Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w83 4/15 bl. 3-5
  • Die eeu van obseniteit

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die eeu van obseniteit
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die toename van obseniteit
  • Wat is die rede?
  • Obseniteit—Is dit werklik skadelik?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
  • Waarom Christene vloektaal moet vermy
    Ontwaak!—1992
  • ‘In ons taal is daar geen vuil taal nie’
    Ontwaak!—2005
  • Is dit regtig so sleg om te vloek?
    Jongmense vra
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
w83 4/15 bl. 3-5

Die eeu van obseniteit

IN DIE fabriek in Cleveland, Ohio, V.S.A., waar Inez gewerk het, was sy die onbetwiste baas van die ‘vloekbekke’. Eendag het Alice per ongeluk teen Inez gestamp. In die daaropvolgende argument het Alice op Inez gevloek. Toeskouers was geskok oor hierdie astrantheid.

Inez het daarop gereageer met ’n string onkuise beledigings. Die aanstootlike vloekwoorde het al hoe luider weerklink en herhaaldelik van die mure af weergalm. Dit het ander werknemers se aandag getrek sodat dié nader gehardloop het om hulle gunsteling aan te spoor. Terwyl vloek na vloek deur die lug weerklink het, het dit aanvanklik gelyk of hulle mekaar se gelyke is.

As gevolg van Inez se groter ervaring en haar vermoë om onkuise uitdrukkings te vermeng en saam te voeg, het sy eindelik die oorhand gekry. Sy het Alice met ’n oënskynlik onbeperkte woordeskat beledigende woorde oorweldig. Alice het bloedrooi en beteuterd stadig weggeloop. Juigkrete kon gehoor word terwyl werkers op hulle tyd na hulle masjiene teruggekeer het. Inez, wat dit as vanselfsprekend aanvaar het, het haar werk kalm hervat.

Sulke voorvalle is vandag nie iets buitengewoons nie. Die taal wat eens met verstokte versonkenes geassosieer is, is nou alledaags. Die gekruide taal van vroue en selfs kinders is nou “aanneemlik”. Kinders gebruik nou deurgaans kragwoorde waarvoor hulle monde in die verlede met seep uitgewas is. En terwyl kragwoorde in druk in die verlede deur sterretjies of aandagstrepe voorgestel is, word hulle nou dikwels vir die leser uitgespel.

Die veranderde beskouing van obseniteit word ook deur rolprente weerspieël. Hulle is nou dikwels vol onwelvoeglike gesprekke en onkuise woorde. Rolprentmakers voeg dikwels sulke taal in sodat hulle rolprente vir “volwasse” gehore gekeur kan word. Die rolprent Annie is byvoorbeeld oorspronklik vir alle gehore goedgekeur, maar die produksieleier was bang dat so ’n keuring nie die publiek sou lok nie. Hy het dus vloekwoorde in die film ingevoeg.

Die toename van obseniteit

Heiligskennende vloekwoorde kom al deur die hele geskiedenis voor. Dit verwys na enige soort taal wat profaneer. Sulke taal toon minagting vir heilige dinge, onder meer God en alles wat met sy eienskappe en weë verband hou. Dit het dikwels die vorm van ’n versoek aan ’n god om ’n ander persoon te vervloek (Engels, “damn”). Of ’n mens kan met profane taal mense of dinge wat deur God as heilig beskou word, skend en beledig. Die Bybel sê egter: “Die HERE sal die een wat sy Naam ydellik gebruik, nie ongestraf laat bly nie.”—Exodus 20:7.

In die laaste jare was daar egter ’n merkbare verandering in vloektaal. Dit het onkuis—obseen—geword en gebruik uitdrukkings wat in verband staan met die geslagsorgane en die gebruik daarvan. Oneerbiedigheid, selfs minagting, word dikwels vir die heiligheid van die huwelik en ouerskap getoon. “Toejuiging by atletiekbyeenkomste op feitlik alle vlakke het verander in die onbeteuelde en uitdruklik seksuele belediging van mededingers”, verduidelik U.S. News & World Report.

Hierdie obseniteit is mondelinge pornografie. Die lug is vandag gevul met sulke spraakbesoedeling. Volgens die tydskrif Time het bofbalafrigter Tommy Lasorda “’n kort futpraatjie aan sy span met 144 obsene uitdrukkings gekrui”. Talle vername politieke leiers gebruik ook onkuise taal. Trouens, met die vrystelling van die Withuisbande het Richard Nixon “expletive deleted” (“vloekwoord uitgewis”) ’n alom bekende uitdrukking gemaak. En hoewel voormalige Amerikaanse president Jimmy Carter bekend is vir sy godsdiensoortuigings, het hy ’n onkuise woord gebruik wat The New York Times geweier het om te druk. Dit het bloot daarna verwys as “’n vulgêre Amerikaanse uitdrukking”.

Party kan nog die dae onthou toe “tawwe tienies” woorde soos “genugtig”, “vervlaks”, “verduiwels” en “verdomd” gebruik het. Maar nou is mondelinge en skriftelike obseniteit aan die orde van die dag sodat ons dit oral teëkom. Jare gelede het ’n skrywer oor vloektaal 14 maniere aangegee waarop die woord “hel” as kragwoord gebruik is. Maar nou gebruik baie mense vulgêre woorde wat seksuele bedrywighede beskryf in feitlik elke sin en pas hulle dit op so te sê elke denkbare saak toe. En hierdie woorde word nie noodwendig geuiter in toorn of weens pyn nie, maar mense vloek nou net omdat vloek vloek is.

Die toename van skurwe taal is oral te sien, van kaartjies met gelukwense tot graffiti. T-hempies, prentplakkate, bufferplakkertjies en knopies met geskrewe onkuise uitdrukkings daarop is feitlik oral te sien. Sulke taal is vir baie mense “byderwets”. U.S. News & World Report het gesê: “Openbare geswets word nou so algemeen aanvaar dat dit moeilik indien nie onmoontlik sal wees om die patroon te verander nie.” Geen wonder dat ons dag “die eeu van obseniteit” genoem word nie!

Wat is die rede?

Die toename van obseniteit hou regstreeks verband met die agteruitgang van tradisionele instellings en norme. “Dit is ’n teken van die tye”, sê een godsdienswoordvoerder. Die verbrokkeling van die gesinstruktuur, die verlies van eerbied vir gesag en die nuwe moraliteit waar ‘enigiets in orde is’, het alles bygedra tot onbeteuelde, onkuise taal wat niks aan die verbeelding oorlaat nie. Sulke taal weerspieël vandag se onsedelike lewenswyse.

Thomas Cottle, ’n psigiatrie-lektor aan Harvard-Universiteit, het gesê: “Mense se lewens is vir hulle vals en onbevredigend, en hulle is woedend. . . . Agter hierdie woede skuil daar aggressiwiteit.” Daar word beweer dat swetsery ’n manier is om van opgekropte woede en frustrasie ontslae te raak. “As iemand op die snelweg voor my inry en ek op hom vloek”, sê Chaytor Mason, ’n kliniese sielkundige, “wys dit vir my dat ek ’n beter mens as hy is en herwin ek van my ego-status.”

Die verwikkelinge in verband met die wyse waarop mense ander slegsê, is betekenisvol. Die Bybel identifiseer dit as bewys dat die einde van ’n goddelose stelsel ophande is. “Dit moet jy weet”, waarsku die Bybel, “in die laaste dae sal daar swaar tye kom. Die mense sal selfsugtig wees . . . beledigend teenoor hulle medemense . . . kwaadpraters, bandeloos.”—2 Timotheüs 3:1-5, NTP.

[Venster op bladsy 4]

Smerige videospeletjies

“Advertising Age” se nommer van 30 Augustus 1982 het gesê dat videospeletjies, slegs vir volwassenes’ nou gemaak word en het verduidelik: “Wulps en sinlik is die enigste manier waarop ’n mens die nuwe speletjies ‘Bachelor Party’, ‘Beat Em’ and ‘Eat Em’ en ‘Custer’s Revenge’ kan beskryf. In laasgenoemde hardloop generaal Custer byvoorbeeld naak deur ’n woestyn vol hindernisse om ’n Indiaanse maagd te bereik en te skend. . . .

“Mnr. Kopels, die hoof van ’n reklameagentskap, het gesê dat hoewel die spel seksgeoriënteerd is, die taamlik swak reproduksie van liggaamsdele op TV-skerms die seksuele impak verswak.

“Mnr. Kopels het voorspel dat speletjies, ‘slegs vir volwassenes’ mettertyd op die rakke van die meeste verkopers van videospelprogrammatuur sal verskyn.

“Mnr. Kopels het gesê dat die verkopers van videokassette wat aanvanklik nie sulke kassette, wou aanhou nie maar moes toegee ‘omdat klante begin het om na die winkel oorkant die straat te gaan wat dit wel aangehou het. Ek meen dat dit ook met die spelkassette sal gebeur.’”

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel