Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w83 3/1 bl. 8-13
  • Liefde, die “volmaakte band van eenheid”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Liefde, die “volmaakte band van eenheid”
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die persoonlikheid wat vir ons van belang moet wees
  • ’n Teenstelling met diegene wat nie verenig is nie
  • Hoe ons ons met liefde beklee en dit dra
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
  • Liefde—’n volmaakte band van eenheid
    Sing lofliedere voor Jehovah
  • As ’n “band van eenheid” is liefde ‘volmaak’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
  • Toon altyd liefde en geloof
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
w83 3/1 bl. 8-13

Liefde, die “volmaakte band van eenheid”

“Maar beklee julle benewens al hierdie dinge met liefde, want dit is ’n volmaakte band van eenheid.”—KOLOSSENSE 3:14, NW.

1. Waarom is die bevel in Kolossense 3:14 vandag ’n uitdaging?

TE MIDDE van ’n verdeelde wêreld vol haat is die bevel wat God se geskrewe Woord in Kolossense 3:14 vandag tot Jehovah se Getuies rig inderdaad ’n uitdaging. Dit lyk amper onmoontlik, want dit beveel hulle: “Beklee julle benewens al hierdie dinge met liefde, want dit is ’n volmaakte band van eenheid.” Daardie geïnspireerde bevel word nietemin tot Sy eer uitgevoer.

2. Wat is skynbaar die band wat die sektes van die Christendom saambind, en waarvan maak dit die valse Christendom deel?

2 Liefde, as ’n volmaakte band van eenheid, bestaan ongetwyfeld nie in die valse Christendom nie, want dit bestaan uit honderde botsende godsdienssektes en denominasies met uiteenlopende godsdiensopvattings en gebruike. Dit is opmerklik dat die kerkstelsels van die Christendom se band van eenheid skynbaar hulle haat vir en teenstand teen die Christengemeente van Jehovah se toegewyde, gedoopte volk, sy hedendaagse getuies, is (Jesaja 43:10, 12). Deur sulke haat te openbaar en teenstand te bied, maak die godsdiensorganisasies van die Christendom hulle ’n integrerende deel van die wêreld onder die opperheerskappy van Satan die Duiwel, “die god van hierdie wêreld” (2 Korinthiërs 4:4). Dit is presies wat die Stigter van die Christelike godsdiens gesê het die geval sou wees. Tydens sy laaste gesprek met sy getroue apostels, nadat die verraderlike Judas Iskariot vertrek het, het Jesus gesê: “Dit gebied Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê. As die wêreld julle haat, moet julle weet dat hy My voor julle gehaat het. As julle van die wêreld was, sou die wêreld sy eiendom liefhê. Maar omdat julle nie van die wêreld is nie, maar Ek julle uit die wêreld uitverkies het, daarom haat die wêreld julle.”—Johannes 15:17-19.

3. Watter vraag ontstaan oor die skyf van die wêreld se haat?

3 In die lig van Jesus se woorde ontstaan die vraag logies: Watter godsdiensgroep word vandag deur die wêreld, die valse Christendom nie uitgesluit nie, gehaat en met vyandigheid bejeën? Die mensegeskiedenis, veral sedert die Eerste Wêreldoorlog, help enige eerlike ondersoeker om hulle onmiskenbaar te identifiseer.

4. Vir wie geld Paulus se bevel in Kolossense 3:14, en wie is sulke persone se gemeenskaplike, geestelike Vader?

4 Uit die inleiding tot die apostel Paulus se brief aan die Kolossense weet Jehovah se Getuies van vandag dat sy bevel regstreeks op hulle van toepassing is: “Beklee julle . . . met liefde, want dit is ’n volmaakte band van eenheid.” Ons lees: “Paulus, ’n apostel van Jesus Christus deur die wil van God, en die broeder Timotheüs, aan die heilige en gelowige broeders in Christus wat in Kolosse is: Genade vir julle en vrede van God onse Vader” (Kolossense 1:1, 2). Wel, wie was die gemeenskaplike, hemelse Vader van daardie eerste-eeuse Christene in die stad Kolosse, Klein-Asië? Dit was die Vader van hulle geestelike Leier, Jesus Christus, en sy Vader is die God wat “die Allerhoogste oor die hele aarde is” en “wie se naam Jehovah is”.—Psalm 83:18, NW.

5. Wie moet aanbid word deur diegene aan wie Paulus sy brief rig, en hoe is dit toegelig deur Jesus en wat die apostel Johannes geskryf het?

5 Diegene aan wie Paulus sy brief rig, moet dus aanbidders wees van Jehovah God, net soos Jesus Christus self ook is! Op die berg van versoeking het Jesus die Duiwel se aanbod, naamlik die hele wêreld indien Jesus voor hom sou neerbuig en hom aanbid, van die hand gewys. Jesus het die Versoeker dadelik weggestuur en die geïnspireerde gebod aangehaal: “Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien” (Mattheüs 4:8-11; Lukas 4:8; Deuteronomium 6:4, 5, 13). In navolging van Jesus moet sy dissipels dieselfde God aanbid wat hy nog altyd aanbid het—Jehovah (Johannes 20:17). Dienooreenkomstig het die engel wat die Openbaring aan die apostel Johannes oorgedra het, beswaar gemaak toe die apostel voor hom neergeval het met die doel om hom te aanbid. Die engel het gesê: “Aanbid God. Want die getuienis van Jesus is die gees van die profesie.”—Openbaring 19:10; 1:1.

6. Na watter handelwyse van die valse Christendom het die bevel in Openbaring 18:4, 5 dringender geword, en wie het daardie bevel gehoorsaam, en met watter gevolg?

6 Na die Godonterende reputasie wat Babilon die Grote, die wêreldryk van valse godsdiens, gedurende die Eerste Wêreldoorlog verkry het, was die goddelike bevel in Openbaring 18:4, 5 selfs dringender as ten tye van die publikasie van die Watch Tower se nommer vir Desember 1880 of vroeër, naamlik: “Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie. Want haar sondes reik tot aan die hemel, en God het haar ongeregtighede onthou.”a In gehoorsaamheid aan daardie bevel het diegene wat Jehovah God se “volk” wou wees uit Babilon die Grote gegaan en saamgestroom ten behoewe van Christelike eenheid, om daardie liefde, wat ’n “volmaakte band van eenheid” is, te ontwikkel. Hulle het die woorde van die apostel in 1 Korinthiërs 14:33 ter harte geneem: “God is nie ’n God van wanorde nie, maar van vrede.” Wanneer ons vandag na die meer as drie-en-veertig-duisend gemeentes van die getuies van Jehovah kyk, word ons gedring om uiting te gee aan die woorde van Psalm 133:

“Kyk, hoe goed en hoe lieflik is dit dat broers ook saamwoon! Dit is soos die kosbare olie op die hoof, wat afloop op die baard, die baard van Aaron, wat afloop op die soom van sy klere. Dit is soos die dou van Hermon wat neerdaal op die berge van Sion; want daar gebied die Here die seën, die lewe tot in ewigheid!”—Psalm 133:1-3.

7. Wie se plig is dit vandag om hierdie eenheid te bewaar, en waarom het God sy getuies deur die Eerste Wêreldoorlog heen bewaar?

7 Net soos dit die geval met die gemeente in Kolosse gedurende die eerste eeu van ons sogenaamde Christelike Jaartelling was, is dit die verpligting van die hedendaagse getuies van Jehovah om hierdie bewonderenswaardige, organisatoriese eenheid te midde van hierdie verdeelde wêreld te bewaar. Dit is veral die geval sedert die einde van die vasgestelde “tye van die nasies” in daardie veelbewoë jaar 1914! (Lukas 21:24). Die Eerste Wêreldoorlog het die blote voortbestaan van Jehovah se Getuies as ’n waarlik Christelike organisasie bedreig. Maar ter wille van die verkondiging van ‘hierdie evangelie van die koninkryk in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies’ het die almagtige God nie toegelaat dat die gesamentlike vyande in die valse Christendom en in die heidendom al sy gesalfde getuies van die aarde af uitwis nie (Mattheüs 24:14; Markus 13:10). In die eerste na-oorlogse jaar, 1919 G.J., het Jehovah God hulle van hulle bedwang bevry en hulle uitgestuur om die predikingswerk onder al die nasies te doen.

8. Hoe gaan Satan te werk om hierdie Christelike eenheid te vernietig, aangesien hy nie daarin geslaag het om dit deur middel van uitwendige middele te doen nie?

8 Satan die Duiwel het nie daarin geslaag om Jehovah se Getuies deur middel van uitwendige middele en agente te vernietig nie, en daarom probeer hy sedertdien om hulle verenigde struktuur op ’n subtiele wyse te vernietig: deur van binnekant, van binne die organisasie, te boor. Dit is in Openbaring 12:17 voorspel met die woorde: “Die draak was vertoornd op die vrou, en hy het weggegaan om oorlog te voer teen haar ander nakomelinge wat die gebooie van God bewaar en die getuienis van Jesus Christus hou.”

Die persoonlikheid wat vir ons van belang moet wees

9. Teen watter besmetting moet Jehovah se Getuies waak, en wat sê Psalm 91 hieromtrent?

9 Die haat waarvan die goddelose wêreld deurtrek is, versprei, net soos Jesus Christus self voorspel het in sy profesie oor “die voleinding van die wêreld” toe hy gesê het: “Baie valse profete sal opstaan en baie mense mislei. En omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel. Maar wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word” (Mattheüs 24:3, 11-13). Haatdraendheid is baie aansteeklik, en daarom moet selfs die lede van Jehovah God se sigbare organisasie daarteen waak dat hulle besmet word. Die geïnspireerde psalmis wys hoe ons dit kan doen waar hy sê: “Hy wat in die skuilplek van die Allerhoogste sit, sal vernag in die skaduwee van die Almagtige. Ek sal tot die HERE sê: My toevlug en my bergvesting, my God op wie ek vertrou. Jy hoef nie te vrees vir die skrik van die nag, vir die pyl wat bedags vlieg nie, vir die pes wat in die donker wandel, vir die siekte wat op die middag verwoes nie! Al val daar duisend aan jou sy en tienduisend aan jou regterhand—na jou sal dit nie aankom nie. Net met jou oë sal jy dit aanskou en die vergelding van die goddelose sien.”—Psalm 91:1, 2, 5-8.

10. Hoe sal ons voorkom dat ons ’n persoonlikheid het wat ons soos diegene van die wêreld laat lyk, en hoe beskou God ons in teenstelling met die dooie wêreld?

10 Ons word verseker van God se beskerming, maar dan moet ons voldoen aan die vasgestelde vereistes wat daarmee gepaard gaan. As ons die geestelik dodelike intiemheid met die siek wêreld vermy, sal ons onsself nie beklee met die persoonlikheid wat ons soos mense van die wêreld laat lyk nie. Ons sal ons nie met die haatdraendheid van die wêreld beklee nie. In lynregte teenstelling met haat is liefde, liefde vir Jehovah en vir sy Christus en vir ons Christenbroers en -susters. Die persoonlikheid wat hierdie eienskap uitstraal, is die persoonlikheid waarmee die geïnspireerde apostel Paulus vir ons sê ons ons as dissipels van Jesus Christus moet beklee. As ons dit doen, sal ons ons “in ongeveinsde liefde” by ander as God se bedienaars aanbeveel (2 Korinthiërs 6:4-10). Hierdie liefde het sy oorsprong by God, en as ons dit besit, beteken dit dat ons ’n verhouding met hom aangeknoop het deur die wêreld die rug toe te keer en nie hart en siel daarmee te harmonieer nie. In God se oë is die wêreld dood, en so ook diegene wat deel daarvan is; hulle lewe beslis nie vir hom nie. In God se oë is ons, die toegewyde, gedoopte dissipels van Jesus Christus, lewend; ja, ons lewe as deel van Sy organisasie, waar liefde gedy. Eerste Johannes 3:14 oordryf dus nie wanneer dit sê nie: “Ons weet dat ons oorgegaan het uit die dood in die lewe, omdat ons die broeders liefhet. Hy wat sy broeder nie liefhet nie, bly in die dood.”

11. Tot watter broederskap verleen liefde ons toegang?

11 Ons sien dus dat liefde ons toegang verleen tot ’n broederskap waarin Jesus Christus, die Seun van God, ons ouer broer is. Hierdie Christelike hoedanigheid is ’n gewaad, of kleding, waardeur ons ongeveinsd moet toon of openbaar wat ons presies is. Dit is die vernaamste eienskap wat God se Woord sê ons moet aankweek en beoefen.

12. Watter stappe moet gedoen word om daardie liefde te verkry, en moet die dinge wat daardie stappe uitmaak daarna laat vaar word?

12 Dit is te begrype dat daar sekere stappe is wat ’n gehoorsame dissipel moet doen om die ware soort liefde te verkry. Vir diegene aan wie die glorieryke prys van die goddelike natuur in die hemel voorgehou word, sê 2 Petrus 1:5-8: “Juis daarom ook moet julle met aanwending van alle ywer by julle geloof voeg die deug, en by die deug die kennis, en by die kennis die selfbeheersing, en by die selfbeheersing die lydsaamheid, en by die lydsaamheid die godsvrug, en by die godsvrug die broederliefde, en by die broederliefde die naasteliefde. Want as hierdie dinge by julle aanwesig is en toeneem, dan laat dit julle nie ledig of onvrugbaar tot die kennis van onse Here Jesus Christus nie.” Die verskeie eienskappe wat bygevoeg is, moet nie laat vaar word nadat die vernaamste eienskap, liefde, verkry is nie. Nee, maar geloof, deug, kennis, selfbeheersing, lydsaamheid, godsvrug en broederliefde moet integrerende dele van ons afgeronde persoonlikheid bly. Hulle moet saam met liefde oorvloedig wees. Dan sal diegene met sulke permanente karaktertrekke op God se bestemde tyd die prys van hom ontvang.

13. Wat voeg Paulus in Kolossense 3:12-14 by daardie voorafgaande stappe?

13 As toevoeging tot die dinge wat ons moet aankweek om ’n geskikte beloning te verkry, kan ons gepas hier die eienskappe meld wat die apostel Paulus sê ons as ’n openbaring van ons persoonlikheid moet dra. Voordat hy toon wat die volmaakte band van eenheid is, sê Paulus: “Beklee julle dan, as uitverkorenes van God, heiliges en geliefdes, met innerlike ontferming, goedertierenheid, nederigheid, sagmoedigheid, lankmoedigheid. Verdra mekaar en vergewe mekaar as die een teen die ander ’n klag het; soos Christus julle vergeef het, so moet julle ook doen. En beklee julle bo dit alles met die liefde wat die band van die volmaaktheid [volmaakte band van eenheid] is.”—Kolossense 3:12-14, vgl. NW.

’n Teenstelling met diegene wat nie verenig is nie

14. Watter soort persone was die lede van die Christengemeente voordat hulle op die instruksies van die apostels gereageer het?

14 Daardie instruksies van die apostels toon watter soort persone die lede van die Christengemeente behoort te wees. Hulle was vantevore deel van die onbeminlike, goddelose wêreld met al sy duiwelse eienskappe. Watter soort persoonlikhede was hulle toe? In 1 Korinthiërs 6:9-11 wys die apostel Paulus hierop wanneer hy sê: “Of weet julle nie dat die onregverdiges die koninkryk van God nie sal beërwe nie? Moenie dwaal nie! Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of wellustelinge of sodomiete of diewe . . . sal die koninkryk van God beërwe nie. En dit was sommige van julle; maar julle het jul laat afwas, maar julle is geheilig, maar julle is geregverdig in die Naam van die Here Jesus en deur die Gees van onse God.”

15. Waarom besit wêreldlike persone nie die duursame “band van eenheid” nie?

15 Wêreldlike persone wat aan voormelde beskrywing beantwoord, sal dit moeilik vind om iets onselfsugtigs en reins te vind wat hulle as ’n onverbreeklike, volmaakte band sal saambind. Hulle het inderdaad geen “volmaakte band van eenheid” nie. Die mensegemeenskap daar buite in die ou wêreld bly gevolglik nie byeen nie. Dinge van gemeenskaplike selfbelang hou hulle ’n rukkie bymekaar. Maar wanneer hierdie dinge van gemeenskaplike selfbelang weggeneem word, verloor wêreldlinge mettertyd belangstelling in mekaar. Bande word ontbind. Uiteindelik verduur hulle mekaar bloot as onvermydelike medemense in ’n gemeenskap.

16. Waarna keer wêreldlike persone terug wanneer hulle vry is van dinge wat hulle tydelik verenig, en waarom?

16 Nasionalisme! Patriotisme! Godsdienstige sektegees! Rassisme! Wanneer sulke emosiewekkende dinge tot op die hoogtepunt opgesweep word, sal die betrokke persone deur pligsgevoel en ’n gevoel van verpligting oorweldig word. Maar mense bly immers dieselfde egoïstiese persone. Wanneer hulle diensvry is, wanneer dit hulle vry staan om op te tree volgens hulle eie voorkeur en teësin, sal hulle hulle as dieselfde ou selfsugtige persone verraai. Al word persone wat aan hierdie wêreld gelyk geword het, opgehemel en al word daar gesê dat hulle hemelse eer en verheerliking waardig is vanweë besondere wêreldlike dienste of as gevolg van onwrikbare toewyding aan ’n wêreldsaak, kan hulle volgens Bybelstandaarde nie gereken word as persone wat ’n plek in die hemelse koninkryk van Jehovah God waardig is om saam met Christus te heers nie.

17. Wat verg God se koninkryk van diegene wat dit eers soek, en wat help hulle hiermee?

17 God se koninkryk is in geen vennootskap met hierdie wêreld en dié se aanhangers nie. Omdat die wêreld onder Satan hopeloos daarin misluk het om sy aanhangers te verenig, verg God se koninkryk in die hande van Christus eendragtige optrede en diens van die toegewyde, gedoopte Christene wat dit eers soek. Hierdie Koninkryk is die produk van God se liefde. Die gees van daardie hemelse regering is liefde, bowenal liefde vir God en haat vir sy aartsvyand, Satan, en die wêreld waarvan hy “die god” is. Ondanks al Satan se pogings om dinge te ontwrig, bly hierdie liefde wat van Jehovah God, die hemelse Vader, af kom die “volmaakte band van eenheid” vir almal wat by sy sigbare, aardse organisasie bly, ja, vir al die lede van God se gesin, in die hemel sowel as op die aarde.

[Voetnoot]

a Op bladsy 6 het hierdie nommer ’n artikel bevat met die titel “Babilon die Grote”.

Onthou jy?

◻ Hoe is ware Christene verenig, in teenstelling met die valse Christendom?

◻ Hoe probeer Satan om ons Christelike eenheid te vernietig?

◻ Hoe kan ons ons ‘met liefde beklee’ ondanks die wêreld se haatdraendheid?

◻ Hoe kan liefde ons hegter saamsnoer as die bande in die wêreld?

[Prent op bladsy 11]

Christene is deel van ’n liefdevolle broederskap waarin Jesus Christus ’n ouer broer is

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel