Jesus red die wêreld—Hoe?
ONDANKS die droewe beskouing wat talle ingeligte wêreldleiers (sommige in die Verenigde Volke) van die mens se toekoms het, verseker die geïnspireerde Skrif ons dat God gaan ingryp om die wêreld te red. Maar elkeen van ons wil vanselfsprekend graag weet hoe ons by die saak betrokke is en hoe ons daarby baat kan vind. Daarvoor moet ons die woord “wêreld” in die Bybel ondersoek.
Die Christelike Griekse Skrifte gebruik 187 keer die woord kosmos, wat gewoonlik met “wêreld” vertaal word. Die Griekse woord het verskillende betekenisskakerings en kan op verskillende maniere toegepas word. ’n Begrip van sommige van hierdie betekenisse kan ons help om beter te besef hoe Jesus “die Redder van die wêreld” is (Johannes 4:42, NTP). Ons sal ook in ’n beter posisie wees om te begryp wat alles by ’n persoon se redding betrokke is.
Vroeg in die Evangelie van Johannes vind ons hierdie interessante gedeelte: “[Jesus] was in die wêreld, en die wêreld het deur Hom ontstaan, en die wêreld het Hom nie geken nie” (Johannes 1:10). Hierdie teks praat klaarblyklik nie van die aarde, son, maan, planete en sterre, wat sommige mense insluit wanneer hulle van die “wêreld” praat nie. Johannes het eerder oor mense geskryf, die wêreld van die mensdom oor die algemeen. Jesus is in hierdie wêreld gebore, en mense oor die algemeen het hom nie aanvaar of leer ken nie. Dit is egter ook waar dat ‘die wêreld deur Jesus ontstaan’ het. Hoe so? Omdat hy, lank voordat hy ’n mens geword het, in die hemel ’n medewerker van sy Vader, Jehovah God, was. As sy Vader se eersgebore Seun het hy ’n aandeel gehad in die grootse werk om die eerste mensepaar, die ouers van die ganse mensdom, van ons inkluis, te skape.—Genesis 1:26; Spreuke 8:22, 30, 31; Kolossense 1:15-17.
Vir ’n ander, meer beperkte, betekenis van “wêreld” kan ons let op wat Jesus vir sy dissipels gesê het aangaande wat na sy dood sou gebeur: “Julle sal ween en rou bedryf, maar die wêreld sal bly wees.”—Johannes 16:20.
In hierdie vers word ’n teenstelling getref tussen Jesus se dissipels en die “wêreld”. Hier het die woord “wêreld” klaarblyklik slegs betrekking op daardie lede van die mensdom wat van God vervreemd is. Op dieselfde grondslag kan ons begryp wat Jesus bedoel het toe hy gesê het dat sy volgelinge “nie van die wêreld is nie” (Johannes 17:14, 16). Hoewel Christene beslis deel is van die “wêreld” van die mensdom oor die algemeen, moet hulle, volgens hierdie woorde van Jesus, geen deel wees “van die wêreld” wat van God vervreemd is nie. Sonder om die feit uit die oog te verloor dat die aanvaarding van Jesus onontbeerlik vir redding is, moet ons ondersoek instel na wat dit beteken om “nie van die wêreld” te wees nie.
“Wat moet ek doen om gered te word?”
“Menere, wat moet ek doen om gered te word?” het ’n vreesbevange tronkbewaarder van die eerste eeu gevra toe hy gesien het dat al sy gevangenes, onder meer die apostel Paulus en sy metgesel Silas, op wonderdadige wyse bevry is. Die antwoord was: “Glo in die Here Jesus Christus en jy sal gered word, jy en jou huisgesin” (Handelinge 16:30, 31). Wat het dit behels ‘om in die Here Jesus te glo en gered te word’? Moes hy maar net sy geloof betuig en in Jesus as die “Redder van die wêreld” glo? Ons kan vasstel wat by die saak betrokke is deur te kyk na die Bybelverslag oor die duisende persone wat gedurende die eerste eeu G.J. gered is.
Enkele noodsaaklike stappe vir diegene wat destyds gered is, word in die geïnspireerde boek Handelinge gemeld. Ons lees: “Hulle het die woord met alle welwillendheid ontvang en elke dag die Skrifte ondersoek of hierdie dinge so was.” “Die wat toe sy woord met blydskap aangeneem het, is gedoop . . . En hulle het volhard in die leer van die apostels.”—Handelinge 17:11; 2:41, 42.
Uit hierdie goddelike verslag is dit duidelik dat persone die waarheid van God se Woord moet leer, die Skrifte gereeld moet bestudeer en dit in hulle lewens moet toepas om gered te word. Diegene wat destyds gered is, het nie gedink dat ’n daaglikse studie van die Bybel sou toon dat hulle fanatiek of ongebalanseerd is nie. Hulle studie van die Bybel het eerder tot ’n algehele verandering in hulle lewensbeskouing, in hulle gewoontes en gebruike gelei. Dit het ’n hele nuwe lewenswyse, ’n baie gelukkige lewenswyse, beteken.
Die apostel Paulus het dit later soos volg gestel: “Hou dan op om te lewe soos julle vroeër gelewe het; . . . Julle gees en gedagtes moet nuut word; lewe as nuwe mens wat na die beeld van God in ware geregtigheid en heiligheid geskep is” (Efesiërs 4:22-24, NTP). Ander sal ’n verandering in die Christen se lewenspatroon bespeur, soos die apostel Petrus geskryf het: “In die verlede toe julle nog heidene was, is julle lewe lank genoeg beheers deur julle heidense begeertes; losbandigheid, wellus, dronkenskap, swelg- en drinkpartye en afskuwelike afgodery. Nou vind die heidene dit vreemd dat julle nie langer met hierdie stroom . . . saamgaan nie, en hulle beswadder julle” (1 Petrus 4:3, 4, NTP). Op hierdie wyse is vroeë Christene verlos uit die bose stelsel waarin hulle gelewe het.
Sulke geredde persone moes verder gaan. Hulle het besef dat “die hele wêreld in die mag van die Bose”, Satan die Duiwel, “die god van hierdie wêreld”, lê (1 Johannes 5:19; 2 Korinthiërs 4:4). Hulle het die begeerte gehad om ander te help om onder sy heerskappy uit te kom. Wat het hulle dus gedoen? “Hulle het nie opgehou om elke dag in die tempel en van huis tot huis te leer nie, en die evangelie te verkondig dat Jesus die Christus is.” Hulle “het die land deurgegaan en die woord van die evangelie verkondig”. “En die Here het daagliks by die gemeente gevoeg die wat gered is.”—Handelinge 5:42; 8:4; 2:47.
Om ‘nie van die wêreld’ te wees nie, het sommer baie vir daardie vroeë Christene behels. Verskeie geskiedenisboeke bevat die volgende verslae oor die gedrag van vroeë Christene: “Hulle het stil, sedelike, voorwaar voorbeeldige lewens gelei . . . Met die uitsondering van daardie enkele kwessie van [patriotiese afgodediens in die vorm van] wierookoffers was hulle in elke opsig voorbeeldige burgers.” “Christene het geweier om sekere pligte van Romeinse burgers na te kom . . . Hulle het nie politieke ampte beklee nie.” “Ywerige Christene het nie in die leër gedien of politieke ampte aanvaar nie.”
Ter verduideliking van die rede vir hierdie drastiese verandering in die lewens van diegene wat Christene geword het, het die apostel Paulus geskryf dat Jehovah “ons verlos het uit die mag van die duisternis en oorgebring het in die koninkryk van die Seun van sy liefde” (Kolossense 1:13). Dit is dus duidelik uit die Skrif asook uit die voorbeeld van vroeë Christene dat redding uit die teenswoordige stelsel beteken dat Christene ’n volkome neutrale standpunt ten opsigte van politieke en militêre aangeleenthede ingeneem het. Jesus het gesê: “My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie” (Johannes 18:36). Is dit wat jy waarneem onder die miljoene mense wat vandag beweer dat hulle gered is? Moet jy, in die lig hiervan, sekere aanpassings in jou lewe maak?
Jesus se rol in jou redding
Die persoon wat gered word, koester nuwe verwagtinge en begeertes. In plaas daarvan om sy hoop te stel in die prestasies van die teenswoordige stelsel, sien hy met vertroue uit na die verwesenliking van wat sy Verlosser, Jesus Christus, aan hom belowe het. Hy besef uit die Bybel dat die ganse mensdom, as afstammelinge van die moedswillige sondaar Adam, onder die veroordeling van sonde en die dood is. Toe Adam gesondig het, het hy al sy afstammelinge in slawerny aan sonde en die dood “verkoop”.—Romeine 3:23, 24; 5:12; 7:14.
Maar Jesus Christus het sy volmaakte menselewe op die folterpaal geoffer om te betaal vir wat Adam verloor het, en het sodoende die mensdom vrygekoop. Jesus het presies betaal wat nodig was—’n volmaakte menselewe vir ’n volmaakte menselewe—niks meer nie en niks minder nie. Paulus het gesê: “Want daar is een God en een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus, wat Homself gegee het as ’n [ooreenstemmende] losprys vir almal” (1 Timotheüs 2:5, 6, vgl. NW). Jy het dus rede om te hoop. As jy Jesus se losprys aanneem, kan jy ‘vrygemaak word van die wet van die sonde en die dood’ (Romeine 8:2). Die geredde mensdom het dus ’n nuwe hoop op die lewe. Dit is ’n vooruitsig op ewige lewe, net soos Adam oorspronklik die vooruitsig gehad het om vir ewig op ’n paradysaarde te lewe.
Die wonderlike voordele van redding deur Jesus Christus word nie outomaties deur enigiemand geniet nie. In Hebreërs 7:25 toon Paulus dat Jesus ‘diegene kan red wat deur Hom tot God gaan’. Om gered te word, moet ’n persoon dienooreenkomstig die verskil tussen God en Christus besef. Hulle is nie gelyke dele van die drie-enige God nie, maar afsonderlike persone. Jehovah God is die Opperwese. Hy het gereël dat sy Seun die losprys voorsien. As ’n persoon waarlik gered wil word, is dit dus duidelik dat hy hom moet afskei van daardie kerke van die Christendom wat valslik leer dat Jesus en God een en dieselfde is. Jesus self het gesê: “Dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het.”—Johannes 17:3.
Maar meer is nodig om gered te word. Die apostel Paulus het geskryf: “Nadat Hy [Jesus] volmaak is, het Hy vir almal wat Hom gehoorsaam is, ’n bewerker van ewige saligheid geword” (Hebreërs 5:9). Sulke gehoorsaamheid is nie maklik in hierdie wêreld wat van God vervreemd is nie. Jesus het gesê: “’n Nuwe gebod gee Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê; soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê” (Johannes 13:34). Dit beteken klaarblyklik dat diegene wat gered is, ander nie besteel nie, nie onsedelike lewens lei nie, mekaar nie belieg of bedrieg nie. Ons ewige redding hang af van gehoorsaamheid aan God op sulke gebiede.
Gered tot in ’n Nuwe Orde
Daar is ’n ander aspek omtrent redding wat veral die teenswoordige geslag raak. Die Skrif wys op ’n vroeë einde vir die teenswoordige stelsel gedurende ’n gebeurtenis wat Jesus beskryf het as ’n “groot verdrukking . . . soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie” (Mattheüs 24:21). Dit sal plaasvind in “die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God” (Openbaring 16:14-16). Dan sal Jesus optree, nie as ’n groot prediker en onderrigter nie, maar as Jehovah se Koning en Verdediger. Hy sal God se vyande uitwis maar sy gereddes, waarvan daar volgens Openbaring 7:9 ’n “groot menigte” sal wees, lewend bewaar. Die persone wat volhard het en wat waardig geag is om deur daardie “groot verdrukking” heen bewaar te word, sal met ’n groot stem uitroep: “Ons redding kom van ons God . . . en van die Lam!” (Openbaring 7:10, NTP). Hulle sal gered wees van vernietiging en sal die vooruitsig op ewige lewe op ’n paradysaarde hê.—Vergelyk Openbaring 7:16, 17; 21:1-5.
Wil jy nie graag daardie wonderlike redding deelagtig wees nie? Jy kan, deur juiste kennis te verkry van wat inderdaad van ’n mens vereis word om gered te word. Terwyl jy dit doen, moet jy die voorbeeld volg van die vroeë Christene wat aangespoor is om ‘hulle eie heil met vrees en bewing uit te werk’ (Filippense 2:12). Vind meer uit oor hoe Jesus mense nou red. Dit is nie net ’n kortstondige, emosionele ervaring nie, maar dit verg dat ons hom aanneem en ’n nuwe lewenswyse verkry waarin ons God se wil doen. Selfs al ondervind jy moeilikhede en teëstand op die smal weg na die lewe, moet jy Jesus se woorde onthou: “Wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word.”—Mattheüs 10:22; 7:13, 14.
[Prent op bladsy 6]
Die tronkbewaarder in Filippi het vir Paulus gevra: “Wat moet ek doen om gered te word?”
[Prent op bladsy 7]
Jesus het “’n ooreenstemmende losprys” geoffer