’n Geheim wat die Filippense geleer het
WIE hou nie daarvan om ’n geheim te wete te kom nie? Jy was gewis verheug toe iemand jou in sy vertroue geneem en vir jou ’n geheim vertel het, moontlik ’n verblydende verwikkeling waarmee die persoon jou vertrou totdat hy of sy dit bekendmaak.
’n Ander soort geheim is kennis of insig wat ander nie het nie. Hierdie soort geheim was belangrik vir ’n groep Christene in die eerste eeu, die gemeente in die Macedoniese stad Filippi. Om te verstaan wat daardie besondere geheim was, en om te sien hoe ons daarby baat kan vind, kan ons kortliks kyk na die agtergrond van ’n brief wat aan die Filippense geskryf is, ’n brief wat nou deel van die Bybel is.
Paulus—aan die Filippense
Die sendeling Paulus was omstreeks die jare 59-61 G.J. in Rome in die tronk. Gedurende hierdie tydperk kon hy nadink oor die talle ondervindinge wat hy op sy reise geniet het. Hy kon terugdink aan die talle getroue broers wat hy ontmoet het en die gemeentes wat hy die voorreg gehad het om te stig en te sien groei. Hy kon nie anders as om aan die gemeente in Filippi te dink nie. Dit het ’n baie besondere plekkie in sy hart beklee vanweë die buitengewone ondervindinge wat daarmee geassosieer is.
Dit was tydens Paulus se tweede sendingreis, omstreeks die jaar 50 G.J., dat God se gees hom (en Silas) verhinder het om in Asië, Misië en Bithinië te preek. Paulus is dus na Troas, waar hy een nag ’n gesig gehad het. “Daar staan ’n Macedoniër wat hom smeek en sê: Kom oor na Macedonië en help ons!” (Handelinge 16:9). Paulus en sy metgeselle het dadelik per boot na Samothrace vertrek, en daarvandaan is hulle na die hawe Neapolis. Toe het hulle oor land na Filippi gereis.
Hulle was moontlik verbaas om min Jode in daardie stad aan te tref, en klaarblyklik nie eens ’n sinagoge nie. In plaas daarvan om op die Sabbat na die sinagoge te gaan soos dit hulle gewoonte was, het Paulus en Silas buitekant die poort gegaan en langs ’n rivier met die vroue begin spreek wat daar bymekaargekom het (Handelinge 16:13). Jy kan meer omtrent hierdie gebeurtenisvolle besoek aan Filippi te wete kom deur Handelinge 16:11-40 te lees. Paulus se getuieniswerk het gelei tot die stigting van ’n gemeente in Europa, en hy het later weer hierdie gemeente in Filippi besoek, moontlik selfs twee keer.—Handelinge 20:1, 2, 6; Filippense 2:24.
Terwyl Paulus in Rome in die tronk was, kon hy dink aan die voorbeeldige Christene met wie hy in Filippi geassosieer het. Lydia het buitengewone gasvryheid getoon. Euodia en Sintiche het skouer aan skouer saam met Paulus in die verkondiging van die “evangelie” gearbei. Paulus kon ook nie die tronkbewaarder en sy huisgesin vergeet nie, en ook nie die wonderdadige ondervinding wat daartoe gelei het dat hulle die Christelike godsdiens aanvaar nie.
Toe Paulus nagedink het aan die liefde, vriendelikheid en besorgdheid van die Filippense het hy rede gehad om vir hulle ’n brief te skryf (Filippense 1:3, 12). Dit openbaar sy liefde vir hulle en die “vrug van geregtigheid” wat hulle aan die dag gelê het.—Filippense 1:11.
Wat is daardie geheim?
In sy brief het Paulus gepraat van ’n geheim wat hy persoonlik geleer het en die getuienis dui daarop dat die Filippense dit by hom geleer het. Dit was ’n geheim wat Paulus deur die jare heen gehelp het om verskillende beproewings te verduur. Hy het geskryf: “In alles en in alle omstandighede het ek van beide die geheim geleer: Om versadig te wees en om honger te ly, om oorvloed te hê en om gebrek te ly. Ek is tot alles in staat deur hom wat my krag gee” (Filippense 4:12, 13, NW). Dit was dus ’n geheim in verband met die Christelike lewe, naamlik om voortdurend op Jehovah te vertrou, ongeag ’n mens se omstandighede.
Die Filippense het hierdie geheim geleer en dit het hulle op verskeie maniere geraak. Die gemeente was onder meer baie ywerig in die predikingswerk. Paulus het geskryf: “Julle skyn soos ligte in die wêreld” (Filippense 2:15). Hulle het die evangelie met groot vreugde aangeneem en toe voortgegaan om daardie evangelie te bevorder. Paulus kon hulle beskryf as sy “deelgenote” in “die verdediging en bevestiging van die evangelie”.—Filippense 1:7.
Toe Paulus hierdie brief geskryf het, het hy geweet dat hulle in sy tronkervaringe belang sou stel. Hy het gesê dat die dinge wat hy wedervaar het “eerder op bevordering van die evangelie uitgeloop het” al was hy in die tronk, “sodat my boeie openbaar geword het in Christus onder die hele keiserlike lyfwag” (Filippense 1:12, 13) Hy het ook vertel dat die meeste Romeinse Christene meer moed aan die dang gelê het om die woord van God onverskrokke te spreek vanweë sy boeie. Dit moes die Filippense bemoedig het om te weet dat Paulus net soos hulle voortgegaan het om die Koninkryk ywerig te verkondig al was hy in die tronk.—Filippense 1:14
Nog iets wat moontlik verband gehou het met die geheim wat in Filippense 4:12, 13 gemeld word, was hulle regte gesindheid. Hulle neigings was om ander te help, nie om hulself te behaag nie. Trouens hulle het Paulus baie gehelp. Terwyl hy in Thessalonika was, het hulle twee keer materiële hulp aan hom verleen. En hulle was die enigste gemeente wat dit gedoen het (Filippense 4:15, 16) Toe die gemeente in Jerusalem later weens vervolging swaar gekry en hulp nodig gehad het, het die Filippense vrylik bygedra, al was hulle self arm. Paulus het geskryf dat hulle “bo [hulle] vermoë gegee het (2 Korinthiërs 8:3). En toe Paulus later in Rome in die gevangenis was, het hulle materiële gawes saam met Epafroditus gestuur.
Ja, die Filippense was liefdevol besorg oor hul mede-Christene. Hulle het opgetree soos Paulus hulle aangespoor het om op te tree en het “nie elkeen na sy eie belange om[ge]sien nie, maar elkeen ook na die ander s’n”. Watter verkwikkende gees het dit tog geopenbaar! Dit het daarop gedui dat die Filippense net soos Jesus nederig was en nie krities teenoor ander gestaan het nie.—Filippense 2:1-5, 14
Ons kan hulle geheim leer en toepas
Omdat ons veel later lewe, kan ons nie regstreeks met die apostel Paulus assosieer nie. Hoe dankbaar kan ons dan tog wees dat Jehovah God die geïnspireerde brief aan die Filippense in sy Woord bewaar het! Ons kan dus daarop toelê om die wonderlike raad daarin te leer ken en toe te pas, onder meer die geheim wat Paulus geleer en klaarblyklik met hulle gedeel het.
Vir die Filippense het daardie geheim kennis, gesindheid en gedrag behels. Paulus het hulle aangespoor: “Gedra julle waardig die evangelie van Christus” (Filippense 1:27) As hulle Paulus se raad gevolg het, sou hulle “onberispelik en opreg . . . wees, kinders van God sonder gebrek te midde van ’n krom en verdraaide geslag” (Filippense 2:15). Om rein gedrag te handhaaf, sou natuurlik versigtigheid verg, selfs ten opsigte van hulle denke. Dit bevat beslis ook vir ons ’n les. Ons wil dalk doen wat baie ander wat hierdie “geheim” probeer toepas, gedoen het—Paulus se woorde in Filippense 4:8 oor ons denke uit die hoof leer en gereeld daaroor nadink. Kan jy daardie vers uit die hoof opsê?
Die geheim om op God staat te maak en hom vreugdevol te dien of jy nou baie of min op materiële gebied besit, kan tot ’n baie bevredigende lewe lei. Dink aan die voldoening wat dit Paulus moes verskaf het om na te dink oor die vrug van sy arbeid in die gemeente in Filippi. Hy het gesien hoedat die gemeente se liefde vir Christelike waarheid en ywer vir die verkondiging van die evangelie toeneem. Hy het ook gesien hoe hulle hulle liefde teenoor mede-Christene bewys. Dit moes hom baie voldoening verskaf het om te sien dat hulle ook die geheim geleer het om volkome op God te vertrou in al hulle dade en om Hom te dien met alles tot hulle beskikking.
Elke Christen kan hom vandag gerus afvra of hy persoonlik die belangrike geheim geleer het wat Paulus in Filippense 4:12, 13 gemeld het. Een bewys daarvan is as ons Jehovah se seën het en “vervul [is] met die vrug van geregtigheid” (Filippense 1:9-11; 4:17). En as ons daardie lewensbelangrike geheim geleer het en dit openbaar, sal dit diegene om ons help om dit ook te doen. Ons sal ’n goeie voorbeeld vir ander stel, net soos Paulus gedoen het. Hy kon die Filippense gevolglik aanraai: “Wees ook my navolgers, broeders, en let op die wat so wandel soos julle ons tot voorbeeld het.” (Filippense 3:17; vergelyk verse 13, 14.) Daardie geheim het dus vir ons en vir ander baie groot waarde; dit sal ons help om die ewige lewe te verwerf.