“Hou julle rein”!
“Vertrek, vertrek, gaan weg daarvandaan, raak niks onreins aan nie; gaan uit sy midde uit, hou julle rein, julle wat die gereedskap van Jehovah dra.”—JESAJA 52:11, NW.
1, 2. (a) Watter feite toon dat die meeste mense reinheid waardeer? (b) Waarom is fisiese reinheid noodsaaklik?
“REINHEID kom naby goddelikheid.” Aldus ’n spreuk van hierdie ou wêreld. Ja, die meeste mense waardeer fisiese reinheid. Dit is waarom selfdienwinkels en apteke seep, reinigingsmiddels en reukweermiddels verkoop. En dit is waarom ons wasserye, skoonmaakdienste en sanitasie-afdelings het. Gestel jy het na ’n goeie restaurant gegaan en die tafeldoek was bevlek, die borde was vuil en die kelnerin het ’n vuil rok gedra. Sou jy nie jou aptyt verloor nie? Ongetwyfeld, want vuilheid is aanstootlik.
2 Maar reinheid het nie bloot estetiese waarde nie. Vuilheid is ’n gemeenskaplike faktor by talle kwale. Volgens sommige mediese deskundiges kan die langer lewensduur van mense vandag grootliks toegeskryf word aan vooruitgang op die gebied van sanitasie. Vooraanstaande ekoloë sê daarbenewens dat vuilheid in die vorm van besoedeling inderdaad die voortbestaan van die mensdom bedreig.
Jehovah en sy organisasie is heilig en rein
3, 4. (a) Hoe beskou Jehovah God geestelike onreinheid? (b) Wat vereis Jehovah, as die heilige God, van sy volk?
3 Hoewel fisiese reinheid vir die meeste mense belangrik is, is geestelike reinheid selfs belangriker. In eerste instansie is geestelike onreinheid vir Jehovah God aanstootlik. Dit is ’n belediging vir sy ontsagwekkende majesteit, ’n opstand teen sy regverdige standaarde. Kortom, dit kom neer op ontrouheid aan hom as Persoon. Geestelike onreinheid, hetsy van ’n leerstellige of morele aard, verdeel en verderf. Dit lei tot verwarring en bring die dood mee. Geen wonder dat Jehovah God so sterk daarteen gekant is nie! En dit is waarom hy sy eertydse volk, die Israeliete, beveel het: “Wees heilig, want Ek is heilig” (Levitikus 11:44, 45). Dit is ook waarom God aangedring het op geestelike reinheid onder sy bevryde volk wat Babilon verlaat het om na Jerusalem terug te keer en gereedskap vir gebruik in sy aanbidding gedra het. Met woorde wat ook vir Jehovah se Getuies van vandag profetiese betekenis het, het God gesê: “Vertrek, vertrek, gaan weg daarvandaan, raak niks onreins aan nie; gaan uit sy midde uit, hou julle rein, julle wat die gereedskap van Jehovah dra.”—Jesaja 52:11, NW.
4 Jehovah God beveel dat ons, as sy getuies, onsself rein moet hou, dit wil sê, heilig en onbevlek, regverdig en kuis. Is dit nie hoe Jehovah self is nie? Hy word dan herhaaldelik “die Heilige van Israel” genoem! (Jesaja 12:6; 29:19; 41:14; Jeremia 51:5). En ons lees gepas in Openbaring 4:8: “Heilig, heilig, heilig is die Here God, die Almagtige.”
5. (a) Wat is waar van Jesus Christus, die regverdige engele, God se werkende krag en sy Woord ten opsigte van heiligheid? (b) Watter bevel gee Jehovah God dus aan sy knegte hier op aarde?
5 En word God se Seun, Jesus Christus, nie “die Heilige van God” genoem nie? (Johannes 6:69, NTP). Word God se hemelse dienaars nie “heilige engele” genoem nie? (Markus 8:38). Word God se werkende krag nie sy heilige gees genoem nie? En word daar nie tereg na God se Woord verwys as “die heilige Skrifte” nie? (2 Timotheüs 3:15). Dit is dus duidelik dat ons as Jehovah se Getuies ook rein en heilig moet wees, soos ons in 1 Petrus 1:15, 16 beveel word: “Soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in jul hele lewenswandel heilig word, omdat daar geskrywe is: Wees heilig, want Ek is heilig.”
6. (a) Hoe word Christene in eerste instansie gereinig? (b) Waarom is dit noodsaaklik dat Jehovah se volk heilig en rein bly?
6 Vanweë ons berou, bekering en geloof in die vergote bloed van Jesus Christus is ons in God se oë gereinig (1 Korinthiërs 6:11; Openbaring 7:14). Ons moet hierdie toestand bewaar as ons God se guns wil behou (Psalm 15:1, 2). Ons moet daarbenewens rein bly om byval te vind by alle liefhebbers van waarheid en geregtigheid wat bekommerd is weens die goddelose, onrein toestande wat hulle op die aarde sien (Esegiel 9:4). Dit is boonop gebiedend noodsaaklik om heilig en rein te bly sodat ons nie enige van ons medegelowiges laat struikel nie. Die apostel Paulus het Christene in Filippi aan die volgende herinner: “En dit bid ek dat julle liefde nog meer en meer oorvloedig mag word in kennis en alle ervaring, om die dinge waar dit op aankom, te onderskei, sodat julle rein en vir niemand ’n aanstoot mag wees nie, tot op die dag van Christus.”—Filippense 1:9, 10; vergelyk Mattheüs 18:6.
Sommige verstrik
7, 8. (a) Wat toon dat sommige nie besef het dat dit nodig is om as God se knegte rein te bly nie? (b) Watter waarskuwing se belangrikheid word hierdeur onderstreep?
7 Ongelukkig het sommige van ons voormalige metgeselle nie rein of heilig gebly as draers van Jehovah se gereedskap nie. Hulle is om verskeie Skriftuurlike redes uit die Christengemeente gesit. Ander is tereggewys omdat hulle nie volgens Bybelbeginsels gelewe het nie. Daardie persone het ’n hele aantal kinders van geordende bedienaars, asook van opsieners en bedieningsknegte” ingesluit.
8 Hulle het almal klaarblyklik in ’n mate in ’n strik van Satan getrap. Deur te probeer om Jehovah se gereedskap te dra terwyl hulle nie geestelik rein gebly het nie, het hulle die bevel in Jesaja 52:11 geïgnoreer, en hulle kon nie voortgaan om dit ongestraf te doen nie. (Vergelyk Job 9:1-4.) Hoe onderstreep dit tog die belangrikheid van die waarskuwing in 1 Korinthiërs 10:12: “Wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie”!
Waarom die probleem?
9. (a) Watter drie vyande maak geestelike reinheid ’n uitdaging? (b) Waarom hou Satan en sy demone so ’n bedreiging vir Christene in?
9 Waarom is dit so ’n uitdaging om geestelik rein te bly? Omdat ons met drie sterk vyande te kampe het—Satan en sy demone, sy sigbare organisasie die swakhede van ons sondige vlees. Daar is eerstens Satan en sy demone. Is hulle nie onrein en verderflik nie? Beslis. Die demone word “onreine geeste” genoem.—Mattheüs 10:1
10, 11. Wat omtrent Satan se sigbare organisasie maak dit vir Christene moeilik om God op ’n heilige, rein manier te dien?
10 Tweedens, Satan se sigbare organisasie is ons vyand. Sy godsdienstige wêreldryk is ongetwyfeld geestelik onrein. So ook die res van die wêreld in sy mag (1 Johannes 5:19; Openbaring 16:13; 17:4; 18:2). As ons wil hê dat ons aanbidding vir God aanneemlik moet wees, moet ons ons dus ‘vlekkeloos van die wêreld bewaar’.—Jakobus 1:27.
11 Baie van die dinge wat in wêreldlike koerante, tydskrifte, televisieprogramme en rolprente aangebied word, is eweneens onrein. Die inhoud van talle televisieprogramme word byvoorbeeld mettertyd al hoe onreiner. Jare gelede was onreine rolprente die uitsondering; vandag is dit die reël. Pornografiese tydskrifte vermenigvuldig soos paddastoele. In hierdie “laaste dae” het ons waarlik te kampe met “swaar tye”.—2 Timotheüs 3:1-5.
12. Met watter vyand in hulle moet Christene worstel om heilig en rein te bly?
12 En die neigings van ons sondige vlees maak dit vir ons selfs moeiliker om rein te bly (Genesis 8:21; Romeine 5:12). Ons moet dus almal ’n stryd voer om te doen wat reg is en om rein te bly as draers van Jehovah se gereedskap (Romeine 7:13-26). Maar wat sal ons help om heilig en rein te bly?
Haat alles wat sleg is!
13. Wat is een van die eerste dinge wat ons moet leer om te doen as ons rein wil bly?
13 Een van die eerste dinge wat ons moet doen om as “liefhebbers van die HERE” heilig en rein te bly, is om ‘die kwaad te haat’. Ja, ons moet “verafsku wat sleg is” (Psalm 97:10; Romeine 12:9). Ons moet ’n sterk gevoel van weersin in of walging vir dinge hê wat sleg is, ongeag hoe aangenaam dit momenteel vir ons sondige vlees is. Ons moet ook voortdurend vir onsself sê dat ons skade sal ly as ons nie rein bly nie (Galasiërs 6:7, 8). Ons moet daarbenewens die skade in gedagte hou wat ander berokken word wanneer ons ons aan growwe sondes skuldig maak. Ons moet bowenal alles wat sleg is, haat en vermy sodat ons Jehovah God nie smaad aandoen nie.
14. (a) Waarteen moet ons op ons hoede wees as ons sedelik rein wil bly? (b) Watter verpligting het susters in hierdie verband?
14 Om rein te bly, moet ons ook nie onsedelike gedagtes koester en flankeer met individue met wie ons nie getroud is nie. In ooreenstemming met Paulus se raad in 1 Timotheüs 5:1, 2 moet Christenmanne hulle ouer geestelike susters soos moeders en die jonger vroue in alle reinheid soos hulle vleeslike susters behandel. Maar ons susters het ook ’n verantwoordelikheid op hierdie gebied, naamlik om hulle te “versier met behoorlike kleding, gepaard met beskeidenheid en ingetoënheid” (1 Timotheüs 2:9, 10). Wanneer vroue in ’n spieël kyk, weet hulle ongetwyfeld of hulle beskeie lyk en of hulle kleredrag en houding sinlike botone het. Beskeidenheid is die teenoorgestelde van wêreldlike sensualiteit.—Miga 6:8, NW.
Wees bewus van jou geestelike behoefte!
15. Watter positiewe stappe moet ons doen om rein te bly?
15 ’n Haat vir wat sleg is, is hoogstens slegs ’n negatiewe benadering tot die strewe om heilig en rein te bly. Ons moet ook positiewe stappe doen. Ons moet te alle tye bewus wees van ons geestelike behoefte (Mattheüs 5:3, NW). Hoe noodsaaklik is dit tog dat “liefhebbers van die HERE” hulle gereeld met sy Woord voed! (Psalm 119:105-112). Ons moet die goeie raad in Filippense 4:8 ter harte neem en ons verstande met rein, opbouende dinge vul. ’n Groot hulp is om tekste en die woorde van die Koninkryksliedere uit die hoof te leer. Hulle sal dan outomaties in ons gedagtes opkom wanneer ons ontspan of snags wakker lê.—Psalm 63:7; 77:7.
16. Hoe kan omgang met ons broers ons help om heilig en rein te bly?
16 As ons bewus is van ons geestelike behoefte, sal ons gereeld gemeentelike vergaderinge bywoon waar ons mekaar tot liefde en goeie, rein werke kan aanspoor (Hebreërs 10:23-25). Net soos slegte metgeselle ons onrein kan maak, so sal goeie metgeselle ons help om geestelik rein te bly. Dit is ook noodsaaklik dat ons op ons omgang let wanneer ons ontspan as ons geestelik rein wil bly.—1 Korinthiërs 15:33.
17. Waarom kan gebed ons help om rein te bly?
17 Die hulp wat ons deur gebed kry, moet ook nie oor die hoof gesien word nie. Ons word vermaan: “Volhard in die gebed” en “Bid sonder ophou” (Romeine 12:12; 1 Thessalonicense 5:17). Ons moet nooit te besig wees om te bid nie. Laat ons bid vir wysheid, vir krag, vir God se heilige gees. As ons ons dan daarop toelê om die dinge te kry waarvoor ons bid, sal ons die “vrede van God” geniet wat ons harte en sinne sal bewaar en ons in staat sal stel om heilig en rein to bly.—Filippense 4:6, 7.
18. Hoe kan dit ons help as ons besig bly in Jehovah se diens?
18 As ’n mens met ander oor God se Koninkryk praat en besig bly in Jehovah se diens, is dit nog ’n groot hulp om heilig en rein te bly. Baie het hulle aan slegte gedrag skuldig gemaak terwyl hulle ontspan het, byvoorbeeld gedurende ’n vakansie. Koning Dawid is vir ons ’n waarskuwende voorbeeld. Dit was lente, die tyd wanneer konings gewoonlik uitgetrek het om oorlog te voer, en Dawid het agtergebly, sake as ’t ware gemaklik opgeneem! Dit is toe dat hy met Batseba oor die tou getrap het (2 Samuel 11:1-4). Dit is dus duidelik dat ons te alle tye op ons hoede moet wees as ons rein draers van Jehovah se gereedskap wil bly.
19. Waarom is selfbeheersing so belangrik om rein te bly?
19 Selfbeheersing is noodsaaklik as ons wil hê dat Jehovah God ons steeds moet gebruik om sy gereedskap te dra (Galasiërs 5:22; 1 Korinthiërs 9:27). Ons moet ons verstande dissiplineer en ons harte bewaak deur elke versoeking te verwerp en alle neigings om oor onrein dinge te dink, dood te maak. Ons moet, soos Jesus Christus dit gestel het, bereid wees om ’n oog, figuurlik gesproke, uit to pluk of ’n hand of ’n voet af te kap as dit geneig is om ons te laat struikel (Markus 9:43-48). Paulus gee in hierdie verband goeie raad in Efesiërs 4:29-5:5.
20, 21. (a) Hoe kan liefde vir Jehovah God ons help om rein te bly? (b) Hoe kan liefde vir ons broers en ander ons help om geestelik rein te bly?
20 Dit is in die besonder liefde vir Jehovah wat ons sal help om rein te bly. Is ons werklik “liefhebbers van die HERE”? Waardeer ons alles wat hy vir ons gedoen het? Is dit ons voorneme om met hom te wandel soos die getroue manne van die ou tyd gedoen het? (Genesis 5:24; 6:9). Dan sal lojale liefde vir Jehovah God ons help om heilig en rein te bly. Ja, as ons hom waarlik met ons hele hart, siel, verstand en krag liefhet, sal ons bang wees om hom te mishaag. Mag ons, as “liefhebbers van die HERE”, dus nooit terugdeins of toelaat dat ons deur die wêreld of ons eie sondige neigings bevlek word nie.—Mattheüs 12:29, 30; Hebreërs 10:38, 39.
21 Opregte, onselfsugtige broederliefde is ook baie nuttig om rein en heilig te bly. As ons waarlik in hulle geestelike welsyn belangstel, sal ons sorg dat ons hulle nie aanstoot gee of hulle onrein laat voel deur ons onreine praatjies, onreine voorkoms, deur te flankeer of ons aan onreine gedrag skuldig te maak nie. Onthou, die liefde “is nie bly oor die ongeregtigheid nie” (1 Korinthiërs 13:4, 6). Onselfsugtige liefde vir God en ons naaste sal ons daarvan weerhou om in hierdie opsigte te sondig. Dit sal ons selfbeheersing aan die dag laat lê sodat ons ‘reguit paaie vir ons voete maak’.—Hebreërs 12:13.
Die beloninge as ons rein bly
22, 23. Wat is party van die beloninge wat persoonlik sal ontvang as ons rein bly?
22 Wat is ons beloninge as ons rein bly as draers van Jehovah se gereedskap? Dit sluit ’n “goeie gewete” en ’n “rein hart” in (1 Timotheüs 1:5). Gemoedsrus is nog ’n beloning. As ons geestelik rein bly, sal ons nooit die pyn ervaar wat ’n skuldige gewete kan veroorsaak nie—die ongelukkigheid, die slapelose nagte, die vrees dat ander dit te wete sal kom of dat ons aan die kaak gestel sal word. Ja, deur rein te bly, sal ons nooit huigelaars wees wat iets probeer verberg nie. Vryheid van sulke dinge is beslis ’n goeie beloning.
23 Nog ’n beloning as ons heilig en rein bly, is dat ons goeie verhoudinge met ons broers, ons gesinne en buitestaanders sal hê. Ons sal dit nie op die gewete hê dat ons iemand laat struikel het nie. As ons rein bly, sal ons mekaar buitendien deur liefde kan opbou (1 Korinthiërs 8:1). Sodoende sal ons die groter geluk smaak wat ’n mens ervaar wanneer jy gee en tot die geestelike welsyn van ander bydra.—Handelinge 20:35.
24. Wat is die grootste en beste rede om as Jehovah se volk rein te wil bly?
24 As ons as draers van Jehovah se gereedskap rein bly, sal ons bowenal ons hemelse Vader se hart verbly en hom in staat stel om smadende Satan te antwoord (Spreuke 27:11). Met die oog op alles wat Jehovah God vir ons gedoen het, is ons hom dit beslis verskuldig. Mag ons dus, as Jehovah se getroue getuies, almal rein en heilig bly as draers van sy gereedskap. Laat ons rein bly tot die heerlikheid, eer en lof van God, tot die opbouing van ons broers en ons gesinne, en met die oog op ons ewige redding!
Kan jy onthou?
◻ Wat vereis Jehovah van sy volk, aangesien hy heilig is?
◻ Die belangrikheid van watter waarskuwing wat die apostel Paulus gegee het, word beklemtoon deur die feit dat sommige van Jehovah se knegte nie rein gebly het nie?
◻ Watter drie vyande maak dit vir ons moeilik om geestelik rein te bly?
◻ Watter positiewe stappe moet ons doen om geestelik rein te bly?
◻ Hoe kan dit ons help om rein te bly as ons besig bly in Jehovah se diens?
◻ Wat is die grootste rede waarom ons as getuies van Jehovah rein wil bly?