Is jy te klein om van belang te wees?
VOEL jy soms dat niemand vir jou omgee nie? Het jy al ooit eensaam gevoel selfs wanneer jy omring was van mense? Waarom kom sulke gedagtes by jou op? Omdat die individu vandag in soveel gevalle nie meer tel nie.
In baie lande het burokrasie mense omgeskep in brokkies data wat verlore geraak het in ’n warboel rekenaarprogrammatuur. Hulle het net nommers, syfers, vir die een of ander onpersoonlike regeringsagentskap geword. Kry jy soms daardie gevoel?
Of jy werk moontlik vir ’n groot maatskappy met honderde of duisende werknemers. Dit kan gevolglik die gevoel versterk dat jy net ’n sandkorreltjie op die strand of ’n draadjie in ’n stuk materiaal is. Selfs diegene wat in groot stede woon, kan bitter eensaam voel. Waarom? Omdat bure dikwels wildvreemdes is, net nog ’n nommer op die volgende deur.
Ja, dit is baie maklik om te glo dat jy te klein is om van belang te wees, te onbenullig om opgemerk te word in die gejaagdheid van die hedendaagse lewe. Dit is veral die geval in die moderne gemeenskap, waar mededinging soveel mense voortgebring het wat ongevoelig vir ander is. Persoonlike waardigheid word vertrap en “Gaan bars!” word as spitsvondigheid beskou.
Maar is dit ook die geval met God? Is hy, die Soewereine Heer van die heelal, so verhewe bo die mens dat ons almal te klein is Om vir hom van belang te wees? Die Bybel toon dat daar by een geleentheid “tienduisend maal tienduisende [100 miljoen]” engele voor Jehovah God gestaan het (Daniël 7:10). Hy is ook die Skepper van die tallose sterre in die heelal. Het hy straks hierdie geesskepsele en die materiële skepping uit die oog verloor? Die Bybel antwoord: “Hy bepaal die getal van die sterre; Hy gee hulle almal name” (Psalm 147:4). Die hemelliggame is beslis nie buite beheer nie. En Jehovah roep ongetwyfeld die regverdige engele ook by die naam, selfs al is die name van slegs twee van hulle, Migael en Gabriël, aan die mens geopenbaar.—Daniël 12:1; Lukas 1:26.
Wat, dan van die mensdom? Gee God vir hulle om? Die psalmis Dawid het geskryf: “HERE, maak my einde aan my bekend en wat die maat van my dae is; laat my weet hoe verganklik ek is. Kyk, U het my dae ’n paar handbreedtes gemaak, en my leeftyd is soos niks voor U nie; ja, as pure nietigheid staan elke mens daar!” (Psalm 39:5, 6). As die mens verganklik en pure nietigheid is, hoe kan ons dan seker wees dat hy nie te klein en tydelik is vir God om oor hom besorg te wees nie? Is mense werklik vir God van belang? Is JY werklik van belang?