Eilandprediking wat begin het met ’n wittebroodsreis
Meer as 60 jaar van Koninkryksprediking in die Eilande onder die Wind
SOOS ’n smaraghalssnoer vorm die romantiese Eilande onder die Wind die oostelike grens van die Karibiese See. Dit was in 1920 dat W. R. Brown en sy bruid Montserrat besoek het om die goeie nuus van God se koninkryk te verkondig. Gedurende die jaar het hulle ook vir die mense op die eilande Dominika, Barbados en Grenada getuig.
W. R. Brown het van hulle werk gesê: “Dit was ’n aangename wittebroodsreis in Jehovah se diens.” Twee jaar later het hy aan die Wagtoringgenootskap geskryf: “Met Jehovah se hulp het ek die getuienis op die meeste van die Karibiese Eilande gegee en dissipels in baie gemaak. Moet ek hulle almal weer besoek?” Die antwoord: “Gaan na Sierra Leone, Wes-Afrika, met vrou en kind.”
Dissipelmaakwerk gaan voort
Vandag, meer as 62 jaar na Brown, se besoek, verkondig meer as 700 getuies van Jehovah die “evangelie” dwarsdeur die Eilande onder die Wind. En baie mense toon belangstelling in die Bybel se boodskap.
Beskou die geval van ’n bejaarde vrou op die bergagtige eiland Dominika. Tydens haar Bybelstudie is Psalm 143:1, 10 bespreek. Daar lees ons: “o HERE, hoor my gebed . . . Leer my om u welbehae te doen, want U is my God.” Haar oë het vol trane geskiet en die trane het oor haar wange gerol terwyl sy verduidelik het: “Dit is nou aljare dat ek God smeek om iemand na my toe te stuur om my te help om hom te ken. Ek besef nou dat my gebed verhoor is.”
As gevolg van die aansporing van ’n reisende opsiener het drie jong manne besluit om na ’n afgeleë deel van Dominika te verhuis om die “evangelie” te verkondig. Hulle pogings is ryklik beloon. Na ’n kort rukkie het hulle 16 Bybelstudies gehou. Toe een van die jong manne eenkeer tuis gebly het omdat hy siek was, het belangstellende Bybelstudente na die huis gekom om iemand te vind wat vir hulle die Skrif kon leer.
In ’n afgeleë dorpie in die Dominikaanse reënwoud het ’n Katolieke vrou die boek Die waarheid wat lei tot die ewige lewe by een van Jehovah se Getuies geneem. Meer as ’n jaar lank het dit op die tafeltjie langs haar bed gelê en het sy nou en dan daaruit gelees wanneer sy in die bed was. Eendag het sy gelees: “My kinders, bewaar julleself van die afgode” (1 Johannes 5:21). Beïndruk deur hierdie teks het sy die geliefkoosde beeld van haar “heilige” van sy voetstuk in die hoek afgehaal en dit begin ondersoek na aanleiding van wat sy gelees het. Jare lank het sy voor haar oogappel gebid. Haar kinders is nie toegelaat om in die huis te hardloop nie uit vrees dat hulle die beeld sou steur. Maar nou was daar ’n yslike gat in sy rug waar ’n muis deur die kant en gips gevreet het. Ten aanskoue van haar verbaasde kinders het die vrou die beeld na die werf gedra waar sy dit in die vullisblik stukkend geslaan het.
Nadat hierdie vrou deur die Waarheid-boek gestudeer het met die hulp van ’n Getuie-gesin wat na die eiland teruggekeer het, is sy en haar seun en dogter gedoop. ’n Gesin van ses van dieselfde dorpie het later ’n Bybelstudie aanvaar, en hulle is ook nou gedoopte knegte van Jehovah. Mettertyd het 14 persone aldaar gereeld vergader on die Bybel te bestudeer en vir ander te vertel van die waarheid wat tot die ewige lewe lei.
Verhuising beïnvloed die getuieniswerk
Omdat baie mense tydelik as toeriste of werkers na die Eilande onder die Wind kom, is die uitwerking van Jehovah se Getuies se werk nie altyd hier waarneembaar nie. Dit word gestaaf deur ’n brief wat die Eilande onder die Wind se takkantoor van die Wagtoringgenootskap op Antigua onlangs ontvang het. Die brief het gesê:
Ek wil graag in aanraking kom met ’n suster met wie ek in 1970 begin studeer het. Ek kan nie haar naam onthou nie. Ek was destyds baie kerkvas en het dit glad nie vir haar maklik gemaak nie. Nadat ek Antiga verlaat het en teruggekeer het Mississipi [in die Verenigde State] toe, het ek al hoe meer ontevrede geraak met ons kerk en die baie veranderinge daarin. Twee van Jehovah se Getuies het by my deur aangeklop en ek het weer begin studeer. Ses lede van ons gesin is vandag gedoopte Getuies, en ons twee jongste kinders, onderskeidelik 10 en 8 jaar oud, het ook die waarheid lief. Ek wou hierdie vriendelike suster laat weet dat ek werklik spyt is oor die wyse waarop ek haar behandel het, want ek was baie kortaf. Maar haar pogings was nie tevergeefs nie.”
Jehovah gee die vermeerdering
In die lig van die aanwas in die aantal Koninkryksverkondigers, wou Jehovah se Getuies graag geskikter vergaderplekke, Koninkryksale, bekom. In 1977 is een van die grootste op die eiland, in Antiqua voltooi. Die vier gemeentes aldaar is bly dat hulle dit vir byeenkomste en besondere geleenthede kan gebruik. In verskeie dorpies op die Eilande onder die Wind, het Getuies grond vir sale geskenk, gehelp om bouterreine te ontbos en geld bygedra vir die bouwerk.
Sedert W. R. Brown se vraag of dit raadsaam sou wees om na al die eilande terug te gaan, het Jehovah se Getuies honderdduisende ure gewy aan die verkondiging van die evangelie in die Eilande onder die Wind. Die groot aantal waarlik belangstellende mense onder die 1 905 wat in 1982 die Gedenkmaal van Jesus Christus se dood bygewoon het, getuig van die feit dat dit dringend is om die eilande weer te dek. Baie van hierdie persone het gereelde Bybelstudies in hulle huise saam met Jehovah se Getuies. Op hierdie maniere waarop die Koninkryk verkondig word, hoor hierdie eilande dus steeds die vreugdevolle aankondiging: “[Jehovah] is Koning!”—Psalm 97:1, vgl. NW.
[Kaart/Prent op bladsy 28]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Eilande onder die wind
Atlantiese oseaan
Karibiese see