Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w83 8/15 bl. 10-15
  • Hou julle huwelik eerbaar

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hou julle huwelik eerbaar
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Gebrek aan persoonlike kommunikasie
  • Hoe om persoonlike kommunikasie te kweek
  • Bespreek netelige probleme
  • Die wet van goedertierenheid op die tong
  • Neem verskille en onvolmaaktheid in ag
  • Versterk julle huwelik deur goeie kommunikasie
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2013
  • Ná die troudag
    Hoe om in God se liefde te bly
  • Die huwelik – ’n Gawe van God
    Hoe om in God se liefde te bly
  • Sleutels tot goeie kommunikasie met jou maat
    ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
w83 8/15 bl. 10-15

Hou julle huwelik eerbaar

“Laat die huwelik in alle opsigte eerbaar wees.”—HEBREËRS 13:4

1. Watter vraag het ’n koerantrubriekskrywer gestel, en hoe het een man geantwoord?

“SOU jy, indien jy weer voor kon begin, met jou huidige huweliksmaat trou?” het ’n gewilde koerantrubriekskrywer gevra. Meer as die helfte van die 50 000 wat op hierdie meningspeiling gereageer het, het “Ja” gesê. Wat sou jy gesê het? ’n Christen, wat al 33 jaar getroud was, se vrou het hierdie vraag aan hom gestel. “Beslis!” het hy glimlaggend gesê. “Ek weet dat daar moeilike tye was—ons het ons probleme gehad. Maar ons huwelik was werklik die moeite werd. Ons het iets wat baie kosbaar is!”

2. Wat beteken “eerbaar” in Hebreërs 13:4?

2 Omdat God die Insteller van die huwelik is, kan dit ware voldoening en vreugde verskaf. Tog is die spanning in baie huwelike—selfs sommige onder toegewyde Christene—op breekpunt. Die apostel Paulus het gevolglik vermaan: “Laat die huwelik in alle opsigte eerbaar wees [“baie waardevol, kosbaar . . . besonder duur geag word”a]” (Hebreërs 13:4). Omdat die huwelik “verdrukking . . . vir die vlees” meebring, is die uitdaging om julle huwelik eerbaar te hou (1 Korinthiërs 7:28). Maar hoe kan julle dit doen? Julle moet eers besef wat een van die grootste probleme is.

’n Gebrek aan persoonlike kommunikasie

3, 4. (a) Wat is een van die grootste probleme in die huwelik? (b) Wat behels dit om “een vlees” te wees?

3 Een Christenegpaar was amper 20 jaar getroud. Skielik is hulle huwelik deur owerspel verpletter. Wat het daartoe gelei? “Toe ek ontleed het wat deur die jare heen gebeur het”, het die vrou gesê, “het ek besef dat ons oor huislike aangeleenthede gesels het, selfs oor ons diens aan God. Maar ons het geen kommunikasie op ’n persoonlike grondslag gehad nie.” Hierdie gebrek aan emosionele intiemheid het geleidelik daartoe bygedra dat die huweliksband verswak en dat haar man owerspel gepleeg het. So ’n ineenstorting van sinvolle kommunikasie word in navorsingstudies as een van die hoofoorsake vir egskeidings of “liefdelose huwelike” aangegee.

4 Jehovah het egter gesê: “Daarom sal die man sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef. En hulle sal een vlees wees” (Genesis 2:24). Die huwelik moet dus die intiemste van alle menseverhoudinge wees. Dit verenig twee verskillende persoonlikhede—inderdaad ’n delikate taak! As so ’n verbintenis moet slaag, moet elkeen eerlik met die ander praat en sy of haar gevoelens lug.

5. (a) Wat belemmer persoonlike kommunikasie? (b) Hoe kan ander die huwelik respekteer?

5 Wat belemmer sulke persoonlike kommunikasie? Soms is teruggetrokkenheid die landsgebruik. Party is terughoudend en skaam om hulle gevoelens of gedagtes uit te druk. Ander word weer deur ons ontspanning-georiënteerde en materialistiese wêreld bekoor. Hulle raak meer geïnteresseerd in dinge as in hulle huwelik. Te veel mense in ’n mens se huwelik of verknogtheid aan ouers kan ook julle intiemheid teëwerk. Ander moet beslis ’n egpaar se behoefte aan privaatheid respekteer en hulle nie onbehoorlike vryhede veroorloof of aandag soek wat die huweliksmaat tereg toekom nie.—Spreuke 25:17.

6. (a) Hoe kan ’n huweliksmaat soos ’n “sterk stad” en “geskille” soos ’n vesting se “grendel” word? (b) Watter vrae in die bygaande venstertjie toon die aard van julle kommunikasie aan?

6 Spreuke 18:19 dui moontlik op die algemeenste rede vir ’n gebrek aan persoonlike kommunikasie: “’n Broer teen wie oortree is, is erger as ’n sterk stad; en geskille is soos die grendel van ’n paleis.” ’n Vrou kan byvoorbeeld haar man in haar vertroue neem. Maar gestel dat haar gevoelens geïgnoreer of verkleineer word, moontlik selfs by ’n ander geleentheid teen haar gebruik word. Sy kan reageer deur ’n sterk muur van terughoudendheid op te werp om verdere emosionele skade te voorkom en as ’t ware ’n “sterk stad” word. Dit kan lei tot ’n trotsheidoorlog waar elkeen weier om toe te gee. Sulke onnodige geskille kan persoonlike kommunikasie en versoening versper asof die egpaar deur die ystergrendel van ’n vesting geskei word! Maar wat kan julle doen om kommunikasie te verbeter?

Hoe om persoonlike kommunikasie te kweek

7. Hoe toon Filippense 2:4 wat nodig is om persoonlike kommunikasie te kweek?

7 Jy moet altyd ‘persoonlik’ belangstel in die dinge wat jou maat aangaan (Filippense 2:4, NW). Dit verg dat julle tyd daaraan afstaan om persoonlike sake te bespreek. Een Christenegpaar sit byvoorbeeld tyd opsy reg nadat die man van die werk af kom om ’n koppie tee te drink en te gesels. Ten minste 15 minute lank geniet hulle mekaar se gedagtes en ondervindinge voordat hulle met aandtakies begin. Hulle doen dit nou al 27 jaar lank gereeld!

8. Waarom is dit so noodsaaklik om aandagtig te luister?

8 Maar praat is nie genoeg nie. Toe daar vir ’n Christin gevra is waarvan sy die meeste in haar man hou, het sy gesê: “Hy luister na my. Hy is my beste vriend.” As jy aandagtig luister, sê jy vir jou maat: ‘Jy is vir my ’n belangrike persoon. Ek wil graag weet wat jy dink en hoe jy voel, en jou ondervindinge deel—selfs die onaangenames.’ Dit is ’n kuns van die hart om ’n goeie luisteraar te wees. Dit verg wat Petrus ‘medelye’ genoem het, saam met “ontferming” en ‘nederigheid’ (1 Petrus 3:8, vgl. NW). Neem mekaar dus in julle vertroue. Bespreek selfs onbeduidende sake. Omskep julle gevoelens in woorde.

9, 10. Hoe kan ’n egpaar die wyse waarop Isak, Manoag se vrou en Elkana hulle huweliksmaat behandel het, navolg?

9 Stel jou die intieme verhouding tussen Isak en Rebekka voor. Toe iets haar gekwel het, kon sy haar hart teenoor haar man uitstort. “Ek is moeg vir my lewe”, het sy by een geleentheid gekla. Het Isak haar skaam laat voel oor hierdie gevoelens? Nee, hy het simpatiek na haar geluister en stappe gedoen om haar vrese te stil (Genesis 27:46-28:5). Manoag se vrou het haar man se bekommernis waargeneem en trooswoorde gespreek.—Rigters 13:22, 23.

10 Elkana was sensitief vir sy vrou se gevoelens. Nadat hy gemerk het dat sy terneergedruk is, het hy probeer om die planne van haar hart met versigtige vrae ‘uit te skep’ deur te sê: “Hanna, waarom ween jy? en waarom eet jy nie? en waarom is jou hart bedroef?” (1 Samuel 1:8). Wat van jou? Stel jy gou ondersoek na jou maat se gevoelens in? Laat jy jou maat voel dat dit hom of haar vrystaan om sy of haar gevoelens te lug sonder om dit te laat lyk dat jy hom of haar veroordeel? Soms is ’n simpatieke oor nodig en nie soseer ’n klomp raad nie.—Spreuke 20:5; 21:13.

Bespreek netelige probleme

11-13. (a) Wanneer is persoonlike kommunikasie veral moeilik? (b) Waarom was Sara baie ontsteld? (c) Wat kon sy gedoen het, maar wat het sy gedoen?

11 Gestel jou huweliksmaat doen iets of laat iets toe wat jou seermaak en selfs julle huwelik skade kan berokken. Hoe kan julle op sulke tye kommunikeer? ’n Voorval in die lewe van Abraham en Sara bied nuttige insig.

12 Op die dag dat haar seun Isak gespeen is, het Sara gesien hoedat Ismael, Abraham se seun by die slavin Hagar, met Isak “spot”.b Die tienderjarige Ismael het ongetwyfeld sy vyfjarige halfbroer, wat deur God as Abraham se erfgenaam aangewys is en wat bestem was om hom te vervang, getreiter. Sara was baie ontsteld oor hierdie dreigende woorde. Gestel dat haar man skielik sterf. Kon Hagar ander moontlik oortuig dat haar seun, nie Isak nie, die erfgenaam van die belofte moes wees?—Genesis 17:19; 21:8, 9.

13 Sara kon gevrees het om haar Abraham se misnoeë op die hals te haal en haar gevoelens verswyg het, want sy het geweet dat hy Ismael innig liefgehad het. Sy het moontlik nie ’n geskil oor ander sake gemaak nie en toegelaat dat haar liefde dit bedek. Sy was bekend as ’n vrou wat ‘Abraham gehoorsaam en hom heer genoem het’ (1 Petrus 3:6). Maar hierdie was ’n kritieke situasie. Sy kon natuurlik ophou om met Abraham te praat in die hoop dat hy sou agterkom wat haar ontstel. Maar nee, Sara het met hom gekommunikeer! “Jaag hierdie slavin en haar seun weg”, het sy gesê, “want die seun van hierdie slavin mag nie saam met my seun Isak erwe nie.”—Genesis 21:10.

14. Wat het Abraham gedoen, en waarom?

14 Abraham was baie ontevrede oor hierdie eis; hy het, ten minste momenteel, toegelaat dat liefde vir Ismael sy denke benewel. Maar het Abraham teruggekap: ‘Hoe durf jy so met my praat! Wie is in elk geval die hoof van hierdie gesin?’ Nee. Trouens, God het vir hom gesê: “Laat dit nie verkeerd wees in jou oë ter wille van die seun en van jou slavin nie. Luister na Sara.” Die volgende oggend het Abraham dienooreenkomstig opgetree. Dit het die vrede bewaar en God se voorneme is volbring—hoewel dit Abraham diep bedroef het.—Genesis 21:11-14.

15, 16. (a) Meld etlike probleme wat huwelike onder druk kan plaas, (b) Hoe kan egpare Abraham en Sara navolg, en met watter gevolge? Verstrek ’n voorbeeld.

15 Baie probleme kan vandag druk op julle huwelik uitoefen. Jy meen dalk dat jou huweliksmaat te veel aandag aan ’n ander persoon skenk. Navorsing, tesame met tallose werklike ondervindinge, toon dat as ’n man of ’n vrou te veel aandag aan ’n persoonlike vriend skenk, veral ’n vriend van die ander geslag, dit groot spanning in die huwelik veroorsaak. Of jou huweliksmaat is moontlik erg oor ’n werk, ’n stokperdjie of ’n vorm van ontspanning wat ’n negatiewe uitwerking op julle huwelik het. Miskien traak dit jou maat nie meer hoe jy voel nie. Bespreek jy sulke netelige sake soos Sara en voorkom jy sodoende verdere skade? En gestel jou maat opper iets wat jou hartseer maak. Sal jy soos Abraham reageer en God se leiding ernstig oorweeg? Sal so ’n reaksie nie openlike kommunikasie bevorder nie?—Spreuke 27:5.

16 Die liefde “bedek” natuurlik “’n menigte sondes” (1 Petrus 4:8). Moet dus nie ’n geskil maak van alle verskille en menslike gebreke nie. Maar sommige het vreesbevange geaarsel om ernstige probleme te bespreek; of wanneer hulle dit wel bespreek het, het hulle maat hulle verkleineer. Sodoende word daar ongelukkig gedragspatrone gevorm wat dikwels tot ’n huweliksramp lei. Een Christin was ’n ruk lank diep ontsteld omdat haar man nie haar emosionele samestelling gedurende geslagsomgang in aanmerking geneem het nie. Sy het gemeen dat sy “gebruik” word vir sy selfbevrediging. Sy het dit oorweeg om hom te verlaat. Sy het dit egter nie eens met haar man bespreek nie omdat sy gevrees het dat hy dit nie sou begryp nie. Op aanbeveling van ’n ryp Christen het sy eindelik haar opgekropte gevoelens gelug. Hy het nie besef hoe sy optrede haar geraak het nie! Hy het die nodige veranderinge aangebring en nou bederf daardie probleem nie langer hulle geluk nie. Bewaar die eerbaarheid van julle huwelik deur persoonlike kommunikasie te kweek.

Die wet van goedertierenheid op die tong

17. Watter “wet” moet op ’n egpaar se tong wees? Lig dit toe.

17 Maar gee die behoefte aan persoonlike kommunikasie ’n mens die reg om onbedagsame dinge te sê? “Daar is een wat onverskillig [onbedagsaam, NW] woorde uitspreek soos swaardsteke, maar die tong van die wyse is genesing” (Spreuke 12:18). Ja, selfs al is jy reg en het jy die beste bedoelinge, is ’n onbedagsame opmerking steeds soos ’n ‘steek’. ’n Deugsame vrou word dus tereg beskryf as ’n persoon met “die wet van goedertierenheid” op haar tong (Spreuke 31:26, NW). Haar vriendelike woorde is so konsekwent dat dit ’n wet genoem word. Hoe waardeer ’n man tog nie daardie wet op sy vrou se tong wanneer hy in die een of ander strewe misluk nie! Een Christen is verpletter deur ’n sake verlies. “Jy het ten minste probeer”, het sy bedagsame vrou gesê. “Volgende keer gaan dit beter.” Hoe het dit hom tog opgebeur!

18. Hoe het een vrou hierdie “wet” in ’n groter mate beoefen?

18 Vriendelike woorde is veral nodig ten tye van ’n argument. Die sarkastiese woorde van ’n twisgierige vrou kan ’n man wegdryf en hom laat verkies om in ’n dorre woestyn te woon (Spreuke 19:13; 21:19). Omdat sy en haar man baie geargumenteer het, het ’n Christin besluit om hierdie wet in ’n groter mate te beoefen. Hoe? “Wanneer iets my hinder, het ek nie soos tevore sommer my sê gesê nie”, het sy verduidelik. “Ek probeer wag vir die beste tyd wanneer ons alleen is. Ek beheer selfs my gesigsuitdrukkings en ek sit my man nie voor die kinders op sy plek nie. Dit het gewis ’n groot verskil gemaak!” Die man sowel as die vrou moet natuurlik eers nadink oor hoeveel skade hulle woorde die ander een se selfrespek kan berokken.—Spreuke 25:11; Galasiërs 5:15.

19, 20. (a) Wat behels “insig”? (b) Hoe het een man se insig sy toorn vertraag en met watter gevolg? (c) Wat is ’n paar insiggewende vrae?

19 Maar wat is nodig wanneer die emosies hoog loop? Insig! “Die hart van die wyse maak dat sy mond blyke gee van insig, en aan sy lippe voeg dit oorredingskrag toe” (Spreuke 16:23, NW). Insig behels dat ’n mens dieper gaan as wat voor die hand liggend is. In Nehemia 8:8 (NW) word die Hebreeuse woord weergegee met “betekenis”. Hoe maak insig ’n einde aan ’n argument? Een man het op sy vrou afgekom waar sy woedend silwerware in die vertrek rondgooi. “Jy gee nie vir my om nie!” het sy in trane gesê. “Jy kom huis toe en bring jou tyd in die tuin deur. Ek het hulp nodig!” Maar sy vrou se eintlike probleem was fisiese en emosionele frustrasie. Sy het pas tevore ’n baba gehad en het nog een verwag. Dit het vir haar gevoel asof sy by die huis vasgekeer is. Haar man het insig gehad. Hy het haar onchristelike uitbarsting oorgesien en die onderliggende frustrasie waargeneem. Sy antwoord? “Ek is jammer, skat. Ek moes jou hier binne gehelp het.” Sy het gou bedaar. “My respek vir hom het ’n nuwe hoogtepunt bereik”, het sy later gesê.

20 Hoe waar is die woorde van Spreuke 19:11 (NW) tog: “Die insig van ’n mens vertraag stellig sy toorn, en dit is groots van hom om die oortreding te verskoon”! Toon jy sulke insig? Kyk jy wat agter die woorde sit? Kan jy so ’n persoonlike oortreding verskoon? Insig kan ook oorredingskrag verleen aan enige versoek wat jy tot die ander persoon rig. Ja, ’n huweliksmaat wat verstandig is en insig besit, is ’n gawe van Jehovah en dra by tot ’n kosbare huwelik.—Spreuke 19:14.

Neem verskille en onvolmaaktheid in ag

21. Hoe kan dit julle huwelik kosbaar hou as julle verskille aanvaar?

21 Ondanks die beste pogings sal geen egpaar oor alles saamstem nie. Daar sal verskille wees. ’n Reisende Christenopsiener, wat al 25 jaar getroud is, het gesê: “Sommige egpare sê: ‘Ons verskil so geweldig van mekaar!’ Dan sien hulle net hierdie verskille raak en kan hulle dit gou nie meer verduur om saam te woon nie. Daar is beslis gebiede waarop my vrou se smaak van myne verskil, maar ons het ook baie gemeen. Deur die aandag te vestig op wat ons gemeen het, word ons huwelik elke dag kosbaarder.” Is jy so toegeeflik en bereid om verskille in julle huwelik in ag te neem?

22. (a) Wat kan huweliksmaats help om voldoening in die huwelik te smaak? (b) Wat is die sterkste spoorslag om julle huwelik eerbaar te hou?

22 Daar bestaan nie ’n volmaakte huweliksmaat nie. ’n Mens kan tevredenheid kry deur te leer om verskille te aanvaar en vir lief te neem met kleiner gebreke (Kolossense 3:13). Die feit is dat ons verhouding met God, die begeerte om hom as ons Vriend te behou, die sterkste spoorslag is om ons huwelik eerbaar te hou. Die handelwyse van daardie Christene wat hulle daarop toegelê het om ’n sukses van hulle huwelik te maak uit agting vir hulle verhouding met Jehovah is waarlik prysenswaardig.

23. Hoe kan ons ons huwelik kosbaar hou?

23 Enige huwelik wat verwaarloos word, sal sy glans verloor. Julle kan egter die glans herstel deur ’n opregte poging aan te wend om (1) persoonlike kommunikasie te kweek, (2) die wet van goedertierenheid op julle tong te hou en (3) verskille en onvolmaaktheid in ag te neem. Dit, tesame met God se seën, sal julle huwelik kosbaar hou, nie net vir julle nie, maar ook vir die grootse Insteller daarvan.

[Voetnote]

a A Greek-English Lexicon of the New Testament, deur J. H. Thayer. Dieselfde woord word gebruik om die “kosbare bloed” van Christus te beskryf.—1 Petrus 1:19.

b Die Bybel toon dat dit nie net onnutsigheid was nie. Dit was ‘vervolging’.—Galasiërs 4:29, 30.

Kan jy onthou?

◻ Waarom is persoonlike kommunikasie so noodsaaklik?

◻ Hoe sal kommunikasie verbeter as ons Abraham en Sara se voorbeeld volg?

◻ Hoe toon ’n persoon dat “die wet van gehoorsaamheid” op sy/haar tong is?

◻ Hoe dra insig tot ’n eerbare huwelik by?

[Venster op bladsy 11]

Hoe goed kommunikeer julle?

(1) Hoeveel tyd bring julle saam deur waar julle sommer net gesels?

(2) Hoeveel van julle gesprekke handel uitsluitlik oor sake (huislike aangeleenthede, die kinders, besittings, ensovoorts), eerder dat julle julle gedagtes en gevoelens deel?

(3) Is daar sekere geskille en gevoelens wat jy nie die vrymoedigheid het om met jou huweliksmaat te bespreek nie?

(4) Wanneer laas het een van julle bloot uit liefde vir die ander ’n geskenk gegee?

(5) Hoe dikwels hou julle mekaar se hande vas of raak julle aan mekaar benewens gedurende geslagsomgang?

[Prent op bladsy 13]

’n Vrou met “die wet van goedertierenheid” op haar tong word hoog op prys gestel, veral ten tye van groot druk

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel