Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w83 6/15 bl. 19-24
  • Verwerp afvalligheid, hang die waarheid aan!

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Verwerp afvalligheid, hang die waarheid aan!
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Waarheid en liefde noodsaaklik
  • ‘Wandel in die waarheid en liefde’
  • Pas op vir afvalliges
  • Gesindheid teenoor afvalliges
  • Hang die waarheid aan
  • Glanspunte uit die briewe van Johannes en van Judas
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • Hou aan om in goddelike lig te wandel
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
  • Hou aan om die weg van die waarheid te volg
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2020
  • Bybelboek nommer 63—2 Johannes
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
w83 6/15 bl. 19-24

Verwerp afvalligheid, hang die waarheid aan!

“Elkeen wat ’n oortreder is en nie bly in die leer van Christus nie, hy het God nie. Wie in die leer van Christus bly, hý het die Vader sowel as die Seun.”—2 JOHANNES 9.

1, 2. (a) Hoe het Satan soms geprobeer om die lig van die waarheid onder Jehovah se volk uit te doof? (b) Waarom is dit lewensbelangrik dat Jehovah se Getuies afvalligheid verwerp?

JEHOVAH GOD is die bron van geestelike waarheid. Dit is dus tot hom dat die psalmis gepas gebid het: “Stuur u lig en u waarheid” (Psalm 43:3). Die waarheid is gevolglik ’n kenmerk van Jehovah se aanbidders.—Johannes 8:31, 32; 17:17.

2 In ’n poging om die lig van die waarheid onder Jehovah se volk uit te doof, het Satan die Duiwel soms geprobeer om die Christengemeente te verderf deur middel van afvallige leerstellings (2 Korinthiërs 4:1-6; Judas 3, 4). Maar hierdie pogings van hom het misluk omdat getroue getuies van Jehovah afvalligheid verwerp en geestelike waarheid aanhang. Trouens, dit is noodsaaklik om dit te doen as ons ’n intieme verhouding met Jehovah God en Jesus Christus wil behou, want die Christenapostel Johannes is deur God geïnspireer om te skryf: “Elkeen wat ’n oortreder is [vooruitdring, NW] en nie bly in die leer van Christus nie, hy het God nie. Wie in die leer van Christus bly, hý het die Vader sowel as die Seun.”—2 Johannes 9.

3. Watter vrae sal beantwoord word wanneer ons Tweede en Derde Johannes bespreek?

3 Maar wat moet Jehovah se Getuies doen om afvalligheid te weerstaan? En hoe kan hulle Christelike belange as “mede-arbeiders van die waarheid” bevorder? (3 Johannes 8). Vir die antwoorde hierop gaan ons die apostel Johannes se tweede en derde geïnspireerde brief, wat omstreeks 98 G.J. in of naby Efese, Klein-Asië, geskryf is, bespreek.

Waarheid en liefde noodsaaklik

4, 5. (a) Waarom kon die apostel Johannes homself gepas “die ouderling” noem? (b) Wie was “die uitverkore vrou” en haar “kinders”?

4 Johannes het sy tweede brief ingelei met hierdie woorde:

“Die ouderling aan die uitverkore vrou en aan haar kinders—wat ek in waarheid liefhet, en nie ek alleen nie, maar ook almal wat die waarheid leer ken het; ter wille van die waarheid wat in ons bly en by ons vir ewig sal wees.”—2 Johannes 1, 2.

5 Teen die einde van die eerste eeu G.J. was die apostel Johannes inderdaad “die ouderling”, daar hy omtrent 100 jaar oud en ook ’n ouere man met rype geestelike ervaring was. (Vergelyk Galasiërs 2:9.) Met “die uitverkore vrou” het hy moontlik ’n bepaalde gemeente in ’n onvermelde plek bedoel, en die doel van hierdie bewoording was moontlik om vervolgers te verwar. In daardie geval was haar “kinders” geestelike kinders, die lede van daardie gemeente en geesverwekte Christene wat deur God ‘uitverkies’ is vir die hemelse roeping (Romeine 8:16, 17; Filippense 3:12-14). Kuria (Grieks vir “vrou”) kon andersyds die naam van ’n individuele Christin gewees het.

6. (a) Wat is “die waarheid” wat Johannes gemeld het? (b) Hoe bly “die waarheid” in ware Christene en sal dit “vir ewig” by hulle wees?

6 In elk geval, Johannes en alle ander getuies van Jehovah wat “die waarheid” leer ken het, het hierdie ‘uitverkore vrou en haar kinders’ liefgehad. Daardie “waarheid” was die hele versameling leerstellings met Jesus Christus as middelpunt. Redding kon alleenlik verkry word deur daardie “waarheid” aan te hang (Johannes 4:24; Efesiërs 1:13, 14; 1 Johannes 3:23). Een basiese rede waarom getuies van Jehovah in die verlede en vandag liefde onder mekaar het, is omdat hulle ’n gemeenskaplike liefde vir “die waarheid” het. Dit “bly” in hulle aangesien dit in hulle harte bly. Hierdie waarheid sal soos ’n getroue metgesel “vir ewig” by sulke ware Christene bly. Dit is inderdaad ’n kosbare besitting van Jehovah se Getuies van vandag, en hulle dank hulle hemelse Vader daarvoor.

7. Hoe kom genade, barmhartigheid en vrede al drie van God sowel as van Christus?

7 Diegene wat getrou by “die waarheid” bly, is verseker van goddelike seëninge. Waar die apostel hierop wys, het hy bygevoeg:

“Genade, barmhartigheid, vrede sal met julle wees van God die Vader en van die Here Jesus Christus, die Seun van die Vader, in waarheid en liefde” (2 Johannes 3).

Genade of onverdiende goedheid kom van Jehovah sowel as Jesus daar sondige mense “deur [God se] genade sonder verdienste geregverdig [word] deur die verlossing wat in Christus Jesus is” (Romeine 3:23, 24). Die hemelse Vader is eweneens die Bron van barmhartigheid, maar dit kom deur Christus na onvolmaakte mense (Hebreërs 4:14-16; Judas 20, 21). Om daarbenewens vrede met Jehovah te geniet, moet versoening gedoen word vir sondaars se oortredinge, en dit is moontlik gemaak deur Jesus se dood as ’n losprysoffer.—Kolossense 1:18-20.

8. Wat kon die woorde “in waarheid en liefde” in 2 Johannes 3 bedoel het?

8 Johannes het die woorde “in [of “met”] “waarheid en liefde” bygevoeg (NW). Hy kon dus gesê het dat ware Christene genade, barmhartigheid en vrede ‘saam met waarheid en liefde’ geniet. Of Johannes kon bedoel het dat Jehovah se knegte hierdie seëninge sou ontvang mits hulle in die waarheid gebly het en voortgegaan het om liefde te openbaar.

‘Wandel in die waarheid en liefde’

9, 10. (a) Waarom het Johannes rede gehad om “baie bly” te wees? (b) Wat het sommige omtrent die waarheid gedoen?

9 Die apostel het ’n rede vir persoonlike blydskap gemeld en ook goeie raad gegee toe hy bygevoeg het:

“Ek was baie bly dat ek van u kinders gevind het wat in die waarheid wandel, soos ons ’n gebod van die Vader ontvang het. En nou bid ek u, uitverkore vrou, nie asof ek u ’n nuwe gebod skryf nie, maar een wat ons van die begin af gehad het: dat ons mekaar moet liefhê.”—2 Johannes 4, 5.

10 Johannes het rede gehad tot groot blydskap omdat sekeres ‘in die waarheid gewandel het’. Hulle het geloof gehad in die naam van Jesus Christus, het mekaar liefgehad en het probeer om die voorbeeld wat God se Seun gestel het, te volg (Hebreërs 12:1-3; 1 Johannes 3:23). As Johannes aan ’n vrou met die naam Kuria geskryf het, dan was van haar vleeslike kinders in die waarheid. Maar as hy “kinders” en “uitverkore vrou” figuurlik gebruik het, kon hy hom verbly omdat sommige lede van die gemeente op daardie onvermelde plek afvalligheid weerstaan, die waarheid aangehang en ’n lewe van getrouheid aan Jehovah gelei het. Lojale Christengetuies van Jehovah het dit inderdaad nog altyd as hulle verpligting beskou om die waarheid aan te hang of daarin te “wandel”. Wat hulle betref, is dit hulle hemelse Vader se gebod, en dit is nie vir hulle swaar nie.—Vergelyk 1 Johannes 5:3.

11. (a) Wat het gehoorsaamheid aan die gebod om ‘mekaar lief te hê’ vereis? (b) Waarom kon Johannes sê dat dit “nie . . . ’n nuwe gebod” was nie?

11 Die apostel het die “vrou” versoek om die gebod “dat ons mekaar moet liefhê” te hou. (Vergelyk 1 Johannes 3:11). Jesus het Jehovah se wil vir godvresende persone gestel toe hy sy dissipels beveel het om ‘mekaar lief te hê soos hy hulle liefgehad het’. Daardie gebod het nie net naasteliefde vereis nie, maar ook ’n selfopofferende liefde wat ’n mens selfs jou lewe vir ander sal laat aflê (Levitikus 19:18; Mattheüs 22:39; Johannes 10:14, 15; 13:34; 15:13). Dit was bindend op Christus se volgelinge “van die begin” van hulle toegewyde verhouding met God af—trouens, vandat Jesus dit gegee het en beslis vanaf die aanvang van die Christengemeente op Pinkster van 33 G.J. In daardie sin was dit dus nie “’n nuwe gebod” nie, net soos Johannes gesê het.

12. Wat het Johannes bedoel toe hy gesê het: “Dit is die gebod . . . dat julle daarin moet wandel”?

12 Met verwysing na liefde het Johannes bygevoeg:

“En dit is die liefde, dat ons wandel volgens sy gebooie. Dit is die gebod soos julle van die begin af gehoor het dat julle daarin moet wandel” (2 Johannes 6).

Ware aanbidders gehoorsaam Jehovah met graagte omdat hulle hom uit hulle hele hart, siel, krag en verstand liefhet (Lukas 10:27). “Van die begin af”, dit wil sê, sedert Jesus se bediening of hulle toewyding aan God, het die mense aan wie Johannes geskryf het die gebod oor liefde gehad. Maar wat het die apostel bedoel toe hy gesê het: “Dit is die gebod . . . dat julle daarin moet wandel”? Hoewel “daarin” betrekking kan hê op die “gebod” oor liefde (The New English Bible), het dit waarskynlik betrekking op die “liefde” self. Hoe dit ook al beskou word, “dat julle daarin moet wandel” het bedoel dat hulle moes voortgaan om liefde aan mekaar te bewys.—1 Johannes 3:18; vergelyk Romeine 13:8-10.

Pas op vir afvalliges

13. (a) Onder wie het die “verleiers” bekeerlinge probeer maak? (b) Watter valse leer het die “verleiers” verkondig?

13 Inspanning sou nodig wees om in die liefde en die waarheid te bly wandel. Johannes het verduidelik waarom toe hy geskryf het:

“Want baie verleiers het in die wêreld ingekom: die wat nie bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het nie. Dit is die verleier en die Antichris” (2 Johannes 7).

Sommige valse leraars het klaarblyklik rondgereis en geprobeer om bekeerlinge onder ware Christene te maak. (Vergelyk Handelinge 20:30.) Hoewel hierdie bedrieglike “verleiers” bely het dat hulle Christene is, wou hulle nie erken dat Jesus Christus as ’n mens in die vlees gekom het nie. Sulke valse leerstellings het Jesus se rol as Messias en vrykoper, asook sy verhewe hemelse posisie, ondergrawe.—Markus 1:9-11; Johannes 1:1, 14; Filippense 2:5-11.

14. Waarom het Johannes die afvalliges “die verleier en die Antichris” genoem?

14 Johannes het hierdie afvalliges “die verleier en die Antichris” genoem omdat hulle leerstellings bedrieglik was en hulle self teen Christus gekant was. Die apostel se vermelding van “baie antichriste” toon dat daar talle individuele vyande van Christus was, hoewel almal saam ’n samegestelde persoon kon uitmaak wat die “Antichris” genoem is (1 Johannes 2:18). Die loëning van Jesus as die Christus en as God se Seun kom neer op die loëning van ieder en elke Skriftuurlike leerstelling oor hom. Getroue getuies van Jehovah verwerp die beskouings van sulke valse leraars geheel en al.

15. (a) Watter “volle loon” sou geesgesalfde Christene ontvang indien hulle ‘op hulle hoede was’? (b) Waarom moet elke getuie van Jehovah teen afvallige leer waak?

15 Aangesien die gevaar bestaan het dat Christene die waarheid kon verlaat en afvallig kon word, het Johannes vermaan:

“Wees op julle hoede, dat ons nie verloor wat ons deur arbeid verkry het nie, maar ’n volle loon ontvang. Elkeen wat ’n oortreder is [vooruitdring, NW] en nie bly in die leer van Christus nie, hy het God nie. Wie in die leer van Christus bly, hý het die Vader sowel as die Seun” (2 Johannes 8, 9).

Deur arbeid soos die verkondiging van die “evangelie” het Johannes en ander Christene vrug “verkry” wat gelei het tot die bekering van die oorspronklike ontvangers van hierdie brief. Maar dit was slegs deur geestelik ‘op hulle hoede’ te wees dat hulle nie die genade, barmhartigheid en vrede van Jehovah en sy Seun, sowel as ewige omgang met almal wat in die waarheid en die liefde saamgebind was, sou “verloor” nie. Indien Johannes se geesgesalfde medegelowiges getrou gebly het, sou hulle voortgaan om lonende diens aan Jehovah te geniet. Toe Johannes van die “volle loon” gepraat het, het hy klaarblyklik bedoel om die hemelse “kroon” wat lojale, gesalfde Christene sou ontvang, daarby in te sluit (Openbaring 2:10; 1 Korinthiërs 9:24-27; 2 Timotheüs 4:7, 8; Jakobus 1:12). Elke getuie van Jehovah moet natuurlik afvallige leer verwerp omdat dit hom van die ewige lewe, hetsy in die hemel of op aarde, kan beroof.

16. (a) Hoe het die afvalliges ‘vooruitgedring’? (b) Hoe het getroue getuies van Jehovah “die Vader sowel as die Seun”?

16 Die afvallige “verleiers” het ‘vooruitgedring’ en het nie ‘in die leer van Christus gebly’ nie omdat hulle nie gebly het by die waarheid wat deur Jesus en sy getroue apostels geleer is nie. Die ketters het ‘God nie gehad’ nie, want hulle was nie in eendrag met Jehovah nie en het geen verhouding met hom gehad nie (1 Johannes 1:5, 6; 2:22-25). Maar getroue getuies van Jehovah ‘bely dat Christus in die vlees gekom het’, want hulle glo in sy losprysoffer en bly by wat hy en sy lojale apostels geleer het (Mattheüs 20:28; 1 Timotheüs 2:5, 6; 2 Johannes 7). Hierdie opregte Christene hang die waarheid aan en het gevolglik “die Vader sowel as die Seun”, omdat hulle hulle ken, hulle eienskappe waardeer en steeds ’n intieme verhouding met hulle geniet.

Gesindheid teenoor afvalliges

17. Hoe moes lojale Christene die “verleiers” volgens 2 Johannes 10, 11 behandel?

17 Christene moet gasvry wees, maar nie jeens afvalliges van die ware geloof nie (1 Petrus 4:9). Johannes het dit duidelik gestel deur te sê:

“As iemand na julle kom en hierdie leer nie bring nie, ontvang hom nie in die huis nie en groet hom nie. Want die een wat hom groet, het gemeenskap aan sy bose werke” (2 Johannes 10, 11).

Die “verleiers” het rondgereis en valse leer daadwerklik versprei. Dit sou natuurlik verkeerd gewees het van enige toegewyde Christen om hierdie valse leraars die hand van gemeenskap te gee deur hulle in sy huis toe te laat. Dit sou ook onvanpas gewees het om die afvalliges te groet, hetsy om hulle welkom te heet by hulle aankoms of hulle “Gods beste seën” toe te wens wanneer hulle vertrek (Authorized Version). Geen lojale Christen wil ’n moedswillige voorstander van valse leer sukses met sy werk toewens nie. ’n Getroue getuie van Jehovah sal dus glad nie sosiaal met so ’n individu verkeer nie.—1 Korinthiërs 5:11-13.

18. Waarom sal ’n lojale getuie van Jehovah ’n afvallige selfs nie eens groet nie?

18 As ’n toegewyde kneg van Jehovah so ’n bedrieglike leraar in sy huis sou ontvang, sou hy boonop “saam skuldig” wees aan die “kwaad” wat daardie persoon doen (NTP). Geen lojale, hedendaagse getuie van Jehovah sal gevolglik ’n uitgesette of gedisassosieerde afvallige groet of hom toelaat om sy Christelike huis te gebruik as ’n plek van waar hy sy dwaalleer kan versprei nie. Daar sal gewis ernstige aanspreeklikheid voor God op ’n gelowige rus as hy gasvryheid betoon het aan ’n afvallige en dit lei tot die geestelike dood van ’n mede-aanbidder van Jehovah.—Vergelyk Romeine 16:17, 18; 2 Timotheüs 3:6, 7.

19. Watter standpunt neem lojale getuies van Jehovah teenoor hedendaagse afvalliges in?

19 Sommige wat eens Jehovah se Getuies was, verwerp nou verskeie Skriftuurlike beskouings wat gebaseer is op die leer van Jesus Christus en sy apostels. Hulle beweer byvoorbeeld dat ons nie in die “laaste dae” lewe nie, ondanks oorweldigende getuienis dat dit wel die geval is (2 Timotheüs 3:1-5). Hierdie afvalliges ‘het van ons uitgegaan omdat hulle nie van ons was nie’ (1 Johannes 2:18, 19). Hulle het gevolglik nie langer gemeenskap met lojale, gesalfde getuies van Jehovah en hulle metgeselle nie, en daarom het hierdie selfsugtige ketters geen “gemeenskap” met die Vader en die Seun nie, al roem hulle ook hoe daarop dat hulle ’n intieme verhouding met God en Christus het. Hulle verkeer eerder in geestelike duisternis (1 Johannes 1:3, 6). Liefhebbers van die lig en die waarheid moet ’n onversetlike standpunt teen hierdie voorstanders van valse leer inneem. Lojale getuies van Jehovah wil geensins medepligtig wees aan die “bose werke” van sulke ontroue persone deur hulle goddelose woorde en dade op enige manier hoegenaamd te steun nie. Laat ons liewer “kragtig . . . stry vir die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is”.—Judas 3, 4, 19.

Hang die waarheid aan

20. Wat het Johannes gehoop om te doen in plaas daarvan om verder te skryf?

20 Nadat Johannes medegelowiges aangespoor het om afvalligheid te verwerp en die waarheid aan te hang, het hy sy tweede geïnspireerde brief afgesluit met die woorde:

“Alhoewel ek baie het om aan julle te skrywe, wou ek dit nie met papier en ink doen nie, maar ek hoop om na julle te kom en van mond tot mond te spreek, sodat ons blydskap volkome kan wees. Die kinders van u uitverkore suster groet u” (2 Johannes 12, 13).

Die apostel het verkies om die dinge wat hy nog in sy hart gehad het nie op skrif te stel nie. Hy het dus die papiruspapier, sy rietpen en die ink (waarskynlik ’n swart mengsel van gom, roet en water) opsygesit. Ondanks sy gevorderde leeftyd het hy gehoop om hulle te besoek en “mond tot mond” met hulle te spreek en aldus intieme kommunikasie te geniet. (Vergelyk Numeri 12:6-8.) Die bejaarde apostel se besoek sou beslis geestelik lonende, onderlinge bemoediging tot gevolg hê en groot genot verskaf.—Vergelyk Romeine 1:11, 12.

21. Wat blyk duidelik uit die slotwoorde van Tweede Johannes?

21 Die Christelike liefde wat Jehovah se aanbidders saambind, blyk duidelik uit die groete wat Johannes oorgedra het. Indien hy aan ’n individu genaamd Kurla geskryf het, het sy klaarblyklik ’n vleeslike suster gehad wie se vleeslike kinders hulle beste wense gestuur het. Maar indien die apostel ’n ander gemeente (moontlik in Efese) bedoel het, was die “suster” wat hy gemeld het daardie gemeente as geheel en was die “kinders” die individuele lede daarvan.

22. (a) Wat help Johannes se tweede geïnspireerde brief Jehovah se Getuies om te doen? (b) Watter saak moet nog bespreek word?

22 ln sy tweede geïnspireerde brief het Johannes reguit liefdevolle raad gegee wat medegelowiges sou help om afvalligheid te verwerp en die waarheid aan te hang. Met God se hulp is dit presies wat Jehovah se Getuies van vandag vasbeslote is om te doen. Maar ons moet ook Christelike belange as behulpsame “mede-arbeiders van die waarheid” bevorder (3 Johannes 8). Hoe kan dit gedoen word?

Kan jy hierdie vrae beantwoord?

□ Wat beteken dit om ‘in die waarheid te wandel’?

□ Watter valse leer het die “verleiers” versprei?

□ Hoe moet Jehovah se Getuies afvalliges volgens 2 Johannes 10, 11 beskou?

[Prent op bladsy 23]

Lojale getuies van Jehovah het nog altyd afvalligheid verwerp

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel