Die boek Filemon lewer bewys van Christelikheid in die praktyk
LAAT jou dade met jou woorde strook! Hoe kragtig stel Jesus tog hierdie gedagte waar hy die godsdiensleiers van sy dag veroordeel! (Mattheüs, hoofstuk 23). Maar wat van leraars in die vroeë Christengemeente? Het hulle dade met hulle woorde gestrook? Dat dit wel die geval was, blyk duidelik uit die Bybelboek Filemon.
Die brief aan Filemon is nie aan ’n gemeente gerig nie, maar aan ’n bepaalde persoon, en dit handel oor ’n privaat aangeleentheid. Iets wat dit nog persoonliker maak, is die feit dat Paulus dit self geskryf het in plaas daarvan om ’n sekretaris te gebruik.
Wat was die rede vir hierdie persoonlike brief van Paulus aan Filemon? Die volgende: Paulus het Filemon se slaaf Onesimus na hom teruggestuur. Onesimus het weggeloop, en moontlik selfs geld by Filemon gesteel om vir sy reis na Rome te betaal. Op die een of ander manier het Onesimus in Rome met Paulus in aanraking gekom, na sy boodskap geluister en ’n Christen geword. As sodanig was hy ’n besonder nuttige dienaar vir Paulus, en die apostel het baie geheg geraak aan hom. Maar Paulus wou Onesimus nie sonder Filemon se toestemming daar hou nie. Met Onesimus se goedkeuring het Paulus hom gevolglik teruggestuur na Filemon—nie langer bloot as ’n slaaf nie, maar nou as ’n geliefde broer in die Here.
Dat Onesimus nou ’n broer was wat op prys gestel en vertrou is, blyk ook uit die feit dat Paulus se briewe aan die gemeentes in Efese en Kolosse aan hom en sy metgesel Tichikus toevertrou is (Efesiërs 6:21, 22; Kolossense 4:7-9). In albei hierdie briewe vermaan Paulus diensknegte om aan hulle here gehoorsaam te wees (Efesiërs 6:5-7; Kolossense 3:22, 23). Paulus het dus in ooreenstemming met sy raad opgetree deur Onesimus terug te stuur. Hy het ander se eiendom gerespekteer en het gelewe volgens sy raad om onderdanig te wees aan die bestaande goewermentele bestel.—Romeine 13:1-7; 1 Korinthiërs 7:20-24.
Paulus het ook as ’n voorbeeld gedien van sy eie raad om nederig te wees en liefde aan en besorgdheid oor ander te toon (Efesiërs 4:1-3; Filippense 2:3, 4; Kolossense 3:12-14). In plaas daarvan om Filemon uit hoofde van sy apostoliese gesag te verplig om Onesimus te vergewe en hom as ’n broer te ontvang, het Paulus hom nederig op grond van Christelike liefde en hulle persoonlike vriendskap versoek om dit te doen (Filemon 8, 9, 17). Wat ’n uitstekende voorbeeld vir hedendaagse Christenopsieners!
Filemon het by Paulus in die skuld gestaan, want dit was deur Paulus dat hy die goeie nuus leer ken het en van slawerny aan heidense godsdiens bevry is. Die wet het hom egter steeds toegelaat om Onesimus te mishandel en hardvogtig te behandel. En hy het beslis rede gehad om vir hom kwaad te wees. Paulus het nie alleen vir Filemon aangespoor om vriendelikheid, vergewensgesindheid en barmhartigheid aan die dag te lê nie, maar die apostel was self ook bereid om dit te doen. “As [Onesimus] jou benadeel het of iets skuld, sit dit op mý rekening”, het Paulus geskryf, “ek sal betaal.”—Filemon 18, 19.
Die boek Filemon toon dat die vroeë skrywers en leraars van die Christelike godsdiens beslis volgens Christelike beginsels gelewe het. Hulle dade het met hulle woorde gestrook.