Obseniteit—Is dit werklik skadelik?
DAAR word geraam dat elke vyfde woord wat in party groot stede van die Verenigde State uitgespreek word ’n vloekwoord is. Volgens ’n raming deur die Volksunie teen Godslastering word daar in Italië daagliks meer as ’n miljard vloekwoorde teen God en die kerk geuiter. Swetsery is inderdaad ’n vername tydverdryf op baie plekke.
Dit behoort toegejuig te word, sê Reinhold Aman, redakteur van Maledicta, ’n tydskrif oor onwelvoeglikheid. Hy is die mening toegedaan dat mondelinge aggressie nuttig is aangesien dit verkiesliker is as fisiese aggressie. “Ek wil liewer ’n [*@*@] genoem word as om ’n koeël of mes in my bors te kry”, sê Aman.
Chaytor Mason doen ook ’n goeie woordjie vir lelike woorde en sê: “Swetsery, vloekery of wat jy dit ook al wil noem, is ’n beproefde en doeltreffende metode om uiting te gee aan gevoelens wat weens frustrasie opgekrop het.”
Al hoe meer mense raak verdraagsaam teenoor vloektaal omdat hulle dink dat dit onskadelik is. Hulle meen dat die gebruik van ’n kragwoord wat by die geleentheid pas geregverdig is. Trouens, Seventeen, ’n tydskrif vir tienderjarige meisies, sê: “Elke nou en dan is dit pret om saam met ander meisies of seuns—of wat dit betref, albei groepe—te vergader vir ’n skurwe, kan-jy-hierop-verbeter-swetsfees. Ek dink aan die skatologiese wedstryd wat op die derde vloer van ons vrouekoshuis gehou is. Die vloekwoorde wat daardie aand geuiter is, sou ’n konstabel van die ontugafdellng laat bloos het.”
Stem jy saam dat vloektaal geregverdig is? Is obseniteit werklik skadelik?
‘Net vir die pret’?
Wat is ’n “skatologiese wedstryd”? Volgens Webster’s New Collegiate Dictionary word “skatologie” gedefinieer as: “Die bestudering van uitwerpsels; gevolglik die bestudering van obseniteit.” Wat dink jy van pogings om ander te oortref in die gebruik van skandelike taal?
Die doel van die swetsfeeste waaraan jongmense vandag dikwels deelneem, is baiemaal om die ander persoon se moeder in ’n kan-jy-hierop-verbeter-woorde-wisseling te beledig. Daar is gewoonlik twee opponente, en hulle word omring deur ’n groep vriende wat lag wanneer hulle hoor hoe hulle vriend se moeder deur ’n snediger opponent verneder word. ’n Soortgelyke gebruik is uitskellery. Dit is die gebruik om ander se voorkoms te beskryf deur dit te vergelyk met ’n onaangename dier soos ’n vark, rot of muishond.
Hierdie gebruike, asook skurwe grappe vir vermaak, is baie algemeen. Deur daaraan mee te doen, gee deelnemers te kenne dat onwelvoeglikheid nie so sleg is nie, aangesien ’n mens maar grappe daaroor kan maak. En hulle sê: ‘Kyk hoe baie mense lag.’ Sulke gebruike het ongetwyfeld daartoe bygedra dat liederlike uitdrukkings deel van die alledaagse spraak geword het en dat selfs “professionele” en “gesofistikeerde” persone dit gebruik. Maar is die gebruik van onkuise taal, obseniteit, potensieel skadeliker as wat baie glo?
Die uitwerking van obseniteit
Onkuise woorde is vir die mond wat pornografie vir die oog is. Mondelinge pornografie wek seksuele beelde. Wat kan dus gebeur wanneer ontugtige woorde gereeld gebruik word? Sal die persoon wat dit gebruik nie meer geneig wees om te doen waaroor hy praat nie? Dit is beslis betekenisvol dat die geweldige toename in die gebruik van onkuise taal gepaardgegaan het met die vermeerdering van hoerery, owerspel en homoseksualiteit.
In die lig hiervan kan jy die wysheid van die Bybel se raad insien wanneer dit ons aanspoor: “Daar [moet] van ontug, onsedelikheid in enige vorm, of gierigheid onder julle selfs geen sprake wees nie. Growwe, ligsinnige of vuil praatjies pas nie by julle nie.”—Efesiërs 5:3, 4, NTP.
Die feit is dat die persoon wat hom skuldig maak aan vuil praatjies homself verderf. En hy versprei die verdorwenheid onder ander elke keer wanneer hy onkuise uitdrukkings herhaal. Dit is dus met goeie rede dat die Bybel vermaan: “Maar nou moet julle al hierdie dinge laat staan: woede, haat, nyd en gevloek. Vuil taal moet daar nie uit julle mond kom nie.” “Laat daar geen vuil woord uit julle mond uitgaan nie” (Kolossense 3:8, NTP; Efesiërs 4:29). Dit spoor ons ook aan: “Doen afstand van alle vuiligheid” (Jakobus 1:21). As ’n mens in stryd met hierdie raad optree, haal jy jou God se misnoeë op die hals.
Dink ook hieraan: Is twee mense wat mekaar beledig het se verhouding met mekaar daarna beter? En gestel dat ’n mondelinge belediging wel ’n fisiese bakleiery voorkom. Kan jy dan sê dat die twee persone werklik hulle probleem opgelos het? Nouliks! Vergroot mondelinge beledigings nie eerder die moontlikheid van ’n geveg nie?
Hoe word liefde en begrip dan bevorder? Dit is deur te weier om “kwaad vir kwaad” te vergeld. God se Woord beveel: “Moenie julle wreek nie.” Maar “gee plek vir die toorn” deur die wraak in God se hande te laat. Jou vriendelike woorde en dade teenoor iemand wat beledigend is, sal ‘vurige kole op sy hoof ophoop’ en moontlik sy gesindheid teenoor jou versag. Wees verstandig en pas te alle tye die positiewe Skriftuurlike raad toe: “Seën en moenie vervloek nie.”—Romeine 12:17-20, 14.
Moenie verstrik word nie
Dit is duidelik dat ons voortdurend op ons hoede moet wees sodat ons nie meegesleep word deur die neigings van hierdie oneerbiedige wêreld nie. Nie een van ons is immuun daarteen nie. ’n Skrywer van ’n boek oor vloekery, Burges Johnson, het gesê: “As vloekery gewoonlik ’n woordeskatkwaal is, hoe word dit oorgedra en wie steek dit aan? Die antwoord is maklik: dit is nie alleen aansteeklik nie, maar ook besmetlik, want daar is kieme diep binne-in elkeen van ons.” Die Bybel bevestig dat ons onvolmaakte mense geneig is tot verkeerde en onsedelike dade. Ons moet ons dus inspan om nie onkuise taal te gebruik nie.—Genesis 8:21; Psalm 51:7.
As ons onkuise taal wil vermy, moet ons begin deur te leer hoe om die emosies en dade wat daartoe lei, te beheer. Wat is dit? Die Bybel antwoord: “Alle bitterheid en woede en toorn en geskreeu en lastering moet van julle verwyder word” (Efesiërs 4:31). Voordat jy so kwaad word vir iemand dat jy hom wil vloek, moet jy dus stilstaan en jouself dwing om te konsentreer op die goeie dinge wat jy van daardie persoon afweet. Moenie toelaat dat woede jou beweeg om onkuise taal te gebruik nie. Lê jou daarop toe om gehoorsaam te wees aan die Bybelse bevel: “Laat niks onbeteueld uit julle mond kom nie.”—1 Samuel 2:3, NW.
Die een plek waar jy ’n voorraad regte gedagtes kan vind, is God se Woord, die Bybel. Deur jou verstand met regte gedagtes te vul, sal jy regte begeertes in die hart kweek. Hoe sal dit jou spraak beïnvloed? Jesus het gesê: “Uit die oorvloed van die hart praat die mond.”—Mattheüs 12:34.
Moenie aarsel om om God se hulp te bid en om sy gees te vra nie. Die psalmis het gebid: “HERE, stel ’n wag voor my mond, bewaar die deur van my lippe” (Psalms 141:3). Deur ons waaksaamheid om ons tong te beheers, tesame met God se ondersteuning, sal ons die strik van vloektaal kan vermy.
[Prent op bladsy 6]
Sal jy iemand wat jou vloek met gelyke munt terugbetaal?