Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w83 2/15 bl. 20-25
  • “Die God van alle vertroosting” is met ons

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “Die God van alle vertroosting” is met ons
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Reputasie van getroue volharding
  • ‘Meer arbeid en gevangenskappe’
  • Nie afgeskrik deur slae en doodsgevare nie
  • Skipbreuk en gevare ter see
  • Ons God bied onfeilbare troos
  • Ons kan “volhard tot die einde toe”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
  • Bybelboek nommer 47—2 Korinthiërs
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
  • Deelgenote in die vertroosting wat Jehovah voorsien
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
  • “Die God van alle vertroosting”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
w83 2/15 bl. 20-25

“Die God van alle vertroosting” is met ons

“Geseënd is . . . die God van alle vertroosting, wat ons troos in al ons verdrukking.”—2 KORINTHIËRS 1:3, 4.

1, 2. Wat het die apostel Paulus in 2 Korinthiërs 1:3-7 oor troos in tye van verdrukking gesê?

JEHOVAH is “die God van alle vertroosting”. Die apostel Paulus het dit uit ondervinding geweet. Om mede-Christene aan te moedig, het hy dus hierdie bemoedigende woorde geskryf:

2 “Geseënd is . . . die Vader van ontferminge en die God van alle vertroosting, wat ons troos in al ons verdrukking, . . . Maar of ons verdruk word, dit is julle tot troos en redding; en dit laat sy werking blyk deurdat julle dieselfde lyding verduur wat ons ook ondergaan; en of ons getroos word, dit is julle tot troos en redding. En ons hoop vir julle is vas, omdat ons weet dat net soos julle deelgenote is aan die lyding, so ook aan die troos.”—2 Korinthiërs 1:3-7.

3. (a) Waarom het Paulus Jehovah as “die God van alle vertroosting” geken? (b) Waardeur kan mede-Getuies vertroos en aangespoor word om verdrukking te verduur?

3 Ja, Paulus het geweet dat Jehovah “die God van alle vertroosting” is. Hy het sy hemelse Vader se vertroostende, tere en barmhartige handelinge met hom ondervind, veral toe hy “ter wille van die geregtigheid” gely het. (Vergelyk Mattheüs 5:10.) Die apostel kon gevolglik ander vertroos en hulle aanspoor om verdrukking te verduur. Deur hulle voorbeeld van getrouheid en hulle betuigings van vertroue in Jehovah is Christengetuies van Jehovah wat verdrukking verduur het beslis vir hulle medegelowiges ’n aansporing om aan God getrou te bly. En Paulus was voorbeeldig in die wyse waarop hy lyding verduur het.

’n Reputasie van getroue volharding

4, 5. (a) Wanneer het Paulus Tweede Korinthiërs geskryf? (b) Op watter gebied was Paulus Korinthe se “uitnemende apostels” se gelyke, maar waarin het hy hulle oortref?

4 Omstreeks 55 G.J. het Paulus sy tweede geïnspireerde brief aan die Christene in die stad Korinthe geskryf. Hy is aldaar teëgestaan deur diegene wat hy sarkasties “uitnemende apostels” genoem het. Hy het moedig sy apostoliese posisie verdedig, nie om sy eie ontwil nie, maar “tot eer van God”, dit wil sê, om die gemeente te red wat aan Jehovah behoort (2 Korinthiërs 11:5, 12-14; 12:11; 5:12, 13). Die apostel het getoon dat hy, wat herkoms betref, die gelyke van sy teenstanders was en het toe daarop gewys dat hy hulle oortref het in arbeid, lyding, reise, gevare en ontberinge as ’n ‘bedienaar van Christus’. Hy het geskryf:

5 “Is hulle [sy teenstanders] dienaars van Christus?—ek praat in uitsinnigheid—ek nog meer: in arbeid oorvloediger, in slae bo die maat, in gevangenskappe baie meer, in doodsgevare dikwels. Vyf maal het ek van die Jode ontvang veertig houe op een na. Drie maal is ek met stokke geslaan, een maal is ek gestenig, drie maal het ek skipbreuk gely, ’n nag en ’n dag het ek op die diepwater deurgebring—dikwels op reis, in gevare van riviere, in gevare van rowers, in gevare van my volk, in gevare van die heidene, in gevare in die stad, in gevare in die woestyn, in gevare op see, in gevare onder valse broeders; in arbeid en moeite, in slapelose nagte dikwels, in honger en dors, dikwels sonder ete, in koue en naaktheid.”—2 Korinthiërs 11:21-27.

6. (a) Waar vind ons ’n verslag van enkele aspekte van Paulus se Christelike lewe voordat hy Tweede Korinthiërs geskryf het? (b) Hoe sal ons baat vind as ons nadink oor Paulus se getroue volharding?

6 Die Bybelboek Handelinge van die Apostels (9:3 tot ongeveer 20:4) meld van die voormelde gebeure in Paulus se lewe van die tyd dat hy ’n Christen geword het totdat hy Tweede Korinthiërs geskryf het. Kom ons beskou nou sy getroue volharding. Dit sal ons ongetwyfeld bemoedig om in verdrukking te volhard met die vertroue dat “die God van alle vertroosting” met ons is.

‘Meer arbeid en gevangenskappe’

7. (a) Op watter werk het Paulus se ‘oorvloediger arbeid’ betrekking? (b) Hoe het die apostel sy bediening uitgevoer volgens sy woorde aan die “ouderlinge” van die gemeente in Efese? (c) Wat het Paulus aangespoor tot kragtige arbeid ter bevordering van die evangelie en Koninkryksbelange?

7 In arbeid oorvloediger: As ’n verkondiger van die “evangelie” het Paulus “harder gewerk” as sy teenstanders (2 Korinthiërs 11:23, NTP). Hy het natuurlik oor ’n langer tydperk aan die predikingswerk deelgeneem, en dikwels in baie moeilike gebied. In Efese, waar die heidense godin Artemis aanbid is en Paulus deur gepeupelgeweld bedreig is, het sy pogings in die bediening en ten behoewe van medegelowiges byvoorbeeld baie inspanning geverg en was dit soms selfs hartverskeurend. Maar dit het goeie geestelike vrug gedra. Later kon hy gepas aan die “ouderlinge” van die gemeente in Efese sê: “Julle weet . . . hoe ek niks agtergehou het van wat nuttig is nie, om dit aan julle te verkondig en julle te onderrig in die openbaar en in julle huise [van huis tot huis, NW], terwyl ek kragtig by die Jode sowel as die Grieke aangedring het op die bekering tot God en die geloof in onse Here Jesus Christus” (Handelinge 20:17, 20, 21, 31; 19:1-40). Voordat hierdie manne wat nou ouere manne was Christene geword het, het die apostel Paulus hulle dus die basiese waarhede van die Christelike godsdiens in die predikingswerk van “huis tot huis” geleer. Dit was die werking van Jehovah se Woord en heilige gees op Paulus se hart wat hom aangespoor het om kragtig te arbei in die verkondiging van die evangelie en die bevordering van Koninkryksbelange (Jesaja 61:1, 2; Romeine 10:8-10). In sulke kragtige bedrywigheid het die apostel ’n uitstekende voorbeeld vir twintigste-eeuse Christene gestel.

8. (a) Waarom kon Paulus se dat hy ‘baie meer in gevangenskap was’ as die “uitnemende apostels”? (b) Waaruit het Paulus en Silas ongetwyfeld troos geput terwyl hulle in Filippi ln die tronk was, en wat het hulle gedoen toe hulle deur ’n aardbewing bevry is? (c) Watter bemoediging kan ons put uit Paulus se tronkervarings in Filippi?

8 In gevangenskappe baie meer: Clemens van Rome het aan die einde van die eerste eeu G.J. geskryf dat Paulus sewe keer in die gevangenis was. Voordat hy Tweede Korinthiërs geskryf het, was hy reeds meer in die tronk as die “uitnemende apostels”. Die verhaal in Handelinge vertel van een van hierdie gevangenskappe—in die Macedoniese stad Filippi. Paulus en Silas was klaarblyklik bly om “ter wille van die geregtigheid” te ly, want terwyl hulle daar in die tronk was, het hulle tot God gebid en hom met sang geloof. Hulle het troos geput uit bepeinsing oor die Skrifte asook uit die wete dat God hulle gebede gehoor en verhoor het (Psalm 65:3; 119:52). Toe hulle deur ’n aardbewing bevry is, het hulle nie gou ontsnap nie, maar eerder “aan [die tronkbewaarder] die woord van die Here verkondig en aan almal wat in sy huis was”. Die gevolg? Die tronkbewaarder en sy huisgesin het Christene geword! (Handelinge 16:16-40). Hierdie verhaal spoor getuies van Jehovah wat vandag in die tronk is waarlik aan om hulle vervolging met godvrugtige vreugde te aanvaar, te bid, oor God se Woord te peins en dit vrymoedig te spreek!—Handelinge 4:29-31.

Nie afgeskrik deur slae en doodsgevare nie

9. Wat word aangedui deur die woorde “slae bo die maat”?

9 In slae bo die maat: Paulus is uitermate baie geslaan. Daar is ook gesê dat hy dikwels “by die dood omgedraai” het (Vers 23, Die Lewende Nuwe Testament). Dit kan daarop dui dat die houe soms so kwaai was dat hy feitlik doodgeslaan is.

10. (a) Hoe was Paulus dikwels “in doodsgevare”? (b) Wat het die apostel klaarblyklik onderskraag wanneer hy “by die dood omgedraai” het?

10 In doodsgevare dikwels: Dit het nie noodwendig slegs op sekere slae betrekking nie. Vroeër in dieselfde brief het Paulus gesê: “Gedurig dra ons die doding van die Here Jesus in die liggaam om” (2 Korinthiërs 4:10, 11). Die apostel het in Damaskus, Antiochië in Pisidië, Ikonium, Listre, Thessalonika en Berea in lewensgevaar of selfs dodelike pyn verkeer (Handelinge 9:23-25; 13:49-51; 14:1-6, 19, 20; 17:1, 5-9, 13, 14). Trouens, hy is moontlik blootgestel aan die dodelike gevare van die Romeinse spele in die lig van sy verwysing na ‘gevegte met wilde diere in Efese’. (1 Korinthiërs 15:32; vergelyk Handelinge 19:23-41; 2 Korinthiërs 1:8-11). Omdat sy lewe so dikwels in gevaar was, kon die apostel beslis sê: “Elke dag word ek deur die dood bedreig” (1 Korinthiërs 15:31, NTP). Die hulp van Jehovah se heilige gees en Paulus se geloof in God se kosbare beloftes het die apostel ongetwyfeld onderskraag wanneer hy dikwels “by die dood omgedraai” het.—2 Korinthiërs 1:20-22.

11. Wat was die aard van die slae wat Paulus by die Jode gekry het?

11 Vyf maal het ek van die Jode ontvang veertig houe op een na: Paulus het getoon dat vyf van die kere wat hy “ter wille van die geregtigheid” geslaan is, dit die Jode was wat die lyfstraf toegedien het, moontlik in hulle sinagoges (Vers 24; Mattheüs 10:17). Die Mosaïese Wet het voorsiening gemaak vir slae met ’n stok of roede, en die regters sou die aantal slae na gelang van die misdryf bepaal. Maar die straf is om mensliewende redes tot 40 houe beperk, en die Jode het dit tot 39 verminder om nie per ongeluk die wetlike perke te oorskry nie (Deuteronomium 25:1-3). Sulke slae was baie pynlik. Maar “die God van alle vertroosting” het Paulus versterk om hierdie behandeling met getroue volharding te verduur.

12. (a) Van watter behandeling het die apostel klaarblyklik gepraat toe hy gesê het: “Drie maal is ek met stokke geslaan”? (b) Met watter hulp kan slae “ter wille van die geregtigheid” verduur word?

12 Drie maal is ek met stokke geslaan: Hierdie drie afranselings is klaarblyklik deur die roededraende Romeinse offisiere toegedien (Vers 25). Hierdie slae met die roede is toegedien nadat die slagoffer se boklere uitgetrek is. As ’n Romeinse burger was Paulus wetlik vrygestel van sulke slae. Maar dit het nie verhinder dat hy en Silas “baie slae” gekry het voordat hulle as verkondigers van die evangelie in Filippi in die tronk opgesluit is nie (Handelinge 16:19-24, 33, 35-40). Sulke slae kon baie onmenslik wees, maar met behulp van God se gees het Paulus hierdie wrede behandeling “ter wille van die geregtigheid” getrou verduur. En met soortgelyke goddelike onderskraging het talle hedendaagse Christene hulle onkreukbaarheid aan God bewaar ondanks vergelykbare fisiese mishandeling.

13. Waar is Paulus gestenig, maar het dit ’n einde aan sy bediening gemaak?

13 Een maal is ek gestenig: By Listre het fanatieke Jode “Paulus gestenig en hom buitekant die stad gesleep, met die gedagte dat hy dood was”. Die doel van daardie steniging was natuurlik om hom dood te maak. (Vergelyk Levitikus 20:2; Handelinge 7:58-60.) Maar “toe die dissipels hom omring, het hy opgestaan en in die stad gekom” en die volgende dag nog sy bedieningsreise hervat.—Handelinge 14:19-22.

Skipbreuk en gevare ter see

14. Watter voorvalle van skipbreuk het Paulus gemeld, en watter uitwerking het dit op sy reise ter wille van die evangelie gehad?

14 Drie maal het ek skipbreuk gely: Die boek Handelinge vertel slegs van een skipbreuk, en dit het plaasgevind nadat Paulus aan die Korinthiërs geskryf het. Dit het gebeur toe Paulus op pad was na Rome (Handelinge, hoofstuk 27). Maar die apostel het tevore dikwels met skepe oorsee gereis, en dit was nie buitengewoon dat skepe tydens kusvaart vergaan het nie. Alhoewel die Skrif geen besonderhede omtrent die gemelde drie gevalle van skipbreuk verstrek nie, is dit duidelik dat die gevare van skeepvaart op die Middellandse See nie veroorsaak het dat Paulus sy reise ter wille van die evangelie inkort nie.

15. (a) Wat het Paulus bedoel toe hy gesê het: “’n Nag en ’n dag het ek op die diepwater deurgebring”? (b) Hoe het “die God van alle vertroosting” Paulus in die voormelde geval gehelp, en watter vertroue behoort dit ons te gee?

15 ’n Nag en ’n dag het ek op die diepwater deurgebring: Die apostel het natuurlik nie gesê dat hy wonderdadig 24 uur lank onder die water aan die lewe gebly het nie. As ’n skipbreukeling het hy moontlik daardie gevaarvolle ure deurgebring deur in stormagtige waters te probeer swem of aan dryfhout of wrakstukke van die vergane vaartuig vas te hou. Selfs al was hy op ’n vlot, het hierdie folterende ervaring (wat nêrens anders in die Skrif gemeld word nie) moedige volharding, vereis totdat die apostel gered is of land bereik het. Paulus het ‘Jehovah sekerlik in sy benoudheid aangeroep, en God het hom uit sy angste uitgelei’. (Vergelyk Psalm 107:23-31.) Daardie “God van alle vertroosting” kan ook ons gebede verhoor.—Vergelyk 1 Johannes 5:13-15.

Ons God bied onfeilbare troos

16, 17. Waarom kan daar gesê word dat die hulp van Jehovah se heilige gees van onskatbare waarde is wanneer ons “ter wille van die geregtigheid” ly?

16 Ons het enkele bronne van troos gemeld wat Paulus gehelp het om aan Jehovah getrou te bly ondanks verdrukking. Dit verdien beklemtoning, want dit sal hedendaagse getuies van Jehovah help om lyding “ter wille van die geregtigheid” te verduur.

17 Die hulp van Jehovah se heilige gees is van onskatbare waarde. Ons moet veral tydens verdrukking om die gees bid, ons daardeur laat lei en die vrug daarvan openbaar (Lukas 11:13; Psalm 143:10; Galasiërs 5:22). Wanneer Jehovah se gees op ons harte inwerk, maak dit ons bewus van sy liefde, en hierdie vertroostende versekering sal ons help om verdrukking te verduur.—Romeine 5:3-5; 8:35-39; 2 Thessalonicense 3:5.

18. Hoe kan geloof in God se kosbare beloftes ons as Christene tydens verdrukking vertroos?

18 Geloof in God se kosbare beloftes, wat in die Skrif uiteengesit word, sal ons ook vertroos (Romeine 15:4). Onthou, ‘vir die vreugde wat Jesus Christus voorgehou is, het hy die folterpaal verdra’ (Hebreërs 12:1, 2). En al ly ons dermate dat ons die hoogste offer moet bring, is daar die wonderlike vooruitsig op ’n opstanding en op ewige lewe in God se nuwe orde, ongeag of ons die hemelse of aardse hoop het (Mattheüs 10:28; Lukas 23:43; Johannes 5:28, 29; 17:3; 1 Korinthiërs 15:53; 2 Petrus 3:13). Hoe ‘lig’ en kortstondig is verdrukking tog wanneer ons die ewigheid voor oë het!—2 Korinthiërs 4:16-18.

19. Hoe vertroos gebed ons tydens verdrukkinge?

19 Die gemoedsrus en krag wat God ons in antwoord op ons gebede gee, is ook ’n groot bron van troos tydens verdrukking. (Kyk Lukas 22:32; Handelinge 4:23-31; Jakobus 5:16-18.) Jesus het ernstige smekinge en versoeke tot Jehovah gerig “wat Hom uit die dood kon red . . . En sy gebede is verhoor vanweë sy eerbiedige onderworpenheid aan God.” Ja, Jehovah het ’n engel gestuur om Jesus tydens beproewing te versterk (Hebreërs 5:7, NTP; Lukas 22:43). Wanneer ons sien hoedat Jehovah ons gebede tydens verdrukking verhoor, word ons gewis vertroos.

20. Watter ander gebiede waarop Paulus Korinthe se “uitnemende apostels” oortref het, gaan ons vervolgens bespreek?

20 As ons opreg probeer om as Christengetuies van Jehovah getrou te volhard, sal “die God van alle vertroosting” met ons wees, net soos hy met die apostel Paulus was. Tot dusver het ons Paulus se arbeid en lyding bespreek. Maar sy verweer as ’n ‘bedienaar van Christus’ toon dat hy ook Korinthe se “uitnemende apostels” oortref het in reise, gevare en ontberinge. Wat kan ons uit hierdie ondervindinge leer?

Onthou jy hierdie gedagtes?

◻ Waarom het die apostel Paulus geweet dat Jehovah “die God vertroosting” is?

◻ Hoe kan Christene wat verdrukking verduur het medegelowiges aanspoor om aan Jehovah getrou te bly?

◻ Watter werk was deel van die apostel se ‘oorvloediger arbeid’?

◻ Hoe kan ons baat vind by Paulus se ondervindinge in die tronk?

◻ Wat is party van die maniere waarop Jehovah God onfeilbare troos bied?

[Prent op bladsy 21]

Paulus was dikwels in die tronk, soos die keer saam met Silas in Filippi

[Prent op bladsy 23]

Tydens sy bediening het Paulus vier keer skipbreuk gely

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel