Van Indiaanse tradisies tot Bybelwaarheid
SOU jy graag ’n reisende Christenopsiener en sy vrou op ’n besoek aan die San Blas-eilande wou vergesel? Hierdie groep van sowat 300 eilandjies met spierwit strande in die Karibiese See is net bokant die noordkus van die Panama-ismus geleë. Hierdie tropiese eilande, wat feitlik met palmbome oortrek is, word bewoon deur die Kuna-Indiane—in die reël ’n baie vriendelike en gasvrye volk.
Die Kunas het hulle eie godsdienstradisies. Daarbewens het die verteenwoordigers van talle gelowe hulle besoek en verskeie begrippe en filosofieë aangebied. Die Kuna-Indiane is dus geneig om te vra: “Wie is die ware Christene?” Jehovah se Getuies het die Bybelse antwoord verstrek, en van die Kunas het gunstig op Bybelwaarheid gereageer.
Reaksie op Skriftuurlike waarheid
Daar is byvoorbeeld Ramón, wat met Bybelwaarheid in aanraking gekom het toe hy nog op skool was. Een van sy vriende het vir hom ’n eksemplaar gegee van “Dinge waarin dit vir God onmoontlik is om te lieg”, wat deur die Wagtoringgenootskap uitgegee word. Hy het die boek gelees, daarvan gehou en wou meer informasie hê. Ramón het gevolglik aan die Wagtoringgenootskap se takkantoor in Panama geskryf en meer lektuur bestel. ’n Maand het verstryk, en hulle het nog ’n versoek om publikasies van hom ontvang. Na die derde bestelling het die takkantoor gereël dat ’n kringopsiener hom en sy neef, Rogelio, besoek. Hulle is genooi om ’n kringbyeenkoms van die Getuies in die stad Panama by te woon en hulle was verheug oor wat hulle gesien en gehoor het. Hulle het selfs ontdek dat Julio, ’n neef wat in die stad gewoon het, ’n getuie van Jehovah is. Al drie is nou gedoopte Christene wat as spesiale pioniers, voltydse Koninryksverkondigers, dien.—Mattheüs 24:14.
Na die eilande
Vergesel ons nou wanneer ons die goeie nuus na die eilande bring. Ons bereik eindelik die kus, waar ons ons motorbootjie met die buiteboordmotor laat en na die gemeenskapsgebou loop. Daar praat ons met die zahila (hoofman), want sonder sy toestemming kan ons nie die Indiane by hulle huise besoek nie. Na ’n paar woorde in Kuna deel Ramón ons mee dat ons die dorpsbewoners mag besoek.
Een van die eerste dinge wat ’n mens opval, is waarskynlik die kleurryke kleredrag van die Kunavroue en -meisies. Hulle veelkleurige hooftooisels en klere is inderdaad mooi. Die bloes is dikwels ’n mola (hemp), ’n fassinerende kunswerk in die vorm van omgekeerde appliek wat diere, voëls, visse, skoenlappers, ensovoorts uitbeeld. Versierings sluit dikwels goue neusringe en oorringe in, asook halssnoere van goud of silwer. Om hulle bene en polse dra hulle pêrels en krale.
Die vroue werk hoofsaaklik tuis, hoewel hulle bedrewe is in die vervoer van water van die vasteland in klein boomkano’s. Die mans kweek gewoonlik adamsnaald en vrugte op hulle fincas (plasies) op die vasteland; maar hulle vernaamste nering is vissery.
Getuieniswerk onder die Kunas
Kom ons begin met ons predikingswerk. Ek besluit om saam met Rogelio, wat vir my uit Spaans in die Kuna-dialek tolk, te getuig, en my vrou gaan saam met Ramón of Julio. Hierdie gasvrye Kunas nooi ons om te kom sit en bring dadelik vir elkeen ’n groot koppie koffie, gevolg deur ’n tweede koppie water waarmee ons ons monde kan uitspoel. Daarna kan ons met hulle gesels. Maar kan jy jou voorstel hoe jy voel nadat jy by 10 huise getuig het? Ons moet eenvoudig nog aanbiedinge van koffie van die hand wys en ons gashere vir hulle vriendelikheid bedank.
Omdat hulle nuuskierig is, wil hulle weet waar ons vandaan kom, of ons getroud is, en, indien wel, of ons kinders het. Wanneer hulle hoor dat ek van Duitsland af kom, stel hulle gewoonlik hulle hubare dogters aan my voor. Wanneer hulle verneem dat ek getroud is en dat ek en my vrou geen kinders het nie, voel hulle vir ons jammer. Hulle bied selfs vir ons babas aan sodat ons ’n gesin kan hê! Ons moet natuurlik hulle vrygewige aanbiedinge van die hand wys.
Dit is werklik aangenaam om hierdie mense te besoek. Ons bied vir hulle Bybellektuur in Spaans aan wat van ’n aardse paradys vertel. Na ’n paar minute staan baie nader vir hulle eksemplaar.
Gedurende ’n herbesoek aan een van die eilande het ’n man ons genader en ons gevra om hom te help om sy Bybel te bestudeer, iets wat ons met graagte gedoen het. Op party eilande waar die hoofman ons nie toestemming gegee het om die mense te besoek nie, kon ons vir sommige getuig wat uit hul eie na ons gekom het en om Bybels en verwante lektuur gevra het. Ja, baie toon opregte belangstelling in die Skrif.
Dit word aand en ons moet vertrek na die eiland Nurtupo, waar Ramón, Rogelio en Julio woon. Terwyl die golwe saggies teen ons boot klots, dink ek en Nora terug aan die talle verrykende ondervindinge wat ons in God se diens gehad het. Ons besef al hoe meer hoe nodig dit is om te help om ‘baie eilande bly te maak’ met Bybelwaarheid.—Psalm 97:1.