Ongehoorsaamheid aan ouers—’n Teken van die laaste dae?
DAAR is ’n geslag wat sy vader vervloek en sy moeder nie seën nie” (Spreuke 30:11). Dit is ’n goeie beskrywing van die geslag sedert 1914. Maar is jongmense sedertdien werklik uniek in hierdie opsig? Indien wel, waarom?
Ons veranderende wêreld
In die verlede was die gesin ’n toevlugsoord waar ’n mens liefde en steun sou ontvang. Daar het geen twyfel oor die rolle en verantwoordelikhede van gesinslede bestaan nie. Die mans was die broodwinners. Die meeste vroue het by die huis gebly en na die kinders omgesien en huiswerk gedoen. Saam het hulle hulle kinders waardes en beginsels geleer. Kinders was dikwels te besig om take in die huis te verrig om hulle aan ernstige oortredings skuldig te maak.
Die gebeure sedert die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog in 1914 het hierdie idilliese beeld verpletter. Ons eeu is ’n eeu van wrede oorloë, ongeregtigheid en hongersnode, net soos Jesus voorspel het (Mattheüs 24:4-14). Die gevolg? ’n Drastiese verandering in ons lewenswyse. Hierdie eeu van vinnige vervoermiddels plaas geweldige afstande tussen gesinslede wat afsonderlik reis. Omdat tegnologiese vooruitgang hulle bevry het van baie van die sleurwerk in die huis, verruil baie vroue huiswerk vir ’n plek in die arbeidsmark. Onderwysers en werkers by bewaarskole het plaasvervangers vir ouers geword. Kinders raak verveeld omdat elektriese toestelle huistake verrig.
Hierdie onlangse verwikkelinge het spanning in die gesin grootliks laat toeneem. Egskeidingsyfers het die hoogte ingeskiet. So ook die aantal gesinne met net een ouer. Een moeder in so ’n gesin vertel hoe moeilik dit is om kinders alleen groot te maak: “Teen die tyd dat ek van die kantoor af tuis kom, is my kinders al drie uur lank uit die skool. Daar is geen manier waarop ek op hoogte kan bly van hulle doen en late nie. Ek is seker dat my sestienjarige dogter omgang het met ’n seun in haar klas, en dat my dertienjarige seun gereeld na skool na die plaaslike biljartlokaal gaan.”
Slagoffers van die “ek”-geslag
Daar was seker nog nooit ’n geslag wat so gesteld was op persoonlike “regte” nie. Volgens een vooraanstaande sielkundige is die gevolg dat ouers “geleidelik begin het om hulle kinders toe te laat om met hulle te argumenteer, om hulle eie gevoelens en gedagtes te laat geld en selfs om ’n bietjie ongehoorsaam te wees”. Is dit gesond?
Skrywer Robert Coles, wat die Pulitzerprys ontvang het, het gesê: “Baie ouers is bang om hulle kinders op hulle eie groot te maak—volgens hulle eie oortuigings en hulle eie morele geloof. Hulle word geïntimideer deur al hierdie deskundiges wat boeke skryf oor kinderopvoeding en vir hulle voorskryf wat om te doen.” As slagoffers van permissiewe teorieë oor hoe om kinders groot te maak, vind ouers dat hulle toegee aan hulle kinders se nukke—slegs om later te staan te kom voor die waaragtigheid van die Bybel se verklaring: “As ’n mens sy slaaf van jongs af verwen, word hy op die end ondankbaar.”—Spreuke 29:21.
Die uitwerking van televisie
Die Nasionale Instituut vir Geestesgesondheid het onlangs ’n omvattende verslag uitgegee met die titel “Televisie en gedrag”. Die verslag het getoon dat TV nie net verstande met onverskillige geweld en onsedelikheid bombardeer nie, maar ook ander ontstellende uitwerkings op die gesinslewe het. “In ’n verbasende groot aantal gevalle” word die programkeuse byvoorbeeld aan die kinders oorgelaat, wat “dikwels na vore kom as arbiters van wat die gesin gaan sien; hulle neem die besluite in die gesin”.
Die boek Generation of Narcissus voer aan dat daar nog ’n sluipende newegevolg van televisie is. Dit sê dat kinders, as gevolg van TV, “die sogenaamde werklike wêreld uit ’n unieke hoek sien. Dit is ’n wêreld wat oënskynlik van hulle eie liggame af uitstrek.” Ja, die kind wat aan televisie verslaaf is, kan ’n lewensbeskouing verkry wat geheel en al egosentries is.
Al hierdie faktore het die natuurlike balans van die gesinslewe versteur. Maar reageer jongmense werklik deur teen ouerlike gesag in opstand te kom?
Ongehoorsaamheid—openlik en in die geheim
‘Die vermeerdering van ongeregtigheid’ onder jongmense is een van die duideliker tekens dat sommige jongmense wel teen ouerlike gesag in opstand kom (Mattheüs 24:12). Daar word byvoorbeeld berig dat “’n kwart van alle ernstige misdade in Londen en omstreke [Engeland] deur skoliere gepleeg word”. In die Verenigde State het “die arrestasies onder jongmense vir gewelddadige misdade . . . tussen 1960 en 1975 met 293% toegeneem; en die algemene getal arrestasies onder jongmense neem jaarliks met 10% toe—twee keer vinniger as onder volwassenes”. Verslae uit China vertel van “moord, bedrog, diefstal, verkragting, dwelmsmousery en afpersery” deur jeugdiges.
Van hierdie onbeskaamde gewelddadigheid word selfs teen ouers gerig. Sosioloog Richard J. Gelles het meegewerk aan ’n studie wat getoon het dat “meer as 2,5 miljoen adolessente [in die Verenigde State] volgens berig ten minste een keer ’n ouer geslaan het. Bykans 900 000 ouers van adolessente . . . is met die vuis bygedam, gebyt, geskop, met ’n harde voorwerp geslaan, aangerand of met ’n mes of ’n vuurwapen gedreig of aangeval.” Sulke tragiese dade onderstreep die Bybel se voorspelling dat mense in die laaste dae “sonder natuurlike liefde” sou wees (2 Timotheüs 3:3). Die gevolgtrekking dat “die syfers sowel as die beramings na alle waarskynlikheid die ware omvang van adolessentegeweld teen ouers onderskat”, is inderdaad skrikwekkend. (Ons kursiveer.)— The Urban & Social Change Review, Deel 15, nommer 1, 1982.
Seksuele promiskuïteit is nog ’n manier waarop jongmense hulle ouers se wense veronagsaam. In een opname onder 160 000 Amerikaanse jongmense het 31 persent tussen die ouderdom van 13 en 15 erken dat hulle al geslagsomgang gehad het. Tussen die ouderdom van 16 en 18 het 58 persent dit erken. Japan berig eweneens dat “die voorkoms van geslagsomgang onder tienderjarige meisies gedurende die afgelope sewe jaar skerp gestyg het”.
Sommige tienderjariges drink skelmpies sterk drank of gebruik verdowingsmiddels. Omtrent 43 persent het erken dat hulle al dagga gerook het. Die navorsers het tot die gevolgtrekking gekom dat daggarokery “’n gereelde tydverdryf van baie tienderjariges is”. Die helfte het erken dat hulle vir hulle ouers sou lieg indien dié vir hulle sou vra of hulle dagga rook.
Ander jongmense, wat gefrustreer word deur ouers wat aandring op prestasie maar weinig steun verleen, rebelleer heimlik deur moedswillig op skool uit te sak. Ander is weer ongehoorsaama deur te weier om hulle te laat oorreed om hulle ouers se morele of godsdiensstandaarde te aanvaar. Slegs 53 persent van die jongmense met wie daar onderhoude gevoer is, het gesê dat hulle hulle ouers se geloof gaan aanhang. Die res het gesê dat hulle dit nie sou doen nie of nie seker was nie. Hoe teleurstellend is dit tog vir ouers! ’n Skrale 17 persent het gesê dat hulle hulle ouers se raad oor seks wou hê; nog minder sou hulle ouers se raad oor dwelmmiddels vra. Sulke meningsverskille verander huise in slagvelde.
Wat jy kan doen
Daar kan dus met vertroue gesê word dat ons geslag uniek is en onder unieke omstandighede grootgemaak is. Die wêreldwye neiging tot ongehoorsaamheid, tesame met die ander getuienis, toon onomstootlik dat ons in die laaste dae lewe.
Jehovah se Getuies het nietemin gevind dat ’n studie van die Bybel—nie van vandag se teenstrydige teorieë oor hoe om kinders groot te maak nie—hulle toerus om vandag se probleme die hoof te bied. Hulle vind dat die bevel in Efesiërs 6:1-4 realisties en prakties is: “Kinders, julle moet jul ouers gehoorsaam wees in die Here, want dit is reg. . . . En vaders, moenie julle kinders vertoorn nie, maar voed hulle op in die tug en vermaning van die Here.” Die Getuies sal jou dus met graagte help om die Bybel stelselmatig te bestudeer.
Selfs al is jy nie ’n ouer nie, sal ’n Bybelstudie vir jou van groot nut wees. As jy God se Woord nader ondersoek, sal dit jou help om God en sy voornemens beter te leer ken. Dit is die verstandige weg, want die Bybel spoor ons aan: “Soek geregtigheid, soek ootmoedigheid—miskien sal julle verborge bly op die dag van die toorn van die HERE.”—Sefanja 2:3.
[Voetnoot]
a Die Griekse woord vir “ongehoorsaamheid” beteken letterlik “onoorreedbaarheid”.
[Lokteks op bladsy 5]
‘Bykans 900 000 ouers van adolessente is met die vuis bygedam, gebyt, geskop, aangerand of met ’n mes of ’n vuurwapen gedreig of aangeval’
[Prent op bladsy 6]
Ouers wat hulle laat lei het deur permissiewe teorieë oor kinderopvoeding, sit op die ou end dikwels met ’n kind wat ’n tiran is