Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • si bl. 259-260
  • Bybelboek nommer 63—2 Johannes

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Bybelboek nommer 63—2 Johannes
  • “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • INHOUD VAN TWEEDE JOHANNES
  • WAAROM NUTTIG
  • Verwerp afvalligheid, hang die waarheid aan!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
  • Bybelboek nommer 62—1 Johannes
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
  • Glanspunte uit die briewe van Johannes en van Judas
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • Bybelboek nommer 64—3 Johannes
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
Sien nog
“Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
si bl. 259-260

Bybelboek nommer 63—2 Johannes

Skrywer: Die apostel Johannes

Waar geskryf: In of naby Efese

Geskrif voltooi: ca. 98 G.J.

1. Aan wie is Tweede Johannes moontlik geskryf?

JOHANNES se tweede brief is kort—dit was moontlik op ’n enkele papirusvel geskryf—maar is ryk aan betekenis. Dit is gerig “aan die uitverkore vrou en aan haar kinders”. Aangesien “Kuria” (Grieks vir “vrou”) in daardie tyd wel as eienaam bestaan het, meen sommige Bybelgeleerdes dat die brief aan ’n persoon met daardie naam gerig was. Ander dink daarenteen dat Johannes aan ’n Christengemeente geskryf en dit “die uitverkore vrou” genoem het. Hy het dit miskien gedoen om vervolgers te verwar. In daardie geval is die groete van die “suster” wat in die laaste vers gemeld word dié van die lede van ’n ander gemeente. Die tweede brief was dus nie bedoel om so algemeen in omvang te wees as die eerste nie, want dit is blykbaar òf aan een persoon, òf aan een bepaalde gemeente geskryf.—V. 1.

2. (a) Watter bewyse dui daarop dat die apostel Johannes die skrywer van Tweede Johannes was? (b) Waaruit lei ons af dat die brief omstreeks 98 G.J. in of naby Efese geskryf is, en waardeur word die egtheid daarvan bewys?

2 Daar bestaan geen rede om daaraan te twyfel dat Johannes hierdie brief geskryf het nie. Die skrywer noem homself “die ouderling”. Dit pas beslis by Johannes, nie alleen vanweë sy gevorderde leeftyd nie, maar ook omdat hy, as een van die “pilare” (Gal. 2:9) en die laaste oorlewende apostel, waarlik ’n “ouderling” in die Christengemeente was. Hy was welbekend, sodat sy lesers geen verdere identifikasie sou nodig hê nie. Dat hy die skrywer was, blyk ook uit die ooreenkoms in styl met dié van die eerste brief en Johannes se Evangelie. Soos die eerste brief is die tweede skynbaar omstreeks 98 G.J. in of naby Efese geskryf. McClintock en Strong se Cyclopedia lewer die volgende kommentaar oor Tweede en Derde Johannes: “Die algemene ooreenkoms laat ons vermoed dat die twee briewe kort na die eerste brief uit Efese geskryf is. Hulle het albei betrekking op afsonderlike gedragsaangeleenthede waarvan die beginsels volledig in die eerste brief uiteengesit is.”a Die egtheid van die brief word bewys deur die feit dat Ireneus van die tweede eeu daaruit aangehaal het en dat Clemens van Alexandrië, van dieselfde tyd, dit aanvaar het.b Johannes se briewe word boonop in die Canon Muratori aangegee.

3. Waarom het Johannes die brief geskryf?

3 Soos in die geval van Eerste Johannes is hierdie brief geskryf weens valse leraars se aanval op die Christelike geloof. Johannes wil sy lesers teen sulke mense waarsku sodat hulle hul sal herken en vermy, terwyl hulle aanhou om in onderlinge liefde in die waarheid te wandel.

INHOUD VAN TWEEDE JOHANNES

4. Waarom spoor Johannes sy lesers in die besonder aan om mekaar lief te hê, en hoe moet dié wat vooruitdring en nie by die leer van Christus bly nie, behandel word?

4 Betoon liefde onder mekaar; verwerp afvalliges (v. 1-13). Nadat hy sy liefde in die waarheid vir ‘die uitverkore vrou en haar kinders’ uitgespreek het, skryf Johannes oor sy blydskap om van hulle te vind wat in die waarheid wandel, soos die Vader beveel het. Hy versoek hulle om hulle liefde vir mekaar te toon deur volgens God se gebooie te bly wandel. Want verleiers en antichriste het in die wêreld ingekom, mense wat nie bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het nie. Hy wat vooruitdring en nie bly by die leer van Christus nie, het God nie, maar wie in hierdie leer bly, “hý het die Vader sowel as die Seun”. As iemand kom en nie hierdie leer bring nie, moet hulle hom nie in hulle huis ontvang of selfs groet nie. Johannes het baie dinge om aan hulle te skryf, maar hy hoop om eerder van mond tot mond met hulle te kom spreek, sodat hulle blydskap “volkome kan wees”.—V. 9, 12.

WAAROM NUTTIG

5. (a) Watter situasie wat ons vandag ook sien, het in Johannes se dag ontstaan? (b) Hoe kan ons vandag toon dat ons, soos Johannes, die eenheid van die gemeente waardeer?

5 Dit wil voorkom of daar in Johannes se dag, soos ook vandag, sommige was wat nie daarmee tevrede was om by die duidelike, eenvoudige leerstellings van Christus te bly nie. Hulle wou iets meer hê, iets wat hulle ego sou streel, iets wat hulle sou verhef en op gelyke vlak met wêreldse filosowe sou stel, en hulle was bereid om die Christengemeente te besoedel en te verdeel om hulle selfsugtige doel te bereik. Johannes het groot waarde geheg aan die harmonie van die gemeente wat op liefde en op die regte leer in eendrag met die Vader en die Seun berus. Ons moet vandag net so gesteld wees op die eenheid van die gemeente en selfs weier om om te gaan met of ’n groetwoord te sê aan dié wat afvallig word en ’n ander leer aanhang as wat hulle deur die geïnspireerde Skrif ontvang het. As ons bly wandel volgens God se gebooie, en in die volkome blydskap wat in ware Christelike omgang te vinde is, kan ons verseker wees dat ‘genade, barmhartigheid en vrede met ons sal wees van God die Vader en van die Here Jesus Christus, die Seun van die Vader, in waarheid en liefde’ (v. 3). Johannes se tweede brief onderstreep gewis hoe geseënd sulke Christelike eenheid is.

[Voetnote]

a Herdruk van 1981, Dl. IV, bladsy 955.

b New Bible Dictionary, tweede uitgawe, 1986, onder redaksie van J. D. Douglas, bladsy 605.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel