Mans, toon selfopofferende liefde
“Manne, julle moet jul eie vroue liefhê, soos Christus ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee het.”—EFESIËRS 5:25.
1. Waarom is Christelike hoofskap veeleisend sowel as lonend?
DIE HUWELIK! Niks anders stel soveel eise aan ’n man nie!” Dit is wat die Noorweegse digter Ibsen geskryf het. Met die oog op die Bybelbeginsel oor hoofskap stem jy dalk van ganser harte daarmee saam. Maar wanneer Christelike hoofskap behoorlik uitgeoefen word, kan dit ook ’n huislike lewe skep wat ’n toevlugsoord van wedersydse liefde en eerbied is waar jou hart tuis voel. Maar jou goddelik ingestelde posisie as hoof bring groter aanspreeklikheid voor God mee.—Lukas 12:48.
2. Hang die gesin se geluk uitsluitlik van die man se pogings af?
2 Beteken dit dat jy as man al een is wat verantwoordelik is vir die geluk in julle huis? Nee, jy sowel as jou vrou moet probeer om die atmosfeer aldaar te verbeter (Spreuke 14:1). Die feit dat die grootste deel van die materiaal wat hier volg op die man van toepassing is, beteken nie dat vroue minder onvolmaak is nie. Maar dit is geskryf om mans te help om aan die eise van Christelike hoofskap te voldoen. Hoe moet hoofskap nou eintlik uitgeoefen word? Dit is ’n saak wat alle Christene—selfs die ongetroudes—moet verstaan.
Jy moet jou vrou liefhê soos Christus die gemeente liefgehad het
3. Hoe beskryf Efesiërs 5:25 behoorlike hoofskap, en wat beteken dit?
3 “Manne, julle moet jul eie vroue liefhê, soos Christus ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee het”, het die apostel Paulus geskryf (Efesiërs 5:25). Aangesien mans die Skriftuurlike reg het om finale besluite in die gesin te neem, kan ’n mens maklik toelaat dat selfsug insluip. Die meeste gesinsbesluite is weliswaar sake waarin persoonlike voorkeur ’n groot rol speel. Is jou voorkeur die beslissende faktor wanneer geen Bybelbeginsel by die saak betrokke is nie? Let daarop dat ’n man Jesus se selfopofferende liefde moet navolg. Hy het hom vir sy dissipels oorgegee. “Christus het Homself nie behaag nie” (Romeine 15:3). Selfopoffering beteken dat ’n mens die een of ander aangename ding prysgee of moeite doen of ongerief verduur ter wille van ’n ander.
4. Hoe het Jesus sy besorgdheid oor sy dissipels getoon?
4 Dit was Jesus se groot begeerte om sy dissipels geestelik te help. Hoewel hy vasgestaan het vir geregtigheid, was hy nooit hardvogtig wanneer sy dissipels verkeerde beskouings uitgespreek het of verwaand, impulsief of lafhartig was nie (Mattheüs 18:1-3; Lukas 22:24-26, 47-51, 59-62). ‘Deur die Woord van God’ en sy voorbeeld het hy sy dissipels gehelp om ernstige swakhede te bowe te kom sodat hulle, as ’n groep, “sonder vlek of rimpel” sou wees.—Efesiërs 5:26, 27.
5, 6. Hoe kan ’n man Jesus se selfopofferende liefde navolg, en wanneer is dit besonder moeilik?
5 Toon jy sulke selfopofferende liefde? Sommige mans meen dat die materiële versorging van hulle vrouens genoeg opoffering is. Sulke arbeid is weliswaar moeilik en moet diep waardeer word. Die kern van Jesus se voorbeeld was egter sy onvermoeide inspanning om in die geestelike en emosionele behoeftes van sy dissipels te voorsien en nie net in hulle fisiese behoeftes nie. Na al die sorge van die wêreld waarmee hulle te kampe het om materieel vir hulle gesinne te sorg, is dit te begrype dat baie mans nie wil hê dat daar tuis verdere eise aan hulle verstand gestel moet word nie. Hoewel hierdie gesindheid algemeen voorkom in gesinne wat nie probeer om volgens die Bybel te lewe nie, is dit jammer dat selfs een Christin gesê het: “My man het my hoegenaamd geen leiding gegee nie. Soms het ek my hart uitgestort in ’n poging om leiding in sekere sake te kry, maar sy gedagtes was elders.”
6 Selfopofferende liefde is die oplossing. As jou vrou ’n probleem het wat haar dronkslaan, sal hierdie liefde jou beweeg om sake geduldig met haar te beredeneer in plaas daarvan om haar deur ’n woord of gesigsuitdrukking weg te wys. Jy sal baie besorg wees oor haar geestelikheid, die Bybel saam met haar bestudeer en heilige diens saam met haar verrig. Jy sal nie gewigtige besluite wat tereg jou verantwoordelikheid is aan haar oorlaat nie. Jy sal ook sorg dat sy die geleentheid kry om te ontspan en ’n bietjie te rus (Markus 6:31). Sulke inisiatief gee ’n vrou selfrespek en ware veiligheid.
Nederig van hart
7. Watter eienskap is nodig om hoofskap op gebalanseerde wyse uit te oefen?
7 Mans vind dit dikwels moeilik om hoofskap op gebalanseerde wyse uit te oefen. Sommige voel soms bedreig wanneer ’n vrou al net ’n voorstel gee of effens krities is. Jesus, die voorbeeld vir Christenhoofde, het gesê: “Ek is sagmoedig en nederig van hart” (Mattheüs 11:29). Sy nederigheid was nie net oppervlakkig sodat dit verdwyn het wanneer iemand met hom verskil het nie.
8, 9. (a) Waarvoor het Sara Abraham die skuld gegee, en waarom? (b) Waarom het Abraham haar nie verkleineer of bars geantwoord nie?
8 Abraham was ook ’n voorbeeld van nederigheid. Sy vrou, Sara, is oneerbiedig deur haar slavin Hagar behandel. Abraham het òf nie hierdie trotse optrede gesien nie òf nie dadelik opgetree nie. “Die onreg my aangedoen, is op jou!” het Sara gesê. “Ek self het my slavin in jou skoot gegee, en nou dat sy sien dat sy swanger is, het ek veragtelik in haar oë geword. Laat die HERE oordeel tussen my en jou.”—Genesis 16:5.
9 Hoe seer moes daardie woorde tog gemaak het! Want Abraham het Sara innig liefgehad en sou nooit wou hê dat sy seergemaak moes word nie. Hoewel Sara moontlik rede gehad het om Abraham vir haar moeilike posisie te blameer, het sy dalk te heftig gereageer, want sy het haar selfs op God beroep asof Abraham nie regverdig sou optree nie. Het Abraham nou teruggekap om sy hoofskap te verdedig? Het hy haar as opstandig beskou? Hy het geweet dat Sara ’n gerieflike huis in Ur verlaat en meer as 10 jaar lank in tente gewoon het omdat hy aan God se leiding gehoor gegee het. Dit was onderdanigheid! Haar onderworpe, onselfsugtige steun het haar by hom bemind gemaak (1 Petrus 3:5, 6). “Daar is jou slavin in jou hand”, was sy sagmoedige antwoord. “Doen met haar soos dit goed is in jou oë” (Genesis 16:6). Abraham was nederig van hart. ’n Man duisend!
10. (a) Hoe kan ’n eggenoot Abraham navolg? (b) Sal jy altyd suksesvol wees?
10 Probeer om soos Abraham te reageer wanneer jou vrou jou vir die een of ander probleem blameer. Dis nie altyd maklik nie. Jy sal soms te kort skiet. Maar luister en probeer om haar woorde te verstaan en te beoordeel. In ’n opwelling van emosie sal ’n vrou soms nie presies die regte woorde gebruik nie. Sy kan net soos Sara te heftig reageer. Probeer kyk hoe julle saam die probleem kan oplos.
11. Waarom moet ’n man sy vrou nie as ’n “tweederangse” persoon beskou nie?
11 ’n Man kan weliswaar verskeie reëls vir die huisgesin neerlê (Romeine 7:2). Jou vrou is egter nie ’n kind of ’n “tweederangse” persoon nie. Jehovah het gesê: “Ek sal vir hom [die man] ’n hulp maak wat by hom pas [letterlik, “een soos hy”]” (Genesis 2:18). Wat intelligensie betref, was Eva op Adam se vlak, sy gelyke, waarlik in staat om hom te help om sy goddelike opdrag uit te voer.
12. (a) Wat is bereik toe een man beskeidenheid van hart aangekweek het? (b) Hoe bevorder beskeidenheid huweliksgeluk?
12 Die deugsame vrou wat in Spreuke 31 beskryf word se man het haar vertrou. Sy het eiendom gekoop; selfs ’n wingerd geplant “van die vrug van haar hande”—geen geringe taak nie! Het dit die man gegrief en vir hom gelyk of sy hoofskap bedreig word? Nee, hy het haar geprys! (Verse 10, 11, 16, 28). ’n Soortgelyke gesindheid kan jou help om onnodige argumente te vermy. Een man en sy vrou het byvoorbeeld voortdurend gestry. Hy het erken dat hy sy hoofskap op ’n “baasspelerige” wyse uitgeoefen het. Nadat hy die hand biddend in eie boesem gesteek het, het hy hierdie onbehoorlike trotsheid opsy gesit. Hy het begin om waarde te heg aan haar voorstelle. Mettertyd het hy haar selfs na sekere geldsake laat omsien. Nou sê hy: “Sy kwyt haar baie goed van haar taak!” Die vrou voeg by: “Ek wou net hê dat hy my moet vertrou. Dit is goed om te voel dat jou man jou vertrou.” Spreuke 13:10 waarsku dus: “Trotsheid lei net tot onenigheid, maar iemand wat na raad luister, is verstandig” (Die Lewende Bybel). ’n Man wat beskeie is en dus bewus is van sy beperkinge, verheug hom oor sy vrou se bekwaamheid en toon aldus dat hy beskeie van hart is.—Spreuke 11:2.
Bewys eer aan die “swakkere”
13. (a) Wat moet ’n man volgens 1 Petrus 3:7 doen? (b) Watter emosionele behoefte maak ’n vrou die “swakkere”?
13 “Julle, manne”, het die apostel Petrus geskryf, “[moet] verstandig met [julle vroue] saamlewe en aan die vroulike geslag, as die swakkere, eer bewys” (1 Petrus 3:7). Jy moet kennis dra van jou vrou se emosionele samestelling, wat basies daarvoor verantwoordelik is dat sy as die swakkere beskou word. ’n Vrou moet aanvoel dat haar man haar liefhet en koester. So nie sal sy onvolwaardig voel—ongeag watter materiële dinge sy besit. Sy moet daarvan oortuig wees dat haar man voel soos die man van lank gelede wat vir sy vrou gesê het: “Baie dogters het hulle knap gedra, maar jy oortref hulle almal.”—Spreuke 31:28, 29.
14. Wat gee ’n vrou emosionele sekuriteit?
14 ‘My vrou behoort te weet dat ek haar liefhet. Ek het met haar getrou, nie waar nie?’ is dalk hoe party mans redeneer. Maar vroue floreer op liefde wat betoon word. Die getroue man Isak het probeer om in hierdie behoefte te voorsien. Nadat hy 35 jaar getroud was, is daar gesien hoedat hy sy vrou liefkoos (Genesis 26:8). Doen dieselfde. Laat haar, deur die aandag wat jy aan haar skenk, weet dat jou hart met haar is, dat ‘sy alle vroue oortref’ wat jou betref.
15. Wat moet mans in toom hou om aandag aan hulle vrouens te skenk, en waarom is dit so belangrik?
15 Dit verg tyd en nadenke om sulke aandag te skenk. Sommige mans vind dit makliker om aandag te skenk aan iemand wat nuut en opwindend is. Dit het in die dae van Maleagi in Israel gebeur. Jehovah het vir daardie egosentriese manne wat verraderlik met hulle vrouens gehandel het, gesê: “Neem julle dan in ag ter wille van julle gees” (Maleagi 2:13-16). Ja, hulle moes hulle gevoelens in toom hou en daarop let. Omdat ons na aan ander vroue werk of woon, moet ons dieselfde doen. Dit verg ’n bewuste poging en selfdissipline om te voorkom dat egotisme, verveling of nuuskierigheid jou gees, jou innerlike gevoelens, teenoor jou vrou laat verander.—Mattheüs 5:27-30.
Die “huweliksplig” teenoor die vrou
16. In watter aspek van die huwelik is daar baie probleme, en hoe toon 1 Korinthiërs 7:3, 4 dat onselfsugtigheid nodig is?
16 Selfopoffering is veral nodig wanneer jy die “huweliksplig” moet nakom. “Die man moet sy huweliksplig teenoor sy vrou nakom, en net so ook die vrou teenoor haar man. Die vrou beskik nie oor haar eie liggaam nie, maar die man; net so beskik die man ook nie oor sy eie liggaam nie, maar die vrou” (1 Korinthiërs 7:3, 4, NTP). Daar kom baie probleme in hierdie sensitiewe verhouding voor. Navorsing het getoon dat die helfte van alle egpare op die een of ander tyd in hulle huwelik ’n ernstige geslagsprobleem sal ondervind.
17. (a) Wat moet die huweliksplig teenoor ’n vrou insluit? (b) Hoe verduidelik een navorser ’n vrou se behoeftes
17 Baie mans stel dikwels hulle vrou se behoeftes of seksuele “huweliksplig” gelyk aan hulle eie. In ’n heeltemal ander verband het Paulus getoon dat nie alle ‘pligte’ dieselfde is nie. Volgens Romeine 13:7 is dit ons plig om aan sommige regeringsamptenare belasting te gee, aan ander tol en aan nog ander eer. Die verskuldigde plig hang af van die spesifieke behoefte of versoek van die individu. Wanneer dit by die huweliksplig teenoor jou vrou kom, is meer as fisiese koppeling nodig. In The Family, Society, and the Individual sê navorser William M. Kephart: “Die wese van vroulike seksualiteit kan dus die beste omskryf word in terme van liefde en geneentheid. . . . Gedurende geslagsbedrywighede is liefkosing—om vasgehou, gestreel, gesoen te word—moontlik net so belangrik vir die deursnee-vrou . . . dit is skynbaar in vroue se aard om aan seks te dink in terme van teerheid en liefde, eerder as ’n blote fisiese drang.”
18. Wat kan aanleiding gee tot egosentrisiteit?
18 Jou vrou se emosionele samestelling as die ‘swakker vat’ verg dat jy selfopofferend moet wees en nie bloot in jou eie bevrediging moet belangstel nie. Wanneer ons stof wat seks uitbeeld as vermaak kies, kan dit ’n onbehoorlike “hartstog” wek en lei tot egosentrisiteit sodat dinge wat mooi behoort te wees, vulgêr en laag gemaak word. Vermy sulke stof soos die pes! (Kolossense 3:5). Maar deur blyke van tere liefde moet jy geduldig jou volle huweliksplig teenoor jou vrou nakom.—1 Korinthiërs 10:24.
Selfopoffering roer die hart
19. Moet ’n Christin misbruik daarvan maak as haar man selfopofferend is?
19 Omdat daar soveel klem op die man se selfopoffering gelê word, dink jy dalk: ‘Sal vrouens dit nie uitbuit deur altyd op hulle eie sin aan te dring nie?’ Dit behoort nie die geval te wees nie! Christinne moet reageer soos die gemeente op Jesus se selfopofferende liefde gereageer het. Paulus skryf: “Die liefde van Christus dring ons . . . en Hy het vir almal gesterwe, sodat die wat lewe, nie meer vir hulself moet lewe nie” (2 Korinthiërs 5:14, 15). Jou vrou behoort dit eweneens met onselfsugtigheid te beantwoord. Een gelukkige Christin het gesê: “Ek sal my oor ’n mik werk vir my man sodat ons in ’n baie moeilike teokratiese toewysing kan aanbly, want ek weet dat hy vir my omgee.”
20. (a) Hoe toon Genesis 3:16 dat mans sowel as vrouens ongebalanseerd kan raak? (b) Waarom moet vrouens nie gou hulle mans se foute uitwys nie?
20 Ja, vroue, julle moet onselfsugtig wees. Net soos ’n man sy hoofskap kan misbruik deur selfsugtig oor sy vrou baas te speel, kan ’n vrou ook ’n oordrewe begeerte na die aandag van haar man hê (Genesis 3:16). Dit is nie maklik om gebalanseerd te wees nie. Met al die eise wat aan jou man gestel word, onder meer swaar gemeentelike pligte, sal daar ongetwyfeld tye wees wanneer hy nie in al jou emosionele behoeftes sal voorsien nie. “As U, HERE, die ongeregtighede in gedagtenis hou. Here, wie sal bestaan?” het die psalmis bely. Nie een van ons sou kon bestaan nie! (Psalm 130:3). Net soos jou man rekenskap aan Jehovah sal moet gee, sal jy ook. Maar nóú sal jou betuigings van waardering vir die goeie dinge wat hy doen, tesame met barmhartigheid, nie net jou man se oog behaag nie, maar ook sy hart.
Hulp van bo
21. Hoe help God? Verstrek ’n voorbeeld.
21 Al hierdie verantwoordelikhede kan natuurlik na ’n berg lyk. Maar God sal jou help “om met krag versterk te word deur sy Gees in die innerlike mens”. Dit is hierdie innerlike krag wat jou in staat kan stel om enige las te dra, want deur sy krag kan Jehovah “doen ver bo alles wat ons bid of dink” (Efesiërs 3:16, 20). Een Christenegpaar is uitmekaar as gevolg van probleme. Na ’n ruk het hulle saam gaan sit om ’n moontlike versoening te bespreek. Hulle het weer op mekaar begin skreeu. Toe het die man voorgestel dat hulle saam bid. Hulle het kalmer geword. “Dit was klaarblyklik die groot probleem in ons huwelik”, het die man erken. “Ons het altyd probeer om self ons probleme op te los in plaas daarvan om Jehovah by die saak te betrek. En niks het ooit gewerk nie.” Nadat hulle weer meer as vyf jaar lank saamgewoon het, het die vrou gesê: “Dit word voortdurend net beter. Hoe meer ons die waarheid van die Bybel toepas, des te gelukkiger word ons. Ons probeer nou om Jehovah by elke aspek van ons huwelik te betrek. Ons geniet dit baie om in die predikingswerk saam te werk.”
22, 23. (a) Waarom moet ’n Christenhuwelik gebou word? (b) Waarom moet baie vrouens hartlik geprys word?
22 Ja, ’n Christen se huwelik moet gebou word om sy verhouding met God, nie bloot om die strewe om sy maat te behaag nie. Paulus het geskryf: “Die wat vroue het, [moet] wees asof hulle nie het nie” (1 Korinthiërs 7:29). Paulus het natuurlik nie vir mans gesê om hulle vrouens te ignoreer nie. Dit is net reg dat ’n getroude man gretig moet wees om ‘sy vrou te behaag’ (1 Korinthiërs 7:33). Maar namate ’n man geestelik vordering maak en die eienskappe van ’n goeie eggenoot aan die dag lê, sal hy waarskynlik diensvoorregte in die gemeente ontvang. Dit sal van die tyd in beslag neem wat hy tevore saam met sy vrou deurgebring het. Maar hy moet nie ongebalanseerd raak nie. Sy sal nietemin nou en dan sonder sy volle aandag moet klaarkom.
23 Baie van julle, vroue, moet by verskeie geleenthede onselfsugtig die tyd verwyl terwyl julle mans na noodsaaklike gemeentelike pligte moes omsien. Julle moet waarlik geprys word! Julle mans en Jehovah stel julle geduldige ondersteuning hoog op prys. Julle is presies wat die Bybel sê—’n “kroon” vir julle mans en persone wat “’n welgevalle van die HERE” meebring!—Spreuke 12:4; 18:22.
24. Wat moet ’n man en vrou onderskeidelik probeer doen?
24 Manne, gaan dus voort om selfopofferende liefde te betoon. Vroue, hou aan om dit met onselfsugtige ondersteuning te beantwoord. Bou julle huwelik om julle verhouding met God. En mag ons tere Vader julle pogings ryklik seën!
Onthou jy?
◻ Hoe het ’n man ‘sy vrou lief soos Christus die gemeente liefgehad het’?
◻ Hoe kan ’n man Abraham se nederigheid van hart navolg?
◻ Hoe betoon ’n man eer aan sy vrou as ’n swakkere?
◻ Hoe moet vroue sulke selfopoffering beantwoord?
[Prent op bladsy 18]
’N MAN MOET DIE LEIDING GEE
In die veldbediening
In ontspanning
In die hantering van gesinsake