Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w83 6/1 bl. 25-29
  • Eer die goddelike huweliksreëling!

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Eer die goddelike huweliksreëling!
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Probleme in die huwelik
  • Met ’n ongelowige huweliksmaat
  • Skriftuurlike egskeiding
  • Red die huwelik
  • “Hoerery” gedefinieer
  • Getroude Christene
  • Jou beskouing van seks—Maak dit saak?
    Ware vrede en veiligheid—Hoe kan jy dit vind?
  • Respekteer “wat God . . . onder een juk saamgevoeg het”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) — 2018
  • Egskeiding—Wat sê die Bybel werklik?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Wanneer die huwelik dreig om te verbrokkel
    Die geheim van gesinsgeluk
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
w83 6/1 bl. 25-29

Eer die goddelike huweliksreëling!

JEHOVAH se beskouing van die huwelik word duidelik gestel in ’n aantal tekste, soos: “Wat God dan saamgevoeg het, mag geen mens skei nie” en “Ek [Jehovah] haat egskeiding” (Markus 10:9; Maleagi 2:16). Die groot teëstander, Satan die Duiwel, staan andersyds alles teë wat rein en regverdig is. In hierdie “laaste dae” wanneer “goddelose mense . . . voortgaan van kwaad tot erger”, probeer Satan om al Jehovah se liefdevolle reëlings in ’n slegte lig te stel, onder meer die huweliksreëling (2 Timotheüs 3:1-5, 13; Openbaring 12:9, 12). Met die oog op die tye waarin ons leef, moet Jehovah se Getuies altyd meer vasbeslote wees om God se huweliksreëling lojaal te verdedig en rein te hou.—Genesis 2:24; Spreuke 27:11; Hebreërs 13:4.

Probleme in die huwelik

Solank mense onvolmaak is, sal daar gewis probleme in die huwelik ontstaan (1 Korinthiërs 7:28-34). Maar wanneer albei huweliksmaats gelowiges is, bestaan daar ’n goeie grondslag vir ’n sterk huweliksband omdat Jehovah in aanmerking geneem word. ’n Christelike huwelik word soos “’n driedubbele lyn [wat] nie gou verbreek [word] nie” (Prediker 4:12). As daar ’n mate van onaanpasbaarheid is of ’n ander probleem bestaan, kan Christelike huweliksmaats die saak in gebed na Jehovah neem met die vertroue dat hy sal help. Dit is dikwels moontlik om ’n probleem op te los deur sake kalm te bespreek in die lig van tekste soos 1 Korinthiërs 13:4-8, Efesiërs 5:21-33 en Kolossense 3:12-14, 18, 19. Wanneer die Bybel se raad om ‘net in die Here te trou’ gevolg is, bestaan daar dus ’n goeie grondslag om probleme in die lig van die Skrif op te los.—1 Korinthiërs 7:39.

Indien die saak privaat nie bevredigend opgelos kan word nie, wil die egpaar dalk ’n ouere man in die Christengemeente om advies nader. Met Jehovah se beskouing behoort hulle die huwelik ongeskonde te kan hou en ook die eenheid en liefde te kan aankweek wat God oorspronklik vir huweliksmaats in gedagte gehad het.—Genesis 2:24; Spreuke 31:10-12, 28, 30; Mattheüs 19:4-6.

Met ’n ongelowige huweliksmaat

Die situasie is anders wanneer ’n persoon ’n gelowige word en die huweliksmaat nie op die Koninkryksboodskap reageer nie. ’n Baie goeie huwelik is nietemin moontlik waarin die man en die vrou liefde aan mekaar bewys. En soos die apostel Petrus gesê het, kan die Christin se “reine, godvresende wandel” mettertyd ’n ongelowige man omhaal. ’n Pas bekeerde man kan eweneens mettertyd sy vrou omhaal (1 Petrus 3:1-7). Wanneer daar dieperliggende probleme is, moet die gelowige hulle taktvol en met geduldige volharding hanteer terwyl hy of sy altyd “die vrug van die Gees” openbaar.—Galasiërs 5:22.

In party gevalle is daar moontlik skeltaal, fisiese mishandeling, dreigemente en slae. Maar beteken dit dat die Christelike huweliksmaat die ongelowige moet verlaat? Die apostel Paulus se raad was “dat die vrou nie van die man moet skei [haar man moet verlaat, NW] nie; en as sy tog van hom skei, moet sy ongetroud bly, of haar met haar man versoen; en dat die man sy vrou nie moet verstoot [verlaat, NW] nie.” Soos Paulus toon, sal die behoud van die huwelik enige kinders geestelik tot voordeel strek. Dit kan ook in ’n praktiese sin vir die gelowige ouer en kinders materiële voordele inhou. Maar as die mishandeling ondraaglik word of ’n persoon se lewe in gevaar gestel word, sal die gelowige huweliksmaat dalk verkies om die ander maat te ‘verlaat’. Maar hulle moet probeer om mettertyd “versoen” te raak (1 Korinthiërs 7:10-16). Die ‘verlating’ is egter op sigself nie Skriftuurlike grond om te skei en weer te trou nie; ’n wettige egskeiding of ’n geregtelike skeiding kan nietemin ’n mate van beskerming teen verdere mishandeling bied.

Skriftuurlike egskeiding

Is daar enige omstandighede waaronder ’n Christen verder kan gaan en ’n egskeiding kan kry wat hom toelaat om weer te trou? Onthou, Jesus het vermaan: “Wat God dan saamgevoeg het, mag geen mens skei nie.” Maar hy het voortgegaan en getoon dat daar ’n behoorlike grond vir egskeiding kan wees, want hy het gesê: “Elkeen wat van sy vrou skei, behalwe oor hoerery, en ’n ander een trou, pleeg egbreuk.”—Mattheüs 19:6, 9; kyk ook 5:32.

Beteken dit dat indien ’n Christen moeg word vir ’n huweliksmaat of ‘verlief raak’ op ’n ander persoon, hy vrylik van hoerery gebruik kan maak om ’n ander huweliksmaat te kry? Ongelukkig is hoerery (gewoonlik owerspel) op ’n agterbakse en moedswillige manier gebruik om Skriftuurlike huweliksbande te verbreek in sommige gevalle waar albei huweliksmaat bely het dat hulle gelowiges is. Kan sulke persone so dwaas wees om te dink dat Jehovah nie “die oorlegginge en gedagtes van die hart” ken nie? (Hebreërs 4:12, 13). Sulke persone het skynbaar die beskouing verkry dat hulle moedswillig onsedelik kan wees, vir ’n jaar of wat uitgesit kan word en dan met ’n nuwe huweliksmaat ”berou” kan kry en in die gemeente herstel kan word.

In so ’n geval moet heelwat tyd verloop voordat ouere manne eens daaraan kan dink om ’n aansoek om herstelling te oorweeg. Gewetensgetroue ouere manne sal nie oorhaastig optree nie. Hulle moet baie duidelike bewys sien van die vrugte wat by berou pas. En al word so ’n sondaar mettertyd herstel, sal die ouere manne hom eers na baie jare, indien ooit, vir spesiale voorregte in die gemeente kan aanbeveel, en in elk geval nie voordat die onskuldige huweliksmaat weer trou of sterf nie (1 Timotheüs 3:2, 12). Ons kan besef hoe ernstig Jehovah God hierdie soort beplande owerspel beskou as ons daaraan dink dat owerspelers onder sy regverdige Wet in antieke Israel gestenig moes word (Deuteronomium 22:22). En ongeag wat gemeentes vandag besluit, Jehovah is die finale Regter. “God sal hoereerders en egbrekers oordeel.”—Hebreërs 13:4.a

Red die huwelik

Vir die beskerming van God se volk, en in die hoop dat enige persone met morele probleme hulle tot die Christengemeente vir leiding sal wend om Jehovah se huweliksreëling te eer, gaan ons sekere aspekte omtrent hoerery hier openlik bespreek. Dit word gedoen in ooreenstemming met die Skrif wat selfs sulke delikate en intieme sake openhartig en reguit bespreek.—Vergelyk Levitikus 20:10-23; Deuteronomium 31:12; Mattheüs 5:27, 28; Romeine 1:26, 27; Judas 7.

In plaas daarvan om na ’n verskoning vir ’n egskeiding te soek, moet getroudes na maniere soek om ’n huwelik te red. Indien ’n huweliksmaat hom of haar skuldig maak aan onsedelikheid en berouvol is, kan die onskuldige huweliksmaat besluit om die skuldige te vergewe ten einde die Godgegewe huweliksreëling te bewaar. In so ’n geval kan barmhartigheid betoon word, in navolging van nog een van Jehovah se uitmuntende eienskappe.—Exodus 34:6; vergelyk Nehemia 9:17.

Maar gestel dat die huweliksmaat onberouvol is, uitgesit word en selfs voortgaan op ’n bewese weg van growwe onsedelikheid. Of gestel dat die gesondheid en geestelikheid van die onskuldige huweliksmaat in die gevaar gestel word. Wat dan? Met inagneming van die Skriftuurlike vermaning om die huwelik te red indien dit moontlik is, toon Jesus se woorde wat vroeër uit Mattheüs 19:9 aangehaal is dat daar grond vir egskeiding is—die enigste Skriftuurlike grond vir ’n egskeiding—hoerery.

“Hoerery” gedefinieer

Wat verstaan ons onder “hoerery”? Die Griekse woord in hierdie teks is porneia. Waar dit die saak bespreek het, het Die Wagtoring van 1 Mei 1973, bladsye 215, 216, getoon dat porneia “van ’n wortel kom wat beteken ‘om te verkoop’”. Dit hou dus verband met prostitusie, soos wat in die eerste eeu in talle heidense tempels beoefen is en vandag in bordele bedryf word.

Porneia word wel soms in ’n beperkte sin gebruik vir geslagsomgang tussen ongetroude persone. ’n Voorbeeld van hierdie beperkte gebruik is 1 Korinthiërs 6:10, waar “hoereerders” gemeld word apart van en benewens diegene wat hulle skuldig maak aan ander seksuele euwels soos egbreuk en homoseksualiteit. Maar net vantevore, in 1 Korinthiërs 5:9-11, het Paulus dieselfde woord gebruik toe hy Christene gemaan het om nie met “hoereerders” om te gaan nie. Is dit redelik om te dink dat hy hier slegs onsedelike ongetroude persone bedoel het? Dit kan nie wees nie, want hoofstuk 6 meld ’n klomp ongeoorloofde geslagsgebruike wat vermy moet word, onder meer egbreuk en homoseksualiteit. Judas 7 en Openbaring 21:8, wat toon dat God onberouvolle “hoereerders” beskou as persone wat ewige vernietiging verdien, kan ook nouliks beperk word tot ongetroude persone wat geslagsomgang het. En die bestuursliggaam in Jerusalem se bevel in Handelinge 15:29, dat Christene hulle moet “onthou . . . van hoerery”, moet gesien word as ’n bevel met ’n algemene toepassing.b

“Hoerery” in die breë sin van die woord, en soos dit gebruik is in Mattheüs 5:32 en 19:9, het dus klaarblyklik betrekking op ’n wye reeks onwettige of ongeoorloofde, buite-egtelike geslagsverhoudinge. Porneia sien op die growwe onsedelike gebruik van ten minste een mens se geslagsorgaan (of organe) (hetsy op ’n natuurlike of ’n perverse manier); en ’n ander party moes by die onsedelikheid betrokke gewees het—’n mens van enige geslag, of ’n dier.c Selfbevlekking (al is dit ook hoe onverstandig en geestelik gevaarlik) is gevolglik nie porneia nie. Maar tot vandag toe omvat die uitdrukking porneia al die soorte geslagsomgang wat bedryf word in ’n bordeel, waar seksuele gunste gekoop en verkoop word. ’n Persoon wat na ’n manlike of vroulike prostituut gaan om die een of ander seksuele guns te koop, is skuldig aan porneia.—Vergelyk 1 Korinthiërs 6:18.

Getroude Christene

Wat van geslagsomgang tussen getroudes in die huweliksband? Ouere manne moenie hulle neus in die intieme lewens van getroude Christene steek nie. Maar die Bybel raak beslis hulle lewens. Diegene wat ‘deur die gees wil wandel’, moet nie die Skriftuurlike aanduidings van God se denke ignoreer nie. En hulle sal verstandig wees as hulle leer om alles te haat wat onrein voor Jehovah is, onder meer duidelik verdorwe geslagsgebruike. Egpare moet so optree dat hulle ’n skoon gewete behou, terwyl hulle hulle onverdeelde aandag skenk aan die ontwikkeling van “die vrug van die Gees”.—Galasiërs 5:16, 22; Efesiërs 5:3-5.

Maar gestel dat een huweliksmaat wil hê of selfs eis dat sy of haar huweliksmaat moet meedoen aan ’n duidelik perverse seksgebruik. Wat dan? Die voormelde feite toon dat porneia op onwettige seksuele gedrag buite die huweliksreëling sien. Wanneer ’n huweliksmaat dus iets pervers, soos mondelinge of anale omgang, binne die huwelik op die ander huweliksmaat afdwing, is dit nie ’n Skriftuurlike grond vir ’n egskeiding wat enige van die twee die reg gee om weer te trou nie.d Al kwel die situasie ’n gelowige huweliksmaat, sal daardie persoon se strewe om Skriftuurlike beginsels na te leef Jehovah se seën meebring. In sulke gevalle sal dit nuttig wees as die egpaar die probleem openlik bespreek terwyl hulle veral in gedagte hou dat geslagsomgang eerbaar, heilsaam en ’n blyk van tere liefde moet wees. Dit sluit beslis enigiets uit wat ’n mens se huweliksmaat kan kwel of benadeel.—Efesiërs 5:28-30; 1 Petrus 3:1, 7.

Soos reeds gesê is, is dit nie ouere manne se taak om die private huweliksaangeleenthede van egpare in die gemeente te reguleer nie. Maar indien dit bekend word dat ’n lid van die gemeente perverse geslagsomgang binne die huwelik beoefen of dit openlik voorstaan, sal daardie persoon beslis nie onberispelik wees nie, met die gevolg dat hy nie spesiale voorregte soos diens as ’n ouere man, ’n bedieningskneg of ’n pionier sal kan geniet nie. So ’n gebruik en die aanbeveling daarvan kan selfs daartoe lei dat hy uit die gemeente gesit word. Waarom?

Galasiërs 5:19-21 meld talle euwels wat nie as porneia geklassifiseer word nie, en wat ’n mens ongeskik kan maak vir God se koninkryk. Dit sluit “onreinheid” (Grieks, akatharsia, wat smerigheid, verdorwenheid, onkuisheid aandui) en “ongebondenheid” (Grieks, aselgeia, wat bandeloosheid, roekeloosheid, skaamtelose gedrag aandui) in. Net soos porneia, kan hierdie euwels, wanneer hulle ernstige afmetings aanneem, grond vir uitsetting uit die Christengemeente wees, maar nie om ’n Skriftuurlike egskeiding te verkry nie. ’n Persoon wat skokkende en walglike geslagsdade skaamteloos voorstaan, sal skuldig wees aan ongebondenheid. ’n Persoon met daardie gesindheid kan natuurlik so laag daal om hom skuldig te maak aan porneia; dan sal daar ’n grondslag vir ’n Skriftuurlike egskeiding wees.e Hoe belangrik moet dit tog vir alle toegewyde Christene wees om al sulke “werke van die vlees” te vermy en daarteen te stry!—Galasiërs 5:24, 25.

Al die lede van Jehovah se volk, hetsy getroud of ongetroud, moet alle soorte onsedelikheid vermy. Hulle moet al Jehovah se reëlings, die huweliksreëling inkluis, lojaal ondersteun (Psalm 18:22-26). Getroudes moet, as “een vlees”, daarna streef om Jehovah te eer deur ware liefde en eerbied in hulle huwelik aan te kweek (Genesis 2:23, 24; Efesiërs 5:33; Kolossense 3:18, 19). Dit is een van die talle maniere waarop hulle kan toon dat hulle “nie van die wêreld is nie”—’n wêreld wat deur Satan in ’n moeras van onsedelikheid en verdorwenheid ingesleep is en wat op die punt staan om ‘met sy begeerlikheid verby te gaan’. Gedagtig aan die feit dat ‘hy wat die wil van God doen, vir ewig bly’, moet almal daarna strewe om God se “wil” ten opsigte van Sy kosbare huweliksreëling te doen.—Johannes 17:16; 1 Johannes 2:17.

[Voetnote]

a Kyk Die Wagtoring van 1 Februarie 1980, bladsye 31 en 32; ook 1 Januarie 1981, bladsy 30.

b Dit is opmerklik dat die eerste definisie van “hoerery” (“fornication”) in Webster’s New Collegiate Dictionary die volgende is: “Menslike geslagsomgang buiten tussen ’n man en sy vrou.” En waar dit “omgang” (heteroseksuele, anale, mondelinge) definieer, sê dit dat “die geslagsorgane van ten minste een persoon” daarby betrokke is. Die Engelse woord “fornication” is dus ’n gepaste vertaling van die Griekse woord porneia.

The New International Dictionary of New Testament Theology sê byvoorbeeld dat porneia “onkuisheid, ontug, prostitusie, hoerery” beteken. Dit sê ook: “Die woordgroep [waarin porneia voorkom] kan verskeie buite-egtelike vorme van seksuele gedrag beskryf in soverre dit afwyk van aanvaarde maatskaplike en godsdienstige norme (bv. homoseksualiteit, promiskuïteit, pedofilie [seksuele misbruik van kinders], en veral prostitusie).” Porneia sluit gevolglik egbreuk (Grieks, moikheia) in, en kan ’n wyer reeks ander onsedelike gebruike buite die huwelik, soos mondelinge of anale seks en bestialiteit, dek.

Die 1979-uitgawe van die gesaghebbende Greek-English Lexicon of the New Testament and Other Early Christian Literature (deur Bauer, Arndt en Gingrich) definieer porneia as “prostitusie, onkuisheid, hoerery, van allerhande soorte ongeoorloofde geslagsomgang”.

c ’n Man of vrou wat met geweld verkrag word, is nie skuldig aan porneia nie.

d Dit is ’n uitbreiding en aanpassing van ons begrip soos gepubliseer in The Watchtower van 15 November 1974, bladsye 703, 704, en in Die Wagtoring van 1 Junie 1978, bladsye 22-24. Diegene wat opgetree het op grond van die kennis wat hulle destyds gehad het, moet nie gekritiseer word nie. Dit sal ook nie die posisie van ’n persoon raak wat in die verlede gemeen het dat ’n huweliksmaat se perverse seksuele gedrag in die huwelik porneia is en gevolglik ’n egskeiding verkry het en nou weer getroud is nie.

e Die Wagtoring van 1 Desember 1973, bladsye 551, 552.

[Prent op bladsy 26]

Die huwelik moet eerbaar en vry van wêreldlike onsedelikheid gehou word

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel