Tel jy werklik by God?
HET jy al ooit snags stilgestaan om na die heelal te kyk? Het jy ooit gewonder hoe ver jy werklik in die ruimte in sien, of hoeveel sterre jy met die blote oog kan sien? Het jy dan, oorweldig deur die grenslose majesteit van die hemele jouself afgevra: Tel die nietige mens werklik by God? Trouens, stel God in my as ’n individu belang?
Drieduisend jaar gelede het die Hebreeuse digter-koning Dawid van sy verbasing met die volgende woorde uitgespreek: “As ek u hemel aanskou, die werk van u vingers, die maan en die sterre wat U daar geplaas het, wat is die mens dan dat U aan hom dink, die mensekind dat U na hom omsien?” (Psalm 8:4, 5, NTP). Ja, al het Dawid dit nie besef nie, het hy met die blote oog sowat 600 000 ligjare in die heelal ingetuur.a Hy was beïndruk deur die feit dat die Skepper van daardie eindelose ruimte ook die mens in ag neem.
Dawid het ’n parallelle gedagte in Psalm 144 uitgedruk, waar ons lees: “o HERE, wat is die mens dat U hom ken, die mensekind dat U op hom ag gee? Die mens is soos die nietigheid; sy dae is soos ’n vlugtige skaduwee” (Verse 3, 4). Maar ondanks die mens se betreklike nietigheid en verganklikheid, het Dawid geweet dat die mens by God tel. Hoe kon hy daarvan seker wees? Omdat hyself ’n persoonlike verhouding met Jehovah verkry het.
Watter soort verhouding is moontlik?
Hoe weet ons dat Dawid ’n persoonlike verhouding met God gehad het? ’n Vlugtige blik na enige van Dawid se psalms of poëtiese liedere behoort genoeg te wees om ons daarvan te oortuig. Kom ons, beskou byvoorbeeld Psalm 23. Probeer om Dawid se algehele vertroue in sy Herder, Jehovah God, uit die eenvoudige woorde waar te neem.
“[Jehovah] is my herder;
niks sal my ontbreek nie.
Hy laat my neerlê in groen weivelde;
na waters waar rus is, lei Hy my heen.
Hy verkwik my siel;
Hy lei my in die spore van geregtigheid, om sy Naam ontwil.
Al gaan ek ook in ’n dal van doodskaduwee,
ek sal geen onheil vrees nie;
want U is met my:
u stok en u staf dié vertroos my.”
Die diepte van Dawid se verhouding met God straal duidelik hieruit. Hoe raak daardie psalm jou? Herken jy die band van vertroue tussen die weerlose “skaap” Dawid en sy beskermende Herder, Jehovah? Dawid was ongetwyfeld bewus van die feit dat hoewel die mens ’n blote “nietigheid” is, hy persoonlik by sy God en Herder getel het. Dawid kon gevolglik met oortuiging sê: “[Jehovah] is my herder; niks sal my ontbreek nie.” Hoe kan jy dieselfde vertroue verkry?
Eerstens, daar is een lewensbelangrike punt wat ons nie oor die hoof moet sien nie. Dit is nie net die herder wat in sy skape belang moet stel nie. Die skape moet ook hulle herder volg en na sy stem luister. Met ander woorde, as ons by God wil tel, moet ons self ook op hom staatmaak. As skape van die kudde af vlug of die herder verwerp, het hulle geen beskerming nie. Die verhouding word bederf deur die skaap se moedswillige eiesinnigheid. Ondanks die reputasie wat die mens hiervoor opgebou het, toon God besorgdheid oor die mensdom, nie alleen as ’n groep nie, maar ook as individue. Watter bewys het ons vir daardie verklaring?
Van wanneer af is die mens vir God van belang?
Reg van die begin van die mensegeskiedenis af het Jehovah besorgdheid oor die mensdom en hulle toekoms geopenbaar. Toe daar ’n selfsugtige opstand in Eden was, het God nie die mensdom verlaat en sonder hoop gelaat nie. Hy het ’n toekomstige “saad” beloof wat teen die mens se aartsvyand sou optree en verligting sou bring deur Satan se kop te vermorsel (Genesis 3:15; Romeine 16:20). Daarna het Jehovah voortgegaan om met die mensdom te handel, soms met individue en by ander geleenthede met nasies.
’n Duidelike voorbeeld van Jehovah se besorgdheid oor die individu in eertydse Israel was die wet wat voorsiening gemaak het vir wese en weduwees, die behoeftiges in die nasie. Dit het byvoorbeeld bepaal dat hulle ’n aandeel in die oes moes hê al het hulle ook geen grond besit nie. Hulle het die reg gehad om are op te tel in lande wat geoes was. Hoeveel voortrefliker was dit tog as talle welsynsreëlings wat in hedendaagse nasies bestaan! In Israel het die individu sy selfrespek behou ondanks sy armoede. Waarom? Omdat dit nie vir hom nodig was om te bedel of op ’n staatsgeborgde aalmoes te wag nie. Hy het met sy eie hande are opgetel om in sy behoeftes te voorsien. Hy het nuttige werk gedoen en is met dankbaarheid vervul teenoor sy milddadige God, Jehovah.—Levitikus 19:9, 10; Rut, hoofstuk 2.
Het Christus sy Vader se sorg beklemtoon?
Die vier Evangelies toon duidelik dat Jesus Christus vir mense omgegee het. En omdat hy sy Vader se eienskappe volmaak weerspieël het, was sy besorgdheid ’n duidelike bewys dat die mens by God tel (Johannes 14:9). Christus se leer het liefdevolle en praktiese riglyne vir ’n onselfsugtige lewe bevat. Hoe duidelik is dit tog toegelig toe sy dissipels moeg en uitgeput teruggekeer het na ’n predikingsveldtog! Wat was sy reaksie? Dit was een van medelye en bedagsaamheid. Jesus het verstaan hoe hulle gevoel het en hy het geweet dat hulle rus nodig het. “En Hy sê vir hulle: Kom julle self in die eensaamheid na ’n verlate plek en rus ’n bietjie. Want daar was baie wat kom en gaan, en hulle het selfs geen geskikte tyd gehad om te eet nie.” Hulle is dus almal in ’n skuit na ’n verlate plek vir ’n verandering van pas.
Maar die skare het hulle gevolg. Hoe het Jesus daarop gereageer? Met ongeduld en woede? “Toe Jesus uitklim [uit die skuit], sien Hy ’n groot menigte, en Hy het vir hulle innig jammer gevoel, omdat hulle soos skape sonder herder was; en Hy het hulle baie dinge begin leer.”—Markus 6:30-34.
Hoe duidelik het Christus tog sy Vader se besorgdheid oor mense weerspieël! Hy het dit ook beklemtoon toe hy gesê het: “Word vyf mossies nie vir twee stuiwers verkoop nie? En nie een van hulle is voor God vergeet nie. Maar selfs die hare van julle hoof is almal getel. Wees dan nie bevrees nie: julle is meer werd as baie mossies.”—Lukas 12:6, 7.
In God se oë raak die persoon wat probeer om Jesus Christus te volg beslis nie in die skare verlore nie. Maar die belangrike saak is: Lê jy jou daadwerklik daarop toe om Jesus Christus te volg? Is jy bewus van jou geestelike behoefte op daardie gebied? (Mattheüs 5:3, NW). Onthou, kort voor sy inhegtenisname en dood het Jesus tot sy Vader gebid: “Ek bid nie vir hulle alleen nie [die 11 getroue apostels wat sy laaste aandmaal saam met hom genuttig het], maar ook vir die [ander dissipels] wat deur hulle woord in My sal glo” (Johannes 17:20). Jesus het geweet dat nie net sy apostels by God sou tel nie, maar ook diegene wat later as gevolg van hulle predikingswerk gelowiges sou word. Dit toon dat die Groot Herder, Jehovah God, genaakbaar is vir almal wat die nederige gesindheid van skape openbaar.—Psalm 23:1.
Tel die mens vandag by God?
Nou vra jy miskien: ‘As die mens werklik by God tel, hoe is dit vandag duidelik? En hoe kan ek baat vind by God se besorgdheid oor die mensdom?’
Jehovah, die Groot Herder, het vandag voorsiening getref dat sagmoedige persone dwarsoor die wêreld sy stem hoor. Hoe het hy dit gedoen? Jesus antwoord: “Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie.” Jehovah trek dus mense met nederige harte na hom deur sy aangestelde “goeie herder”, Jesus Christus.—Johannes 6:44; 10:11, 14-16.
Hoe word persone getrek? Deur die predikingswerk van die getroue volgelinge van Christus wat net soos Jesus getuies van die ware God, Jehovah, is. Ja, die Christengetuies van Jehovah preek net waar hulle mense aantref. Hulle bied individuele aandag gratis aan enigeen wat God wil leer ken. Is jy bereid om jou eerste stap te doen in die ontwikkeling van ’n persoonlike verhouding met die Groot Herder, Jehovah, indien jy dit nie reeds gedoen het nie? Is jy bereid om God deur Jesus Christus te soek? Onthou Jesus se vermaning: “Vra, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal kry.” Deur sy Seun om ons ontwil aarde toe te stuur, het die Groot Herder reeds die eerste positiewe stap in jou rigting gedoen. As jy daarop reageer, sal jy gou self ontdek dat die mens wel by God tel.—Mattheüs 7:7, NTP; 1 Johannes 4:7-10.
Tel die mens se toekoms by God?
Die feit dat die mens se bestaan met nietigheid, met ’n blote asemteug, vergelyk word, toon hoe kortstondig die mens se lewensduur is. Maar hoe lank sou jy werklik graag wou lewe indien jy blakende gesondheid en geluk kon geniet? Het jy gesê: “Vir ewig”? Wel, dit is presies wat Jehovah belowe het—ewige lewe op ’n paradysaarde. In die apostel Paulus se brief aan Titus lees ons dus van “die hoop van die ewige lewe wat God, wat nie kan lieg nie, van ewigheid af beloof het” (Titus 1:2). Op grond van daardie selfde belofte het Paulus ander aangeraai om “goed te doen, om ryk te wees in goeie dade, vrygewig en mededeelsaam. So vergader hulle vir hulle ’n skat as ’n goeie belegging vir die toekoms sodat hulle die ware lewe sal verkry.” Daardie “ware lewe” lei tot die ewige lewe.—1 Timotheüs 6:17-19, NTP.
Tel die dode by God?
Jy vra moontlik: ‘Maar wat van die dode? Tel hulle by die Groot Herder?’ Beslis! Dit is waarom die apostel Paulus “die evangelie van Jesus en die opstanding verkondig het” (Handelinge 17:18). Die opstanding is voorwaar ’n besondere voorbeeld van Jehovah se besorgdheid oor die individu. Hoe so? Omdat dit toon dat Hy tot in die fynste besonderhede ’n verslag gehou het van die persoonlikheid van diegene wat opgewek moet word. Die Opperbeheerder van die heelal met sy miljoene melkweë en sterre, word nie afgeskrik deur die nodigheid om al daardie persoonlikheidsgegewens te herroep en op ’n herskepte brein en hart af te druk nie. Dit is geen wonder dat Jesus met oortuiging gesê het nie: “Moenie julle hieroor verwonder nie. Want daar kom ’n uur wanneer almal wat in die grafte is, sy [Jesus se] stem sal hoor en sal uitgaan.”—Johannes 5:28, 29.
As jy graag wil hê dat die Groot Herder, Jehovah, jou deur sy Seun, Jesus Christus, in aanmerking moet neem, moet jy nie aarsel om Jehovah se Getuies te vra om jou te help nie. In die privaatheid van jou eie huis kan jy al jou Bybelvrae stel en redelike antwoorde kry. Of jy kan aan die uitgewers van hierdie tydskrif skryf. Hulle sal jou help om vir jouself onweerlegbaar te bewys dat jy nou sowel as in die toekoms werklik by God kan tel.
[Voetnoot]
a ’n Ligjaar is die afstand wat lig in ’n jaar aflê teen ’n snelheid van 299 338 kilometer per sekonde. Dit is gelyk aan 9 460 000 000 000 kilometer, die afstand wat lig in ’n jaar aflê. Die heelal is natuurlik veel groter as die beperkte afstand wat die mens se blote oog kan sien.
[Prent op bladsy 5]
Is God oor ons besorg?
[Prent op bladsy 7]
Die Groot Herder sorg liefdevol vir al sy “skape”