Evangelisasie se plek in ware aanbidding
“Julle geloof [is] nie op die wysheid van mense gegrond nie, maar op die krag van God.”—1 KORINTHIËRS 2:5, NTP.
1. (a) Vir watter werk is Jehovah se Getuies wêreldwyd bekend? (b) Hoe belangrik is hierdie werk?
JEHOVAH SE GETUIES staan wêreldwyd bekend as evangeliedienaars, dit wil sê, draers van goeie nuus. Britse sosioloog J. A. Beckford het dit gemeld in Social Compass van Januarie 1977: “Die Getuies is onder die ywerigste en energiekste evangeliedienaars en proselietemakers in die hedendaagse wêreld.” Hy het bygevoeg: “Alhoewel dit dikwels oor die hoof gesien word, is dit ’n voor-die-hand-liggende rede vir die Wagtoring-beweging se groeikoers.” Maar behaag die Koninkryksprediking en dissipelmaakwerk Jehovah? Die geskiedenis en hedendaagse feite antwoord Ja! Evangelisasie, die verkondiging van die goeie nuus van God se koninkryk, is die onderstutting van die Christelike godsdiens. Dit was en is die kenmerk van God se volk.
2. Wat word met Koninkryksprediking bereik?
2 Wat word met die Koninkryksprediking bereik? Dit stel ’n persoon onder meer in staat om sy liefde en waardering vir die almagtige God en Sy menseskepping sigbaar te openbaar (Mattheüs 22:37-39). En die belangrikste is dat Jehovah se ongeëwenaarde wysheid en merkwaardige krag deur evangelisasie aan ander bekend gemaak word.—Handelinge 1:8; 4:33; Efesiërs 3:10.
Jehovah borg die goeie nuus
3. (a) Waarom kan Jehovah as ’n evangelieverkondiger beskryf word? (b) Wie is die spil van die goeie nuus, en wat was sy opdrag?
3 Jehovah was die eerste Evangelie-verkondiger of draer van goeie nuus. Sy eerste profesie het goeie nuus van verlossing vir die onvolmaakte mensdom deur middel van ’n beloofde “saad” verkondig (Genesis 3:15). Later, met Jesaja as sy profetiese woordvoerder, het God voorspel dat die Messias, Jesus Christus, as die vernaamste lid van die “saad”, “’n blye boodskap [sou] bring aan die ootmoediges” (Jesaja 61:1). Dit was dus Jehovah se doel dat Christus ’n verkondiger van goeie nuus—’n evangeliedienaar—moes wees.
4, 5. Hoe het engele as evangeliedienaars opgetree?
4 Jehovah het ander gemagtig om die goeie nuus te verkondig. Magtige geesskepsele, engele, het ’n aandeel gehad in hierdie werk wat deur God goedgekeur is. Dit is interessant dat in beide Hebreeus en Grieks die woord “engel” letterlik “boodskapper” beteken, en die woord “evangelis” kom van twee Griekse woorde wat beteken “goed” en “engel” (of “boodskapper”). God se engel het byvoorbeeld “vooraf aan Abraham die evangelie verkondig” (Galasiërs 3:8; Genesis 22:15-18). Daardie evangelie of goeie nuus was dat Abraham se geslag die beloofde “saad” sou voortbring en dat al die nasies hulle inderdaad deur daardie “saad” sou seën (Genesis 12:2, 3). Twintig eeue later het die engel Gabriël, wat as ’n evangeliedienaar gedien het, die komende geboorte van Johannes die Doper vir Sagaria aangekondig en gesê: “Ek is gestuur om met jou te spreek en jou hierdie goeie tyding te bring.” Johannes die Doper het die weg vir die vernaamste lid van Abraham se “saad”, Jesus Christus, berei.—Lukas 1:19.
5 Gabriël het weer as ’n evangeliedienaar opgetree toe hy aan Maria verskyn het om aan haar die blye tyding oor Jesus se komende geboorte te bring (Lukas 1:26-38). Maande later is herders verras deur ’n engel-evangeliedienaar wat aangekondig het: “Moenie vrees nie, want kyk, ek bring julle ’n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk sal wees.” Toe het ’n menigte geesskepsele by hierdie engel aangesluit en hierdie goeie tyding bevestig (Lukas 2:8-14). Die buitengewone blyke van God se krag om die goeie nuus deur engele te borg, het nie opgehou met die geboorte van sy Seun nie, maar het deur die eerste-eeuse geskiedenis van die Christengemeente voortgeduur. ’n Engel het die gevange apostels bevry en hulle beveel: “Vertel in die tempel aan die volk al die woorde” (Handelinge 5:20). Daar was engeleleiding om belangstellendes te vind en God se knegte te help (Handelinge 8:26; 10:3; 12:7-11). En die apostel Johannes, wat deur inspirasie gebeure “op die dag van die Here” beskryf het, het ’n gesig gehad van ‘’n engel wat in die middel van die lug vlieg met ’n ewige evangelie om te verkondig’—sodat dit in werklikheid toesig hou oor die globale verkondiging van die Koninkryksboodskap deur Jehovah se aardse knegte.—Openbaring 1:10; 14:6.
Christus se opdrag: Evangeliseer!
6. (a) Watter grondslag het Jesus vir die verkondiging van die goeie nuus gelê? (b) Hoe het Jesus verseker dat die evangelisasiewerk na sy dood sou voortgaan?
6 Waarom het die vroeë Christengemeente met soveel moed en krag getuig? Omdat Christus, as Stigter, God se wysheid en krag gebruik het om ’n stewige organisasie van evangeliedienaars op homself te bou. Christus het dit op twee maniere gedoen. Hy het eerstens sy eie opdrag om “’n blye boodskap te bring aan die ootmoediges” uitgevoer (Jesaja 61:1). En tweedens, hy het persoonlik sy 12 intieme metgeselle opgelei om te preek, en toe het hy nog 70 opgelei. So het Christus ’n sterk kern predikers geskep wat die evangelisasiewerk na sy dood kon voortsit.—Mattheüs 10:5-42; Lukas 10:1-16.
7. Hoe het God se wysheid van menslike wysheid verskil oor hoe om die goeie nuus na mense te bring?
7 Jesus was ’n man van daad in die Koninkryksprediking. Hy het begin evangeliseer omdat hy geweet het dat die mense die goeie nuus van God se koninkryk moes hoor—die nuwe hemelse regering wat duursame vrede op aarde sal bring en alle oorsake van benoudheid sal verwyder. Nadat hy ’n evangelisasiereis deur stede en dorpe voltooi het en gesien het in watter ellendige geestelike toestand die bevolking verkeer het, het hy vir sy dissipels gesê: “Die oes is wel groot, maar die arbeiders min. Bid dan die Here van die oes, dat Hy arbeiders in sy oes mag uitstuur” (Mattheüs 9:37, 38). Jesus het dadelik die daad by die woord gevoeg. Een van sy eerste bevele aan sy apostels was: “Gaan preek en sê: Die koninkryk van die hemele het naby gekom.” Preek vir mense, was sy uitroep. Menslike wysheid sou moontlik die oprigting van ’n burokratiese, maatskaplike program of ’n ondergrondse, revolusionêre raad voorgeskryf het om die verontruste mensdom te sus; maar Christus het God se wysheid uitgedruk. Dit was eenvoudig: “Gaan preek.”—Mattheüs 10:7.
8. Wat was Christus se reaksie toe sy dissipels van hulle predikingswerk teruggekeer het, en waarom?
8 Nadat hy daardie instruksies gegee het, het Jesus met ander gepraat en hulle ook aangesê om te evangeliseer. Toe hierdie predikers met ’n goeie verslag teruggekeer het, was Jesus verheug en het hy gesê: “Ek loof U, Vader, Here van die hemel en die aarde, dat U hierdie dinge verberg het vir wyse en verstandige mense en dit aan kindertjies geopenbaar het” (Lukas 10:21). Hierdie “kindertjies” was Christus se volwasse dissipels, en evangelisasie was hulle instrument om God se waarheid vir ander bloot te lê. Dit was gevolglik nie menslike filosofie of mag wat die ware Christelike godsdiens stewig gegrondves het nie, maar dit was goddelike wysheid en krag soos geopenbaar deur Koninkryksprediking.
Alle dissipels het geëvangeliseer
9. Verstrek voorbeelde van hoe geskiedskrywers toon dat Koninkryksprediking die grondslag van die vroeë Christelike godsdiens was.
9 As die verkondiging van die Koninkryksevangelie die grondslag van die Christelike godsdiens is, moes alle vroeë Christene evangeliedienaars gewees het. Was hulle? Ja! antwoord die geskiedenis. Let op wat die volgende naslaanwerke oor eerste-eeuse Christene sê:
“Iedere en elke Christen was in daardie dae ’n ‘sendeling’.”—History of Western Civilization.
“Hierdie eerste sendingwerk toon dat die vroeë sendingmag glad nie tot die Apostels beperk was nie. Die hele Christelike gemeenskap was eerder gesamentlik daarby betrokke.”—New Catholic Encyclopedia.
“’n Begeerte om oor sy geloof en lewenswyse te getuig, is ’n verwagte kenmerk van elke Christen.”—Encyclopedia Americana.
10. (a) Wanneer het die Christengemeente ’n evangelistiese organisasie geword? (b) Watter wonderdadige gawe het God aan vroeë Christene gegee, en met watter doel?
10 Reg vanaf die oomblik dat die Christengemeente in 33 G.J. in aansyn gekom het, was dit ’n evangelistiese organisasie. Die eerste lidmate daarvan, ongeveer 120 dissipels, het geen tyd verspil om Koninkrykspredikers te word nie. Goddelike geskiedenis deel ons mee: “Hulle is almal vervul met die Heilige Gees en het begin spreek.” Let asseblief daarop dat almal, nie net sommige nie, begin spreek het “oor die groot dade van God” (Handelinge 2:4, 11). Hier was bewys dat God se krag en wysheid daardie ontvanklike aanbidders begaaf het met die verbasende vermoë om te getuig in tale wat hulle nooit op skool geleer het nie. ’n Wonderwerk het die Christengemeente op sy grondslag, die verkondiging van die goeie nuus, tot stand gebring.
11. Hoe het Petrus beklemtoon dat alle Christene predikers moet wees?
11 Later daardie dag het Petrus Joël se profesie op die pasgestigte Christengemeente toegepas: “En in die laaste dae, spreek God, sal Ek van my Gees uitstort op alle vlees, en julle seuns en julle dogters sal profeteer, en julle jongelinge sal gesigte sien, en julle ou mense sal drome droom. En ook op my diensknegte en diensmaagde sal Ek in dié dae van my Gees uitstort, en hulle sal profeteer” (Handelinge 2:17, 18; Joël 2:28, 29). Iedere en elke Christen moes ’n evangeliedienaar wees. Manne, vroue en selfs jongmense sou daadwerklik profeteer of verkondig, spreek, oorloop van God se evangelie.
Evangelisering sluit ’n waarskuwing in
12. Waarom is die boodskap van God se koninkryk nie vir almal goeie nuus nie?
12 Die boodskap van God se koninkryk is nie vir almal goeie nuus nie, want dit sluit ’n waarskuwing oor vernietiging in. Die huidige verdorwe stelsel en al sy ondersteuners moet vernietig word as die goeie nuus enige blywende voordeel moet inhou (Spreuke 21:18). Regskape aanbidders van Jehovah kan nie hierdie aarde in ’n paradys omskep as daar kolle goddeloosheid oorbly om die prag daarvan te bederf nie. Die Borg van die goeie nuus het nie alleen beveel dat “’n jaar van die welbehae” uitgeroep moet word nie, maar ook dat die “dag van die wraak van onse God” verkondig moet word (Jesaja 61:2). Die boodskap van een van die engele wat in Openbaring gemeld word, sluit eweneens hierdie woorde in: “Vrees God en gee Hom heerlikheid, want die uur van sy oordeel het gekom.”—Openbaring 14:7.
13. (a) Wat was die vroeë Christene se gesindheid teenoor evangelisering? (b) Toon met behulp van ’n teks dat die vroeë Christene ’n gevoel van dringendheid gehad het.
13 Die eerste-eeuse Christene het die goeie nuus met ’n gevoel van dringendheid op die vinnigste manier moontlik versprei. Die vroeë Christene is ook deur hierdie kenmerk van die goeie nuus geïdentifiseer. “Die Christelike verwagting van die eindtyd het nooit uit ’n blote passiewe hunkering na die koms van God se koninkryk bestaan nie”, maar “is eerder geopenbaar in ’n ongelooflike aanwending en versnelling van pogings om die wêreld voor te berei vir die wederkoms van Christus en die komende Koninkryk”, sê die Encyclopœdia Britannica. Gemeentes is gereeld vermaan oor die nabyheid van die einde en die nodigheid om gereed te wees. Die apostels het begryp dat evangelisering met bekwame spoed ’n noodsaaklike deel van die Christelike godsdiens moes wees indien al die mense bereik moes word voordat God se dag van wraak aanbreek. Die Christelike godsdiens het gevolglik geweldig vinnig gegroei.—Romeine 10:13, 14; 1 Thessalonicense 5:2, 6; 2 Petrus 3:11-14.
14, 15. Hoe het die dryfkrag van die evangelisasiewerk die geskiedenis beïnvloed?
14 Hoewel die duidelike Koninkryksboodskap na die eerste eeu gedemp en verdraai is, het die verwagting van die einde ’n sterk krag gebly. Volgens party geskiedskrywers is Columbus se ekspedisie na die westelike halfrond in die 15de eeu byvoorbeeld deels beïnvloed deur die opvatting dat Indië gou bereik moes word met die goeie nuus voordat Christus kon terugkeer. Latere bevolkingsverskuiwings, soos die 17de-eeuse Puriteinse emigrasie, die 18de-eeuse verhuising van die Baptiste, die Kwakers en die Metodiste na Amerika, en die 18de- en 19de-eeuse Duitse emigrasie na Rusland en Palestina is deur soortgelyke beskouings geïnspireer.
15 Kan daar gevolglik gesê word dat die evangelisasiewerk waarmee Jesus Christus begin het verreikende en langdurige gevolge gehad het? Die geskiedenis antwoord Ja. Hoewel die evangelistiese dryfkrag nie altyd gerig is soos Christus voorgeskryf het nie, het dit nietemin ’n groot uitwerking op die wêreld gehad. Die Encyclopœdia Britannica sluit sy opsomming van die “Christelike godsdiens” af met hierdie verklaring: “Die Christelike godsdiens is die geestelike krag wat ’n groter uitwerking op die mensegeskiedenis gehad en dit ingrypender verander het as enige ander faktor.”
Hedendaagse evangelisasie
16. (a) Watter gevolgtrekking kan oor eerste-eeuse Christene gemaak word? (b) Watter vraag kan oor hedendaagse getuieniswerk gestel word?
16 ’n Ondersoek van hierdie gewyde en ongewyde geskiedenisverslae laat ons een belangrike gevolgtrekking maak: Alle eerste-eeuse Christene was evangeliedienaars. Om ’n Christen te wees en te bly, moes ’n mens gereeld preek. Het dit dan vandag ’n onverfynde, onsmaaklike manier van aanbidding geword wat nie meer aantrekkingskrag het nie? Moontlik volgens die mens se denke, maar nie volgens God s’n nie.—Spreuke 16:25; Jeremia 8:9.
17. Hoe het Jehovah se Getuies evangelisasie herstel?
17 Die hedendaagse geskiedenis van Jehovah se Getuies toon dat hulle die ware, helder klank van die boodskap van die Koninkryksevangelie ten volle herstel het. In gehoorsaamheid aan Christus se bevel is hulle bedrywig in die omvattendste evangelisasiewerk in die geskiedenis. ’n Globale getuienis moet gelewer word voordat die einde van hierdie stelsel aanbreek (Mattheüs 24:14). Die afgelope 100 jaar was dit Jehovah se Getuies se vernaamste oogmerk. Die eerste nommer van The Watchtower, wat destyds Zion’s Watch Tower and Herald of Christ’s Presence genoem is, het die doel daarvan soos volg uiteengesit:
“Hierdie is die eerste nommer van die eerste jaargang van Zion’s Watch Tower, en dit sal nie onvanpas wees om die doel van hierdie publikasie uiteen te sit nie. Dat ons ‘in die laaste dae’ lewe . . . en graag wil hê dat die ‘huisgenote van die geloof’ terdeë daarvan bewus moet wees.”—Julie 1879.
Later, in 1884, het Jehovah se Getuies as ’n vereniging evangeliedienaars ’n korporasie gevorm. Die doel daarvan is soos volg uiteengesit in artikel twee van sy handves:
“Die doel waarom die korporasie gevorm is, is die verspreiding van Bybelwaarhede in verskeie tale deur die publikasie van traktate, pamflette, tydskrifte en ander godsdiensdokumente, en deur alle ander wettige middele.”
Het hierdie instrumente aan hulle verklaarde doel beantwoord? Die geskiedenis antwoord Ja.
18. Hoe het die evangelisasiewerk van Jehovah se volk die wêreld se aandag getrek?
18 Die evangelisasiewerk van Jehovah se Getuies het die wêreld se aandag getrek. Die nuusmedia, die hoogste geregshowe en geskiedenisboeke het daarvan kennis geneem en dit aangeteken. Van die eerste nommer van Die Wagtoring in een taal, toe 6 000 eksemplare maandeliks gedruk is, tot die huidige nommer waarvan daar 10 050 000 eksemplare in 102 tale gedruk is, het die oplaag daarvan die grootste van enige godsdiens-tydskrif geword. Van ’n paar duisend uur wat jaarliks in die 19de eeu aan die evangelisasiewerk bestee is, was die groei merkwaardig. In 1982 is meer as 384 miljoen uur aan die predikingswerk gewy, is 286 miljoen stukke lektuur versprei, en het meer as anderhalf miljoen gesinne in 205 lande en gebiede gratis Bybelonderrig ontvang. En dit alles is deur ’n betreklik klein getal mense gedoen—2 477 608 in 1982.
19. (a) Aan wie skryf Jehovah se Getuies die welslae van hulle wêreldwye evangelisasiewerk toe? (b) Wat moet jy volgens Mattheüs 10:7 doen as jy ’n evangeliedienaar is?
19 Skryf Jehovah se Getuies hierdie verbasende prestasie aan hulle eie intellektuele vermoëns en krag toe? Nee. Alle eer kom ons wyse en magtige God, Jehovah, die eerste Evangelieverkondiger, toe. Wat gaan jy dus doen? As jy evangelisasie se plek in ware aanbidding sien en opreg begeer om Jehovah te behaag, moet jy gereeld elke week evangeliseer, of soos Jesus gesê het: “GAAN PREEK”!—Mattheüs 10:7.
Kan jy hierdie vrae beantwoord?
◻ Hoe het Jehovah die verkondiging van die goeie nuus geborg?
◻ Watter rol speel engele in die verkondiging van die goeie nuus?
◻ Aan watter werk het Jesus Christus al sy aandag gewy?
◻ Waarom kan ons sê dat ’n mens ’n evangeliedienaar moet wees om ’n ware Christen te wees?
◻ Watter verwagting het verklaarde volgelinge van Christus voortdurend gekoester?
◻ Hoe toon Jehovah se Getuies vandag dat hulle ware evangeliedienaars is?
[Prent op bladsy 9]
Hemelse en aardse evangeliedienaars werk saam om die goeie nuus te verkondig