Vrae van lesers
♦ Is die Bybel se verbod op bloed moontlik net van toepassing op die bloed van ’n slagoffer wat deur die mens gedood is, en nie op die bloederige vleis van ’n dier wat vanself gevrek het of die bloed van ’n lewende dier of mens nie?
Dit is hoe sommige persone redeneer, en hulle beroep hulle op ’n paar Bybelverse wat oënskynlik daardie beskouing steun. Hulle voer dus aan dat dit nie verkeerd is om die bloed van ’n lewende skenker te ontvang nie. So ’n redenasie klink dalk geldig, maar ’n nadere ondersoek van die betrokke verse en ander verwante tekste toon dat God verwag dat sy volk nie bloed moet inneem nie en nie hulle lewe met bloed moet onderhou nie, hetsy dit die bloed van ’n lewende of dooie skepsel is.
Vir die Israeliete is daar gesê: “Julle mag geen aas eet nie; vir die vreemdeling wat in jou poorte is, kan jy dit gee, dat hy dit eet, of jy kan dit aan ’n uitlander verkoop; want jy is ’n heilige volk aan die HERE jou God” (Deuteronomium 14:21). Hoewel die dier nie gebloei het nie, kon hulle die karkas aan ’n vreemdeling verkoop. Dit is oënskynlik ’n weerspreking van Levitikus 17:10 wat sê: “Elkeen uit die huis van Israel en uit die vreemdelinge wat onder hulle vertoef, wat maar enigsins bloed eet—teen die een wat die bloed eet, sal Ek my aangesig rig en hom uitroei onder sy volk uit.” Waarom die verskil tussen hierdie verse?
Ter stawing van hulle beskouing, beweer sommige dat Deuteronomium 14:21 die vreemdeling toegelaat het om bloederige vleis te eet as dit gekom het van ’n dier wat nie deur die mens doodgemaak is nie, want dan was dit nie vir die mens nodig om sy bloed (wat lewe voorstel) aan God terug te gee nie. Levitikus 17:15 steun oënskynlik hierdie beskouing; dit sê dat die boorling of vreemdeling wat “aas eet of iets wat verskeur is” net “sy klere [moes] was en . . . tot die aand toe onrein” sou wees. Dit kon dus lyk asof ’n persoon hom geen groot skuld op die hals haal indien hy bloed geëet het asof die slagoffer nie deur die mens doodgemaak is nie. Sommige voer dus aan dat dit nie verkeerd sal wees om die bloed van ’n lewende skepsel as voedsel of vir oortappings te gebruik nie.
Maar is die basiese verskil tussen Deuteronomium 14:21 en Levitikus 17:10, 15 bloot die wyse waarop die dier aan sy einde gekom het? Die Skriftuurlike antwoord moet Nee wees.
Die Israeliete het geweet dat hulle beslis nie die bloederige vleis kon eet van ’n dier wat vanself gevrek het of deur ’n wilde dier doodgemaak is nie. Terwyl hulle nog by die berg Sinai was, is hulle aangesê om van sulke karkasse ontslae te raak (Exodus 22:31). Deuteronomium 14:21 strook hiermee aangesien dit die Israeliete in die Beloofde Land beveel het om van sulke bloederige karkasse ontslae te raak, maar hulle toegelaat het om dit aan vreemdelinge te verkoop.
Kom ons bestudeer nou Levitikus 17:10. Dit sê dat geen persoon “uit die huis van Israel en uit die vreemdelinge” bloed moes eet nie. Was dit omdat die dier deur ’n mens doodgemaak is en die bloed gevolglik aan God teruggegee moes word? Wanneer persone daardie bewering maak, sien hulle meer in die vers as wat dit sê. En as ’n persoon boonop slegs skuldig was wanneer die die bloed geëet het van ’n skepsel wat deur die mens doodgemaak is, sou Deuteronomium 14:21 en Exodus 22:31 nie Israeliete verbied het om die bloederige vleis te eet van diere wat nie deur mense doodgemaak is nie. Die Israeliete het egter baie goed geweet dat hulle nie sulke vleis kon eet nie. Esegiel het gesê: “My siel is nooit verontreinig nie, en ek het van my jeug af tot nou toe geen aas of iets wat verskeur is, geëet nie.”—Esegiel 4:14; vergelyk 44:31.
Waarom sê Deuteronomium 14:21 dan dat bloederige vleis aan die “vreemdeling” verkoop kon word, maar verbied Levitikus 17:10 “vreemdelinge” om bloed te eet? God se volk sowel as Bybelkommentators het besef dat dit die godsdiensposisie van die betrokke vreemdeling is wat die verskil maak. “Aid to Bible Understanding” (bladsy 51) toon dat die uitdrukking “vreemdeling” soms gesien het op ’n persoon onder die Israeliete wat nie ’n volle proseliet was nie. Dit blyk dat dit hierdie soort persoon is waarvan daar in Deuteronomium 14:21 gepraat word, ’n man wat nie probeer het om al God se wette te hou nie en wat sy eie gebruike kon hê vir ’n karkas wat deur Israeliete en proseliete as onrein beskou is. Joodse geleerdes het ook hierdie verklaring aangebied.a
Geen aanbidder van God kon dus bloed eet nie, hetsy uit (of in die vleis van) ’n dier wat vanself gevrek het of van een wat deur die mens om die lewe gebring is. Waarom sê Levitikus 17:15 dan dat dit net onreinheid veroorsaak het wanneer ’n persoon die bloederige vleis geëet het van so ’n dier wat vanself gevrek het of deur ’n wilde dier doodgemaak is?
Ons vind ’n leidraad in Levitikus 5:2, wat sê: “As iemand enigiets aanraak wat onrein is—die aas van ’n onrein wilde dier . . .—en dit vir hom verborge was, maar hy onrein geword het en skuldig is.” Ja, God het toegegee dat ’n Israeliet per abuis kon sondig. Levitikus 17:15 kan dus beskou word as ’n reëling wat vir so ’n sonde voorsiening maak. As ’n Israeliet byvoorbeeld vleis geëet het wat aan hom voorgesit is en dan uitgevind het dat dit bloederig was, was hy skuldig aan sonde. Maar omdat dit onopsetlik was, kon hy stappe doen om rein te word. Die volgende is egter opmerkenswaardig: Indien hy nie daardie stappe gedoen het nie, “moet hy sy ongeregtigheid dra”.—Levitikus 17:16.b
Dit was dus nie ’n onbenullige saak om bloederige vleis te eet nie; dit kon selfs die doodstraf meebring. Geen ware aanbidder (Israeliet of ’n vreemdeling wat ’n volle proseliet was) kon uit vrye wil bloederige vleis eet nie, ongeag of dit die vleis van ’n dier was wat vanself gevrek het, deur ’n ander dier verskeur is of deur ’n mens doodgemaak is (Numeri 15:30). Die apostoliese raad het dit bevestig. ln ’n brief aan Christene wat die geestelike “Israel van God” uitgemaak het, het dit hulle verbied om iets te eet wat verwurg is, hetsy dit die bloederige vleis was van ’n dier wat per ongeluk verwurg het of van een wat deur ’n mens verwurg is.—Galasiërs 6:16; Handelinge 21:25.
Daardie raad het God se knegte ook beveel om hulle ‘te onthou van bloed’. Indien daardie gesalfde Christelik nie die bloed in die vleis van ’n verwurgde skepsel kon eet nie, kon hulle beslis nie die bloed van ’n lewende skepsel inneem nie. Dit is nie moeilik om te sien dat nòg die eertydse Israeliete nòg gehoorsame Christene die stamlede in Afrika sal navolg wat pyle in die nekslagaar van lewende beeste skiet om bloed te kry wat hulle met melk meng en dan drink nie. God se knegte kan eweneens nie die mediese gebruik aanvaar wat eenhede mensebloed onttrek en as oortappings gee om die lewe te verleng nie. Sulke gebruike skend God se veroordeling van enigiemand wat “maar enigsins bloed eet” en die gebod dat Christene hulle ‘van bloed moet onthou’.—Handelinge 15:28, 29; Levitikus 17:10.
Ondanks druk om God se vereistes te verwater, weet ware Christene dat die lewe ’n gawe van Jehovah God is en gebruik moet word soos hy voorskryf. Hulle gehoorsaam God of dit op die oomblik fisies prakties lyk of nie. Handelinge 15:28, 29 beveel Christene byvoorbeeld om hulle van afgodediens te onthou. ’n Ware Christen wat met die dood gedreig word indien hy sou weier om aan afgodediens mee te doen, sal nie redeneer dat hy nie sy teenswoordige lewe net as gevolg van ’n simbool moet verloor, aangesien “’n afgod niks . . . is nie” (1 Korinthiërs 8:4). Die drie getroue Hebreërs het die regte voorbeeld van gehoorsaamheid gestel, en so ook die vroeë Christene wat bereid was om in die arena te sterf omdat hulle nie reukwerk op ’n altaar wou gooi nie.—Daniël 3:1-18.
Wanneer ’n probleem in verband met bloed ontstaan, soos wanneer ’n ongeluk of ’n operasie groot bloedverlies veroorsaak, kan die Christen eweneens nie sy onkreukbaarheid prysgee nie. Hy gehoorsaam sy Lewegewer met die volle versekering dat indien hy, ondanks die beste alternatiewe, mediese behandeling, sy teenswoordige lewe sou verloor, sy ewige lewe nie in gevaar verkeer nie. Jesus het vir sy volgelinge gesê: “Moenie vrees vir die wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie; maar vrees Hom liewer wat die siel sowel as die liggaam kan verderwe in [Gehenna].”—Mattheüs 10:28, vgl. NW.
Onlangse mediese getuienis toon natuurlik dat bloedoortappings gewoonlik nie noodsaaklik is om ’n persoon te red nie, want ervare dokters getuig dat algemene alternatiewe in die meeste gevalle net so goed kan wees. Daar kan selfs geredeneer word dat die getal persone wat slegs deur ’n bloedoortapping aan die lewe gehou kon word, waarskynlik kleiner is as dié van persone wat gesterf het weens die skade wat deur bloedoortappings aangerig is. Hoe dit ook al sy, Christene is vasbeslote om God te gehoorsaam en sy beskouing van bloed te respekteer.
Ware aanbidders sal gevolglik vandag nie bloederige vleis eet nie, hetsy van ’n dier wat deur ’n mens doodgemaak is of van ’n skepsel wat op ’n ander manier aan sy einde gekom het. Hulle onderhou ook nie hulle lewens deur die bloed van lewende skepsele, diere of mense, in te neem nie. Hulle erken Jehovah as hulle Lewegewer en is vasbeslote om hom in alle opsigte te gehoorsaam.
[Voetnote]
a “The Pentateuch and Haftorahs”, geredigeer deur dr. J. Hertz, se byvoorbeeld: “Volgens Lev. 17:15 is die Israeliet sowel as die ‘vreemdeling’ verontreinig wanneer hulle die vlees van ’n nevelah aangeraak of geëet het. In Lev[itikus] beteken die ‘vreemdeling’ die nie-Isrealiet wat ’n proseliet in die volle sin van die woord geword het, ’n ger tzedek. Hier [in Deuteronomium 14:21] sien die ‘vreemdeling wat in jou poorte is’ op die tyd wanneer Israel in hulle Land gevestig sou wees en daar nie net proseliete in hulle midde sou wees nie, maar ook mense wat nie die lewe en godsdiensgebruike van die Israeliete ten volle aangeneem het nie, al het hulle opgehou om afgodediens te beoefen. Die rabbi’s het hierdie klas inwonende vreemdelinge gar toshav genoem: en [Deuteronomium 14:21] verwys na daardie klas, wat nòg Israeliete van geboorte of deur bekering nòg ‘buitelanders’ was.” Hierdie werk verduidelik dat die ‘vreemdeling’ van Levitikus 17:15 daarenteen “’n volle proseliet [was], . . . andersins sou hy nie belet gewees het om dit te eet nie”.
b Ons vind ’n leersame, analoë geval in ’n ander deel van die Wet in verband met bloed: ’n Man wat onwetend geslagsomgang met sy vrou gehad het toe sy begin menstrueer het, was onrein, maar hy kon stappe doen om vergifnis te kry. Die Israeliet wat egter sy vrou se menstruale bloed opsetlik veronagsaam het, is uitgeroei.—Levitikus 15:19-24; 20:18.