Behou God se beskouing van seks
ONS liefdevolle hemelse Vader het ons eerste ouers met die wonderlike gawe van seks geskape. Hy het so ’n sterk drang na die huwelik en die gepaardgaande verhoudinge in hulle geplaas dat die voortbestaan van die mensdom verseker is. Wanneer ons oor hierdie reëling nadink, asook die groot potensiaal wat dit het om genot en geluk aan mense te verskaf, word ons beslis beweeg om ons grootse God te loof dat hy aan so ’n wonderlike manier gedink het om die aarde te bevolk.—Genesis 1:27, 28.
Dit is geen wonder nie dat toe Satan die Duiwel teen God in opstand gekom het, hy hom dit ten doel gestel het om hierdie goeie reëling om ’n hele mensdom in aansyn te bring, te verderf. Deur in te werk op die verstande van mense wat nou onvolmaak gebore word, het hy daarin geslaag om hulle gesindhede teenoor die regte gebruik van hulle Godgegewe geslagsvermoëns te verdraai. Die Bybel toon dat, teen die tyd van die Vloed, ‘al die versinsels van die mens se hart van sy jeug af sleg was’ (Genesis 6:5, 6; 8:21). Die engele in die hemel het toegekyk terwyl die mensdom sedelik verval het.
Die betrokkenheid van engele
God het engele nie geskape met ’n begeerte na geslagsomgang met mense nie. Maar Satan het klaarblyklik daarin geslaag om party van hulle verkeerde gedagtes oor sulke sake te laat koester. Sekere engele het gevolglik ’n begeerte verkry na iets wat God bepaal het slegs mense binne die behoorlike perke van die huwelik moes geniet. Hierdie “[engele]seuns van God” het ’n bose ding gedoen—hulle het hulle posisies in die hemel verlaat om na die aarde te kom om met vroue te trou (Genesis 6:2). Sulke dade was die gevolg van ’n ongeoorloofde begeerte, nie ’n natuurlike begeerte wat God in hulle geplaas het nie. Aangesien engele sulke onnatuurlike geslagsdrange kan ontwikkel, moet dit ons nie verbaas dat mense dit ook kan doen nie. Onder inspirasie het die dissipel Judas ’n ooreenkoms getoon tussen die engele wat die dogters van die mense begeer het en sekere mense wat ’n hartstog vir persone van hulle eie geslag ontwikkel het. Hy het geskryf:
“Onthou ook wat gebeur het met die engele wat nie tevrede was met die gesag wat God hulle gegee het nie en uit hulle woonplek weggegaan het. God hou hulle permanent gevange waar dit altyd donker bly tot die groot dag wanneer Hy almal sal oordeel. Op dieselfde manier was die mense van Sodom en Gomorra en die dorpe in die omgewing ook onsedelik en het hulle aan onnatuurlike seksuele drange toegegee. Hulle word gestraf in die ewige vuur. En dit bly ’n waarskuwing vir almal.”—Judas 6, 7, Die Lewende Bybel.
Seksuele perversies—Van die verlede en die hede
As Bybelstudente weet ons wat in antieke Sodom gebeur het—hoe die seksbehepte manne en jong seuns van die stad daarop aangedring het om omgang te hê met diegene wat hulle bloot as Lot se manlike gaste beskou het (Genesis 19:4-11). Hierdie gebeurtenis het slegs 450 jaar na die Vloed plaasgevind. In daardie vervloeë tye het dit ook ’n algemene gebruik geword vir mense om geslagsomgang met diere te hê. Sowat 400 jaar later het God se Wet aan die nasie Israel hierdie gebruik gevolglik op vier verskillende plekke veroordeel, en oortreders is met die dood gestraf (Exodus 22:19; Levitikus 18:23; 20:15, 16; Deuteronomium 27:21). Daarbenewens het God se Wet aan Israel geslagsomgang met persone van ’n mens se eie geslag ’n halsmisdaad gemaak—oortreders is ter dood veroordeel.—Levitikus 18:22; 20:13.
Maar in die daaropvolgende eeue was die mense rondom die Israeliete so versonke in homoseksuele gebruike dat die Israeliete hulle keer op keer aan homoseksualiteit skuldig gemaak het (1 Konings 14:24; 15:12; 22:47). By een geleentheid was ’n Leviet ’n gas in die stad Gibea wat aan die Benjaminiete behoort het. Die manne van die stad het die huis omring en uitgeroep: “Bring die man uit wat in jou huis ingekom het, dat ons hom kan beken” (Rigters 19:22). Feitlik die hele stam van Benjamin is as gevolg hiervan op Jehovah se bevel uitgewis.
‘Maar waarom sulke onaangename Bybelgeskiedenis bespreek?’ dink party miskien. Omdat ons vandag in ’n samelewing lewe wat tot ’n laer vlak van onsedelikheid gedaal het en God se hedendaagse volk ook bedreig word. Kyk kortliks na die omvang van homoseksualiteit en die invloed daarvan:
“Om en by 30% van [San Francisco se] bevolking is homoseksuele”, sê die Medical Tribune van 23 September 1981.
“Die geskil van die tagtigerjare is die toenemende uitwerking van die homoseksuele kultuur op die heteroseksuele lewe en—nog belangriker—heteroseksuele waardes. . . . Die algemene aanvaarding van die homoseksuele kultuur is ’n teken dat ons fundamentele opvattings aan die verander is”, berig die tydskrif Maclean’s van 18 Februarie 1980.
“Die groot konsentrasie homoseksuele in die vermaaklikheids- en kommunikasiewêreld plaas homoseksuele in ’n posisie om waardes en menings te vorm”, sê ’n professor aan die Universiteit van Sydney in Australië.
Mense se gesindhede word beslis gevorm om homoseksualiteit as normaal, selfs as geoorloof, te aanvaar. The Toronto Star van 24 Augustus 1980 het gesê: “Jong lede van die Verenigde Kerk . . . verwelkom die gedagte van homoseksuele predikante.” Londen se Daily Mail van 5 Junie 1980 het gesê: “’n Hersiene verslag beveel aan dat homoseksualiteit ’n persoon nie behoort te verhoed om ’n amp in die Metodiste-Kerk te beklee nie.” En toe ’n vrou geskryf het dat sy geskok was om te verneem dat haar drie-en-twintigjarige kleinseun ’n homoseksueel is, het ’n koerantrubriekskrywer geantwoord: “God het nie die Bybel geskryf nie. Homoseksualiteit is so oud soos die mensdom . . . Jy moet nou leer om hom te aanvaar soos hy is. Hy is nog steeds ’n gawe jong man.”
Die Bybelbeskouing van seksuele perversies
Weens wêreldlike propaganda is selfs sommige onder God se volk beïnvloed om homoseksualiteit en soortgelyke seksuele perversies as ‘nie so sleg nie’ te beskou. Maar God se Wet aan Israel het gesê dat homoseksuele om die lewe gebring moes word! En in die Christelike Griekse Skrifte lui 1 Korinthiërs 6:9, 10 volgens die 1979-vertaling van Die Nuwe Testament en Psalms: “Moenie julleself mislei nie: geen onsedelikes . . . of wellustelinge of homoseksueles . . . sal deel kry aan die koninkryk van God nie.” En volgens hierdie selfde Bybelvertaling sê Romeine 1:26, 27: “Hulle vroue verander die natuurlike omgang in ’n teen-natuurlike omgang. Net so laat vaar die mans ook die natuurlike omgang met die vrou en brand van begeerte vir mekaar. Mans pleeg skandelikhede met mans.” Vers 32 sê voorts dat “dié wat sulke dinge doen, die dood verdien”.
Dit is verbasend dat sommige wat hulle skuldig gemaak het aan onsedelike gedrag, soos bestialiteit, nie gemeen het dat wat hulle gedoen het werklik so sleg is nie. Maar geslagsomgang met ’n dier is verkeerd. Dit is grond vir uitsetting uit die Christengemeente. Party is eweneens onkundig oor wat homoseksuele gebruike is. Wat is homoseksualiteit dan?
Wat is homoseksualiteit?
Om duidelikheid hieroor te kry, kan ons na woordeboekdefinisies van homoseksualiteit kyk:
Webster’s Third New International Dictionary of the English Language: “Erotiese aktiwiteit met ’n lid van dieselfde geslag.”
Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal: “1. Geslagsdrang gerig op persone van dieselfde geslag. 2. Geslagsverkeer tussen persone van dieselfde geslag.”
The Random House Dictionary of the English Language: “Geslagsdrif of -gedrag gerig op ’n persoon of persone van dieselfde geslag.”
Dit is interessant dat homoseksualiteit, volgens woordeboekdefinisies, GESLAGSDRANG tot ander van dieselfde geslag insluit. Die Bybel tref egter ’n onderskeid tussen die doen van wat sleg is en sondige begeertes of neigings. Hierdie begeertes kan aanwesig wees ondanks groot pogings om hulle uit die verstand en liggaam uit te roei. Vanweë hulle vroeëre milieu, en moontlik ander faktore, het ons Christenbroers en -susters wat van tyd tot tyd die drang na geslagsomgang met lede van hulle eie geslag het. Maar hulle beveg daardie onnatuurlike, Satangeïnspireerde drang—en hulle swig nie daarvoor nie. Hulle is nie praktiserende homoseksuele nie. Hulle beheers hulle denke in die wete dat ’n verkeerde begeerte wat toegelaat word om geil te groei dit stellig in verkeerde dade sal openbaar.—Jakobus 1:14, 15; Kolossense 3:5-10.
Dit is die “erotiese aktiwiteit” of ‘geslagtelike gedrag’ wat op ’n ander persoon van dieselfde geslag gerig is wat deur God in die Bybel veroordeel word en ’n oortreding is wat tot uitsetting kan lei. Hierdie aktiwiteit of gedrag hoef nie noodwendig sodomie te wees om homoseksualiteit te wees nie. Enige aktiwiteit waarby die geslagsorgane van ten minste een van hierdie persone betrokke is, soos soenery, strelery, die vryf van een persoon se geslagsdele teen ’n ander, of ander sodanige gedrag om geslagsgenot met ’n ander persoon van dieselfde geslag te verkry, is homoseksualiteit. En hoewel die meeste mense dink dat homoseksuele mans is, geld die uitdrukking eweseer vir vroue wat hulle aan soortgelyke gebruike skuldig maak, hoewel hulle oor die algemeen lesbiërs genoem word.
Vermy verkeerde seksuele gedrag
Persone met homoseksuele drange moet hard daarteen stry. Ons moet terselfdertyd versigtig wees dat ons nie die slagoffer word van ’n persoon wie se verkeerde drange die oorhand oor hom kry nie. Soms word homoseksuele dade aan die gang gesit deur dinge wat op sigself nie verkeerd is nie, soos om iemand se rug te vryf of joune te laat vryf, of iemand se rug in die stort te was of joune te laat was. Of soms sal persone speels stoei en seksueel geprikkel word. Dit is nodig om versigtig te wees. Onthou dat sulke bedrywigheid selfs onder Christene tot homoseksuele dade kan lei en soms al daartoe gelei het.
Waarom maak sommige hulle skuldig aan seksuele oortredings—homoseksualiteit, bestialiteit, afloerdery, ensovoorts? Daar is gevind dat die oortreders hulle verstande in ’n groot mate met seks besig hou. Soms het hulle pornografiese lektuur verslind. Hulle is skynbaar sonder uitsondering gewoonteselfbevlekkers. Aangesien selfbevlekking herhaaldelik ter sprake kom in verband met seksuele perversies, kan ons hierdie gebruik in die lig van God se Woord ondersoek. Wat sê die Bybel oor selfbevlekking?
Die Bybel se beskouing van selfbevlekking
Sommige sê dat die Bybel selfbevlekking of masturbasie in Genesis hoofstuk 38 beskryf en dat Onan om die lewe gebring is weens daardie oortreding. Maar dit is nie die geval nie. Die Bybel sê: “Elke keer as hy [Onan] by die vrou van sy broer ingaan, [het hy] dit op die grond verderwe” (Genesis 38:9). Onan het klaarblyklik sy geslagsomgang met Tamar onderbreek en sy saad op die grond uitgewerp eerder as om dit in Tamar uit te stort. Hy het dit gedoen omdat hy nie kinders in die naam van sy oorlede broer wou verwek nie. En dit was weens hierdie versuim om “swaershuwelik” te sluit dat Onan om die lewe gebring is.
Twee ander gedeeltes in die Hebreeuse Skrifte word aangehaal in lektuur wat die Bybelse beskouing van selfbevlekking bespreek. Die eerste. Deuteronomium 23:10 en 11, vertel van die situasie wanneer die Israeliete in ’n leërkamp was. Volgens Die Lewende Bybel lui dit: “As ’n man onrein sou word deurdat daar in die nag van sy saadvloeistof uitloop, moet hy buitekant die kamp bly en nie voor die aand weer terugkom nie. As dit aand word, moet hy hom bad en na sononder mag hy dan weer in die kamp inkom.” Maar dit praat nie hier van selfbevlekking nie. Selfbevlekking word gedefinieer as: “Die erotiese stimulering van die geslagsorgane wat gewoonlik tot orgasme lei en deur aanraking met die hande of ander liggaamsdele teweeggebring word” (Webster’s New Collegiate Dictionary, 1981). Jehovah God het mans so geskape dat hulle, wanneer hulle nie geslagsomgang het nie, van tyd tot tyd spontaan saad gedurende hulle slaap uitstort. Hierdie uitstorting gaan dikwels gepaard met ’n erotiese droom, vandaar die Engelse benaming “a wet dream”. Aangesien die uitstorting gewoonlik snags plaasvind, kan dit ook ’n “nagtelike emissie” genoem word.
Die ander gedeelte wat hierdie saak bespreek, is Levitikus 15:16, 17, wat lui: “As daar van ’n man ’n saadvloeiing uitgaan, moet hy sy hele liggaam in die water bad, en hy sal tot die aand toe onrein wees. Ook elke kledingstuk en elke vel waar die saadvloeiing op kom, moet in die water gewas word en dit bly tot die aand toe onrein.” Hierdie gedeelte het blykbaar nie betrekking op selfbevlekking nie. Dit sien klaarblyklik op die voormelde “nagtelike emissie”. Hoewel die Bybel sê dat hierdie saadvloeiing ‘onreinheid’ veroorsaak, is dit ’n seremoniële onreinheid en nie ’n morele onreinheid nie. Dit is duidelik wanneer ons in die volgende vers sien dat ’n Israelitiese egpaar dieselfde onreinheid verkry het wanneer hulle geslagsomgang gehad het wat deur God goedgekeur word.
Wel, sê die Christelike Griekse Skrifte dan iets oor selfbevlekking? Nee, dit bespreek nie die onderwerp nie. Nie eens nagtelike saadvloeiings word gemeld nie. Beteken dit dan dat die Christelike Griekse Skrifte geen leiding bevat wat ons help om die regte gesindheid van selfbevlekking te kry nie? Nee, dit is nie die geval nie. Beskou Kolossense 3:5, wat lui: “Maak dood dan julle lede wat op die aarde is, naamlik hoerery, onreinheid, hartstog, slegte begeertes en gierigheid.” En 1 Thessalonicense 4:4, 5, sê: “Elkeen . . . moet weet om sy eie [vat, NW] te verkry in heiligheid en eer, nie in [hebsugtige, NW] hartstogtelike begeerlikheid soos die heidene wat God nie ken nie.” Sulke raad geld vir getroude Christene sowel as ongetroudes, maar ongetroude persone moet selfs groter selfbeheersing uitoefen aangesien slegs getroude persone deur geslagsomgang verligting van hartstog kan verkry.
Kan jy sien dat selfbevlekking ’n gebruik is wat die gebod om “hartstog” dood te maak oortree? Jehovah het mense weliswaar geskep met ’n drang of begeerte na seks, net soos hy ons met ’n begeerte na voedsel en drank geskep het. Die Bybel sê dus nie dat dit verkeerd is om hartstog te koester nie, net soos dit nie ’n natuurlike, geoorloofde begeerte na voedsel en drank veroordeel nie. Ons weet egter dat begeertes in ons onvolmaakte toestand hand-uit kan ruk. ’n Persoon kan ’n oordrewe eetlus of begeerte na sterk drank verkry en ’n vraat of ’n dronkaard word. Seks kan eweneens ’n hoof- of prominente deel van ’n persoon se lewe word, en hy kan gevolglik soos die heidene word wat ’n ‘hebsugtige hartstog’ het.
’n Persoon wat selfbevlekking beoefen, plaas te veel klem op seks. Hy voed en prikkel sy geslagsdrang op ’n verkeerde wyse. Dit is egter nie net mans wat hieraan skuldig is nie; masturbasie kom al hoe meer onder vroue voor. Maar God het die gawe van seks aan mense gegee om in die huweliksreëling te gebruik. ’n Selfbevlekker gebruik seks egter buite die huweliksreëling vir persoonlike bevrediging. So ’n persoon moet sy hartstog doodmaak ten einde God te behaag. Hy moet die selfbeheersing aankweek wat nodig is om seks ’n ondergeskikte plek in sy lewe te gee en om sy geslagsorgane met rus te laat sodat hulle hulle op die normale manier by druk kan aanpas.
Jesus het geleer dat ”elkeen wat na ’n vrou kyk om haar te begeer, reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg het” (Mattheüs 5:28). ’n Selfbevlekker koester dikwels sulke hartstogtelike gedagtes en fantaseer oor geslagsomgang. So ’n persoon lewe beslis nie volgens Christus se leer nie. Daar bestaan geen twyfel dat diegene wat hulle hartstog deur selfbevlekking opsweep God se instruksies om hulle hartstog DOOD TE MAAK oortree nie.
Maar hoe kan ’n persoon sy hartstog doodmaak en hom van selfbevlekking weerhou? Vir persone wat selfbevlekking beoefen het, kan dit weliswaar ’n groot stryd wees om daarmee op te hou. Maar ’n mens moet nie die stryd gewonne gee nie! Met Jehovah se hulp kan ’n persoon slaag. Hy moet eers leer om die gewoonte te haat (Psalm 97:10). Dan is dit noodsaaklik dat hy hom in sy verstand en hart vas voorneem om op te hou met selfbevlekking. Hy moet voortdurend daaroor bid; dan moet hy ooreenkomstig sy gebede handel. Hy moet nie as ’t ware sy hartstog voed deur dinge wat sy hartstog opwek te lees of na sulke dinge te kyk nie. Hy moet ook nie oor sake gesels wat sy neiging om te masturbeer versterk nie. Hy moet eerder besig bly met teokratiese bedrywighede, deur vergaderinge by te woon, velddiens te doen, herbesoeke te doen, Bybelstudies te hou en ander geestelik te help, en dan sal hy die krag kry om sy hartstog te beheer. As die probleem voortduur, moet hy nie aarsel om die hulp van ’n ouere man in sy gemeente in te roep nie. ’n Suster met die probleem kan die hulp en steun van ’n ouer suster in die gemeente inroep.
Dit ly geen twyfel nie—dit is ’n harde stryd om ’n mens se onkreukbaarheid teenoor Jehovah te bewaar. Maar dit is die moeite werd! As ons nou teen ons vlees met sy sondige neigings stry, sal Jehovah ons die volle oorwinning in sy regverdige, rein Nuwe Orde gee. Dink net daaraan! Dan sal ons sien hoedat Jehovah se glorieryke voorneme volbring word—’n aarde vol mense in die Paradys—mense wat almal in aansyn gekom het as gevolg van die wonderlike gawe van seks waarmee Jehovah ons geskape het.
[Lokteks op bladsy 23]
God se Wet het enige geslagsomgang tussen mense en diere verbied
[Lokteks op bladsy 25]
Waarom maak sommige persone hulle skuldig aan geslagsoortredings?
[Venster op bladsy 24]
Homoseksualiteit—Is dit normaal?
’n Onlangse Amerikaanse rolprent met die titel “Making Love” is ’n goeie voorbeeld van die slim, berekende propaganda van die vermaaklikheidswêreld om die publiek te laat dink dat homoseksualiteit normaal is.
“Die homoseksuele in die rolprent kan jou dokter, jou broer of die bure se seun wees”, sê ’n skrywer in New York se “Sunday News Magazine”. Hierdie skyn van normaliteit is geen toeval nie. Die draaiboekskrywer het gesê: “Dit is my hoop dat die rolprent mense se beskouing van homoseksualiteit sal verander. Sodat hulle kan weggaan met die gedagte dat ’n voorliefde vir mans ’n man nie ’n mislukkeling of ontaarde maak nie.”—Vet druk ons s’n.
Verander die rolprent “mense se beskouing van homoseksualiteit”? Dit het skynbaar daardie uitwerking op een van die rolprentsterre, aktrise Kate Jackson, gehad. “Die verhouding tussen die mans [in die rolprent] is baie fisies, en dit is verbasend”, het sy tydens ’n onderhoud gesê. “Toe ek die rowwe snitte gesien het, het ek geweet wat aan die kom is, en ek het nogtans deur drie stadiums gegaan. Ek was verbaas en toe het ek gevind dat ek gesê het, o, ek verstaan dit, en toe het ek na die volgende stadium gegaan, naamlik, o ja, ek aanvaar dit.”
Ongeag hoe sulke propaganda “mense se beskouing van homoseksualiteit” verander, dit bly net so walglik vir die Skepper van die menseliggaam as wat dit nog altyd was. God se Wet het vereis dat homoseksuele in eertydse Israel, ‘sekerlik gedood moet word’ (Levitikus 20:13). En God se wet aan Christene toon dat hy nie van siening verander het nie. Die Bybel se duidelik dat “sodomiete” onder diegene is wat nie “die koninkryk van God [sal] beërwe nie.”—1 Korinthiërs 6:9, 10.