Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w83 9/1 bl. 3-4
  • Wat het geword van ‘eer jou ouers’?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wat het geword van ‘eer jou ouers’?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Word dit in ons dag vervul?
  • “Eer jou vader en jou moeder”
  • Nuttige onderrigting vir ons kritieke tye
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
  • Eksodus 20:12 – “Eer jou pa en jou ma”
    Verduidelikings van Bybelverse
  • Ongehoorsaamheid aan ouers—’n Teken van die laaste dae?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
  • Ons kinders—’n kosbare erfenis
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
w83 9/1 bl. 3-4

Wat het geword van ‘eer jou ouers’?

EEN vader het van sy twee seuns gesê: “Wanneer ek my mening lug, tree hulle op asof hulle my skaars kan verdra. Wat het tog geword van ‘Eer jou vader’?” Die hoof van ’n gesinsdiensagentskap het eweneens gesê: “Deesdae is jongmense nie net astrant nie, maar hulle daag gereeld hulle ouers se gesag uit.”

Of jy nou ’n jong persoon of ’n volwassene is, jy het waarskynlik opgemerk dat baie jongmense vandag aan hulle ouers ongehoorsaam is en hulle met minagting bejeën. Dit is ’n saak wat jou raak, of jy nou ’n jong persoon of ’n ouer is. Waarom?

Omdat die botsings tussen ouers en kinders wat jy waarneem, deel is van ’n patroon, ’n mosaïek van gebeure, wat hierdie tye as die laaste dae kenmerk. Volgens die Bybel gaan die tydperk genaamd die “laaste dae” die finale vernietiging van die wêreldstelsel vooraf (2 Timotheüs 3:1). Daar sal egter oorlewendes wees wat die lewe onder ’n werklike, hemelse regering sal geniet.—Daniël 2:44; Openbaring 21:1-4.

Hoe pas ongehoorsaamheid aan ouers in by wat die Bybel oor die hede en die toekoms sê? In vorige nommers van Die Wagtoring het ons Jesus Christus se profesie in Mattheüs 24, Lukas 21 en Markus 13 hersien. Jesus het die aandag gevestig op wêreldgebeure wat “die voleinding van die wêreld” sou kenmerk: oorloë, aardbewings en ongeregtigheid, om maar ’n paar te meld. Nou kyk ons egter na ’n verwante profetiese beskrywing van hierdie tydperk in 2 Timotheüs 3:1-5. In plaas daarvan om net die uitwendige kragte te meld wat die mensdom beïnvloed, beklemtoon die Bybel hier die gesindhede van mense wat hierdie dramatiese gebeure beleef. Dit sê:

“Maar weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom. Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig, . . . Keer jou ook van hierdie mense af.”

Let op dat hierdie woorde van die apostel Paulus ’n kommentaar is oor hoe die laaste dae mense sou beïnvloed. Let ook op dat ‘ongehoorsaamheid aan ouers’ gedurende die moeilike tydperk bekend as die laaste dae opvallend sou wees.

Word dit in ons dag vervul?

‘Hoe weet ons dat Paulus net van toestande in sy dag gepraat het nie?’ sal party vra. Omdat die apostel onmiddellik na sy profesie vir die Christen genaamd Timotheüs raad gee, is dit te begrype dat sommige wonder of Paulus werklik oor ons dag geskryf het (2 Timotheüs 3:5, 14, 15). Let egter op dat Paulus sê dat “daar in die laaste dae swaar tye sal kom”. Hy moes na ’n toekomstige verwikkeling verwys het. Timotheüs is aangesê om hom ‘af te keer’ van persone met onwenslike karaktertrekke, aangesien sommige in die gemeente dit reeds geopenbaar het. Maar Paulus se woorde toon dat die situasie in die laaste dae wat destyds nog in die toekoms was moeiliker sou wees.—Vergelyk 2 Thessalonicense 2:6-12; 3:6-14.

Maar jy het dalk gehoor dat sommige navorsers beweer dat die meeste jongmense vandag taamlik goed met hulle ouers klaarkom. Wat moet jy, met die oog op 2 Timotheüs 3:1-5, van sulke bewerings dink? Voordat ons tot ’n gevolgtrekking kom, kan ons eers Paulus se profesie teen die agtergrond van Bybelgeskiedenis beskou.

“Eer jou vader en jou moeder”

So lui die vyfde van die Tien Gebooie (Exodus 20:12). Hierdie woorde is by jong Jode ingeskerp (Deuteronomium 5:16; 6:6, 7). Ongehoorsaamheid aan ’n mens se ouers was ondenkbaar—in sommige gevalle ’n halsmisdaad! (Deuteronomium 21:18-21). Die antieke leefwyse het ouers gehelp om hierdie liefdevolle maar ferme beheer te handhaaf. Die gesinstruktuur was patriargaal. Ouers se rolle was duidelik gedefinieer. Kinders is beskou as ’n bate, ’n seën, en take in hulle landbougemeenskap het hulle besig gehou.—Vergelyk Psalm 127:3.

Maar namate die nasie van Jehovah se weë afgewyk het, het die gesinslewe agteruitgegaan. Sowat 800 jaar nadat die Tien Gebooie gegee is, het die profeet Miga gesê: “Die seun minag die vader, die dogter staan op teen haar moeder, . . . die man se vyande is sy huisgenote!” (Miga 7:6). Esegiel het eweneens van die stad Jerusalem gesê: “Hulle het vader en moeder in jou verag” (Esegiel 22:7). Sulke growwe minagting van ouers was ’n simptoom van algemene sedelike verval. Daarom het God streng dissiplinêre stappe teen die hele nasie gedoen.—Jeremia 1:15, 16.

Uit hierdie oogpunt beskou, sal jy waarskynlik saamstem dat baie van die gedrag van 20ste-eeuse jongmense Paulus in die eerste eeu sou geskok het. Huidige liberale beskouings oor hoe om kinders groot te maak was destyds ongehoord. Ons moet gevolglik in gedagte hou dat studies wat ’n rooskleurige beeld van die hedendaagse gesinslewe skilder God se standaarde vir kinders oor die hoof sien (Efesiërs 6:1-3). Wanneer die gesindhede en gedrag wat algemeen onder vandag se jongmense voorkom, vergelyk word met God se standaarde, kan ons verstaan waarom die Bybel die teenswoordige geslag ‘ongehoorsaam’ noem. Nie alle kinders is noodwendig opstandig nie. Maar ongehoorsaamheid is baie algemeen en intens—baie opmerklik.

Maar kom ‘ongehoorsaamheid aan ouers’ werklik oor die hele wêreld voor? Is daar genoeg bewys van botsings tussen ouers en kinders om te toon dat ons in “die laaste dae” lewe?—2 Timotheüs 3:1, 2.

[Lokteks op bladsy 4]

‘Nie alle kinders is opstandig nie. Maar ongehoorsaamheid is baie algemeen en intens’

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel