om Satan se subtiele aanvalle te weerstaan?
◻ Watter raad sal ons help om Satan teë te staan, en waarom?
[Prent op bladsy 15]
Een manier om Satan se invloed te weerstaan, is om hartlik, behulpsaam, liefdevol te wees
[Prent op bladsy 16]
Ons moet oppas dat ons nie soos Ananias en Saffira is wat voor Satan geswig het nie
[Prent op bladsy 17]
As ons Satan se pyle wil afweer, kan ons geen deel van ons geestelike wapenrusting weglaat nie