Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w83 2/15 bl. 16-19
  • “Koninkryksontploffing” in Japan

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “Koninkryksontploffing” in Japan
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
  • Onderhofies
  • ’n Nuwe tak
  • Toewyding van die nuwe tak
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
w83 2/15 bl. 16-19

“Koninkryksontploffing” in Japan

’N EIENAARDIGE lig het skielik teen die plafon van my sel geflits en geflikker. . . . Toe het ek so ’n verskriklik harde slag gehoor dat dit geklink het asof al die berge gelyk ineengestort het. Die sel was onmiddellik in duisternis gehul. Ek het my kop onder my matras ingesteek om weg te kom van iets wat na ’n donker gas gelyk het.”

Die atoombom het oomblikke tevore op 6 Augustus 1945 bokant Hirosjima, Japan, ontplof. Die man wat gelewe het om die ondervinding te beskryf, was in die tronk as gevolg van sy onkreukbaarheid as een van Jehovah se Getuies.

Slegs ’n handjievol Getuies was voor en gedurende die Tweede Wêreldoorlog in Japan bedrywig. Vier jaar na die oorlog het sendelinge van Gileadskool daar aangekom. Hulle het gou in verbinding getree met die paar Getuies wat die afgryse van die oorlog getrou verduur het. Botsels Koninkrykswaarheid het dus weer eens welig in die land begin bloei.

Benewens die sendelinge het drie plaaslike persone in 1949 hulle predikingswerk gerapporteer. Die volgende veertien jaar lank was ’n houtgeboutjie met twee verdiepings in Tokio die takkantoor. In Desember 1962 is hierdie gebou gesloop en het ’n nuwe takgebou met sewe verdiepings in die plek daarvan verrys. Toe dit in November 1963 toegewy is, was daar reeds meer as 3 000 Koninkryksverkondigers in Japan.

Die goeie vermeerdering het voortgeduur sodat groter fasiliteite vir die druk van Bybellektuur nodig was. Minder as tien jaar later, in 1972, is ’n groot, nuwe drukkery en Bethelkompleks 120 kilometer suidwes van Tokio by Numazu voltooi. Teen daardie tyd het die getal Koninkryksverkondigers toegeneem tot meer as 14 000. Maar in slegs vyf jaar het die getal verkondigers byna verdriedubbel, tot meer as 41 000. As gevolg van hierdie wonderlike vermeerdering was die nuwe gebou in Numazu gou te klein, selfs al is dit vergroot kort nadat dit gebou is. Teen die einde van die sewentigerjare het die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies dus ’n nuwe projek goedgekeur.

Maar wat was verantwoordelik vir so ’n groot vermeerdering? Die aantal voltydse bedienaars (pioniers) in Japan is beslis ’n belangrike faktor. In die laaste jare is een uit elke drie predikers ’n voltydse bedienaar (pionier)!

’n Nuwe tak

Daar is in Januarie 1979 begin met die werk aan die nuwe takgeboue. Sewe hektaar grond is in Ebina, Japan, gekoop vir die oprigting van hierdie splinternuwe fasiliteite. Die bouwerk is nou afgehandel, en die nuwe drukkery, kantore, Koninkryksaal, Bethelhuis, Bethel-anneks, garage en timmerwinkel is drie keer groter as die fasiliteite by Numazu!

Besoekers aan die tak is dikwels verbaas om te sien dat al die werk vir die maak van boeke, Bybels en tydskrifte onder een dak geskied. In Japan word boeke gewoonlik deur klein maatskappye, waarvan baie nie groter as die voorkamer van die eienaar se huis is nie, gedruk en gebind. Jy kan dus begryp waarom die dinge wat besoekers hier sien vir hulle so verbasend is.

Party besoekers is selfs nog meer verbaas wanneer hulle hoor dat die fabrieks- en kantoorwerkers reg op die terrein woon. Hulle word gerieflik gehuisves in die aangrensende geboue wat die Bethelhuis genoem word. Hoewel hierdie huis huisvesting aan meer as 350 persone kan verskaf, is daar nou ongeveer 200 lede in die Bethelgesin. Daar is dus oorgenoeg plek vir verdere uitbreiding.

In die fabriek word ’n gesofistikeerde, gerekenariseerde proses nou gebruik om bladsye op te maak nadat dit met ’n fotosetproses geset is. Dit word dan gefotografeer en daarna word die film gebruik om rubberdrukplate te maak. Die warmmetaalproses is dus heeltemal uitgeskakel. Die rekenaarprogramme wat dit moontlik gemaak het om die warmmetaal-monotipestelsel te vervang, is deur Jehovah se Getuies ontwerp. En dit is natuurlik gemaak om in die besondere behoeftes van die Wagtoring-publikasies te voorsien. Waar dit baie ure geduur het om een bladsy van ’n nuwe publikasie met die warmmetaalstelsel op te maak, doen die rekenaarstelsel dit in ’n paar minute.

Ongeveer twee jaar gelede is ’n vierkleur-rotasierubberdrukpers geïnstalleer om die boekdrukperse te vervang. In agttien maande het tydskrifbestellings met 33 persent toegeneem. Die rubberdrukpers druk elke maand meer as tweemiljoen eksemplare van Die Wagtoring en Ontwaak! Dit druk boonop elke maand meer as 200 000 boeke en Bybels, asook traktate en ander spesiale items. Maar onlangs is ’n tweede vierkleur-rotasierubberdrukpers geïnstalleer om in die toenemende aanvraag na Bybellektuur te voorsien.

Die Bybels en boeke wat gedruk word, word in die moderne bindery gebind. Dit was ’n groot seën om die afgelope twee jaar ons eie bindery te hê. Ons het gewoonlik die Japannese Yearbook of Jehovah’s Witnesses hier teen Februarie of Maart uit Brooklyn, New York, ontvang. Maar sedert ons dit hier druk, is die Yearbook voor die begin van die jaar in die hande van die Japannese Getuies. Dit is veral ’n voorreg om die volledige Japannese New World Translation of the Holy Scriptures hier in Japan te druk en te bind.

Toewyding van die nuwe tak

Hoe aangenaam was dit tog om op 15 Mei 1982 teenwoordig te kon wees vir die toewyding van hierdie takfasiliteite wat toe pas voltooi was! Altesaam 1 675 gaste is genooi vir die spesiale program hier by die tak. Fred Franz en Lloyd Barry, albei lede van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies, het vir die geleentheid van Brooklyn, New York, af gekom.

Broer Barry was een van die sendelinge wat in 1949 na Japan gekom het, en hy het tot 1975 hier gedien, toe hy genooi is om ’n lid van die Bestuursliggaam te word. As deel van die toewydingsprogram het broer Barry onderhoude gevoer met veertien van sy mede-gegradueerdes van die elfde klas van Gileadskool. Hoe bemoedigend was dit tog om te luister na hierdie veterane wat elk al meer as drie dekades lank sendingwerk in Japan doen!

Dit was besonder aangenaam vir hierdie sendelinge om by hierdie spesiale geleentheid te assosieer met persone wat hulle dekades vroeër gehelp het om God se voornemens te leer ken. Broer Barry se vrou, Melba, het verduidelik: “Op die heel eerste dag wat ek in Japan gepreek het, het ek by een van die eerste huise waar ek aangeklop het met ’n persoon gesels wat nou die toewydingsprogram bywoon.” Hierdie persoon dien al meer as dertig jaar lank getrou in die predikingswerk.

Meer as dertig jaar gelede het een van die sendelinge ’n studie gehou met Isamu Sugiura, wat nou ’n lid van Japan se takkomitee is. Broer Sugiura het daardie dag se hoofspreker, broer Fred Franz, die president van die Wagtoring-Bybel- en Traktaatgenootskap, aan die woord gestel. Teen die einde van sy toewydingstoespraak het broer Franz gevra: “Wat wil julle met hierdie fasiliteite doen?” Toshio Honma, die koördineerder van die Japannese tak, het ’n mosie ingedien dat dit aan Jehovah God toegewy word sodat dit vir hom van nut kan wees. Die mosie is gesekondeer en die hele gehoor het dit gesteun deur hande te klap.

Die volgende dag is ’n spesiale vergadering by Oimachi-renbaan in Tokio gehou. Dit is per kabel na twintig ander Japannese stede oorgesein. Hoewel Japan verlede April ’n hoogtepunt van 68 593 Koninkryksverkondigers bereik het, het altesaam 113 633 persone hierdie spesiale program op Sondag, 16 Mei 1982, gehoor. Die potensiaal vir verdere vermeerdering blyk ook uit verlede jaar se Gedenkmaalopkoms in Japan—173 344 persone, 28 522 meer as die vorige jaar.

Hoewel die ontploffing van die atoombom bokant Hirosjima in 1945 tot veel wanhoop aanleiding gegee het en groot verwoesting aangerig het, het die “ontploffing” van Koninkryksverkondigers dwarsoor Japan met geluk en hoop gepaard gegaan. Dit is ons vurige gebed dat nog duisende gevind en versamel sal word om die ewige lewe deur Jesus Christus te ontvang, as dit Jehovah se wil is.

[Diagram op bladsy 17]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Die geboue te Ebina is op 15 Mei 1982 toegewy

Die takgeboue en die stuk grond van 7 hektaar waarop dit geleë is

Bethelhuis

Koninkryksaal

Kantore

Fabriek

Timmerwinkel

Garage

Bethel Anneks

[Diagram]

’n Vergelyking van die Japannese takgeboue en grondoppervlaktes

Numazu 1972-1981

Tokio 1963-1972

Tokio 1949-1962

[Grafiek op bladsy 19]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Die geweldige aanwas van Koninkryksverkondigers in Japan

JAAR GETAL VERKONDIGERS

APRIL

1982 68,593

1981 60,267

1979 48,078

1974 22,612

969 6,861

1959 1,272

1949 9

[Prent op bladsy 16, 17]

Die nuwe tak in Ebina. Die groot geboue hierbo is die Bethelhuis en kantore, met ’n deel van die fabriek aan die regterkant

[Prent op bladsy 18]

Agteraansig van die Bethelhuis

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel