Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w83 3/15 bl. 15-25
  • Wêreldwye steun vir die Koninkryksgeskil

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wêreldwye steun vir die Koninkryksgeskil
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Jehovah vermeerder die nasie gedurende 1982
  • Pioniers en die goeie nuus
  • “Oorwinnaars”
  • “Koninkrykswaarheid”-Streekbyeenkomste sit iets op tou
  • Getuieniswerk bring Koninkryksvermeerdering
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
  • Die onkreukbare nasie
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Ons verheug ons in ons Grootse Skepper
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Jehovah ,bespoedig dit’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
w83 3/15 bl. 15-25

Wêreldwye steun vir die Koninkryksgeskil

“o HERE, . . . U het die nasie vermeerder, Uself verheerlik; U het al die grense van die land uitgebrei.”—JESAJA 26:15.

1. (a) Hoe het ’n hedendaagse, “nasie” Jesaja 26:2 vervul? (b) Hoe vorm hierdie “nasie” ’n teenstelling met die wêreldlike nasies?

WATTER nasie word op hierdie wyse met uitbreiding deur Jehovah geseën? Dit is “die regverdige nasie . . . wat die trou bewaar” (Jesaja 26:2). Dit is die geestelike nasie van ware Christene wat Jehovah se hemelse gesellin, die “Jerusalem daarbo”, “met een slag” in die jaar 1919 gebaar het. Inteenstelling met die nasies van die aarde en hulle geestelikes, wat die Eerste Wêreldoorlog om wêreldoorheersing gevoer het, gee Jehovah se “nasie” onversetlik hulle steun aan sy Messiaanse Koninkryk wat in 1914 in die hemele opgerig is (Galasiërs 4:26; Jesaja 66:8; Openbaring 11:15-18). Jehovah het hierdie “regverdige nasie” in ’n geestelike paradys van Koninkryksbedrywigheid geplaas en die werk aan hulle opgedra om ’n finale getuienis aan die nasies en volke van die aarde te gee.—Mattheüs 24:14; 25:31-33.

2. Waarom verbly hierdie “nasie” hulle?

2 In vervulling van die profetiese lig in Jesaja 26:1-6 het die lede van di pasgebore nasie ingegaan deur die poorte wat wyd oop gestaan het toe hulle “die berg Sion en die stad van die lewend God, die hemelse Jerusalem genader het (Hebreërs 12:22). Hierdie Koninkrykserfgename slaan vreugdevol ag op die woorde van die lied: “Vertrou op die HERE vir ewig, want in die HERE HERE is ’n ewige rots.” Jehovah het “die nasie vermeerder” tot sy volle ledetal, en hierdie broeders van die heilige nasie loof Jehovah as hulle “rots” en “Soewereine Heer” met die volle vertroue dat hy binnekort sy hele, wonderlike voorneme gaan volbring.—Jesaja 26:15; 25:8, NW.

3. Op watter ander manier is Jehovah verheerlik?

3 In die laaste jare het Jehovah “die grense” van sy teokratiese land nog verder “uitgebrei”. Hy het dit gedoen om plek te maak vir “die skatte” uit al die wêreldlike nasies—’n “groot menigte” wat deel word van sy toegewyde volk. Hulle ‘vervul sy huis met heerlikheid’ daar hulle ook vir sy naam en Koninkryk getuig.—Haggai 2:7; Openbaring 7:8, 15.

Jehovah vermeerder die nasie gedurende 1982

4. (a) Hoe bevat Esegiel 9:1-11 ’n goeie voorbeeld vir diegene wat vandag ’n ‘tekenwerk’ doen? (b) Watter bevrediging kan ons smaak wanneer ons ons diens getrou rapporteer?

4 Terwyl Jehovah se Getuies die Koninkryksgeskil van ganser harte steun, rapporteer hulle hulle maandelikse diens skriftelik. In hierdie opsig is hulle soos die man met die skrywer se inkpot wat in Esegiël 9:1-11 beskryf word en wat die opdrag ontvang het om ’n teken vir oorlewing op mense te maak en wat getrou aan Jehovah verslag gelewer het deur te sê: “Ek het gedoen soos U my beveel het.” Hoe bevredigend kan dit tog wees om ’n goed saamgestelde rapport van die gemeente by die Diensvergaderinge te hoor en te weet dat jou rapport, al was dit dalk net ‘weduwee se oortjie’, daarby ingesluit is! En wanneer ons elke jaar die totale bedrywigheid in die jaarlikse wêreldrapport van Jehovah se Getuies ondersoek, kan dit opwindend wees om na te dink oor die feit dat ons eie rapporte, ongeag hoe klein, deel van daardie geweldige wêreldrapport is!—Markus 12:42.

5. (a) Hoe het Jehovah homself verheerlik ten opsigte van die Wêreldrapport vir die 1982-diens-jaar? (b) Hoe het die werk om ‘dissipels te maak’ vrug gedra?

5 Op bladsye 18-21 sal jy die “WÊRELDRAPPORT VAN JEHOVAH SE GETUIES VIR DIE 1982-DIENSJAAR” vind. Die kosbare naam van die Soewereine Heer Jehovah word inderdaad verheerlik deur hierdie wonderlike diensverslag! As ons na die totale onderaan bladsy 21 kyk, vind ons ’n uiters bemoedigende vermeerdering van 4,2 persent in die getal persone wat elke maand aan die Koninkryksdiens deelneem in gehoorsaamheid aan Jesus se bevel: “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies.” Daar is ook daardie skitterende hoogtepunt van 2 477 608 Getuies wat die een of ander tyd gedurende die jaar die goeie nuus in die “openbaar en van huis tot huis” verkondig het.—Mattheüs 28:19; Handelinge 20:20, NW.

6. Wat is Jehovah se Getuies se vurige hoop ten opsigte van hulle opdrag?

6 Maar Jehovah se Getuies verwag nie om die wêreld te bekeer nie. Hulle Godgegewe opdrag is eerder “om uit te roep ’n jaar van die welbehae van die HERE ’n dag van die wraak van onse God”. Dit is ons vurige hoop en gebed dat nog miljoene van die aarde se wemelende miljarde gunstig op die Koninkryksboodskap sal reageer voordat die “groot verdrukking” van alle skadelike, verderflike elemente ontslae raak. Dan sal “die aarde . . . vol wees van die kennis van die HERE soos die waters die seebodem oordek”.—Jesaja 61:2; Mattheüs 24:14, 21, 22; Jesaja 11:9.

7. Hoe het Jehovah se organisasie voorbereiding getref vir verdere uitbreiding?

7 Omdat Jehovah se Getuies verdere, vinnige uitbreiding van die Koninkrykswerk voorsien, was hulle die afgelope paar jaar druk besig om hulle organisatoriese fasiliteite uit te brei. Die hoofkwartier in Brooklyn, New York, het die kantoorgeriewe te Columbia Heights 25 opgeknap en uitgebrei, en die fabriekswerk by Brooklyn sowel as Watchtower Farms is gerekenariseer en gemoderniseer vir rubberdruk. Meer as 30 van die Genootskap se takke rondom die aarde bou nuwe, groter fasiliteite, waarvan party op die teenoorstaande bladsy afgebeeld word. Jehovah se organisasie is gereed vir verdere vermeerdering en uitbreiding!

8. Watter interessante feite in verband met vermeerderinge in die getal Koninkryksverkondigers het jy gevind toe jy die tabel op bladsye 18-21 ondersoek het?

8 Altesaam 95 lande onder die wat in die Wêreldrapport aangegee word, het in 1982 ’n hoogtepunt in die getal Koninkryksverkondigers bereik, en in party gevalle was dit waarlik mylpale. Die wemelende metropolis Hongkong het byvoorbeeld vir die eerste keer meer as 1 000 bedienaars van die Koninkryk gehad (Jesaja 60:22). Brasilië het vordering gemaak met ’n hoogtepunt van 133 377 in die veld, en het aldus die grootste “kudde” Getuies buitekant die Verenigde State geword (Miga 2:12). As die tweede grootste godsdiensgroep in Katolieke Italië het Jehovah se Getuies ’n vermeerdering van 8 persent geniet en ’n hoogtepunt van 98 172 Koninkryksverkondigers bereik (Markus 4:8, 20). Groot en klein eilande, van Australië tot die Karibiese eilande, het nuwe verkondigerhoogtepunte gehad (Jesaja 42:10). Dit is verblydend om goeie vordering te sien in lande met besondere probleme, soos Argentinië, El Salvador, Pakistan en Uganda (Psalm 91:9, 10). Lande waar Jehovah se organisasie al lank gevestig is, het ook vermeerderinge gehad—Brittanje, Kanada en die Bondsrepubliek van Duitsland. So ook die V.S.A., wat in Augustus ’n hoogtepunt van 613 007 Koninkryksverkondigers bereik het—’n vermeerdering van 8,8 persent.—Handelinge 16:5.

Pioniers en die goeie nuus

9. (a) Wat toon die rapport omtrent vermeerderinge in die pioniergeledere? (b) Waarom word hierdie voorreg aanbeveel by almal wat dit kan doen?

9 Onder hierdie verkondigers van die Koninkryk dwarsoor die wêreld was daar gemiddeld 172 859 wat elke maand gerapporteer het as “pionier -bedienaars wat elke dag etlike ure lank die goeie nuus aan ander verkondig. Vergeleke met die vorige Jaar het dié geledere van hierdie voltydse Werkers met 14 persent toegeneem! En baie ander beplan om hierdie vreugdevolle diens te betree. Is jy een van hulle? Dit sal jou voorwaar in staat stel om net soos dae apostels ‘kragtig te getuig’ aangaande die heerlike seëninge wat voorlê vir almal wat na Jehovah kom en “geloof in onse Here Jesus Christus” beoefen.—Handelinge 2:40; 8:25; 10:42; 20:21, 24; 23:11; 28:23.

10. (a) In watter opsig kan pionierdiens vandag vergelyk word met die Nasireërs se diens in Israel? (b) Hoe het Jehovah se Getuies hulle in verskeie lande waarlik kragtig ingespan?

10 Hoewel hierdie lojale pioniers, onder meer die talle “hulppioniers” (wat net ’n maand of twee in daardie hoedanigheid dien), nie geloftes aflê om voltydse predikers te wees nie, is hulle soos die Nasireërs in eertydse Israel, daar hulle dikwels groot opofferinge moet maak om God te dien. In party lande het Jehovah se knegte hulle waarlik kragtig ingespan om ‘gedurig aan God ’n lofoffer te bring’. In April het Venezuela byvoorbeeld 2 464 hulppioniers gehad—136 persent meer as die vorige hoogtepunt. En in Trinidad was 51 persent van al die verkondigers pioniers. In Junie, in die hartjie van Japan se reënseisoen, het 25 140 pionierdiens gedoen—36 persent van al die Koninkryksverkondigers in daardie land. Hoeveel vreugde en tevredenheid verskaf dit tog wanneer ’n mens jouself verloën ten einde Jehovah meer te loof!—Hebreërs 13:15; Numeri 6:8; Lukas 9:23-25.

11. (a) Waarom moet diegene wat nie pionierdiens kan doen nie, nie mismoedig wees nie? (b) Watter skitterende diensrapport en opkomssyfer toon dat Jehovah se Getuies oral baie bedrywig was?

11 Dit was egter nie net die toegewyde pioniers nie, maar inderdaad die hele “nasie” van geestelike Israel, tesame met hulle miljoene metgeselle wat aan die “groot menigte” behoort, wat in 1982 ’n uiters prysenswaardige poging in Koninkryksprediking aangewend het. Almal het hulle deel bygedra tot die hoogtepunt van 384 856 662 uur wat gedurende die jaar aan velddiens gewy is, en baie het ’n aandeel gehad in die 1 586 293 Bybelstudies wat elke week in die huise van belangstellendes gehou is. By geleentheid van die Gedenkmaal van Jesus se dood, wat op 8 April 1982 gevier is, was die wêreldwye opkoms in 44 953 gemeentes 6 252 787—voorwaar ’n menigte! En mag ons ywerig voortgaan om na die geestelike voeding van al hierdie “skape” om te sien! —Johannes 21:15-17.

12. Watter seën is in Numeri 6:24-26 uitgespreek, en op wie kan dit nou toegepas word?

12 Onmiddellik nadat die wet in verband met die Nasireërs uiteengesit is, het Jehovah Moses ’n seën oor die hele nasie laat uitspreek: “Die HERE sal jou seën en jou behoed; die HERE sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees; die HERE sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou vrede gee.” Hoe pragtig is hierdie woorde tog vandag op Jehovah se heilige nasie, geestelike Israel, van toepassing—en ook op die “menigte mense van gemengde bloed” uit alle nasies wat uitgekom het om Jehovah saam met hulle te dien! Dit is voorwaar aangrypend om te weet dat 138 540 nuwe getuies van Jehovah gedurende die jaar dwarsoor die aarde gedoop is, ’n vermeerdering van 15,6 persent vergeleke met die getal wat die vorige jaar gedoop is. Jehovah se naam is op al hierdie persone gelê, asook op al die ander in die gemeente, sodat Jehovah self “hulle seën”.—Numeri 6:24-27; Exodus 12:38.

“Oorwinnaars”

13, 14. (a) Wat is die situasie van ons broers wat aangegee word onder “28 ander lande”? (b) Hoe kan hulle voorbeeld ons bemoedig?

13 In ’n aantal lande stry Jehovah se Getuies kragtig vir die geloof onder uiters moeilike omstandighede. Weens die wreedheid van die vyand, en om ons broers te beskerm, word party van hierdie plekke nie afsonderlik in die rapport aangegee nie. Maar hulle gesamentlike diensrapport verskyn in die reël bokant die groottotaal, met die opskrif: “28 ander lande.”

14 Die Getuies wie se werk in hierdie rapporte bevat word, is inderdaad “meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefgehad het” (Romeine 8:37-39). Mag bepeinsing oor hulle getroue diens ons ook vasbeslote maak om alle hindernisse te bowe te kom om aan te hou om Jehovah met ons ‘hele hart, siel, verstand en krag’ te dien, terwyl ons ons naaste liefdevol help om dit ook te doen. So kan ons toon dat ons ‘nie ver van die koninkryk van God is nie’.—Markus 12:29-31, 34.

15-17. (a) Watter bemoedigende verslae het ons uit onrusgeteisterde dele van die aarde ontvang? (b) Watter soortgelyke verslae het jy gedurende die afgelope jaar gelees? (c) Wat is Jehovah se Getuies se bede ten opsigte van die heersers?

15 Die vrou van ’n reisende opsiener in Libanon het geskryf: “Wanneer ons die skote van die lugafweerkanonne in die diens hoor, soek ons skuiling in geboue se vooringange, want vyf persone is deur vallende kartets gedood in die gebied waar ons daardie week van huis tot huis gewerk het. Ons het voortdurend tot Jehovah gebid vir sy seën op die komende byeenkoms en ons broers in Wes-Beiroet. Die kringbyeenkoms was op 13 Junie. Tot ons blydskap is daar die vorige dag, op die 12de, ’n skietstaking oor die radio aangekondig, sodat die byeenkoms goed verloop het.” Verslae het later getoon dat geeneen van Jehovah se Getuies destyds in Wes-Beiroet beseer is nie.

16 In ’n land in Sentraal-Amerika, waar die nuwe regering ’n heeltemal verkeerde beskouing van die vreedsame bediening van Jehovah se Getuies het, is al die sendelinge gedeporteer. Een sendelingegpaar is gevange geneem en twee ure lank in ’n geheime skuilplek aangehou, totdat lojale boorling-Getuies hulle opgespoor en die Britse Ambassade vertel het waar hulle was. Die Ambassade het toe reëlings getref vir hulle vertrek. Daar word uit hierdie gebied berig dat die owerheid na “die getroue en verstandige dienskneg” gesoek het, omdat hulle verneem het dat hy toesig hou oor die werk van Jehovah se Getuies.—Mattheüs 24:45-47.

17 In die Afrikaland Zimbabwe het ’n hooggeplaaste regeringsamptenaar ’n politieke vergadering meegedeel: “Solank hulle Jehovah se Getuies is, het ons geen probleme nie. Hulle is nie ons vyande nie. Maar wanneer hulle ophou om Jehovah se Getuies te wees, moet ons ons begin bekommer.” Dit is die bede van God se ware volk dat alle regeringsamptenare so ’n verligte beskouing sal huldig, sodat al Jehovah se Getuies “’n rustige en stil lewe kan lei in alle godsvrug en waardigheid”.—1 Timotheüs 2:1, 2.

“Koninkrykswaarheid”-Streekbyeenkomste sit iets op tou

18. Watter besondere boek is by die “Koninkrykswaarheid”-Streekbyeenkomste vrygestel, en wat is die doel daarvan?

18 In Junie 1982 het die internasionale reeks “Koninkrykswaarheid”-Streekbyeenkomste van Jehovah se Getuies begin. In die V.S.A. alleen was die opkomssyfer van 1 108 022 ’n nuwe hoogtepunt.a By hierdie byeenkomste van 1982 in die V.S.A., asook in ’n aantal ander plekke, is ’n nuwe Bybelstudiehulp vrygestel. Dit is die pragtig geïllustreerde boek met 256 bladsye en met die titel Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe. Dit is nie sommer net ’n prenteboek nie. Dit is ook nie ’n boek wat spesiaal vir kinders geskryf is nie. Die doel van die pragtige prente daarin is om persone van alle ouderdomme te leer, sodat hulle gehelp kan word om daardie lewensreddende eienskap, GELOOF; aan te kweek. Dit was vanweë hulle GELOOF wat stewig gegrond was op juiste kennis van Jehovah, sy Woord en sy voornemens dat lojale getuies van vervloë tye in staat was om oënskynlik onoorkomlike hindernisse te bowe te kom. Dit is deur GELOOF dat ’n “groot menigte” regskape persone vandag die uitdaging van hierdie “laaste dae” die hoof bied en deur die “groot verdrukking” bewaar sal word tot in Jehovah se Nuwe Orde.—Openbaring 7:9, 14; 2 Timotheüs 3:1; Hebreërs 10:38, 39; 11:32-38.

19. Wat dink jy van hierdie boek?

19 Een gesinshoof, wat bly was oor hierdie boek, het gesê: “Dit is waarlik ’n gawe van Jehovah sonder gelyke in die vyf-en-twintig jaar wat ek al in die waarheid is. Die skryfstyl sal by enigiemand byval vind. Die prente is so roerend dat jy elke emosie kan sien wat hulle probeer uitbeeld. God se Koninkryksvoornemens ontplooi op ’n oortuigende wyse.” Hierdie kosbare boek is reeds in 21 tale gedruk en sal nog in baie tale gedruk word.

20. (a) Waarom is dit wenslik dat nog miljoene die waarheid deur hierdie instrument moet leer? (b) Die verwesenliking waarvan kan diegene beleef wat aandag skenk aan Jesaja 26:2, 4?

20 Ons hoop dat nog miljoene persone rondom ons aardbol die waarheid deur die bladsye van hierdie nuwe boek, Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe, sal leer ken en dat hulle hulle standpunt vir die Koninkryk sal inneem wanneer die slotwoorde van die “lied” van Jesaja hoofstuk 26 binnekort vervul word: “Kom, my volk, gaan in jou binnekamers en sluit jou deur agter jou toe, verberg jou vir ’n klein oomblik, totdat die grimmigheid verbygaan. Want kyk, die HERE sal uit sy plek uitgaan om die ongeregtigheid van die bewoners van die aarde oor hulle te besoek.” Nadat die Soewereine Heer Jehovah sy groot naam aldus by Armageddon geregverdig het, sal “die regverdige nasie . . . wat die trou bewaar”, tesame met die “groot menigte” medeaanbidders, ongedeerd uitkom om die verwesenliking van al daardie wonderlike beloftes wat “Jah Jehovah” so getrou in sy Woord laat opteken het, te beleef.—Jesaja 26:2, 4, 20, 21, vgl. NW; Openbaring 7:9, 14; 16:13-16.

[Voetnoot]

a 1981 se “Koninkrykslojaliteit”-Streekbyeenkomste is oor die hele wêreld deur 4 147 256 ingewoon, en 44 357 nuwe Getuies is gedoop.

ln verband met die hedendaagse vervulling van die profetiese “lied” in Jesaja 26:

◻ Vers 2: Wie was die eerste persone wat die Koninkryksgeskil wêreldwyd gesteun het, hoe en met watter gevolg?

◻ Vers 4: Met watter vertroue moet hierdie woorde elke kneg van Jah besiel?

◻ Vers 15: Op watter vervulling dui glanspunte van die Wêreldrapport vir die 1982-diensjaar?

◻ Vers 20: Watter skuilplek voorsien Jehovah, en hoe lank?

◻ Vers 21: Hoe beklemtoon dit die rede waarom Jehovah oordeel gaan voltrek?

[Venster/Prent op bladsy 25]

Jehovah se Getuies oor die hele wêreld was verheug oor die vrystelling van die geïllustreerde boek met 256 bladsye en met die titel “Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe” by hulle “Koninkrykswaarheid”-Streekbyeenkomste. Hierdie boek, wat basiese Bybelleerstellings duidelik uiteensit, vind byval by mense, oud sowel as jonk, wat beter dinge vir ons aarde begeer. Dit sal na verwagting ’n groot rol speel by die verskerping van die Getuies se wêreldwye werk om mense aan te spoor om die Bybel tuis te bestudeer.

[Tabel op bladsye 18-21]

WÊRELDRAPPORT VAN JEHOVAH SE GETUIES VIR DIE 1982-DIENSJAAR

(See bound volume)

[Prent op bladsy 17]

’n Paar van die Wagtoringtakke in Europa wat in 1982 in aanbou was.

ENEBAKK, NOORWEË

HOLBÆK, DENEMARKE

AJALVIR (MADRID), SPANJE

SELTERS, DUITSLAND

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel