As ’n “band van eenheid” is liefde ‘volmaak’
1. In watter sin kan Jehovah met ’n smeder vergelyk word, en in watter sin is elke famille sy naam aan hom te danke?
DIE grootste Smeder in die heelal, Jehovah God die Almagtige, kan ’n “band van eenheid” smee wat vir ewig sal hou. Familiebande, selfs die op aarde, kan baie sterk wees; en Jehovah God word genoem “die Vader, aan wie elke familie in die hemel en op aarde sy naam te danke is” (Efesiërs 3:14, 15, NW). Sedert die sondvloed in die dae van die aartsvader Noag is elke mensefamilie afstammelinge van daardie getroue man wat deur God waardig geag is om saam met sy gesin deur daardie wêreldvloed bewaar te word. As gevolg hiervan is elke mensefamilie wat nou op aarde is sy “naam”, dit wil sê, die feit dat dit lewe en ’n naam kan dra, aan Noag te danke. In die verlede het Jehovah God sekere name aan individue op aarde gegee, maar hy het nie regstreeks aan mensefamilies name gegee nie. Tog is hulle hulle naam aan hom te danke, want hulle sou nooit as ’n familie met ’n naam in aansyn gekom het as dit nie vir hom as die universele Lewegewer was nie.—Genesis 5:1, 2, 32.
2. Hoe het die rebel teen God se gesin vader van ’n gesin geword, en watter vraag kan elkeen van ons onsself gepas afvra?
2 Daar was ’n menslike afsplintering van die universele gesin van die hemelse Vader. Dit is teweeggebring deur ’n bomenslike rebel teen die engelegesin van God in die hemele, die rebel wat later Satan die Duiwel genoem is. Deur vir hom volgelinge in die hemel te werf, het hy as’t ware ’n vader geword, maar dit is nie liefde wat die lede van sy gesin bymekaar hou nie. By een geleentheid het Jesus Christus, die allergetrouste lid van Jehovah se universele gesin, vir sy teenstanders van Joodse herkoms gesê: “As God julle Vader was, sou julle My liefhê, want Ek het uit God uitgegaan en gekom . . . Julle het die duiwel as vader, en die begeertes van julle vader wil julle doen. Hy was ’n mensemoordenaar van die begin af en staan nie in die waarheid nie, omdat daar in hom geen waarheid is nie. Wanneer hy leuentaal praat, praat hy uit sy eie, omdat hy ’n leuenaar is en die vader daarvan” (Johannes 8:42, 44). In die lig hiervan kan elkeen hom vandag afvra: Wie is my “vader”?
3. Hoe verskil Satan se situasie sedert die Eerste Wêreldoorlog van sy situasie voor daardie tyd, en veral watter gebed moet ten behoewe van al die aanhangers van God se organisasie verhoor word?
3 Met sy opstand is Satan die Duiwel uit die universele gesin van Jehovah God gewerp, en later ook sy demone onder sy vaderskap. In die tuin van Eden het hy die mens as die Versoeker genader, en selfs daarna is hy toegelaat om heen en weer oor die hele aarde te swerf in sy veldtog van goddeloosheid en teenstand teen die waarheid (Job 1:7; 2:2). Maar nou, na die voorspelde “oorlog” na die geboorte van God se koninkryk in die hemele aan die einde van die vasgestelde “tye van die nasies” in 1914, is Satan die Duiwel en sy demone uit die hemel na die aarde neergewerp sodat hulle nie regstreeks kontak met die hemelse engele kan hê nie. Hulle sal nooit weer toegang verkry tot die hemele, waar die engele is nie. Ons kan dus goed begryp hoe toornig Satan op Jehovah se universele organisasie en die lojale lede daarvan is (Openbaring 12:1-12; Lukas 21:24). Dit is dus nou die tyd van alle tye vir die liefdevolle gebed van die apostel Paulus in Kolossense 1:2 om verhoor te word ten behoewe van die lojale aanhangers van Jehovah se organisasie wat nou op aarde is, naamlik: “Genade vir julle en vrede van God onse Vader.” Hierdie gebed vir vrede onder hulle kan nie verwesenlik word as daar geen eenheid in hulle geledere is nie. Vrede vereis interne harmonie in die sigbare organisasie van die God wat vrede gee, ja, saamhorigheid onder die lede van die organisasie.
4. Waarvoor bedank die verenigde getuies van Jehovah hom, en waarin moet hulle bly wandel?
4 Vir hierdie organisatoriese eenheid en gepaardgaande vrede wat vandag die organisasie van Jehovah se Getuies oor die hele wêreld heen kenmerk, kan hulle doen wat die lede van die gemeente in Kolosse aangesê is om te doen, naamlik “dank toebring aan die Vader wat julle geskik gemaak het om deel te hê aan die erfenis wat vir die gelowiges wag in die lig” (Kolossense 1:12, NTP). Ons moet in die verhelderende lig bly wandel, en in hierdie “laaste dae” van die ou stelsel moet ons ’n buitengewone poging aanwend om ons “geskik” te hou vir verdere verligting en vir watter erfenis daar ook al in die nuwe stelsel op ons wag.—2 Timotheüs 3:1.
Verenig as “een kudde”
5. Waaruit kom Jehovah se Getuies van vandag ondanks al die potensieel verdelende faktore, maar waarom het die “een kudde” van die “een herder” byeengebly?
5 Jehovah se Getuies kom vandag uit meer mensefamilies as wat die geval met die eerste-eeuse Christene was. In die lig daarvan kom hulle uit alle rasse van die mensdom, uit alle kleure en uit alle stande. Hierdie opvallende dinge kon ’n verdelende faktor onder Jehovah se Getuies gewees het. Maar dit is nie die geval nie! Hulle besef dat hulle, ongeag ras, kleur, taal, nasionaliteit en stand, hulle bestaan en die lig van die waarheid aan een gemeenskaplike bron te danke het. Op hierdie gevorderde stadium is daar onder Jehovah se Getuies ’n oorblyfsel geesverwekte Christene met hemelse verwagtinge en ’n “groot menigte” persone wat die Goeie Herder, Jesus Christus, sy “ander skape” genoem het (Johannes 10:16; Openbaring 7:9-17; Mattheüs 25:31-46). Jesus Christus se voorspelling van baie lank gelede is nietemin bewaarheid, al het dit ook gesê: “En dit sal wees een kudde, een herder.” Die Goeie Herder het sy vaardigheid geopenbaar deur al sy vredeliewende, sagmoedige volgelinge “een kudde” te hou, ondanks die verskil in hulle toekomsverwagtinge. Hulle is almal eensgesind lief vir hulle “een herder”, wat liefdevol sy menselewe vir hulle almal opgeoffer het, en hulle is lojaal aan hom.
6. Waarom het die oorblyfsel met die hemelse hoop nie nagelaat om die Bybelwaarhede wat op die “ander skape” betrekking het te verkondig nie?
6 Die Bybelse “waarheid” waarvoor al die hedendaagse skape so lief is, het veel te sê oor die hoop op die Paradys wat uitgehou word aan die immer toenemende “groot menigte” “ander skape” van die Herder. As liefhebbers van die hele “waarheid” van God se Woord, is die geestelike oorblyfsel gevolglik nie jaloers nie en weerhou hulle niks voordeligs van daardie “ander skape” nie. Hulle het eerder daardie wonderlike aardse hoop liefdevol oor die hele wêreld verkondig, veral sedert 1935. Die oorblyfsel weet dat hulle nou lewe in “die tye van die wederoprigting van alle dinge, waarvan God van ouds af gespreek het deur die mond van al sy heilige profete” (Handelinge 3:21). Vir die oorblyfsel was die openbaring van hierdie waarheid deel van hulle “erfdeel van die heiliges in die lig”. Vandat daar in Julie 1879 begin is om hierdie tydskrif, Die Wagtoring, te publiseer, is dit God se instrument om hierdie wonderlike Paradyshoop vir die vrygekoopte mensdom te laat herleef. Die ander publikasies van die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap het almal meegehelp om daardie hoop waarin die “groot menigte” “ander skape” vandag met liefdevolle waardering vir die oorblyfsel soveel behae skep, te versterk en te bevestig.
7. Watter hoop benewens hul eie het die gesalfde oorblyfsel in 1935 liefdevol uiteengesit, en waarom het hulle toegelaat dat diegene met hierdie ander hoop gedoop word?
7 Tot die noordelike lente van 1935 het die toegewyde, gedoopte getuies van Jehovah in ware geloof die “een hoop” gekoester wat Efesiërs 4:4-6 soos volg aan hulle voorgehou het: “Dit is een liggaam en een Gees, soos julle ook geroep is in een hoop van julle roeping; een Here, een geloof, een doop, een God en Vader van almal.” Maar in die onvergeetlike jaar 1935, by die byeenkoms in Washington, D.C., is daar getoon dat die “groot menigte” wat in Openbaring 7:9-17 in ’n gesig gesien is, uit die Goeie Herder se “ander skape” van Johannes 10:16 bestaan. Die gesalfde oorblyfsel wat steeds vasgehou het aan hulle geldige “een hoop” het hulle grootliks verheug oor hierdie verhelderende lig op die Heilige Skrif en hulle ten doel gestel om daardie “ander skape” heelhartig te versamel. Hulle het nie gedink dat die “ander skape” inbreuk maak op die “een doop” deur hulle in water te laat onderdompel nie, want die doop van sulke “ander skape” is eweseer ’n simbool van hulle toewyding aan Jehovah God deur Christus as die doop van die gesalfde oorblyfsel. Die liefde waarmee hulle hulself beklee het, het nou verruim om daardie beminlike “ander skape” van hulle eie Herder in te sluit.
8. Met watter twee eertydse Israeliete se liefde vir mekaar kan die liefde tussen die twee klasse in die “een kudde” vergelyk word?
8 ’n Wedersydse liefde het onder al die “skape” in die “een kudde” onder die Grotere Dawid, Jesus Christus, ontluik en verinnig. Hierdie verenigende band van liefde kom ooreen met daardie onverbreeklike, onsterflike liefde van die gesalfde, aangewese koning, Dawid, van die stam van Juda vir onselfsugtige, beminlike Jonatan, die seun van die destydse heerser, koning Saul (2 Samuel 1:25-27). Kort voordat hulle die laaste keer van mekaar geskei het, het “Jonatan weer vir Dawid gesweer vanweë sy liefde vir hom; want hy het hom liefgehad soos hy sy eie siel liefgehad het’’ (1 Samuel 20:17, NW). Toe Dawid gehoor het dat Jonatan saam met sy vader gesneuwel het, het hy verplig gevoel om ’n klaaglied aan te hef en dit tot ’n hoogtepunt te voer met die woorde: “Ek is benoud om jou ontwil, my broer Jonatan! Jy was vir my baie lieflik; jou liefde was vir my wonderliker as die liefde van vroue” (2 Samuel 1:26). Hulle wedersydse liefde was ’n “volmaakte band van eenheid”. Slegs die dood kon hulle skei.
9. Wie het die “ander skape” afgeskadu, en hoe sal die twee klasse uiteindelik geskei word, maar sonder dat hulle wedersydse liefde afneem?
9 Jonatan het die “ander skape” van vandag afgeskadu. Op die een of ander tydstip na “die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God” te Armageddon sal die oorlewende Jonatan-klas geskei word van die oorblyfsel van die Dawid-klas (Openbaring 16:14-16). Dit sal slegs wees omdat die geliefde oorblyfsel deur die dood weggeneem sal word. Hulle sal as ’t ware “in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug” omdat hulle oombliklik in die gees opgewek sal word (1 Thessalonicense 4:17). Hulle sal steeds die “ander skape” wat op die aarde agtergebly het, liefhê. Trouens, hulle liefde sal dan kragtiger bewys word!
“Die grootste hiervan is die liefde”
10, 11. Waarom is geloof en hoop volgens 1 Korinthiërs 13:13 nie so groot soos liefde nie?
10 Dit herinner ons aan Paulus se woorde aan die einde van sy pragtige beskrywing in 1 Korinthiërs hoofstuk 13, naamlik: “En nou bly geloof, hoop, liefde—hierdie drie; maar die grootste hiervan is die liefde” (1 Korinthiërs 13:13). Hoe so? Wel, kyk eers wat in Hebreërs 11:1 staan: “Die geloof dan is ’n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ’n bewys van die dinge wat ons nie sien nie.” Die hoop op sulke dinge bestaan gevolglik slegs solank daardie dinge nie ‘gesien’ word nie. Beskou byvoorbeeld die geval van Abraham. Hy het geloof getoon in Jehovah God en in Sy vermoë om die dode op te wek. Hy het dus vol vertroue gewag op dinge wat hy nie voor sy dood gesien het nie. Vanweë hulle sterk geloof in Hom hoop Jehovah se Getuies van vandag op dinge wat nog nie gesien word nie en wag hulle daarop. Wanneer hulle mettertyd die ‘dinge wat hulle hoop’, sien, eindig hulle geloof en hoop ten opsigte van sulke dinge, daar dit vervul is. Dit word getoon deur wat Paulus in Romeine 8:24, 25 sê. Ons lees daar:
11 “Want ons is gered in hoop; maar die hoop wat gesien word, is geen hoop nie; want wat iemand sien, waarom hoop hy dit nog? Maar as ons hoop wat ons nie sien nie, dan wag ons daarop met volharding.”
12. Hoe het Jehovah se Getuies die “wederoprigting van alle dinge”, wat in Handelinge 3:21 gemeld word, gesien, en watter eienskappe sal dus mettertyd ten einde kom, maar watter eienskap sal nie?
12 Sedert die na-oorlogse jaar 1919 het Jehovah se Getuies op aarde eweneens “die wederoprigting van alle dinge, waarvan God van ouds af gespreek het deur die mond van al sy heilige profete” gesien. Hulle het gesien hoedat Jehovah se sigbare organisasie herstel van die nekslag wat dit tydens die Eerste Wêreldoorlog toegedien is en hoe dit toe herbou is. Dit aanbid Jehovah God weer, in ’n geestelike paradys reg hier op die aarde (Jesaja, hoofstuk 35). Hulle is uit Babilon die Grote, die wêreldryk van valse godsdiens, bevry (Openbaring 18:1-4). Baie van die dinge wat in Openbaring, die laaste boek van die Bybel, voorspel is, is reeds vervul of word tans vervul. Geloof en die hoop wat op sulke Bybelse geloof berus, is dus van nut, en nadat hulle ten volle aan hulle doel beantwoord het, sal hulle ten einde kom. Maar wat van liefde? Dit bly en sal bly. Hoewel die wêreld besig is om te verbrokkel en die wêreldelemente binnekort gaan smelt weens die intense hitte, sal die “band van eenheid” wat op die liefde uit God berus, nie ontbind word nie. Dit bly ongeskonde tussen God en sy goedgekeurde organisasie en tussen die oorblyfsel van die “klein kuddetjie” en die welkome “groot menigte” “ander skape”. Dit blyk ‘volmaak’ te wees. Die “band”, liefde, is ’n vrug van God se gees.
13. Waarom sal liefde nooit sterf nie?
13 God is die verpersoonliking van liefde; en aangesien God nooit sterf nie, sal liefde nooit sterf nie. Daar word tereg gesê: “God is liefde.”
14. Watter waarheid oor die verenigende krag van liefde kan herhaal word?
14 Wat die verenigende krag van liefde betref, kan ons die geïnspireerde waarheid wat in 1 Johannes 4:8, 16 verklaar word, herhaal en daarop uitbrei: “God is liefde; en hy wat in die liefde bly, bly in God, en God in hom.”
15. Wat het God beweeg om die mens te skape, en waarom kan die mens daardie dryfkrag waardeer en behoorlik daarop reageer?
15 Toe God die eerste mens op aarde voortgebring het, was dit dienooreenkomstig liefde wat hom beweeg het om dit te doen. Genesis 1:27 berig hieromtrent: “En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape.” Dit beteken nie dat die eerste mens God se liggaamsvorm gehad het nie, maar dat hy begaaf was met eienskappe wat God self besit. Hierdie verstandelike, geestelike en harteienskappe onderskei hom van die laere lewensvorms op aarde. Daarom kon hierdie begaafde menseskepsel sy Skepper se liefde vir hom waardeer en behoorlik daarop reageer, soos ’n seun teenoor sy vader. Daar het ’n familieband tussen hulle bestaan wat realisties gemaak is deur gereelde omgang met mekaar al was die Vader onsigbaar vir die aardse seun, omdat geen mens God kan sien en bly lewe nie. God het later hierdie feit vir Moses gemeld: “Geen mens kan My sien en bly lewe nie” (Exodus 33:20). Hierdie reël is nie verander nie, want meer as vyftienhonderd jaar later het die apostel Johannes aan mede-Christene geskryf: “Niemand het ooit God gesien nie; die eniggebore Seun wat in die boesem van die Vader is, dié het Hom verklaar.”—Johannes 1:18.
16. Waarmee het Johannes en sy mededissipels God se vaderlike liefde beantwoord, en hoe bind die ‘liefdeband’ die gesalfde oorblyfsel en die “ander skape” saam?
16 As ’n geesverwekte seun van God was die apostel Johannes in ’n familieverwantskap met Jehovah God en met sy Seun, “die eniggebore Seun”, Jesus Christus. Johannes en sy mede-Christene het God se vaderlike geneentheid met kinderliefde beantwoord. Daardie liefde was ’n “band van eenheid” tussen hulle en hulle onsigbare hemelse Vader. Dit het ook die geesverwektes saamgebind as die geestelike seuns van God en as Christenbroers en -susters. Wanneer ons vandag daardie “band van eenheid” ondersoek, sien ons dat dit ‘volmaak’ is, want die lede van die gesalfde oorblyfsel kleef onskeibaar aan mekaar as mede-aanbidders en getuies van Jehovah God. Hierdie liefde hou hulle in die gesin van God en in die Christelike broerderskap. Dit is opmerklik dat hulle mede-aanbidders by God se tempel, die “groot menigte” van Christus se “ander skape”, dieselfde onuitblusbare liefde aan die dag lê wat Jehovah se Getuies vandag so volmaak saambind. Mag ons vasbeslote die apostel Paulus se oortuiging deel dat geen “skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie”.—Romeine 8:38, 39.
Kan jy die volgende vrae beantwoord?
◻ Hoe is elke familie sy naam aan God te danke?
◻ Hoe moet daardie feit almal in die Christengemeente beïnvloed?
◻ Wie is deur Jonatan afgeskadu?
◻ Waarom is liefde groter as geloof en hoop?
◻ Hoe bind liefde ons aan God?
[Prent op bladsy 16]
Die innige liefde tussen Dawid en Jonatan het die liefde tussen die gesalfdes en die “ander skape” afgeskadu