Vrae van lesers
♦ Wat word bedoel met Paulus se woorde in 1 Korinthiërs 14:36: “Het die woord van God van julle uitgegaan, of het dit tot julle alleen gekom?”
Die apostel Paulus het eintlik probeer om die Korinthiërs te help om te besef dat hulle nie nuwe metodes in die gemeente moet invoer nie. Sulke raad was gepas, soos ons kan sien uit wat Paulus vroeër geskryf het.
ln die vroeë dae van die Christelike godsdiens het God wonderdadige gawes van die gees, soos profesieë en talespraak, voorsien (1 Korinthiërs 12:4-11). Party in Korinthe het sulke gawes gehad, maar dit gebruik op ’n wyse wat wanorde geskep het. Hulle het byvoorbeeld in tale gespreek wanneer niemand met die wonderdadige gawe van uitleg teenwoordig was nie. Paulus het geredeneer: “Hoe sal hy wat die plek van ’n onkundige inneem, amen sê . . . aangesien hy nie weet wat jy sê nie?” Ongelowiges wat aanwesig was, kon selfs dink dat diegene wat in tale spreek kranksinnig is.—1 Korinthiërs 14:13-16, 22, 23.
Verwarring is ook geskep omdat etlike persone tegelyk gespreek het. Paulus het vermaan: “As iemand in ’n taal spreek, laat dit dan wees twee of hoogstens drie, en by beurte.” Diegene wat deur die gees beweeg is om te profeteer, moes dit eweneens op ’n beperkte wyse doen en “een vir een”. Dit het gestrook met die feit dat God ’n God van vrede is, nie ’n God van wanorde nie.—1 Korinthiërs 14:27-33.
Daar was skynbaar ook ’n probleem met vroue wat tydens vergaderinge gespreek het. Dit moes meer gewees het as net ’n antwoord op ’n vraag of die verhaling van ’n ondervinding. Party vroue het klaarblyklik probeer om as leraresse op te tree en het tydens die vergaderinge met die broers gestry. Dit was strydig met die beginsel van hoofskap.—1 Korinthiërs 14:34, 35.
Daarom het Paulus geskryf: “Of het die woord van God van julle uitgegaan, of het dit tot julle alleen gekom?” (1 Korinthiërs 14:36). Ja, hy het die Korinthiërs aangespoor om te onthou dat hulle gemeente nie die eerste was nie en dat “die woord van God” nie net aan hulle verkondig is nie. Dit was dus verkeerd van hulle om sake te hanteer op ’n wyse wat drasties verskil het van al die ander gemeentes. Hulle het geen reg gehad om veranderinge in te voer wat vir die Christengemeente vreemd was en strydig was met beginsels van vrede en hoofskap nie.
♦ Hoe moet ons optree ten opsigte van gemeenskapsake of maatskaplike probleme, soos omgewingsbewaring, aangesien Jesus gesê het dat Christene “nie van die wêreld is nie”?
Christene is nie onbewus van gemeenskapsake wat mense oor die algemeen raak, selfs sake soos besoedeling of omgewingsbewaring nie. Maar die mate waarin hulle by sulke dinge betrokke raak, moet bepaal word deur wat die Skrif sê en hulle vernaamste verpligting teenoor God.
Jehovah stel belang in openbare veiligheid en gesondheid, soos ons kan sien uit sy wette aan eertydse Israel. Hy het byvoorbeeld gesê dat gevaarlike vee ingehok moes word, dat oop putte bedek moes word en dat leunings op dakke aangebring moes word om ongelukke te voorkom en die mense daaronder te beskerm (Exodus 21:28-34; Deuteronomium 22:8). Sy belangstelling in die openbare gesondheid blyk duidelik uit wette oor kwarantyn en die wegdoen van drek, wat watervoorrade kon besoedel en siektes kon versprei (Levitikus 13:1-59; Deuteronomium 23:9-14). Wat besoedeling, bewaring en die omgewing betref, sê God se Woord vir ons dat hy ‘die verderwers van die aarde gaan verderf’.—Openbaring 11:18.
Ons moet egter daarop let dat God nie sy knegte—die Israeliete of die Christene—beveel het om hulle vir hierdie sake te beywer nie. Die Jode is nie aangesê om ’n veldtog onder die omliggende nasies te voer vir beter sanitêre reëlings of vir beter gesondheids-of boukodes nie. En daar is ook geen aanduiding dat hulle (of die Christene later) dit gedoen het wanneer hulle in ander lande gewoon het nie. Daarbenewens het God gesê dat HY die een sou wees wat optree teen diegene wat die aarde verderf; hy het nie getoon dat dit die vernaamste werk van ‘sy diensknegte, die profete en die heiliges en die wat sy naam vrees, klein en groot’ moes wees nie.—Openbaring 11:18.
Dit is te verstane dat Christene vandag besef dat daar dinge is wat op die oomblik die lewe vir hulle en die mense om hulle beter kan maak. Hulle is nie ongevoelig vir menslike behoeftes nie; maar hulle waardeer en kweek “mensliewendheid” aan. (Vergelyk Handelinge 28:2, 7-9; Markus 7:24-30.) Dit kan beïnvloed wat hulle doen wanneer sekere kwessies in verband met gemeenskapsverbetering na vore kom. Die mense in ’n sekere buurt kan byvoorbeeld gevra word om hulle mening te lug oor die nodigheid vir meer straatligte of -tekens, nuwe skole of ’n beter watervoorraad en rioolstelsel. Dit sal gewoonlik geen kwaad doen as ’n Christen sy mening oor sulke verbeteringe lug nie. Hy kan selfs meen dat hy ’n versoek of ’n petisie daarvoor kan teken.
Maar Christene moet nooit die feit oor die hoof sien dat belangrike sake wat ’n gemeenskap raak dikwels politieke geskille word nie. Groepe begin om van politieke middele gebruik te maak om die veranderinge te laat aanbring wat hulle opreg meen die beste is. Of ’n politikus (of kandidaat) staan ’n sekere saak voor. Dan kies individue op politieke gebied kant of skaar hulle hulle aan die kant van “hierdie wêreld se heersers, wat vergaan” (1 Korinthiërs 2:6, 8; Openbaring 19:17, 18). As dit met ’n lid van die Christengemeente gebeur het, kan hy die punt bereik waar hy nie langer voldoen aan Jesus se beskrywing nie: “As julle van die wêreld was, sou die wêreld sy eiendom liefhê. Maar omdat julle nie van die wêreld is nie, maar Ek julle uit die wêreld uitverkies het, daarom haat die wêreld julle.” Christus het reguit omtrent sy getroue dissipels gesê: “Hulle is nie van die wêreld nie, net soos Ek nie van die wêreld is nie.”—Johannes 15:19; 17:16.
Daar is moontlik enkele kwessies wat nog nie politieke geskille is waar ons woon nie; of waarvoor die mense in die omgewing hulle beywer sonder om van die politiek gebruik te maak. Pogings om besoedeling te keer, water- en mineraalbronne te bewaar of ongerepte gebiede te beskerm, val moontlik in daardie klas. ’n Mens meen miskien dat daar iets goeds in sulke ondernemings steek, en jy meen dalk dat God die saak ook so beskou. Maar ons moenie vergeet watter werk Jehovah Christene beveel het om op te konsentreer nie: Die verkondiging van die evangelie van die Koninkryk, wat vir miljoene mense dwarsoor die aarde ewige seëninge sal meebring (Mattheüs 24:14; 28:19, 20). As ons daardie werk doen, sal dit voorkom dat ons betrokke raak by dinge wat baie se emosies opgesweep het.
Die feit is dat daardie mensepogings nie dieselfde algemene en blywende, goeie resultate kan hê as hulp aan mense om godvrugtige toewyding te verkry nie, iets wat “nuttig [is] vir alles, omdat dit die belofte van die teenwoordige en die toekomende lewe het” (1 Timotheüs 4:8). Ja, selfs uit ’n utilitaristiese standpunt stig ons die meeste nut deur mense te help om ware Christene te word. Dit kan hulle help om gebruike te vermy wat skadelik is vir die gesondheid. Ons kan hulle help om Bybelbeginsels toe te pas sodat hulle ’n groter aanwins vir hulle gemeenskap is. Maar die grootste seën is dat ons pogings hulle in staat sal stel om ‘die ewige lewe te verwerf’ (1 Timotheüs 6:19). Die voordele wat dit vir hulle inhou, is baie betroubaarder as dié wat kan voortspruit uit maatskaplike of gemeenskapstrewes. En as ons as Christene sorg dat niks ons aandag aflei van die werk wat God aan ons opgedra het nie, sal ons ons gehoorsaamheid aan Jehovah toon, ‘aan wie elke familie sy naam’, gesondheid en toekomsvooruitsigte te danke is.—Efesiërs 3:15, NW.