Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w83 3/1 bl. 18-23
  • Hoe ons ons met liefde beklee en dit dra

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe ons ons met liefde beklee en dit dra
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Hoe om verdelende faktore te bowe te kom
  • Verenig vir ’n spesiale werk
  • Bly verenig deur liefde
  • Liefde, die “volmaakte band van eenheid”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
  • As ’n “band van eenheid” is liefde ‘volmaak’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
  • Word opgebou deur liefde
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2001
  • Liefde—’n volmaakte band van eenheid
    Sing lofliedere voor Jehovah
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
w83 3/1 bl. 18-23

Hoe ons ons met liefde beklee en dit dra

1. Waarmee moet ons ons beklee, en wanneer sal die grootste toets daarvan aanbreek?

AANGESIEN liefde ’n “volmaakte band van eenheid” is, is dit die allerbelangrikste eienskap waarmee ons onsself ongeveinsd moet beklee. Ons moet dit voortdurend in alle opregtheid dra. Dit is nie ’n dekmantel wat ’n mens se ware persoonlikheid verbloem nie. Dit is as raad vir ons dat die volgende geïnspireerde woorde bewaar is: “Laat die liefde ongeveins wees; . . . wees hartlik teenoor mekaar met broederlike liefde” (Romeine 12:9, 10). Die grootste toets van die egtheid van ons liefde, hierdie “band van eenheid”, lê nog voor—in die nabye toekoms.

2. Word liefde sonder enige voorafgaande stappe verkry?

2 Dit is nou vir ons die geleë tyd om daardie liefde aan te kweek. Al die stappe wat na die verkryging van daardie eienskap lei, moet nou gedoen word. Dit is waarom die apostel Paulus die verskeie dinge wat die toegewyde, gedoopte dissipels van Jesus Christus moet doen, bekroon deur te sê: “Beklee julle benewens al hierdie dinge met liefde, want dit is ’n volmaakte band van eenheid” (Kolossense 3:14, NW). Wat is “hierdie dinge” waarbenewens ons ons met liefde moet beklee?

Hoe om verdelende faktore te bowe te kom

3. Wat is volgens Kolossense 3:9-13 die stappe wat gedoen moet word om liefde te verkry?

3 In die dae van die apostels Paulus en Johannes was daar dinge of faktore wat tot verdeeldheid kon lei. Maar daardie eens geldige redes moes nou geïgnoreer word, hulle belangrikheid en gewig moes nou kleineer word. Die Christene het almal een gemeente uitgemaak, een liggaam onder die een geestelike Hoof, Jesus Christus. Alle vleeslike gronde wat gebruik kon word om onderskeide te tref, moes opsy gestoot word. Die verenigende geestelike feite moes op die voorgrond gehou word. In ooreenstemming hiermee het die apostel Paulus voorts gesê: “Lieg nie vir mekaar nie, omdat julle die oue mens [persoonlikheid, NW] met sy werke afgelê het en julle met die nuwe mens [persoonlikheid, NW] beklee het wat vernuwe word tot kennis na die beeld van sy Skepper, waar daar nie Griek en Jood, besnedene en onbesnedene, barbaar, Scith, slaaf, vryman is nie, maar Christus is alles en in almal. Beklee julle dan, as uitverkorenes van God, heiliges en geliefdes, met innerlike ontferming, goedertierenheid, nederigheid, sagmoedigheid, lankmoedigheid. Verdra mekaar en vergewe mekaar as die een teen die ander ’n klag het.”—Kolossense 3:9-13.

4. Waarom het die lede van die eerste-eeuse gemeente nie so goed met mekaar oor die weg gekom nie, en op grond waarvan kon sekere dinge geïgnoreer word?

4 Weens al die gemelde verskille in nasionaliteit en godsdiensagtergrond, stand, ras en kleur, het hulle nie so goed in die gemeente met mekaar oor die weg gekom nie. Daar was ’n behoefte aan begrip en toegeeflikheid. Want hoewel daardie dinge vir vleeslike mense saak gemaak het, het dit beslis nie saak gemaak vir God en vir sy Seun Jesus Christus, wat vir die hele mensdom gesterf het toe al hierdie verskille reeds bestaan en voortgeduur het nie. Vrysinnige manne het natuurlik sulke verskille geïgnoreer vanweë hulle onbekrompenheid, en het dit op grond van algemene beginsels gedoen. Dit kon selfs goeie beleid, nee, sommer pure menslikheid wees. Tog kon egte, onselfsugtige liefde ontbreek.

5. Watter gewone, menslike dinge is nie voldoende nie wanneer Jehovah se Getuies verdelende dinge te bowe wil kom, en met wie toon hulle aldus dat hulle in eendrag is?

5 Daarom moet ons as toegewyde, gedoopte volgelinge van die Een wat sy volmaakte menselewe ten behoewe van allerhande mense gegee het nie bloot formeel, aangenaam, gaaf, manierlik en menslik wees nie; ons moet deur opregte, onbaatsugtige liefde as ’n vrug van Jehovah God se gees beweeg word. Hierdie vrug soek ander se voordeel en wins. Dit bevorder met graagte ander se geestelike welsyn en geluk. Dit toon dat ons in eendrag is met God, wat die verpersoonliking van liefde is. Hierdie liefde het trekkrag. In ooreenstemming hiermee sê 1 Johannes 4:19 (NTP): “Ons het lief omdat God ons eerste liefgehad het.”

6. Waardeur word die lede van die “een kudde” na mekaar aangetrek, en waarop is die vrug van God se gees nie gebaseer nie?

6 Wanneer die verskeidenheid persone wat die “een kudde” onder die “een herder” uitmaak, liefde aan mekaar bewys, snoer dit hulle heg saam en neutraliseer dit die verdelende invloed van die verskillende agtergronde van die lede van die “een kudde”. Hulle voel tot mekaar aangetrokke omdat hulle hulself beklee het met die “nuwe persoonlikheid”. Hulle het almal die “een Gees” wat uitgaan van die een goddelike Bron, die God en Lewegewer van almal. Die hartverblydende vrug van sy gees is ’n liefde wat nie op seks of selfsugtige wellus gebaseer is nie, maar op die hartgrondige waardering vir die goddelike eienskappe van die “nuwe persoonlikheid”. Dit alleen dien as ’n “volmaakte band van eenheid” wat harmonie en behulpsaamheid bewaar.

Verenig vir ’n spesiale werk

7. Wat is sedert 1914 nodig aan die kant van Jehovah se Getuies, en ter wille van watter werk is dit nodig?

7 Op hierdie late tydstip in “die voleinding van die wêreld” sedert 1914 bestaan daar ’n behoefte aan gesamentlike optrede deur Jehovah se Getuies, wat geen deel van hierdie stelsel is nie. Dit is hulle plig om ’n wêreldwye getuienis te lewer oor die allerbelangrikste verwikkeling in die hele mensegeskiedenis (Mattheüs 24:14; Markus 13:10). Die situasie moet die besondere punt bereik wat die apostel Paulus as iets merkwaardigs in sy dag gemeld het. Hy het die aandag hierop gevestig in Kolossense 1:23 waar hy gepraat het van “die hoop van die evangelie . . . wat julle gehoor het en wat verkondig is in die ganse mensdom onder die hemel, waarvan ek, Paulus, ’n dienaar geword het”. En nou, al julle hedendaagse bedienaars van die evangelie, wat van ’n soortgelyke wêreldwye verkondiging van die evangelie wat vir ons kritieke tyd bestem is?

8. Watter gesig wat Johannes in Openbaring 14:6-12 beskryf het, word vandag vervul?

8 Ons sien vandag die vervulling van die gesig wat, die apostel Johannes gehad het en wat hy soos volg in Openbaring 14:6-12 beskryf het: “En ek het ’n ander engel in die middel van die lug sien vlieg met ’n ewige evangelie om te verkondig aan die bewoners van die aarde en aan alle nasies en stamme en tale en volke. En hy het met ’n groot stem gesê: Vrees God en gee Hom heerlikheid, want die uur van sy oordeel het gekom; en aanbid Hom wat die hemel en die aarde en die see en die waterfonteine gemaak het. En ’n ander engel het gevolg en gesê: Geval, geval het Babilon die groot stad, omdat sy al die nasies laat drink het van die wyn van die grimmigheid van haar hoerery. En ’n derde engel het hulle gevolg en met ’n groot stem gesê: As iemand die dier en sy beeld aanbid en ’n merk op sy voorhoof of op sy hand ontvang, sal hy self ook drink van die wyn van die grimmigheid van God wat ongemeng ingeskink is in die beker van sy toorn, en hy sal gepynig word met vuur en swawel voor die heilige engele en voor die Lam. En die rook van hulle pyniging gaan op tot in alle ewigheid, en hulle het dag en nag geen rus nie—hulle wat die dier en sy beeld aanbid, en elkeen wat die merk van sy naam ontvang. Hier kom die lydsaamheid van die heiliges te pas; hier is hulle wat die gebooie van God en die geloof in Jesus bewaar.”

9. Wanneer het Jehovah se Getuies die vervulling van die apostel Johannes se gesig gesien, en waarom was hulle toe vry om die evangelie oral te verkondig?

9 Het die gesalfde oorblyfsel wat deur die apostel Johannes afgebeeld is die hedendaagse ekwivalent gesien van daardie engel wat in die middel van die lug vlieg met ’n “ewige evangelie” wat aan al die aarde se bewoners verkondig moes word, ja, aan elke nasie, stam, taal en volk ongeag hulle kleur? Ja, sedert die noordelike somer van die naoorlogse jaar 1919. Dit was toe dat daar begin is om Jesus se verpligtende profesie in Mattheüs 24:14 te vervul. Het die oorlewende oorblyfsel destyds ’n “ewige evangelie” gehad om in die ganse mensdom onder die hemel te verkondig? Ja, inderdaad! Hulle kon die blye tyding verkondig dat God se koninkryk in die hande van Christus aan die einde van die Tye van die Nasies in 1914 in die hemele opgerig is. En watter aangrypende goeie nuus was dit tog vir die oorblyfsel geestelike Israeliete om deur na-oorlogse verwikkelinge te wete te kom dat Babilon die Grote, deur wie hulle in die besonder verdruk is, geval het en haar krag oor Jehovah se Getuies verloor het! Hulle was nou vry om hierdie belangrike, goeie nuus aan alle volke in godsdienstige gevangenskap te verkondig, om vir hulle te sê om uit Babilon die Grote te kom en hulle te help om dit te doen.—Openbaring 18:4.

10. Waarby het diegene wat uit Babilon die Grote gekom het, aangesluit, en deur watter band van eenheid word hulle omsluit?

10 ’n “Groot menigte” vryheidliewende persone het reeds gereageer op die “ewige evangelie” en het gehoor gegee aan die tydige oproep om uit die Babiloniese wêreldryk van valse godsdiens te gaan. Hulle het na die kant van die bevryde oorblyfsel geestelike Israeliete gestroom. Sodoende het hulle by Jehovah se sigbare organisasie aangesluit en self Jehovah se Getuies geword. Hulle word nou omsluit deur daardie “volmaakte band van eenheid”, die liefde wat ’n vrug van Jehovah God se gees is.—Kolossense 3:14, NW; Galasiërs 5:22.

11. Vir wie is die valse Christendom lief, en wanneer sal Jehovah se Getuies die woorde in Openbaring 19:1, 2 jubelend uitbasuin?

11 Die sogenaamde Christendom is die oorheersende deel van Babilon die Grote. Ondanks haar naam beoefen sy nie die ware Christelike godsdiens nie, en haar honderdmiljoene lidmate word nie deur die “volmaakte band van eenheid” saamgebind nie, soos blyk uit haar verdeeldheid in die vorm van etlike honderde godsdienssektes en -denominasies. Die liefde waarmee die valse Christendom haarself beklee het, is die liefde vir Babilon die Grote se minnaars, die politieke en maatskaplike elemente van hierdie wêreld, saam met wie sy haar aan godsdienstige hoerery skuldig gemaak het. Daar sal inderdaad groot vreugde heers wanneer Babilon die Grote, die valse Christendom inkluis, nie net val nie, maar heeltemal vernietig word op God se tyd om met haar af te reken. Dan sal sy Getuies die woorde van Openbaring 19:1, 2 jubelend uitbasuin: “Halleluja, die heil en die heerlikheid en die eer en die krag aan die Here onse God! Want sy oordele is waaragtig en regverdig; want Hy het die groot hoer geoordeel wat die aarde met haar hoerery verderf het, en Hy het die bloed van sy diensknegte op haar gewreek.” Haar vernietiging, asof deur vuur, sal eindeloos wees en “tot in alle ewigheid” duur.—Openbaring 19:3.

12. Watter eienskap moet Jehovah se Getuies beoefen totdat Babilon die Grote vernietig word, en watter soort front moet hulle die vyande van die lig bied?

12 Intussen, terwyl Jehovah toelaat dat Babilon die Grote voortbestaan, verplig die aardse situasie van diegene “wat die gebooie van God en die geloof in Jesus bewaar” dat hulle “lydsaamheid” beoefen (Openbaring 14:12). Hulle het rede om Jesus se woorde in sy profesie oor “die voleinding van die wêreld” in Mattheüs 24:13 op hulself toe te pas, naamlik: “Wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word.” Hierdie woorde is onmiddellik voorafgegaan deur Jesus se verklaring: “Omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel” (Mattheüs 24:12). Jehovah se Getuies se liefde sal hulle in staat stel om tot aan die einde van hierdie ou stelsel te volhard. Hoe meer hulle liefde onder mekaar bewys en teenoor diegene wat ’n verhouding met Jehovah God begeer, des te sterker word daardie “volmaakte band van eenheid”. Voort dus, julle getuies van Jehovah, met die wêreldwye getuieniswerk vir die Koninkryk in die 205 lande waarin julle reeds werk, met ander lande in gedagte vir verdere uitbereiding! Dit is die tyd om die vyand ’n verenigde front te bied. Ons moet die geledere sluit en eensgesind stry teen die magte van die duisternis van hierdie wêreld.

13. Watter agentskap wat deur God gebruik word, verdien ons volgehoue lojale steun?

13 Die Wagtoring- Bybel- en Traktaat-genootskap van Pennsilvanië, V.S.A., is al byna ’n eeu lank ’n verenigde agentskap wat Jehovah ten behoewe van sy getuies gebruik. Dit is ’n kragtige instrument wat deur die “getroue en verstandige dienskneg”-klas gebruik is om aan Jehovah se Getuies hulle geestelike “voedsel op tyd te gee” (Mattheüs 24:45-47). Met 95 takke dwarsoor die aarde is dit duidelik dat Jehovah se seën daarop rus. Dit verdien steeds ons lojale ondersteuning en samewerking solank dit Jehovah God behaag om dit te gebruik. Hoe baie is ons tog aan daardie instrument verskuldig!

Bly verenig deur liefde

14. Watter soort klere moet ons bly dra, en deur watter eienskap moet Jehovah se volk gevolglik toon dat hulle sy getuies is?

14 Satan die Duiwel en sy vyandige wêreld sal aanhou probeer om ons in die war te bring, maar die liefde wat die oorheersende vrug van God se gees is, sal steeds bewys dat dit ’n volmaakte “band van eenheid” is. Wanneer ons ons met die “nuwe persoonlikheid” beklee, beklee ons ons met liefde, soos die apostel Paulus vir ons gesê het om te doen, en ons moet dit voortdurend dra as deel van ons persoonlikheid wat die beeld van God weerspieël. Toe hy sy laaste instruksies aan sy dissipels gegee het, het die Seun van God gesê: “’n Nuwe gebod gee Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê; soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê. Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het” (Johannes 13:34, 35). Hoe gepas was daardie woorde van die Seun van God tog, want sy hemelse Vader, Jehovah, is verpersoonlikte liefde, en ons moet dit aan die hele mensdom bekendmaak dat ons waarlik Sy getuies is deur die vrug van Sy gees, naamlik liefde, aan te kweek!

15. Wie moet Jehovah se Getuies ook liefhê as blyk van hulle liefde vir God?

15 As ons konsekwent wil optree met ons liefde vir Jehovah, moet ons ons medegetuies liefhê. Ter stawing hiervan herinner 1 Johannes 4:20, 21 ons: “As iemand sê: Ek het God lief—en sy broeder haat, is hy ’n leuenaar; want wie sy broeder wat hy gesien het, nie liefhet nie, hoe kan hy God liefhê wat hy nie gesien het nie? En hierdie gebod het ons van Hom dat hy wat God liefhet, ook sy broeder moet liefhê.”

16. Waarom kan Jehovah se Getuies nie anders as om mekaar lief te hê nie, en waarom sal liefde nooit op die aarde uitgewis word nie?

16 Ter toeligting van daardie beginsel het Jehovah se Getuies van vandag, ongeag of hulle van die geesverwekte mede-erfgename van die Koning Jesus Christus of van die “groot menigte” “ander skape” met hulle hoop op die aardse Paradys is, mekaar opreg lief. Hoe kan ons dan anders as om diegene lief te hê wat Jehovah God en sy geliefde Seun Jesus Christus liefhet? Ons het hulle lief en sodoende word ons deur daardie “volmaakte band van eenheid” saamgebind. Ondanks alles wat Satan die Duiwel en sy goddelose wêreld ook al probeer doen om hierdie vrug van Jehovah se gees te vernietig, liefde sal nooit op die aarde uitgewis word nie. Diegene wat tot met die vernietiging van hierdie duiwelse stelsel met liefde geklee bly, sal deur hulle lojale God bewaar word reg deur die “groot verdrukking” soos wat hierdie aarde nog nooit ondervind het nie (Mattheüs 24:21; Galasiërs 5:22). Sodoende sal slegs liefhebbers van God en van sy gesin, sy organisasie, behoue bly en die gereinigde aarde binnegaan wat omgeskep is in ’n glorieryke Paradys. Daardie Paradys sal nooit uitgewis word nie, maar sal vir ewig bewoon en verfraai word deur menslike verpersoonlikings van liefde. Liefde sal ’n ewige oorwinning behaal tot die heerlikheid van die goddelike Bron van liefde, Jehovah God.

Het jy opgelet?

◻ Waarom kon eerste-eeuse Christene met mekaar oor die weg kom al het hulle verskillende agtergronde gehad?

◻ Hoe beïnvloed liefde die twee groepe wat vandag die “een kudde” Christene uitmaak?

◻ Hoe word Openbaring 14:6-12 vandag vervul?

◻ Watter agentskap gebruik God om sy volk te help?

◻ Wat moet jy, in die lig van Kolossense 3:14, vasbeslote wees om te doen?

[Prent op bladsy 20]

Onder leiding van die engele . . .

[Prent op bladsy 21]

. . . het Jehovah se Getuies vandag ’n “ewige evangelie om te verkondig”

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel