Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w83 6/15 bl. 25-30
  • Dien lojaal as “mede-arbeiders van die waarheid”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Dien lojaal as “mede-arbeiders van die waarheid”
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Gaan voort om in die waarheid te wandel
  • “Mede-arbeiders van die waarheid”
  • Lojale steun ondanks teëstand
  • Volg na wat goed is
  • Liefde opvallend onder mede-arbeiders
  • Hou aan om lojaal as mede-arbeiders te dien
  • Hoe Gajus sy broers gehelp het
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe)—2017
  • Bybelboek nommer 64—3 Johannes
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
  • Wandel as medewerkers in die waarheid
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Oorsig van 3 Johannes
    Die Bybel – Nuwe Wêreld-vertaling
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
w83 6/15 bl. 25-30

Dien lojaal as “mede-arbeiders van die waarheid”

“Jy handel getrou in alles wat jy doen vir die broeders . . . Ons behoort . . . sulke mense goed te ontvang, sodat ons mede-arbeiders van die waarheid kan word.”—3 JOHANNES 5-8.

1. Hoe moet ons Jehovah aanbid om hom te behaag?

JEHOVAH soek diegene wat hom “in gees en waarheid” aanbid (Johannes 4:23, 24). Om sy goedkeuring weg te dra, moet hulle aanbidding strook met wat God oor homself en sy voornemens geopenbaar het. Hulle moet ook trou bly aan die hele Christelike leer waarin die klem op Jesus Christus val. As ’n mens gered wil word, moet jy in hierdie waarheid bly wandel.—Efesiërs 1:13, 14; 1 Johannes 3:23.

2. Watter vraag ontstaan, en waar sal ons nuttige voorligting vind?

2 Getuies van Jehovah moet voortgaan om in die waarheid te wandel. Trouens, hulle moet ten volle saamwerk in “heilige diens” deur Koninkryksbelange lojaal as “mede-arbeiders van die waarheid” te bevorder (Romeine 12:1, NW; 3 Johannes 5-8; Mattheüs 6:33). Maar hoe kan dit gedoen word? Baie nuttige voorligting hieroor verskyn in die derde geïnspireerde brief van die apostel Johannes.

Gaan voort om in die waarheid te wandel

3. Hoe word die band van Christelike liefde duidelik getoon in die inleiding van Derde Johannes?

3 Die band van Christelike liefde blyk uit die apostel se inleiding. Hy het geskryf:

“Die ouderling aan die geliefde Gajus wat ek in waarheid liefhet” (3 Johannes 1).

Johannes het homself as “die ouderling” geïdentifiseer, klaarblyklik as gevolg van sy gevorderde leeftyd en geestelike rypheid. Gajus was sy dierbare Christenvriend wat op ’n onvermelde plek gewoon het. Wanneer Johannes hom “die geliefde” noem, gebruik hy ’n intieme aanspreekvorm wat algemeen deur die vroeë Christene gebruik is.—Romeine 16:5; 2 Petrus 3:1; Judas 3.

4, 5. (a) Wat was Johannes se wens vir Gajus? (b) Hoe het Gajus sy lewe gebruik?

4 Johannes het goeie rede gehad om Gajus lief te hê, want ons lees:

“Geliefde, ek wens dat dit met jou in alles goed mag gaan en dat jy gesond is, soos dit met jou siel goed gaan; want ek was baie bly as daar broeders kom en van jou waarheid getuig, soos jy in die waarheid wandel. Ek het geen groter blydskap as dit nie, dat ek hoor dat my kinders in die waarheid wandel.”—3 Johannes 2-4.

5 Die apostel het gewens dat dit met Gajus “in alles goed mag gaan”, geestelik sowel as materieel. Dit was ook Johannes se wens dat sy vriend “gesond” moes wees. Hierdie taamlik algemene wens het nie noodwendig beteken dat Gajus siek was nie. (Vergelyk Handelinge 15:29, NW.) Hier dui Johannes se gebruik van die woord “siel” teenswoordige lewe as ’n intelligente persoon aan. En hoe het Gajus sy lewe gebruik? Getrou in God se “heilige diens”.

6, 7. (a) Watter rede het Johannes gehad om “baie bly” te wees? (b) Wat moet alle getroue getuies van Jehovah net soos Gajus omtrent “die waarheid” doen?

6 Van geestelike broers wat van Efese af gekom het, het Johannes bemoedigende nuus ontvang wat hom “baie bly” gemaak het. Die apostel Johannes kon bly wees omdat dit op geestelike gebied goed gegaan het met sy vriend Gajus en hy getrou aan die waarheid was (Spreuke 15:30; 25:25). Die “broeders” kon lede gewees het van die gemeente waaraan Gajus verbonde was, of hulle was moontlik persone wat van Efese af na daardie gemeente gegaan het, en moontlik selfs ’n vroeëre brief wat die apostel daaraan geskryf het, gebring het.—3 Johannes 9.

7 Hierdie broers het ‘van Gajus se waarheid getuig’. Hy het die waarheid in verband met Christus ten volle aangeneem en het Jehovah se vereistes nagekom. Gajus het ‘in die waarheid gewandel’ deur lojaal by die hele versameling Christelike leerstellings te bly. Elke getroue getuie van Jehovah moet inderdaad nie alleen “in die waarheid” wees nie, maar moet ook daarin wandel as ’n lewenswyse. Lojale Christene skik hulle altyd na “die waarheid” deur afvalligheid te verwerp en God “met ’n volkome hart” te dien.—2 Johannes 1-4; Jesaja 38:2, 3.

8. Waarom kon Johannes Gajus as een van sy “kinders” beskou?

8 Johannes het gesê dat hy geen groter rede tot dankbaarheid gehad het as om te hoor dat sy “kinders” voortgegaan het om ‘in die waarheid te wandel’ of ‘in die waarheid te lewe’ nie (NTP). Die apostel kon Gajus se geestelike vader geword het deur hom te help om juiste kennis van die Skrif te verkry. (Vergelyk 1 Korinthiërs 4:14-17.) Maar selfs al het Johannes nie aanvanklik die waarheid na hierdie geliefde vriend gebring nie, het die apostel se gevorderde leeftyd, Christelike rypheid en vaderlike geneentheid vir Gajus dit gepas gemaak vir die apostel om hierdie klaarblyklik jonger man as een van sy “kinders” te beskou.

“Mede-arbeiders van die waarheid”

9. Wat is Gajus volgens 3 Johannes 5-8 aangespoor om ten behoewe van sekere broers te doen?

9 Gajus het sy Christelike verantwoordelikhede goed nagekom, en Johannes het hom daarvoor geprys deur te sê:

“Geliefde, jy handel getrou in alles wat jy doen vir die broeders, en dit vir vreemdelinge wat van jou liefde voor die gemeente getuig het. Jy sal goed doen as jy hulle voorthelp op ’n voor God waardige wyse. Want vir sy Naam het hulle uitgegaan sonder om iets van die heidene te neem. Ons behoort dan sulke mense goed te ontvang, sodat ons mede-arbeiders van die waarheid kan word.”—3 Johannes 5-8.

10. Hoe het Gajus “getrou” gehandel, en hoe tree Jehovah se Getuies vandag dienooreenkomstig op?

10 Gajus het ‘getrou gehandel’ of ‘reg gehandel’ deur besoekende broers gasvry te ontvang (NTP). Dit was veral opmerklik aangesien hulle “vreemdelinge” was—individue wat vantevore onbekend was vir hulle Christengasheer. Jehovah se Getuies handel vandag eweneens “getrou” wanneer hulle gasvry is jeens sulke medegelowiges wat as reisende opsieners deur die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap uitgestuur is.—Romeine 12:13.

11. Wat kon die reisende broers omtrent Gajus getuig?

11 Die geliefde Gajus het beslis beginselvaste liefde geopenbaar, en die reisende broers het “voor die gemeente”, moontlik tydens ’n Christenvergadering in Efese, daarvan getuig. (Vergelyk Handelinge 14:27.) Hulle kon getuig dat Gajus gasvry was. Hy het ’n liefde vir vreemdelinge aan die dag gelê en aldus ’n eeue-oue karaktertrek van godvresende individue geopenbaar.—Genesis 18:1-8; Mattheüs 25:34, 35, 40.

12. (a) Hoe moes die reisende Christene voortgehelp word? (b) Vir wie se naam het hierdie broers uitgegaan? (c) Watter teenstelling is daar tussen die manier waarop getroue broers en die afvalliges behandel moet word?

12 Die apostel het Gajus aangespoor om die reisende Christene voort te help op ’n ‘waardige wyse voor God’, in wie se diens hulle hulle kragte ingespan het. Hulle moes dinge soos kos en geld vir hulle reis ontvang (Titus 3:13). Hierdie broers moes bygestaan word omdat hulle uitgegaan het vir “die naam”, volgens die Griekse teks. Hier het Johannes klaarblyklik God se onvergelyklike naam, Jehovah, bedoel, aangesien hy gesê het dat hulle voortgehelp moes word “op ’n voor God waardige wyse”. (Vergelyk die Afrikaanse Bybel; Kingdom Interlinear Translation; Revised Standard Version.) Hoewel reisende, afvallige leraars nie gasvry ontvang moes word nie, het hierdie getroue, besoekende broers verdien om as lojale getuies van Jehovah God en sy Seun behandel te word.—Jesaja 43:10-12; Handelinge 1:6-8; 2 Johannes 9-11.

13. (a) Wat het dit beteken dat Christenreisigers uitgegaan het “sonder om iets van die heidene te neem”? (b) Hoe kon ander gevolglik “mede-arbeiders van die waarheid” word?

13 Die hardwerkende Christenreisigers het uitgegaan “sonder om iets van die heidene te neem”. Net soos die apostel Paulus wou hulle klaarblyklik “die evangelie . . . kosteloos bring” deur nie ’n finansiële las te plaas op diegene aan wie hulle die waarheid verkondig het nie (1 Korinthiërs 9:18; 2 Korinthiërs 11:7; 1 Thessalonicense 2:9). Aangesien hierdie broers uitgegaan het vir Jehovah se naam en die “evangelie” aan die nie-Jode verkondig het sonder om materiële hulp van hulle aan te neem, “behoort” mede-Christene “sulke [evangeliedienaars] goed te ontvang” het. Deur hulle by te staan, het hierdie gasvrye aanbidders van Jehovah ’n onontbeerlike rol gespeel in die bevordering van die belange van die Christelike godsdiens. Hulle was gevolglik “mede-arbeiders van die waarheid”. Jehovah se Getuies word vandag deur ’n soortgelyke gees beweeg.

Lojale steun ondanks teëstand

14. Watter teëstand het ontstaan in die gemeente waaraan Gajus verbonde was?

14 Gajus het lojaal as ’n ‘mede-arbeider van die waarheid’ gedien. Maar daar was teëstand, want Johannes het gesê:

“Ek het aan die gemeente geskrywe, maar Diotrefes, wat onder hulle die eerste wil wees, steur hom nie aan ons nie. Daarom, as ek kom, sal ek hom herinner aan die werke wat hy doen deur met slegte woorde teen ons uit te vaar; en hiermee nie tevrede nie, ontvang hy nie alleen self die broeders nie gasvry nie, maar verhinder ook die wat dit wil doen en werp hulle uit die gemeente.”—3 Johannes 9, 10.

15. Wat was Diotrefes se gesindheid, en wat sal dit beteken as ’n voorgewende Christen vandag soos hy optree?

15 Johannes het tevore “aan die gemeente geskrywe”, maar aanmatigende Diotrefes het niks met agting van die apostel ontvang nie. Die vermetele Diotrefes het in werklikheid daarvan gehou om “die eerste” onder medegelowiges te wees; hy wou “hulle leier wees” (An American Translation). Hierdie trotse man was dit dus nie eens met Jesus Christus, wat vir Sy dissipels gesê het nie: “Julle is almal broers. . . . Julle moet julle nie ‘leiers’ laat noem nie, want Een is julle Leier: die Christus” (Mattheüs 23:8-12, NTP). Aangesien “hoogheid van oë en trotsheid van hart . . . sonde” is en ‘Jehovah die hoogmoedige net uit die verte ken’, het enige voorgewende Christen wat vandag soos Diotrefes is, natuurlik geen intieme verhouding met God nie.—Spreuke 21:4; Psalm 138:6.

16. (a) Hoe het Diotrefes teenoor die apostel Johannes opgetree? (b) Watter les hou dit vir 20ste-eeuse Christene in?

16 Deur niks met agting van Johannes te ontvang nie, het Diotrefes teen Godgegewe gesag gerebelleer. Wanneer die bejaarde apostel die gemeente besoek het, sou hy Diotrefes “herinner” aan sy bose dade asook aan wat hy gesê het. Diotrefes het met “slegte woorde” teen Johannes ‘uitgevaar’, en sodoende een van die apostoliese fondamente van die hemelse Nuwe Jerusalem belaster (Openbaring 21:2, 14). Hy kon dit sekerlik nie ongestraf doen nie! Voorgewende Christene van vandag kan eweneens nie verwag om aan God se veroordeling te ontkom as hulle medegelowiges onberouvol belaster en goddelik ingestelde gesag minag nie.—Levitikus 19:16; Judas 8-13.

17. Aan watter ander oortreding het Diotrefes hom skuldig gemaak?

17 Diotrefes het ook geweier om die ywerige, reisende broers gasvry te ontvang. Trouens, hy het probeer om ander wat gasvryheid aan die besoekende evangeliedienaars wou betoon, te verhinder. Nog erger, Diotrefes het probeer om gasvrye en liefdevolle individue uit die gemeente te werp deur hulle verkeerdelik te laat uitsit. Maar al hierdie teëstand het lojale Christene nie laat ophou om die Koninkrykspredikingswerk te ondersteun nie.

Volg na wat goed is

18. Wat het Johannes volgens 3 Johannes 11, 12 vir Gajus gesê, en waarom?

18 Indien Diotrefes nie verander het nie, sou hy self dalk mettertyd uit die gemeente gesit word. Maar die getroues moet doen wat Johannes vir Gajus gesê het:

“Geliefde, moenie navolg wat kwaad is nie, maar wat goed is. Hy wat goed doen, is uit God; maar hy wat kwaad doen, het God nie gesien nie. Van Demetrius is deur almal getuienis gegee en deur die waarheid self; en ons getuig ook, en julle weet dat ons getuienis waar is.”—3 Johannes 11, 12.

19. Wat vereis ‘die navolging van wat goed is’?

19 Gajus is vermaan om nie wat ‘kwaad is na te volg nie, maar wat goed is’. Die najaging van goedheid vereis dat ’n mens haat wat sleg is en die goeie daadwerklik aanhang (Psalm 97:10; Romeine 12:9). En hoe belangrik is dit tog, want “hy wat goed doen, is uit God”!—1 Johannes 3:4-12.

20. Hoe ‘sien’ Jehovah se aanbidders op aarde hom?

20 Die apostel het ’n gewigtige punt gestel toe hy bygevoeg het: “Hy wat kwaad doen, het God nie gesien nie.” Wanneer getroue, geesgesalfde Christene tot geeslewe in die hemel opgewek word, kon hulle verwag om God en Christus te sien. Maar op aarde ‘sien’ Jehovah se aanbidders hom deur sy dade ten behoewe van hulle waar te neem. Diegene ‘wat God sien’, doen dit met ‘die oë van hulle verstand’ (Efesiërs 1:18; Exodus 33:20; Job 19:26). Met waarnemingsvermoë waarby die verstand sowel as die hart betrokke is, leer ken hierdie individue Jehovah werklik as sy aanbidders wat sy eienskappe waardeer, eienskappe soos sy matelose liefde wat bewys is deurdat hy sy eniggebore Seun vir die mensdom gegee het.—Johannes 3:16.

21. (a) Wie was Demetrius? (b) Hoe is daar “deur die waarheid self oor Demetrius “getuienis gegee”?

21 Gajus is aangespoor om ‘na te volg wat goed is’, en Demetrius was ’n persoon wat goed gedoen het. Demetrius het waarskynlik saam met die besoekende broers gereis en moontlik toesig gehou oor daardie predikers of sendelinge. (Vergelyk 2 Korinthiërs 8:16-24.) Gajus het Demetrius miskien nie goed geken nie, of hom glad nie geken nie, maar ander Christene het gunstig gepraat van hom, en “die waarheid self het oor hom “getuienis gegee”. Die dinge wat medegelowiges oor Demetrius gesê het, is deur sy godvrugtige gedrag gestaaf, want hy het sy lewe na Jehovah se vereistes geskik en het ‘die waarheid gelewe’. “Die waarheid” het dus in werklikheid vir Demetrius getuig. So ook die apostel Johannes, en Gajus het geweet dat hy die waarheid praat. (Vergelyk Johannes 19:35; 21:24.) Ondanks Diotrefes se teëstand is die reisende Koninkryksverkondigers gevolglik gasvry ontvang deur Gajus en ander lojale “mede-arbeiders van die waarheid”.

Liefde opvallend onder mede-arbeiders

22. Wat het Johannes gehoop om te doen, in plaas daarvan om meer aan Gajus te skryf?

22 Johannes se afskeidswoorde aan Gajus lewer oorvloedige bewys van die liefde wat onder “mede-arbeiders van die waarheid” bestaan. Hy het gesê:

“Ek het baie dinge gehad om te skrywe, maar ek wil nie met ink en pen aan jou skryf nie. Maar ek hoop om jou gou te sien, en ons sal van mond tot mond spreek. Vrede vir jou! Die vriende groet jou. Groet die vriende by die naam” (3 Johannes 13-15).

Ja, Johannes het baie dinge gehad om aan Gajus te sê, maar hy wou dit nie alles op skrif stel nie. Die apostel het eerder gehoop “om [Gajus] gou te sien” of “dadelik” te sien (Kingdom Interlinear Translation). Dan kon hulle “van mond tot mond spreek” en ’n “intieme” gesprek voer.—Phillips.

23. (a) Wat het Johannes vir sy vriend begeer toe hy Gajus vrede toegewens het? (b) Wat het die apostel geliefde medegelowiges in die slot van Derde Johannes genoem?

23 Johannes het opreg begeer dat Gajus intussen vrede moet geniet—die kalmte wat voortspruit uit ’n intieme verhouding met Jehovah, die rustigheid wat van alle angs ontslae raak en die verstand en hart gerusstel (Filippense 4:6, 7). Die apostel het ten slotte aan Gajus die groete oorgedra van “die vriende”, en aldus na geliefde medegelowiges verwys met ’n uitdrukking wat Jehovah se Getuies vandag nog dikwels gebruik. (Vergelyk Johannes 15:13, 14.) En hoe gepas dat Johannes lede van die plaaslike gemeente so goed geken het dat hy Gajus kon vra om sy groete “by die naam” aan hulle oor te dra!

Hou aan om lojaal as mede-arbeiders te dien

24, 25. Watter nodigheid moet Tweede en Derde Johannes Jehovah se Getuies op die hart druk, en wat moet hierdie briewe ons aanspoor om te doen?

24 Die tweede en derde geïnspireerde brief van Johannes druk hedendaagse Christene dit beslis op die hart dat dit nodig is om mekaar lief te hê, afvalligheid te verwerp, die waarheid aan te hang en die belange van ware aanbidding te bevorder. As Jehovah se Getuies is ons gevolglik vasbeslote om lojaal aan Skriftuurlike waarheid te bly terwyl ons ons Vader se lof besing, die goeie nuus van die Koninkryk verkondig en die aandag vestig op Jesus se lewensbelangrike rol in God se reëling om die mensdom te seën.

25 As Jehovah se Getuies kom ons te staan voor baie beproewinge van ons geloof in hierdie moeilike “laaste dae” (2 Timotheüs 3:1-5). Maar die apostel Johannes se gesonde raad sal ons help om aan te hou om ‘in die waarheid te wandel’ as ons lewenswyse. Laat ons dus navolg wat goed is, ons bes doen om Koninkryksbelange te bevorder en aanhou om lojaal as “mede-arbeiders van die waarheid” te dien—alles tot lof van die wonderlike God van waarheid, Jehovah.

Kan jy hierdie vrae beantwoord?

□ Hoe het Gajus “getrou” ten behoewe van medegelowiges gehandel?

□ Wat kan ons leer uit die slegte weg van Diotrefes?

□ Hoe kan ons, net soos Gajus, lojaal as “mede-arbeiders van die waarheid” dien?

[Prent op bladsy 27]

Gajus het ‘getrou gehandel’ deur sy besoekende broers gasvry te ontvang

[Prent op bladsy 29]

Net soos die Christene van die eerste eeu dien Jehovah se Getuies lojaal saam as “mede-arbeiders van die waarheid”

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel