Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w82 12/1 bl. 7-15
  • Jehovah se organisasie gaan uooruit

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Jehovah se organisasie gaan uooruit
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Toewyding beklemtoon uitbreiding
  • Broer Franz hou die toewydingstoespraak
  • ’n Dag vol geestelike seëninge
  • Ondersteun Jehovah se vooruitstrewende organisasie
  • Ek het voltydse diens ’n loopbaan gemaak
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • Die vervaardiging van Bybellektuur vir gebruik in die bediening
    Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
  • Verenigde bouwerk op wêreldskaal
    Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
  • Verenigde optrede vir wêreldwye bouwerk
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
w82 12/1 bl. 7-15

Jehovah se organisasie gaan uooruit

Hou jy daarmee tred?

DIT is onmoontlik om die Christelike Griekse Skrifte te lees en nie beïndruk te word deur die feit dat Christene georganiseer was vir aanbidding nie. Hulle was in die besonder georganiseer om te preek, om die evangelie van God se koninkryk te verkondig.

Die eietydse geskiedskrywer H. G. Wells het aangaande die vroeë Christelike godsdiens gesê: “Die enigste organisasie daarvan was ’n organisasie van predikers, en die hooffunksie daarvan was die preek.” Ja, dit is soos die apostel Petrus gesê het: “Hy [Jesus Christus] het ons bevel gegee om aan die volk te verkondig en met krag te betuig.”—Handelinge 10:42; Mattheüs 28:18, 19.

Maar wat van die predikingswerk in ons dag—die “laaste dae” van hierdie stelsel? (2 Timotheüs 3:1-5). Jesus Christus het voorspel: “Hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom” (Mattheüs 24:14). Voordat die einde van hierdie stelsel aanbreek, moet ’n ontsaglike, wêreldwye predikingswerk dus gedoen word. Watter organisasie doen dit?

Daar is inderdaad slegs een volk wat dwarsoor die wêreld georganiseer is om hierdie Koninkrykspredikingswerk te doen. Dit is Jehovah se Getuies. Hulle predikingswerk neem oor die hele aarde toe, naamlik in 206 lande. In 1981 het 2 361 896 Getuies aan die werk deelgeneem. Dit is oor die driekwartmiljoen Koninkryksverkondigers meer as net tien jaar tevore!

Om met die toenemende predikingsbedrywigheid tred te hou, het Jehovah se Getuies in net die afgelope twee jaar sowat twintig nuwe fabrieke voltooi of begin bou om Bybellektuur te druk. Daar is ook vinnige uitbreiding by die internasionale hoofkwartier van Jehovah se Getuies. In die eerste eeu was Jerusalem die plek vanwaar die Christenorganisasie leiding ontvang het (Handelinge 15:1, 2). Maar vandag word sulke leiding vanuit Brooklyn, New York, gegee.

Op die aand van 15 Maart vanjaar is die jongste toevoeging tot die hoofkwartier kompleks in Brooklyn toegewy. Dit is die Kantoorgebou te Columbia Heights 25, wat op die volgende bladsy gesien kan word. Dit bestaan uit ’n verboude gedeelte en ’n nuwe gedeelte wat tot een gebou saamgevoeg is.

Meer as tweeduisend lede van die hoofkwartierpersoneel in Brooklyn was aanwesig vir die toewydingsprogram wat om 6:45 nm. in die woonkwartier se gehoorsaal aangebied is. Maar die program is deur middel van geslotebaan-televisie na die Koninkryksaal en verskeie eetsale oorgesein tot voordeel van gesinslede wat daar vergader het. Daarbenewens kon meer as seshonderd ander gesinslede by Watchtower Farms, sowat 150 kilometer verder noord in die staat New York, daarna luister deur middel van ’n kabelverbinding.

Toewyding beklemtoon uitbreiding

Na die openingsgebed deur Carey W. Barber het die toewydingsprogram begin met ’n opsomming van die Wagtoring-studie vir die week deur John E. Barr. Dit het heel gepas oor toewyding gehandel. Milton G. Henschel, die voorsitter vir die aand, het Grant Suiter toe genooi om “geskiedkundige verwikkelinge” in God se organisasie van 1919 tot 1935 te hersien.

“Ons bespreek hierdie dinge nie verwaand asof ons Jehovah buite rekening laat nie” het broer Suiter begin. “Inteendeel, ons neem hom in aanmerking en erken die instrument wat dit hom behaag het om deur al hierdie dekades te gebruik, naamlik hierdie gesin.” Toe Jehovah se Getuies in 1909 na Brooklyn verhuis het, het die hoofkwartiergesin slegs uit sowat dertig lede bestaan.

Broer Suiter het verduidelik dat die organisasie in 1919 begin het om die nuwe tydskrif The Golden Age, wat nou Ontwaak! heet, uit te gee. En die daaropvolgende jaar het die hoofkwartiergesin begin om Bybellektuur op hulle eie perse in ’n drukkerytjie in Myrtlelaan te druk. Broer Suiter het gesê dat die gesin teen 1921 tot 107 toegeneem het. En in 1923 het hulle elke dag 5 000 boeke gedruk.

Omdat God se organisasie vooruitgegaan het, het dit groter fasiliteite nodig gehad. Broer Suiter het dus beskryf hoedat daar in 1927 ’n groter, nuwe woonkwartier vir die hoofkwartiergesin in Columbia Heights gebou en ’n drukkery met agt verdiepings ’n paar blokke daarvandaan te Adamsstraat 117 opgerig is.

Lyman A. Swingle het vervolgens voortgegaan met die verhaal oor “geskiedkundige verwikkelinge” en vertel van die vooruitgang van Jehovah se organisasie van 1936 tot 1950. “In 1936 het vervolging oor die hele wêreld toegeneem” het hy gesê. “Hitler se konsentrasiekampe was klaar gebou.” Toe het hy met sy kop in die rigting van ’n bejaarde egpaar in die gehoor geknik en gesê: “Broer Poetzinger en sy vrou is daardie jaar in hegtenis geneem, in daardie konsentrasiekampe gesit en het eers nege jaar later uitgekom.” Ondanks sulke vervolging het hulle en duisende ander steeds saam met God se organisasie vooruitgegaan.

“Dit was kritieke jare” het broer Swingle voorts gesê. “Op 1 September 1939 het Hitler se troepe Pole binnegeval en het die Tweede Wêreldoorlog uitgebreek.” Moeilikheid het ook in die Verenigde State toegeneem. “Gepeupel-geweld het dwarsoor die land voorgekom” het hy vertel, “’n Paar van ons Koninkryksale is heeltemal afgebrand. Baie van ons motors is verwoes. . . . Maar ondanks al die probleme het ons in 1940 ’n vermeerdering van 40 persent in die aantal verkondigers gehad!” Hy het daarop gewys dat die organisasie se ledetal gedurende die oorlog verdubbel het—van 71 500 Koninkryksverkondigers tot meer as 141 000.

“In 1946 is die eerste na-oorlogse byeenkoms in Cleveland, Ohio, gehou—en tagtigduisend het dit bygewoon” het broer Swingle vertel. By daardie byeenkoms is daar aangekondig dat verdere geboue in Columbia Heights opgerig sou word en dat die broers die bouprogram met hulle bydraes kon ondersteun. “Ons het toe ’n gebou met tien verdiepings opgerig [benewens die bestaande woonkwartier], en dit was so groot” het broer Swingle gesê, “dat ons gedink het dat ons nooit weer in Brooklyn sou hoef te bou nie. Ons het terselfdertyd ’n aanbousel met nege verdiepings by die drukkery te Adamsstraat 117 gevoeg. Hierdie geboue is vroeg in 1950 toegewy.”

Broer Swingle het ten slotte vertel: “1950—die eerste byeenkoms in Yankee-Stadion—agt dae. Broers uit sewe-en-sestig lande het dit bygewoon. Die opkoms: 123 707.” Voorwaar ’n tydperk van uitbreiding! “Van 1936 tot 1950 het ons toegeneem van ongeveer 50 000 verkondigers tot 373 430—ons het dus sewe en ’n half keer groter geword in daardie vyftien jaar!” Maar wie verdien tereg die eer daarvoor? Broer Swingle het afgesluit met die woorde van Nehemia: “Hulle het erken dat hierdie werk deur onse God gedoen is.”—Nehemia 6:15, 16.

Toe het broer Henschel self die “geskiedkundige verwikkelinge—1951-1981” verhaal. Hy het begin deur te sê: “Jehovah laat dinge gebeur. Jehovah laat dinge groei.” En nadat hy die apostel Paulus se woorde, “Ons is medewerkers van God” aangehaal het, het hy gevra: “Is dit nie ’n baie bemoedigende gedagte dat ons saam met God in sy werk kan arbei en die resultate kan sien wat Jehovah voortbring nie?”—1 Korinthiërs 3:6-9.

“Die getuienis is daar” het broer Henschel voorts gesê, “die geskiedkundige verwikkelinge toon dat Jehovah in beheer van die werk is. . . . Ons het verkondigers nodig gehad om hierdie evangelie oor die hele wêreld bekend te maak. Dit is ons toewysing—‘om die evangelie van die koninkryk’ te verkondig.” Hy het toe die geweldige vermeerderinge gemeld: “798 000 verkondigers in 1958. Teen 1968 was daar 1 221 000 werkers. Teen 1978, 2 182 000, en teen 1981, 2 361 000.”

“Indien hierdie meer as 2 000 000 werkers die predikingswerk moes doen” het broer Henschel gesê, “het ons toerusting nodig gehad.” Wie sou dit voorsien? Die lede van die hoofkwartiergesin! “In 1950 het die gesin uit 355 lede bestaan” het broer Henschel gesê. Maar hy het daarop gewys dat namate die aanvraag na Bybellektuur toegeneem het, die hoofkwartiergesin ook toegeneem het—tot 512 in 1960, tot 678 teen 1965, tot 1 228 in 1970, en tot ongeveer 2 600 vandag.

Om verblyf aan al hierdie werkers te verskaf, was meer huisvesting nodig. Broer Henschel het die uitbreiding beskryf: In Oktober 1960 is ’n nuwe woonkwartier met twaalf verdiepings te Columbia Heights 107 toegewy. Nog ’n nuwe woonkwartier is te Columbia Heights 119 gebou en op 2 Mei 1969 toegewy. In 1975 is die groot Towers Hotel gekoop en verbou om ongeveer negehonderd lede van die gesin te huisves. En op Watchtower Farms is nuwe woonkwartiere in 1968, 1971 en 1973 voltooi.

Broer Henschel het vertel hoedat drukkerye gebou en gekoop is om in die groter aanvraag na Bybellektuur te voorsien. In 1956 is ’n gebou met dertien verdiepings te Sandsstraat 77 opgerig. In 1958 is nog ’n gebou (met tien verdiepings) oorkant die straat gekoop. In 1968 is ’n nuwe drukkery met elf verdiepings net langsaan voltooi. Saam met die fabriek te Adamsstraat 117 vul hierdie drukkerye, wat almal met loopbrûe verbind is, vier stadsblokke. In November 1969 is die Squibb-kompleks, ’n paar blokke daarvandaan, gekoop. En soos broer Henschel gemeld het, was hierdie geboue daardie aand van besondere belang, aangesien die Kantoorgebou te Columbia Heights 25 deel van hierdie kompleks is.

Intussen het verdere uitbreiding plaasgevind op Watchtower Farms, wat in 1963 gekoop is. Broer Henschel het vertel hoedat die eerste drukkery in 1973 aldaar voltooi is. En in 1975 is ’n tweede, baie groter drukkery in diens gestel.

Nadat Broer Henschel van ander geskiedkundige verwikkelinge gedurende die afgelope dertig jaar vertel het, onder meer die byeenkoms in 1958 in die Yankee-Stadion en Polo-terrein, wat deur 253 922 mense bygewoon is, het hy Max H. Larson aan die woord gestel vir sy programdeel met die titel “Glanspunte van die bouwerk”. Broer Larson het veertig skyfies gewys, wat getoon het hoedat dele van die voormalige Squibb-kompleks gesloop en die nuwe kantoorgebou opgerig is. Die toeskouers het gesien hoe hierdie nuwe gebou verbind is met ’n bestaande fabriek wat in ’n moderne kantoorgebou omgeskep is.

Broer Larson het verduidelik: “Teen die middel van 1978 is daar begin om die gebou te Columbia Heights 25 van ’n pakhuis in ’n moderne kantoorgebou te omskep. ’n Span van 180 tot 200 broers en susters was nodig om die werk te doen.” Intussen het die gemelde sloopwerk in September 1979 begin, en in Desember 1979 is daar met die bouwerk aan die nuwe oostelike vleuel van die gebou te Columbia Heights 25 begin.

Broer Franz hou die toewydingstoespraak

Om die besielende aandprogram af te sluit, het broer Henschel die president van die Wagtoring- Bybel- en Traktaat -genootskap, Fred W. Franz, aan die woord gestel. Broer Franz het in 1914 met die voltydse predikingswerk begin, en dien sedert 1920 as ’n lid van die hoofkwartiergesin. Hy kon dus uit persoonlike ondervinding talle interessante besonderhede omtrent die vooruitgang van Jehovah se organisasie verstrek.

Alhoewel die pasvoltooide fasiliteite te Columbia Heights 25 van die beste is, het broer Franz beklemtoon dat dit nie om ’n selfsugtige rede gebou is nie. Hy het die aandag gevestig op die Bybelverhaal in Markus 7:11-13, waar dit vertel van ’n man wat eiendom besit het. Maar in plaas daarvan om dit te gebruik om sy ouers te eer, soos dit hom betaam het, wou hy dit vir sy eie selfsugtige gebruik hê. Hy het dus gesê dat dit ‘korban is, dit wil sê, ’n offergawe vir God’.—NTP.

Maar broer Franz het gesê: “Dit is nie die geval met ons broers en susters in hierdie nuwe kantore wat ons aan Jehovah toewy nie. Hulle gebruik eerder hierdie nuwe fasiliteite om hulle beste aan Jehovah God te gee. Hulle werk hard, nie om selfsugtige genot te put uit die feit dat hulle in sulke gerieflike kantore werk nie, maar om meer werk van beter gehalte te lewer.”

Broer Franz het gesê dat ons, ondanks die voortreflike, duursame aard van hierdie nuwe fasiliteite. Jehovah se beskerming nodig het, net soos die Bybel in Psalm 127:1 sê: “As die HERE die huis nie bou nie, tevergeefs werk die wat daaraan bou.” Broer Franz het verduidelik dat dit ook die geval met hierdie eiendomme is. Tensy Jehovah hulle beskerm en ons werk daarin seën, arbei ons tevergeefs. Maar hy het gesê dat die geskiedenis van God se volk deur die jare heen bewys dat Jehovah sy volk seën en beskerm.

Broer Franz het ten slotte koning Dawid se woorde aangehaal: “Wie is ek tog, en wat is my volk, dat ons in staat sou wees om sulke vrywillige gawes te skenk? Want dit kom alles van U, en uit U hand het ons dit aan U gegee” (1 Kronieke 29:14). Broer Franz het gesê dat aangesien Jehovah die Besitter van alles is en ons hierdie eiendomme van hom ontvang het, ons dit maar net aan Jehovah teruggee deur dit aan hom toe te wy. Hy het ’n baie aangename en geestelik opbouende dag en aand afgesluit deur aan te kondig: “Ek wil nou graag verklaar dat hierdie nuwe kantore ten volle en onmiskenbaar aan Jehovah God toegewy is.”

’n Dag vol geestelike seëninge

Die toewydingsprogram daardie aand was slegs die slot, as ’t ware die nagereg, van ’n baie spesiale dag. Die oggend het soos enige ander werkdag by die Brooklynse hoofkwartier om 7 vm. met ’n bespreking van ’n Bybelteks begin, gevolg deur ontbyt. Maar om 8 vm. het die meeste lede van die gesin—diegene wat in die woonkwartiere en drukkerye werk—’n besigtigingstoer deur die Kantoorgebou te Columbia Heights 25 onderneem. Diegene wat in die kantoorkompleks werk, het egter met hulle gewone werk voortgegaan. ’n Gedrukte brosjure met twintig bladsye het die dag se program en toerroete bevat. Wat het diegene op die toer gesien?

Deur die aanwysings te volg, het hulle die pragtige nuwe voorportaal van die gebou te Columbia Heights 25 binnegegaan en na die Diensafdeling, ook op die derde vloer, gegaan. Hier ontvang die tien onderafdelings elke week ongeveer 325 verslae van kringopsieners. Op die tweede vloer het die toere die Gebiedsafdeling en die Pionierafdeling besoek. Hulle het gehoor dat 5 578 nuwe pioniers in 1981 deur hierdie afdeling aangestel is.

Nadat hulle met die hyser na die twaalfde vloer gery het, het die toere die kantore besoek van diegene wat die Genootskap se geldsake behartig. Op die elfde vloer het hulle die Kosteberekeningafdeling gesien waar die koste van die Genootskap se werk bereken word, soos die koste om lektuur te vervaardig en te verskeep. Op die tiende vloer het hulle die kantore van die Dagbestuur sowel as die Bestuursliggaam se raadskamer besoek. Die Kunsafdeling is op die negende vloer besigtig. Daar was onder meer uitstallings van die verskillende kunsstyle wat gebruik word deur die kunstenaars wat illustrasies vir die Genootskap se publikasies voorberei.

Die volgende afdeling wat besoek is, was die skryfafdeling op die agste vloer, waar die tydskrifte, boeke en ander lektuur van die Genootskap geskryf word. In plaas daarvan om tikmasjiene te gebruik, sleutel die meeste skrywers die materiaal nou regstreeks op rekenaareindpunte in. Die is verbind aan ’n drukker wat die ingevoerde materiaal teen sowat 700 woorde per minuut sal tik wanneer dit beveel word om dit te doen. Daar sal binnekort 149 eindpunte vir verskeie kantoorfunksies dwarsdeur die kompleks wees, asook 20 drukkers.

Daarna het die toere na die sewende vloer gegaan waar die Fotosetafdeling geleë is. Hier is daar vir hulle gewys hoedat die teks wat van die Skryfafdeling af kom tot die gewenste bladsyformaat opgemaak word. Toe het hulle gesien hoe die geskrewe teks, asook die illustrasies, in die Grafiese Afdeling daar naby deur middel van verskeie fotografiese prosesse op film vasgelê word. Die film wat so voortgebring word, word gerangskik sodat plate gemaak kan word. Hierdie plate word dan na die fabriek gestuur waar die rubberdrukplate gemaak word. Nog steeds op die sewende vloer het die gesin die Spaanse Afdeling en die Proefleesafdeling besoek. In die Dataverwerkingafdeling op die sesde vloer het hulle die groot rekenaarstelsels gesien wat al die informasie van eindpunte dwarsoor die kantoorkompleks berg en verwerk.

Alhoewel hulle al so baie gesien het, moes hulle nog veel meer besigtig voordat hulle huis toe sou gaan om om 11:45 vm. ’n kafeteria-middagete te nuttig. Die toere is dus daarvandaan na die Korrespondensieafdeling en die Faktuur-en-boekhouafdeling op die vyfde vloer. Toe is hulle oor die brug (wat in die foto op bladsy 8 gesien kan word) wat die Kantoorgebou te Columbia Heights 25 met die geboue oorkant die straat verbind. Hier het hulle die Boukantoor, die Gilead-skool, die Kartonvervaardigingafdeling asook die Verfafdeling, die Bekleërswinkel, die Handbindery en die Meganiese Instandhoudingsafdeling besoek.

Baie het die Ateljees, waar byeenkoms-dramas, Bybelvoorlesing en musiek op band vasgelê word, besonder interessant gevind. En dit was fassinerend om die Banddupliseerafdeling in werking te sien. Sowat vyftienduisend kassetbande word elke dag gemaak—meer as negemiljoen sedert die departement in 1978 tot stand gekom het! Maar die elektroniese Afdeling, die Brailleafdeling, die Konstruksiekantoor, die Boutekenekantoor, die Byeenkomskantoor, die Fotografiese Afdeling, die Personeelkantoor, die Garage en die Versendingsafdeling moes nog voor middagete besigtig word.

Watter interessante, opwindende toer van drie en ’n halfuur was dit tog! Almal was bewus van die feit dat Jehovah se organisasie beslis vooruitgaan. Nadat die gesin iets geëet het, het hulle deur die drukkery getoer. Die drukkerywerkers het reeds om 12:30 nm. begin werk om vir die res van die gesin te wys hoe die toerusting werk wat gebruik word om Bybellektuur te druk en te bind. Die groot nuwe rubberdrukperse was vir baie besonder interessant. Ten tye van die toer was daar vyf, maar nog drie is gedurende die jaar afgelewer. Die grootste een, die Bybelpers, is 33 meter lank!

Na ’n toer van drie uur deur die drukkery is die gesin huis toe. Almal was moeg maar verheug oor Jehovah se duidelike seën op die uitbreiding. Om 4 nm. het almal op hulle onderskeie plekke in die ses eetsale bymekaargekom om ’n spesiale maaltyd te geniet. Nadat hulle toe ’n bietjie gerus het, het almal die uiters bemoedigende toewydingsprogram geniet.

Ondersteun Jehovah se vooruitstrewende organisasie

In baie ander lande ervaar Jehovah se volk hierdie selfde vreugde en geesdrif wanneer hulle die blyke van Jehovah se seën sien op hulle pogings om hulle fasiliteite, wat gebruik word om die evangelie van sy koninkryk te verkondig, te vergroot. In talle lande is nuwe takgeboue onlangs voltooi of nog in aanbou.

Al hierdie bouwerk en uitbreiding oor die hele wêreld verg natuurlik geld. Hoewel Jehovah se Getuies nog nooit om bydraes gevra het nie, kan diegene wat graag die uitbreidende belange van Jehovah se koninkryk geldelik wil ondersteun, dit doen deur bydraes aan die takkantoor van die Wagtoringgenootskap in hulle land te stuur. In Suid-Afrika kan bydraes gestuur word aan die Wagtoringgenootskap, Privaatsak 2, Elandsfontein, 1406. Sulke bydraes sal dankbaar erken word.

Jehovah se volk het die duidelike opdrag om die evangelie van God se koninkryk in die hele wêreld te verkondig voordat die einde kom (Mattheüs 24:14). Ons weet nie tot watter mate God hierdie werk nog gedoen wil hê nie. Maar jy kan daarvan seker wees dat Jehovah se organisasie vooruit sal gaan en sal doen wat Hy beveel, ongeag wat die toekoms inhou.

[Prent op bladsy 8]

Die voormalige Squibb-kompleks wat nou aan Jehovah se Getuies behoort. Die Kantoorgebou te Columbia Heights 25 is aan die regterkant

[Prente op bladsy 9]

Die woonkwartier te Columbia Heights 124 in 1950

Die fabriek te Adamsstraat 117 in 1950

[Prente op bladsy 10]

Columbia Heights 107

Die “Towers”-gebou

Columbia Heights 119

[Prente op bladsy 11]

Die drukkerykompleks in Brooklyn wat vier stadsblokke beslaan

Watchtower Farms met sy drukkerye en woonkwartiere

[Prent op bladsy 12]

Fred Franz besig om die toewydingstoespraak te hou

[Prente op bladsy 13]

Die kantoorgebou te Columbia Heights 25 en verskeie departemente

1. Die ingang van die gebou te Columbia Heights 25

2. Die Bestuursliggaam se raadskamer

3. Die Rekenaarafdeling

4. Die president se kantoor

5. ’n Uitstalling van die Kunsafdeling

6. ’n Rekenaareindpunt van die Skryfafdeling

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel