Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w85 3/1 bl. 17-22
  • Jehovah ,bespoedig dit’

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Jehovah ,bespoedig dit’
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ‘Geen geweld meer nie’
  • ‘Die kleine sal duisend word’
  • „’n Magtige nasie”
  • Jehovah ,bespoedig dit’
  • ‚Die geringste word ’n magtige nasie’
    Oorlewing tot in ’n nuwe aarde
  • Jehovah se heerlikheid skyn oor sy volk
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2002
  • Ware aanbidding brei wêreldwyd uit
    Jesaja se profesie—Lig vir die hele mensdom II
  • Getuieniswerk bring Koninkryksvermeerdering
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
w85 3/1 bl. 17-22

Jehovah ,bespoedig dit’

„Ekself, Jehovah, sal dit op die regte tyd bespoedig.”​—JESAJA 60:22, NW.

1. Hoe verskil die beskouing van Jehovah se volk van dié van Satan se wêreld, en waarom?

VANDAG word blydskap en jubeling nie net in Jehovah se hemelse organisasie aangetref nie, maar ook dwarsdeur die organisasie van Jehovah se Getuies hier op aarde. Ons blydskap vorm ’n skerp teenstelling met die somberheid wat Satan se wêreld verswelg het (Psalm 144:15). Ons het geestelike voedsel en drank in oorvloed, sodat ons „’n vreugdegeroep aanhef weens die goeie harttoestand” (Jesaja 65:13-19, NW). Ons is nie onkundig omtrent die rede vir die huidige wêreldkrisis nie. Ons hoop op vroeë verlossing deur middel van God se Koninkryk word versterk wanneer ons sien hoe Bybelprofesieë vervul word terwyl Armageddon meedoënloos nader kom. Ons weet dat hierdie „oorlog van daardie groot dag van die almagtige God” presies op „die vasgestelde tyd” sal kom, want die gesig „spoed na die einde en sal nie teleurstel nie”.​—Openbaring 16:14, 16; Habakuk 2:3.

2. Watter toestande heers in Jehovah se organisasie, en watter vraag ontstaan dus?

2 Net soos in die hemel is Jehovah se teokratiese organisasie op die aarde duursaam. En as die Bron van dinamiese energie gee Jehovah ,nuwe krag aan die wat op hom wag’ (Jesaja 40:29-31). Sy organisasie is die ene bedrywigheid en is voortdurend aan die beweeg. (Vergelyk Esegiël 1:15-21.) Die 47 869 gemeentes van Jehovah se Getuies in 203 lande rondom die aarde is goed georganiseer om ywerig voort te gaan met die Koninkrykswerk (Mattheüs 24: 14). Hoe is hierdie dinamiese, aardwye organisasie voortgebring?

3. (a) Hoe is Jesaja 60:17 in hedendaagse tye vervul? (b) Watter soortgelyke reëlings het in Bybeltye voorspoed gebring?

3 „Organisasie” was die titel van die studie-artikels in The Watchtower van 1 en 15 Junie 1938. Dit het Jesaja 60:17 breedvoerig bespreek, waar Jehovah vir sy hemelse organisasie sê: „Vir koper bring Ek goud en vir yster bring Ek silwer, en vir hout koper en vir klippe yster; en Ek sal Vrede as jou owerheid aanstel en Geregtigheid as jou bestuurders.” Hierdie beter toestand het nuwe lewe gegee aan Jehovah se organisasie op aarde. Net soos goud kosbaarder is as koper (en dieselfde geld vir die ander stowwe wat hier gemeld word), so is die teokratiese reëling wat die Wagtoringgenootskap in 1938 aan die gemeentes van God se volk verduidelik het​—en wat heelhartig deur hulle aanvaar is—​baie verkiesliker as die vroeëre demokratiese prosedures. Dit is Skriftuurlik. Dit verseker goeie organisasie terwyl God se werk gedoen word, net soos soortgelyke reëlings in Moses se tyd en in die vroeë dae van die Christengemeente voorspoed gebring het.​—Exodus 18:25; Handelinge 6:3-7; Titus 1:5; 1 Petrus 5:1-3.

4. (a) Hoe is Jehovah se Getuies versterk vir die beproewinge van 1939-45? (b) Wat het bewys dat Jehovah se seën op daardie teokratiese reëling gerus het?

4 In 1938, ’n jaar voor die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog, het „Vrede” en „Geregtigheid” die „owerheid” en „bestuurders” in alle gemeentes geword. ’n Sterk, verenigde organisatoriese reëling het vrugbare vermeerdering tot gevolg gehad. Jehovah het sy verenigde getuies geseën. Ondanks die druk en vervolging van daardie oorlogsjare het hulle getalle feitlik verdubbel, van 71 509 in 1939 tot 141 606 in 1945.

‘Geen geweld meer nie’

5. Hoe verskil Jehovah se volk van die wêreld waar dit by ,vrede’ kom?

5 Maar wat van die tydperk ná die Tweede Wêreldoorlog? Daar het geen vrede onder die nasies van die aarde gekom nie. Na berig word, het meer as 30 000 000 mense gesterf in die „kleiner” oorloë wat sedert 1945 gevoer is. Tot 40 „sakformaatoorloë” het al gelyktydig rondom die aardbol gewoed. Hoe bly is ons tog om saam met ’n organisasie te dien wat geweld verwerp het! (Jesaja 2:4; Spreuke 20:22). As ’n wêreldwye organisasie geniet ons bowendien vrede in ons geledere. Deur met „die God van vrede” te wandel, ondervind ons „die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan”​—Filippense 4:7-9.

6, 7. (a) Wat maak God se volk anders? (b) Hoe word Jesaja 60:18 onder ons vervul? (c) In watter belangrike opsig verskil ons van valse godsdiensbeoefenaars?

6 Aangesien ,vrede’ en ,geregtigheid’ onder Jehovah se volk heers, is ons heeltemal anders as Satan se wêreld. Sommige van ons bure het hiervan kennis geneem en gesê: ,Ons bewonder julle, maar ons hou nie van julle godsdiens nie.’ Maar is dit nie ons godsdiens wat ons gemaak het wat ons is nie? Ons het geen belang by die strydige ideologieë en vyandskappe wat die nasies verdeel nie. Ons tweevoudige belangstelling is eerder (1) om sagmoedige mense te onderrig in die weg van redding deur middel van Christus se Koninkryk en (2) om Jehovah te loof deur sy naam tot ’n getuienis aan alle volke bekend te maak. Ons is „nie van die wêreld nie”.​—Johannes 17: 14, 16.

7 Op hierdie manier het ons ’n aandeel in die vervulling van Jehovah se belofte: „Van geweld sal in jou land nie meer gehoor word nie​—van geen verwoesting of verbreking in jou grondgebied nie; maar jy sal jou mure Heil noem en jou poorte Lof” (Jesaja 60:18). Alle lof kom ons God Jehovah toe! Die godsdiensleiers van die Christendom (en al hulle afvallige bedgenote) verag daardie naam en probeer selfs skynheilig om dit uit hulle vertalings van die Bybel te verwyder. „Maar óns sal wandel in die Naam van [Jehovah] onse God vir ewig en altoos.”​—Miga 4:5.

8. (a) Watter aansporing gee Jehovah sy volk in Jesaja 60:19-21? (b) Deur watter vrugte word Jehovah verheerlik, en hoe?

8 Jehovah moedig ons aan om in sy naam te wandel. In Jesaja 60:19-21 verseker hy sy hemelse organisasie dat hy vir haar „’n ewige lig” sal wees, ’n lig wat selfs helderder skyn as die son en die maan. Hy word haar geestelike sieraad en vervul ook sy belofte aan haar volk: „Jou volk sal almal regverdiges wees, vir ewig sal hulle die land besit​—as lote deur My geplant, ’n werk van my hande, tot my verheerliking.” Jehovah het inderdaad „die land”, of werksfeer, van sy getuies geseën. Dit raak al hoe vrugbaarder namate derduisende nuwelinge hulle aan die kant van die Koninkryk skaar en gehelp word om hulle met die Christelike persoonlikheid te beklee (Kolossense 3:10, 12-14). Dit ,verheerlik’ Jehovah en strek sy kosbare naam tot eer.

9. (a) Hoe seën Jehovah sy getuies in Mexiko, en waarom? (b) Wat het een koerant oor hulle onkreukbaarheid gesê?

9 ’n Onlangse voorbeeld is Mexiko. Gedurende die afgelope twee jaar het die verkondigerhoogtepunt in daardie land van 113 823 tot 151 807 toegeneem​—’n prysenswaardige 33 persent! (Hulle het in 1984 ’n opkoms van 695 369 by die Herdenking van Jesus se dood gehad.) Ons Mexikaanse broers is baie ywerig in die veldbediening. ’n Koerant van Monterrey het ook onlangs melding gemaak van hulle onkreukbaarheid in die neutraliteitskwessie, en het onder meer gesê: „Watter groot respek dwing hulle standvastigheid en moed van oortuiging tog nie by ons af nie. AI word hulle kinders uit die skool gesit, verkies hulle om getrou te bly aan hulle geloof, hulle oortuigings. Hoe sou dit wees as alle Christene so was, sonder die onderskeid van groep of denominasie? Mexiko sou die takkantoor van die hemel wees.”

10. (a) Wat toon dat Jehovah se Getuies vrugbaar is selfs waar hulle werk verbied is? (b) Watter vraag word hier gestel?

10 Jehovah se Getuies hou aan om hierdie vrug van lof voort te bring, selfs in lande waar hulle onophoudelik vervolg word. Hoe opwindend was dit tog om in die verslag oor die 1984-diensjaar te sien dat die verkondigertal in 28 lande waar daar regeringsverbooie of ander beperkings is met 3,1 persent vermeerder het tot meer as ’n kwartmiljoen, en dat pioniers met 23 persent toegeneem het! Kan jy jou voorstel hoe dit moet wees om onder sulke toestande as ’n pionier te dien? Gemiddeld 6 905 van ons broers en susters in hierdie lande doen dit elke maand! Kan jy ’n gewone pionier of ten minste ’n hulppionier word indien jy relatiewe vryheid geniet waar jy woon?​—Vergelyk Lukas 17:5, 6.

‘Die kleine sal duisend word’

11, 12. (a) Wat is die eerste deel van die belofte wat Jehovah nou maak? (b) Meld sommige voorbeelde van ,die kleine wat duisend geword het’. (c) Waarom was daar sulke snelle groei?

11 Oor sy eie kosbare naam maak Jehovah nou ’n drievoudige belofte (Jesaja 60:22, NW). Eers sê hy vir ons: „Die kleine self sal duisend word.” Het jy, telkens wanneer jy die Yearbook of Jehovah’s Witnesses lees, gesien hoe net een Koninkryksverkondiger, of ’n handjievol, die werk begin het in sommige lande waar daar nou duisende is? Die pionierbroer wat die eerste Getuie in Chili was, het byvoorbeeld ’n woonstel gehuur en mense na ’n vergadering op Sondag genooi. Uiteindelik het een belangstellende gekom. Hierdie man het gevra: ,En wanneer sal die ander kom?’ Die pionier het hom verseker: „Hulle sal kom.” En hulle het gekom. Na sowat 50 jaar het daardie kleine 23 985 geword.

12 In Italië het Jehovah se Getuies bittere vervolging onder Mussolini se fascistiese regime deurgemaak. In die na-oorlogse jaar 1946 het net 120 diens gerapporteer. Maar onthou dat daar op Pinkster in die jaar 33 G.J. net ongeveer 120 teenwoordig was. En dink net aan wat toe begin het! (Handelinge 1:15; 2:1-4, 41). Nou is Jehovah se gees in ’n ander opsig in Italië uitgestort. In 38 jaar het die verkondigertal tot ’n hoogtepunt van 119 408 toegeneem, aldus die laaste rapport​—byna-byna ’n duisendvoudige vermeerdering. Soos in so baie Katolieke lande rondom die aarde ondervind Jehovah se Getuies in Italië fenomenale groei.​—Vergelyk Psalm 69:10; Jesaja 63:14.

„’n Magtige nasie”

13, 14. (a) Hoe is die tweede deel van Jehovah se belofte vervul? (b) Hoe is 1 Petrus 2:9 en Jesaja 59:21 in hierdie verband van toepassing? (c) Wat het groter vaart aan ons predikingswerk gegee?

13 Die tweede deel van Jehovah se drievoudige belofte is: „Die geringe [sal] ’n magtige nasie [word].” Dit was inderdaad ’n „geringe”, ’n verstrooide oorblyfsel van gesalfdes, wat in 1919 in Jehovah se „land” van guns herstel is. Maar dit het vermenigvuldig totdat die hele geestelike Israel​—die volle getal van 144 000 Koninkrykserfgename—​ingekom het (Romeine 11:25, 26). As deel van God se „heilige volk” is die gesalfde oorblyfsel op aarde waarlik uit die duisternis geroep tot sy wonderbare lig. Hulle verheug hulle in die voorreg om die deugde van hulle God, Jehovah, te verkondig (1 Petrus 2:9). Hoewel hulle min is, is hulle magtig danksy God se gees. „Wat My aangaan, dit is my verbond met hulle, sê die HERE: My Gees wat op jou is, en My woorde wat Ek in jou mond gelê het, sal uit jou mond nie wyk nie, en ook nie uit die mond van jou kroos en uit die mond van die kroos van jou kroos, sê die HERE, van nou af tot in ewigheid nie.”​—Jesaja 59:21.

14 Met hierdie woorde gee Jehovah ons die versekering dat ons verkondiging van „die evangelie van die goeie” met gewisse sukses bekroon sal word, en ons bid vurig daarvoor in hierdie ,dag van Jehovah’. Ons prediking het vaart gekry namate die figuurlike „kroos” van die gesalfde oorblyfsel, die „groot menigte”, asook hulle „kroos” (nuwelinge wat deur hulle na God se organisasie gerig is) hierdie reddingsboodskap hulle eie gemaak en in die openbaar bely het. Gevolglik neem alle gemeentes steeds in geestelikheid sowel as in getal toe.​—Romeine 10:10, 15; Psalm 118:24, 25; 1 Thessalonicense 3:12.

15. Hoe talryk het God se figuurlike „volk” geword, en waarom is hulle gelukkig?

15 Hoe wonderlik het die Koninkryksvrugte tog in die laaste tyd vermeerder! Met die toevoeging van groot getalle van die „groot menigte” het God se figuurlike volk nou ’n hoogtepunt van 2 842 531 aktiewe Getuies bereik. Hierdie „volk” is talryker as nagenoeg 92 nasies en geopolitiese groeperings van die wêreld. Met vreugde herhaal ons die woorde van die psalmis: „Die raad van [Jehovah] bestaan vir ewig, die gedagtes van sy hart van geslag tot geslag. Welgeluksalig is die nasie wie se God [Jehovah] is, die volk wat Hy vir Hom as erfdeel uitgekies het.”​—Psalm 33:11, 12

Jehovah ,bespoedig dit’

16, 17. (a) Wat toon dat die derde deel van Jehovah se belofte nou vervul word? (b) Hoe word die liefde vir God en Christus geopenbaar? (c) Watter aangename aktiwiteit en gees het gehelp om ,dit te bespoedig’? (d) Hoe is Mattheüs 9:35-38 vandag van toepassing?

16 Jehovah voeg ’n derde deel by sy belofte: „Ekself, Jehovah, sal dit op die regte tyd bespoedig.” Aangesien ons nou op die randjie van die „groot verdrukking” staan, is dit NOU die tyd hiervoor! (Markus 13:10, 18, 19). Die snelle uitbreiding van die Koninkrykswerk gedurende die afgelope twee jaar bewys dit. Hierdie ,bespoediging’ is aardwyd te sien, selfs in lande waar Jehovah se Getuies hulle liefde vir Jehovah God en Jesus Christus moet bewys deur te midde van vervolging of ander lewensgevaarlike omstandighede te preek. Met die geledere van die voltydse verkondigers aan die toeneem, is die pioniers op die voorpunt. En watter vreugde smaak hulle tog nie in Jehovah se diens nie!​—Spreuke 10:22.

17 Hierdie blye pioniergees het gemeentes oral beweeg om hulle aandeel in die finale insameling te ,bespoedig’. Selfs met die groot vermeerdering kan ons nog sê dat ,die oes groot is, maar die arbeiders min’. In hierdie wêreld vol wanhoop kan ons jammer voel vir die mense, soos Jesus gevoel het toe hy op aarde was, want hulle is inderdaad „moeg en uitgeput . . . , soos skape wat geen herder het nie”. Daarom „bid [ons] die Here van die oes, dat Hy arbeiders in sy oes mag uitstuur”, en ons verheug ons oor die feit dat ons gebede so wonderlik verhoor word.​—Mattheüs 9:35-38.

18, 19. Meld sommige verslae wat toon dat die wêreldveld „wit is vir die oes”?

18 Beskou net een van die talle bemoedigende voorbeelde: In April 1984 het Ecuador 1 048 hulppioniers in die veld gehad, 106 persent meer as die vorige April. In Junie het hierdie land 12 238 tuisbybelstudies gerapporteer, ’n vermeerdering van 24 persent vir die jaar, en 8 044 verkondigers, ’n vermeerdering van 17 persent. Die Gedenkmaalopkoms het opgeskiet tot 40728, ’n verhouding van meer as 5 vir elke verkondiger. Van rondom die aarde kom soortgelyke verslae, en die wêreldwye opkoms van 7 416 974 by die Gedenkmaal op 15 April 1984 toon dat die lande „wit is vir die oes” van diegene wat ingesamel word „vir die ewige lewe”.​—Johannes 4:35, 36.

19 Jehovah ,bespoedig dit’ dikwels op merkwaardige wyse. ’n Reisende opsiener skryf soos volg uit die woude van noordelike Papoea Nieu-Guinee: „’n Persoon wat ’n getuienis van ’n spesiale pionier ontvang het, het na sy afgeleë tuiste in ’n dorpie in die berge teruggekeer. Etlike jare later het hy sy verskyning by ’n kringbyeenkoms gemaak​—met ’n versoek. Hierdie man, wat nog nie gedoop was nie, het so deeglik in sy dorpie en die omliggende ,gramadoelas’ getuig dat die oudstes van die dorp nou wou hê dat Jehovah se Getuies moes kom om na die geestelike belange van die hele omgewing om te sien.” As die saad eers geplant is, is dit God wat ,laat groei’.​—1 Korinthiërs 3:6.

20. Hoe is Wagtoringtakke uitgebrei om die vermeerdering te behartig?

20 In baie opsigte het Jehovah sy volk voorberei vir die groot vermeerdering wat nou plaasvind. Ons verheug ons oor die feit dat Jehovah in die laaste jare so wonderlik gesorg het vir die uitbreiding van die Wagtoring-takgeriewe. Vandag is hierdie takke toegerus om ontsaglike swerms „duiwe” te help.

21. Hoe kan ons steeds ’n aandeel daarin hê om die werk te ,bespoedig’?

21 Laat ons dus almal help om die lig van die goeie nuus van die Koninkryk aan miljoene ander uit te straal! Laat ons al hierdie „duiwe” wys na die weg van „Heil” agter die beskermende mure van Jehovah se organisasie, terwyl ons sy „Lof” by die poorte vermeerder. Laat dit ons bede wees dat die Soewereine Heer Jehovah en die hoof van die Christengemeente, ons geliefde koning Jesus Christus, sal aanhou om ,dit te bespoedig’ namate die Koninkryksverkondiging tot sy hoogtepunt gevoer word!

Ter hersiening van hierdie studie:

◻ Watter opmerklike vervulling van Jesaja 60:17 het in 1938 plaasgevind?

◻ Waarin stel ons belang, soos Jesaja 60:18 aandui?

◻ Hoe word Jehovah ,verheerlik’ deur verslae uit die veld?

◻ Hoe word die drievoudige belofte in Jesaja 60:22 tot ’n hoogtepunt gevoer?

[Prent op bladsy 18]

Watchtower-buiteblaaie in die dertigerjare het Esegiël se gesig van Jehovah se dinamiese organisasie uitgebeeld

[Prent op bladsy 21]

’n Gesonde pioniergees het gehelp om die oeswerk te ,bespoedig’

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel