Kom hedendaagse talespraak van God?
“DIE Skrif leer dat doop met die gees, wat deur talespraak gekenmerk word, vandag in die ware kerk sou plaasvind”, beweer Pinksterprediker Marvin A. Hicks.
“Die fundamentele leerstelling van talespraak is onskriftuurlik en verkeerd”, voer dr. W. A. Criswell van die Eerste Baptistekerk van Dallas aan. Hy voeg by: “As dit die Christelike geloof is, dan is ek nie ’n Christen nie.”
In die lig van sulke meningsverskille oor die gebruik om in tale te spreek, wonder jy dalk: ‘Wat sê die Skrif nou eintlik oor die gawe van tale? Is dit vandag deel van die Christelike godsdiens?’ Om die antwoorde daarop te kry, sal dit nuttig wees om te verstaan waarom die gawe van tale aan die vroeë Christene gegee is.
WAAROM DIE GAWE GEGEE IS
Eerstens, die apostel Paulus verduidelik in Hebreërs 2:2-4 dat die wonderdadige gawes, wat die gawe van tale insluit, aan die eerste-eeuse Christene gegee is om te staaf dat God se guns van die ou Joodse reëling vir aanbidding verplaas is na die pasgestigte Christengemeente. Teen die laaste deel van die eerste eeu, toe party van Jesus Christus se apostels nog gelewe het, was die verskuiwing van goddelike guns deeglik gestaaf.
Dit blyk ook uit Jesus se woorde aan sy dissipels kort voor sy hemelvaart in 33 G.J. dat die gawe van tale ook ’n ander doel gedien het. Hy het gesê: “Julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en Samaria en tot aan die uiterste van die aarde” (Hand. 1:8). Die groepie dissipels het nie persone ingesluit wat al die tale van die aarde gepraat het nie. Maar net soos Jesus belowe het, is die heilige gees 10 dae later, op die Pinksterfeesdag, uitgestort op nagenoeg 120 van sy dissipels wat in ’n bovertrek in Jerusalem byeen was. Die gevolg? Hulle “het begin spreek in ander tale” en kon dus dadelik begin om die toegewese getuieniswerk te doen.—Hand. 2:1-4.
Toe daardie dissipels gedurende die Pinksterfees in Jerusalem getuig het, het die Jode en proseliete wat van ver gekom het om die fees by te woon, gesê: “Hoe hoor ons hulle, elkeen in ons eie taal waarin ons gebore is? . . . ons hoor hulle in ons eie taal oor die groot dade van God spreek” (Hand. 2:8-11). Dit is duidelik dat die tale wat hier gemeld word, bekende tale was, nie brabbeltaal nie. En let daarop dat die gawe gebruik is in ooreenstemming met die doel waarvoor Jesus gesê het die gees gegee sou word, naamlik om vir ander te getuig. Dit het vernaamlik daardie doel gedien, want “daar is op die dag omtrent drieduisend siele toegebring”.—Hand. 2:41.
Nog ’n geval waar die uitgieting van die heilige gees gepaard gegaan het met die gawe van tale, is opgeteken in Handelinge 10:44-46. As jy die verslag lees, sal jy oplet dat die nie-Jood Cornelius en sy huisgesin ook ‘in tale gespreek het’ toe God se gees op hulle uitgestort is. Toe die apostel Petrus kommentaar gelewer het oor wat hy by daardie geleentheid aanskou het, het hy gesê: “Toe ek begin spreek, het die Heilige Gees op hulle geval soos ook op ons in die begin.” Volgens Petrus was die gawe van tale wat by daardie geleentheid geskenk is dieselfde gawe wat verskeie jare tevore op Pinkster geskenk is—’n wonderdadige vermoë om in vreemde tale te spreek. Die Bybel toon dat die gawe van tale wat aan Cornelius en sy huisgesin gegee is Petrus en diegene wat by hom was daarvan oortuig het dat God nou onbesnede nie-Jode in die gemeente aanvaar het. God het nou die Christen-gemeente gebruik.—Hand. 11:15-18.
‘Maar hoe verduidelik jy Paulus se woorde in 1 Korinthiërs 14:2?’ vra party. ‘Daar het Paulus mos gesê: “Want hy wat in ’n taal spreek, spreek nie tot mense nie, maar tot God”?’ Ons moet eerstens daarop let dat Paulus nie hier besig is om private gebed te bespreek nie, maar eerder die gebruik van die gawe van tale tydens ’n gemeentelike vergadering. (Kyk 1 Korinthiërs 14:23.) Daarbenewens strook Paulus se woorde met die doel waarvoor die gawe van tale geskenk is en die beskrywing van die gawe in die boek Handelinge. As jy die hele 14de hoofstuk van 1 Korinthiërs lees, sal jy oplet dat (1) die tale waarna daar verwys word, bekende tale was, nie onverstaanbare spraak nie, en (2) die gawe nie privaat gebruik moes word nie, maar tot voordeel van ongelowiges.
Kom ons lees 1Ko 14 vers 2 in sy geheel. Dit sê: “Want hy wat in ’n taal spreek, spreek nie tot mense nie, maar tot God; want niemand verstaan dit nie, maar deur die Gees spreek hy verborgenhede.” Die Griekse woord wat met “taal” vertaal word, is glōssa, dieselfde woord wat in Handelinge 2:4, 11 gebruik word, waar dit duidelik na bekende tale verwys. Maar verse 13, 16 en 17 van 1 Korinthiërs, hoofstuk 14, bevestig dat sy hoorders hom nie “verstaan” nie: “Daarom moet hy wat in ’n taal spreek, bid dat hy dit kan uitlê. Anders, as jy met die gees dank, hoe sal hy wat die plek van ’n onkundige [of ongelowige; kyk 1Ko 14 verse 22-25.] inneem, amen sê op jou danksegging, aangesien hy nie weet wat jy sê nie? Want jy dank wel goed, maar die ander een word nie gestig nie.”
Eenvoudig gestel, hy wat in ’n taal spreek, spreek tot God eerder as tot mense as die mense wat luister nie verstaan wat hy sê nie. Paulus het nie onverstaanbare spraak bedoel nie, maar vreemde tale wat dit vir ander moontlik was om te verstaan. Maar as geeneen van die aanwesiges die taal kon verstaan nie en daar geen tolke teenwoordig was nie, moes hy wat in die taal spreek, bid dat hy dit kan uitlê en ander, veral die ongelowiges, kan stig of opbou. As daar niemand was wat dit kon uitlê nie, sou dit vir hom beter wees om te swyg, soos die Skrif dan ook sê.—1 Kor. 14:28.
Wat van vandag? Is gawes soos dié van tale dan nie nodig om ‘die teenwoordigheid van die heilige gees in ’n persoon aan te dui nie’?
VANDAG NOG DEEL VAN DIE CHRISTELIKE GODSDIENS?
Die Skrif toon dat die wonderdadige gawes wat aan eerste-eeuse Christene gegee is, slegs tydelik van aard was. “Die liefde vergaan nimmermeer; maar profesieë—hulle sal tot niet gaan; of tale—hulle sal ophou” (1 Kor. 13:8). Bevat die Bybel enige aanduiding oor wanneer die gawes sou ophou? Ja.
Lees gerus self die aangetekende gevalle waar die gawe van tale met die uitgieting van die heilige gees gepaard gegaan het: Handelinge 2:1-4, 14; 10:44-48; 19:6. Jy sal oplet dat een of meer van Jesus Christus se apostels in elke geval teenwoordig was. In Handelinge 8:18 lees ons dat “deur die handoplegging van die apostels die Heilige Gees gegee word”. Dit is dus logies dat die oordra van die gawes van die gees, met inbegrip van die gawe van tale, opgehou het met die dood van die apostels. Die gawe van tale het sy doel gedien. Daar is deeglik bevestig dat die Christengemeente God se guns en steun het. Daarbenewens het die aantal Christene toegeneem en is hulle na baie lande verstrooi, terwyl hulle die “evangelie” met hulle saamgeneem het.—Vergelyk Kolossense 1:23.
‘Maar wat verklaar dan die hedendaagse verskynsels as die gawes opgehou het?’ sal party vra.
“Ons is ook daarvan bewus dat ’n soortgelyke verskynsel onder okkulte/demoniese invloed kan voorkom”, het ’n gesamentlike verklaring deur die Fountain Trust en die Anglikaanse Evangeliese Raad gesê. (Ons kursiveer.)
Is dit moontlik dat hedendaagse talespraak nie van God kom nie? Dit sal weliswaar vir diegene wat beweer dat hulle die gawe het moeilik wees om so iets te aanvaar. Van die 5 000 000 volwasse Amerikaners wat daarop aanspraak maak dat hulle in tale spreek, glo 33 persent nie eens aan die Duiwel as ’n persoonlike wese wat ander kan beinvloed nie. Hoe kan jy dan vir seker weet wat die bron van sulke hedendaagse verskynsels is?
“AAN HUL VRUGTE”
Jesus het die sleutel voorsien om ware Christene te identifiseer toe hy gesê het: “So dra elke goeie boom goeie vrugte” (Matt. 7:17). Ja, daar moet vrugte of blyke wees dat God se heilige gees hulle steun. Dit is insiggewend om te kyk wat die Skriftuurlike blyke daarvan is in die lig van die meningspeiling deur Christianity Today en Gallup wat in Christianity Today se nommer van 22 Februarie 1980 gepubliseer is.
Die Skrif vertel nie van ’n enkele geval waar ’n wonderdadige gawe gegee is aan iemand wat sonde goedgekeur of beoefen het nie. Die eerste-eeuse Christengemeente in Korinthe het persone ingesluit wat voorheen onsedelik was maar wat verander het toe hulle Christene geword het. Hulle het nie langer onsedelike lewens gelei nie (1 Kor. 6:9-11). Maar volgens die meningspeiling keur 19 persent van diegene wat vandag in tale spreek voorhuwelikse omgang goed.
Ware Christene sou die Bybel as die Woord van God respekteer. Jesus Christus het die Skrifte aangehaal en dit as God se woord beskou (Joh. 17:17). Maar volgens die meningspeiling beskou 44 persent van diegene wat in ons dag in tale spreek die Bybel nie as die belangrikste gesag op godsdiensgebied nie.
“Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies”, het Jesus beveel (Matt. 28:19, 20). En hy het voorspel dat die “evangelie” van God se koninkryk “in die hele wêreld tot ’n getuienis” verkondig sou word (Matt. 24:14). Dit is waarmee ware Christene besig moet wees. Maar volgens die meningspeiling praat 51 persent van diegene wat nou in tale spreek nie eens weekliks oor hulle geloof nie, en by 58 persent geniet pogings om ander vir Christus te win nie prioriteit nie.
“Hulle is nie van die wêreld nie”, het Jesus van sy volgelinge gesê (Joh. 17:16). Maar in plaas daarvan om “nie van die wêreld” te wees nie, berig Christianity Today dat persone wat in tale spreek “in politieke affiliasie” “nou ooreenkom met die patroon van die algemene bevolking”.
“Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het”, het Jesus gesê (Joh. 13:35). Die apostel Johannes het bygevoeg dat “ons mekaar moet liefhê; nie soos Kain wat uit die Bose was en sy broer doodgeslaan het nie” (1 Joh. 3:11, 12). Ware Christene het ware liefde vir mekaar. Hulle word nie deur rasse, volks of maatskaplike vooroordeel verdeel nie. Selfs in oorlogstyd weier hulle om medegelowiges in ander lande dood te maak. Is dit waar van die algemene bevolking? Van diegene wat sê dat hulle die gawe van tale het?
Wat toon die getuienis dus? Aangesien diegene wat in tale spreek as ’n groep nie die “vrugte” voortbring wat ware Christene kenmerk nie, is dit duidelik dat diegene wat sê dat hulle die gawe van tale het dit nie van dieselfde bron as die vroeë Christene kon gekry het nie.
Die Skrif bevat sterk waarskuwings wat daarop dui dat ’n ander bron daarvoor verantwoordelik is. Jesus het voorspel: “Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie? En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie” (Matt. 7:22, 23). Die apostel Paulus het gewaarsku dat die tyd sou aanbreek wanneer “kragtige dade” en “wonders van die leuen” volgens die “werking van die Satan” sou plaasvind.—2 Thess. 2:9, 10.
Hoe kan jy dan ware volgelinge van Christus identifiseer as hulle nie die wonderdadige gawe van tale besit nie? Aan hulle “vrugte”, die Skriftuurlike bewyse, wat ons bespreek het.
Ons nooi jou om ondersoek in te stel na die Bybel en dit dan te vergelyk met die leerstellings en gebruike van Jehovah se Getuies. Sien self of die dinge wat jy waarneem jou nie sal beweeg om te sê dat ‘God werklik onder hulle is’ nie.—1 Kor. 14:25.
[Venster op bladsy 7]
“My ervaring was nie van God nie”
“Die teks in 1 Korinthiërs 14:27, 28 . . . het my daarvan oortuig dat my ervaring nie van God was nie. . . . Paulus se raad aldaar . . . was net mooi die teenoorgestelde van wat ek ervaar het. In plaas daarvan om net tot twee of hoogstens drie beperk te wees, het ons groot groepe gehad. Ons het ook niemand gehad wat dit vir ons kon uitlê nie. Wie is dus opgebou?”