’n Nuwe tak in Korea
DIT was in 1952 dat Die Wagtoring en Ontwaak! in Koreaans begin verskyn het. Tot 1982 is die tydskrifte egter deur plaaslike kommersiële drukkerye gedruk. Met nagenoeg 30 000 Getuies wat nou in Korea aan die Koninkryks-prediking deelneem, het tydskrifproduksie tot sowat 100 000 eksemplare per uitgawe, of bykans vyfmiljoen per jaar, toegeneem! Kon die plaaslike Getuies self hierdie drukwerk behartig soos dit in baie ander lande rondom die wêreld die geval is?
’n Groot nuwe tak in Korea wat op 8 Mei 1982 toegewy is, behoort dit moontlik te maak. Jy kan ’n prent van die nuwe tak op die volgende bladsy sien. Dit is 64 kilometer suid van die stad Seoel op 3,6 hektaar grond geleë in ’n aangename plattelandse omgewing by Kongdo, in die Ansung-provinsie.
Omdat daar nie genoeg ruimte was vir almal wat graag die toewydingsprogram wou bywoon nie, was die 1 882 aanwesiges daar op spesiale uitnodiging. Watter aangrypende geleentheid was dit tog vir hulle, daar hulle kon luister hoe veterane vertel van Jehovah God se seën op die uitbreiding van die Koninkrykswerk aldaar! Don en Earlene Steele, die eerste sendelinge in Korea, was onder meer aanwesig. Toe hulle meer as drie-en-dertig jaar gelede in Augustus 1949 daar aangekom het, het hulle minder as twintig plaaslike Getuies aangetref. Die meeste van hulle was tydens die Japannese besetting gedurende die oorlog in die tronk en is gemartel.
Waarom ’n nuwe tak nodig was
Die sendelinge het in ’n gerieflike huis teen die heuwel in Sodaemun, Seoel, ingetrek. Hoewel die Koreaanse Oorlog, wat in 1950 uitgebreek het, hulle gedwing het om die land tydelik te verlaat, kon Don en Earlene Steele kort daarna terugkeer en weer in die ou huis, wat toe vol kartetsmerke was, intrek. Daarna het die Koninkryksbedrywigheid baie vinnig toegeneem. Teen 1953 was daar 417 verkondigers. In daardie jaar is ’n takkantoor in daardie land geopen.
Ander sendelinge het hulle by die Steele-egpaar aangesluit, en in die daaropvolgende jare het dramatiese vermeerderinge die getal verkondigers teen 1964 tot 5 538 laat toeneem. Daardie jaar is die eerste bouprogram in Seoel onderneem, ’n Ruim takkantoor, bykomende woonvertrekke en ’n Koninkryksaal is by die oorspronklike huis aangebou.
Gedurende die daaropvolgende jare is die Koninkryksboodskap steeds geesdriftig deur die Koreaanse volk ontvang. Die gevolg was dat die aantal verkondigers teen 1972 feitlik verdriedubbel het, tot meer as vyftienduisend. Hierdie instroming van mense na die organisasie het verdere uitbreiding by die tak vereis. Die takgebou in Seoel het dus vroeg in 1975 nog ’n vleuel bygekry.
Maar kort daarna was dit weer nodig om verder uit te brei, veral as Bybellektuur in Korea gedruk moes word. Aangesien dit nie moontlik was om dit by die tak in Seoel te doen nie, is daar besluit om ’n nuwe tak te bou. Met die goedkeuring van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies is daar ongeveer drie jaar gelede begin met ’n soektog na ’n geskikte plek vir ’n nuwe tak.
Weens soneringswette was dit gou duidelik dat daar in buitegebiede gebou sou moes word indien ’n drukkery en ’n woonkwartier op dieselfde perseel opgerig moes word. Eindelik is ’n stuk grond 64 kilometer suid van Seoel gevind. Dit was as ’n woud by die regering geregistreer.
Daar is ’n groot denneplantasie op die stuk grond, asook ’n appelkoosboord. Dit word omring deur plaasgrond waarop geen geboue opgerig mag word nie. Dit sal verhoed dat ander geboue na aan ons eiendom opgerig word. Nog voordat die kooptransaksie afgehandel was, het ons aansoek gedoen om ’n drukkery te bou en het ons die permit gekry. Toe het ons aansoek gedoen en toestemming gekry om ’n derde van die bome af te kap. Omtrent sewehonderd moes verwyder word om plek te maak vir die nuwe tak wat uit ’n Bethelhuis, kantoorgebou en fabriek sou bestaan.
Daar was ook sewe-en-sestig grafte op die stuk grond aangesien dit die gebruik is om afgestorwenes in dennewoude te begrawe. Nadat ’n kennisgewing in die koerant verskyn het, het familielede elf van hierdie grafte opgeëis, en die res is na ’n openbare begraafplaas verskuif. Toe is die koop afgehandel en is die grond op die naam van die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap van Korea geregistreer.
Die nuwe tak word gebou
Om aan die bepalings van soneringswette te voldoen en die grond te gebruik soos daar ooreengekom is, het ons slegs twee jaar gehad om die bouprojek te voltooi en met produksie te begin. Die grond is dus gelykgemaak, elektrisiteit is aangelê en telefoondrade is geïnstalleer. Die boupermit is in Maart 1981 uitgereik, en daar is dadelik met die bouwerk begin.
Soos jy in die prent op die vorige bladsy kan sien, is die kantoorgebou met twee verdiepings vas aan ’n groter enkelverdiepinggebou wat die drukkery sal huisves. ln die kantoorgebou is daar kantore vir die vertaal-, proeflees-, rekening- en diensafdeling, sowel as kantore vir die opsieners van die Bethelhuis en die fabriek. Op die eerste verdieping is daar ook ’n gerieflike Koninkryksaal vir die gebruik van die Bethelgesin en die plaaslike Kongdo-gemeente. Die plan was om die Koreaanse Wagtoring en Ontwaak! voor die einde van 1983 in die drukkery te begin druk.
Die dubbelverdieping-Bethelhuis, wat ook ’n kelderverdieping het, is deur middel van ’n paadjie met die kantoor-en-fabriekgebou verbind. Die huis het plek vir sewentig persone, en elke kamer het sy eie bad. Daar is ook ’n wassery, ’n strykkamer, ’n naaldwerkkamer, asook ’n ruim eetsaal en kombuis. Toe die gebou ’n paar dae voor die toewyding oopgestel is sodat lede van die gemeenskap dit kon besigtig, het die hoof van ’n bankopleidingssentrum gevra: “Wie woon in hierdie hotelagtige gebou?” Hy was baie beïndruk deur die, fasiliteite.
Hoe is hierdie geboue opgerig? Feitlik al die vakmanne was Jehovah se Getuies. Omdat hulle gesinne gehad het wat hulle moes onderhou, kon nie almal hulle dienste gratis lewer nie. Maar hierdie huisvaders het vir ’n kleiner loon gewerk. En sowat dertig jong pionierpredikers (voltydse bedienaars) is ingeroep om met die werk te help. Hoewel hulle geen besondere bou-ondervinding gehad het nie, het hulle praktiese opleiding ontvang en ’n groot bydrae tot die bouwerk gelewer. Daarbenewens het duisende ander Getuies aangebied om ’n paar dae lank te kom werk.
Al hierdie vrywilligerarbeid het die boukoste so laag moontlik gehou. Jehovah se Getuies in Korea het feitlik al die onkoste gedek. Maar ’n paar bydraes is ook van belangstellende gemeentes en individue in ander lande ontvang. Bydraes is van mense van alle stande ontvang, van bloedjong kinders tot hoogbejaardes.
Dit het minder as ses weke geduur om na die nuwe tak te verhuis. Nie alleen al die persoonlike besittings van die lede van die Bethelgesin moes van Seoel af vervoer word nie, maar ook al die toerusting en voorrade wat gebruik word vir die werk van die tak. Nadat elke departement verhuis het, het dit dadelik in sy nuwe kwartier begin funksioneer, al was die bouwerk nog nie heeltemal gedaan nie. Almal wou oortrek en gevestig wees ten tye van die toewyding. Waarom was dit ’n gebeurtenis waarna ons met soveel afwagting uitgesien het?
Dit was omdat die Wagtoringgenootskap se tak in Korea ’n besoek sou ontvang van sone-opsiener Robert Wallen van die hoofkwartier in Brooklyn, sowel as van twee lede van die Bestuursliggaam, Fred Franz en Lloyd Barry, wat aan die toewydingsprogram sou deelneem. Dit is hoe dit gebeur het dat meer as 1 800 Koreaanse Getuies op 8 Mei 1982 hierdie tak hartlik saam met broer Franz aan Jehovah God en Sy werk toegewy het.
Jehovah se Getuies in Korea is bly oor hierdie nuwe tak. Dit is hulle begeerte om dit ten volle te gebruik om die predikings- en onderrigtingswerk wat nog in hierdie land gedoen moet word, te volbring.
[Prent op bladsy 25]
Die nuwe Bethelhuis, wat in die boonste linkerhoek gesien kan word, word deur ’n paadjie met die kantoorgebou en fabriek verbind