Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w83 2/15 bl. 25-31
  • Ons kan “volhard tot die einde toe”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ons kan “volhard tot die einde toe”
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Gevaarlike reise ter bevordering van die evangelie
  • Getroue trotsering van baie gevare
  • In gevaar gestel deur “valse broeders”
  • Ontberinge in “heilige diens”
  • “Volhard tot die einde toe”!
  • “Die God van alle vertroosting” is met ons
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
  • Bybelboek nommer 47—2 Korinthiërs
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
  • ‘Ek is rein van die bloed van alle mense’
    ‘Getuig deeglik’ oor God se Koninkryk
  • Paulus se medewerkers—Wie was hulle?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
w83 2/15 bl. 25-31

Ons kan “volhard tot die einde toe”

“Wie geduldig volhard tot die einde toe, sal gered word.”—MATTHEÜS 24:13, THE EMPHATIC DIAGLOTT.

1. (a) Wat kan vir ons as individue “die einde” wees wat Jesus in Mattheüs 24:13 gemeld het? (b) Wat is onontbeerlik vir redding?

IN SY groot profesie oor sy “teenwoordigheid” het Jesus Christus hierdie hoopinboesemende woorde geuiter: “Wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word” (Mattheüs 24:3, 13, vgl. NW). Vir ons as individue kan “die einde” “die voleinding van die wêreld” of ons dood wees, moontlik na ’n lang, moeilike beproewing. Maar getroue volharding is onontbeerlik as ons uiteindelik gered wil word.—1 Petrus 1:8, 9.

2, 3. (a) Waarom kan ons daarvan seker wees dat ons gered kan word al is ons onvolmaak? (b) Wat gaan ons nou bespreek?

2 Jesus het ’n volmaakte voorbeeld van volharding gestel (Hebreërs 12:1-3). Maar as onvolmaakte mense kan ons aan God getrou wees ondanks intense lyding en vervolging “ter wille van die geregtigheid” (Mattheüs 5:10). Ja, deur Jehovah se onverdiende goedheid kan ons gered word en die ewige lewe deur die losprysoffer van sy geliefde Seun, Jesus Christus, verkry.—Johannes 3:16; 1 Johannes 2:1, 2.

3 Hoewel die apostel Paulus ’n onvolmaakte mens was, het hy ’n goeie voorbeeld gestel in volharding wat tot redding lei. Deur ’n deel van sy verdediging in 2 Korinthiërs 11:23-27 te bespreek, het ons gesien dat hy “nog meer” ’n ‘bedienaar van Christus’ was as Korinthe se “uitnemende apostels”. Soos ons sal sien, het hy hulle ook as ‘Christus se bedienaar’ oortref in reise, gevare en verskeie ontberinge.

Gevaarlike reise ter bevordering van die evangelie

4. Van watter reise het die apostel Paulus gepraat toe hy gesê het dat hy “dikwels op reis” was?

4 Dikwels op reis: Paulus het dikwels gereis om die evangelie te verkondig en het sy teenstanders in Korinthe in hierdie opsig verreweg oortref (Verse 23, 26). Hy het natuurlik te kampe gehad met dieselfde gevare as ander reisigers in die Romeinse wêreld. Maar sy reise was baie uitgebreid en geweldig uitputtend. Sy reise het hom geneem na stede soos Antiochië in Pisidië, Ikonium, Listre, Derbe, Filippi, Thessalonika, Berea, Athene en Korinthe.—Handelinge 13:14-14:26; 16:11-18:17

5. Wat het Paulus se reise veral vermoeiend en gevaarlik gemaak, en hoe kon hy sulke moeilike reise verduur?

5 Die apostel se reise was selfs vermoeiender en gevaarliker omdat hy ‘gehaat is ter wille van Christus se naam’ (Mattheüs 10:22). Jehovah het Paulus nietemin die nodige krag en moed gegee vir sy moeilike reise (Jesaja 40:28-31). As ’n vlytige bedienaar het die apostel beslis vir hedendaagse getuies van Jehovah ’n goeie voorbeeld gestel in die bevordering van Koninkryksbelange.—Mattheüs 6:33.

Getroue trotsering van baie gevare

6. Watter “gevare van riviere” kon die apostel in gedagte gehad het?

6 In gevare van riviere: Aangesien daar betreklik min brûe was, is Paulus se lewe seker dikwels in gevaar gestel wanneer hy riviere in vloed oorgesteek het. Met sy eerste sendingreis en die terugreis het hy byvoorbeeld deur Pisidië gereis, waar siedende bergriviere groot gevaar ingehou het (Handelinge 13:13, 14; 14:21, 24). Jehovah se Getuies—veral sendelinge en ander bedienaars in afgeleë gebiede—kan bemoediging uit Paulus se volharding onder sulke omstandighede put.

7. (a) Met watter “gevare van rowers” het Paulus te kampe gehad? (b) Hoe kan Getuies vandag soortgelyke gevare trotseer?

7 In gevare van rowers: Jesus se gelykenis van die barmhartige Samaritaan toon dat ’n eerste-eeuse reisiger ‘onder rowers kon verval wat hom sou uittrek, slaan en half dood laat lê’ (Lukas 10:25-37). Struikrowers het algemeen voorgekom in baie gebiede waardeur Paulus gereis het. Toe hy en Barnabas byvoorbeeld noordwaarts van Perge na Antiochië in Pisidië gereis het, het hulle deur bergagtige gebied vol struikrowers gereis (Handelinge 13:13, 14). Sulke gevaarlike misdadigers het slagoffers in verlate gebiede voorgelê en het nie geskroom om geweld te gebruik nie. Paulus is moontlik self deur struikrowers aangeval. Hedendaagse getuies van Jehovah het miskien met soortgelyke gevare te kampe en moet versigtig wees. Maar net soos die apostel kan hulle getrou volhard sonder om voor vrees te swig. Hulle kan seker wees van Jehovah se beskerming.—Vergelyk Psalm 56:5.

8. Waarom het mede-Jode Paulus gehaat en wou hulle hom selfs doodmaak?

8 In gevare van my volk: Paulus het ’n Messias verkondig wat aan ’n paal tereggestel en opgewek is, een wat oor die algemeen deur sy landgenote verwerp is (1 Korinthiërs 1:22-24; 2:2). Hy het bowendien verkondig dat ’n persoon nie deur werke van die Mosaïese Wet regverdig, verklaar sou word nie, maar deur geloof in Jesus Christus (Romeine 3:20; 5:18-21; 6:14). Die ander Jode het Paulus gevolglik as ’n afvallige beskou, hom gehaat en geslaan en wou hom selfs doodmaak (Handelinge 9:23-25). Die lede van sy eie ras was skynbaar ook ontsteld omdat hy nie-Jode, wat die Jode probeer het om tot hulle eie godsdiens te bekeer, tot die Christelike godsdiens bekeer het.—Mattheüs 23:15; Handelinge 17:1-10.

9. Met watter “gevare van die heidene” het die apostel te kampe gehad, maar het sulke gevare hom die swye opgelê?

9 In gevare van die heidene: Heidene of nie-Jode het Paulus ook vervolg (Handelinge 19:11-41). Trouens, sy Joodse vyande het soms nie-Jode tot geweld teen die apostel aangehits (Handelinge 14:1-7, 19, 20). Maar sulke gevare van Jode en nie-Jode het nooit daardie onverskrokke Koninkryksverkondiger die swye opgelê nie. Vervolgde Christengetuies van Jehovah preek vandag eweneens onverskrokke onder hulle volks-genote en ander.—Handelinge 17:30; vergelyk Psalm 59:2-5.

10. Hoe is Paulus “in die stad” bedreig?

10 In gevare in die stad: Paulus is op die een of ander manier vervolg in stede soos Damaskus, Jerusalem, Listre en Efese (Handelinge 9:23-30; 14:19; 19:29-31). Nie-Joodse teenstanders in Filippi het gesê dat Paulus en Silas ‘hulle stad in opskudding bring’. Die gevolg was dat daardie evangeliedienaars aldaar die slagoffers van gepeupelgeweld geword het, geslaan is en in die tronk opgesluit is (Handelinge 16:16-24). Maar dit het nie daardie Koninkryksverkondigers gekeer nie, net soos soortgelyke geweld Jehovah se Getuies in ons dag nie die swye opgelê het nie.

11. Wat was moontlik die “gevare in die woestyn”?

11 In gevare in die woestyn: Die apostel het nie sy bedrywigheid en bewegings tot digbevolkte gebiede en besige paaie beperk nie. Sy reise het hom ook deur yl bewoonde gebiede, selfs “die veld”, geneem (NTP). Dáár was die moontlikheid om van die honger om te kom, deur storms oorval te word, te verdwaal, deur wilde diere bekruip te word en deur struikrowers voorgelê te word potensiële gevare wat Paulus moedig aangedurf het.

12. Watter “gevare op see” het Paulus getrotseer, en het dit hom verhinder om sy bediening uit te voer?

12 In gevare op see: Wanneer die werk om die evangelie te verkondig of mede-gelowiges te help vereis het dat daar “in die oop see” (Today’s English Version) gereis moes word, was daar die gevaar van hewige storms asook die moontlikheid om skipbreuk te ly. Maar Paulus het nie toegelaat dat sulke gevare hom verhinder om sy bediening uit te voer nie, net soos baie van Jehovah se Getuies in ons dag moedig soortgelyke gevare verduur wanneer hulle reis om Koninkryksbelange te bevorder.

In gevaar gestel deur “valse broeders”

13, 14. (a) Wie was die “valse broeders”? (b) Waarom was die “valse broeders” veral gevaarlik? (c) Hoe is Jehovah se Getuies geestelik versterk om hulle te verdedig teen “valse broeders” wat in die gemeentes insluip?

13 ln gevare onder valse broeders: Verraderlike “valse broeders” of “skynbroers” was die allergevaarlikste, en ongetwyfeld vir Paulus ’n groot beproewing (The Kingdom Interlinear Translation of the Greek Scriptures). Sulke persone word sedert die tyd van verraderlike Judas Iskariot onder Christus se volgelinge aangetref. In Paulus se dag het hierdie “valse broeders” moontlik Korinthe se “uitnemende apostels” ingesluit. “Valse broeders” was veral gevaarlik omdat hulle hulle verraderlik voorgedoen het as vriende terwyl hulle in werklikheid ontroue verraaiers was. Sulke manne het probeer om iets te vind waarvan hulle Paulus kon beskuldig.—2 Korinthiërs 11:5, 12-14; vergelyk Daniël 6:5, 6.

14 Die “skynbroers” het persone in “die gemeentes van Galasië” ingesluit. Maar Paulus het nooit voor sulke manne geswig nie “sodat die waarheid van die evangelie by julle [sy medegelowiges] bestendig sou bly”. (Galasiërs 1:1, 2; 2:4, 5; vergelyk Judas 3, 4.) Net soos Jehovah Paulus gehelp het, versterk Hy Sy hedendaagse getuies geestelik sodat “die waarheid van die evangelie” by hulle bestendig bly. In geskrifte soos die goddelik geïnspireerde briewe aan die gelowiges in Korinthe en Galasië vind hulle die nodige geestelike hulp om hulle te verdedig teen “valse broeders” wat in die gemeentes insluip.

Ontberinge in “heilige diens”

15. Wat het Paulus in gedagte gehad toe hy gesê het dat hy “nog meer” Christus se bedienaar was “in arbeid en moeite”?

15 In arbeid en moeite: Paulus het vervolgens ontberinge gemeld wat hom “nog meer” ’n ‘bedienaar van Christus’ gemaak het as wat sy teenstanders was (Verse 23, 27). Die “arbeid en moeite” wat hier gemeld is, kon deels betrekking gehad het op uitputtende handewerk wat Paulus gedoen het om hom in die bediening te onderhou (Handelinge 18:1-4; 1 Korinthiërs 4:11, 12; 2 Thessalonicense 3:7, 8). Maar alles wat die apostel gedoen het, het om Jehovah se diens gedraai. Daarom het sy “arbeid en moeite” ongetwyfeld kragtige pogings en die gevolglike vermoeidheid weens strawwe reise, blootstelling aan die elemente, gebrek en ander ontberinge in Jehovah se “heilige diens” ingesluit.—Romeine 12:1, NW.

16. Waarom het Paulus dikwels “slapelose nagte” gehad?

16 In slapelose nagte dikwels: Omdat Paulus nie ’n finansiële las wou wees vir diegene aan wie hy die evangelie verkondig het nie, het hy “nag en dag” met sy hande gewerk, met die gevolg dat hy waarskynlik dikwels baie slaap verloor het (1 Thessalonicense 2:9). Al hierdie dinge het natuurlik verband gehou met die apostel se werk as ’n ‘bedienaar van Christus’. Sy “slapelose nagte” was nie die gevolg van bekommernis oor materiële benodigdhede nie, want Jehovah sorg dat Sy knegte hierdie dinge kry (Mattheüs 6:25-34). Maar party van daardie slapelose nagte is moontlik deurgebring in gebed of in diepe besorgdheid oor medegelowiges. (Vergelyk Lukas 6:12-16; 2 Korinthiërs 11:28, 29.) By een geleentheid het hy dit nodig gevind om die vergaderde broers “tot middernag toe”, ja, selfs dwarsdeur die nag “tot dagbreek toe”, toe te spreek (Handelinge 20:7-12). Baie van daardie slapelose nagte moes boonop die gevolg gewees het van fisiese ongemak, gevare en ander ontberinge wat die apostel verduur het terwyl hy sy bediening uitgevoer het.

17. Wanneer het die apostel “honger en dors” gely?

17 In honger en dors: Paulus kon “honger en dors” gely het terwyl hy deur verlate streke of warm woestyngebiede gereis het. Soms het hy moontlik honger en dors gehad omdat hy van vreemdelinge afhanklik was of moes leef van wat hy ook al deur sy eie arbeid in onbekende plekke kon bekom. Maar Jehovah het altyd toegesien dat Paulus aan die lewe bly, selfs al was die lewensmiddele soms skraps. “Die God van alle vertroosting” voorsien eweneens kos aan sy hedendaagse knegte.—Psalm 37:25; Lukas 11:2, 3.

18. Waarop kon “dikwels sonder ete” betrekking hê?

18 Dikwels sonder ete: Hier (vers 27) wou Paulus moontlik ’n onderskeid tref tussen onwillekeurige “honger en dors” en opsetlike onthouding van kos [letterlik “vaste” in Grieks]. By party geleenthede het hy moontlik vrywillig gevas, soos wanneer hy gebid of na baie gewigtige geestelike sake omgesien het. (Vergelyk Handelinge 13:3; 14:23.) Maar as hy slegs ontberinge hier beskryf het, het hy bedoel dat hy onwillekeurig sónder kos was, moontlik weens ’n siekte, soos disenterie, of weens gebrek in die bediening. (Vergelyk 2 Korinthiërs 6:5.) Wanneer Paulus op sekere bedieningsreise vertrek het, het hy waarskynlik besef dat kos en water skaars of onbekombaar sou wees. Maar hy het nie toegelaat dat dit hom daarvan weerhou om Christelike belange te bevorder nie.—Filippense 4:12.

19. Onder watter omstandighede kon Paulus “koue en naaktheid” ondervind het?

19 In koue en naaktheid: Koue en betreklike “naaktheid” of “blootstelling” was nog ontberinge wat die apostel verduur het (The New English Bible). Maar hy was nie “armoedig aangetrek” weens luiheid nie. Paulus het gewerk om in sy behoeftes te voorsien. (1 Korinthiërs 4:11, 12, NTP; vergelyk Handelinge 20:33, 34.) “Koue en naaktheid” was ontberinge wat die apostel verduur het terwyl hy onvoldoende geklee was tydens vervolging, wanneer hy in guur weer gereis of onder moeilike omstandighede in die bediening gearbei het.

“Volhard tot die einde toe”!

20, 21. (a) Waarom sou jy sê dat Paulus nie ’n supermens was nie? (b) Hoe kom Jehovah se Getuies vandag met die apostel Paulus ooreen?

20 Na ’n bespreking van die apostel Paulus se arbeid, lyding, reise, gevare en ontberinge, kan ’n mens hom dalk as ’n supermens beskou. Maar net soos elkeen van ons was hy ’n onvolmaakte mens (Romeine 7:21-26). Trouens, sy teenstanders in Korinthe het op hom neergesien en gesê: “[Sy] briewe . . . is wel gewigtig en kragtig, maar [sy] persoonlike teenwoordigheid is swak en [sy] woord niks werd nie” (2 Korinthiërs 10:10). Daarbenewens het Paulus ’n “doring in die vlees” gehad—moontlik ’n oogkwaal.—2 Korinthiërs 12:7; Handelinge 23:1-5; Galasiërs 4:15; 6:11.

21 As Jehovah se hedendaagse getuies is ons eweneens onvolmaak hoewel ons net soos Paulus hard probeer om God te behaag (1 Korinthiërs 9:24-27). Die wêreld sien op ons neer, net soos party op die apostel neergesien het, al toon ons ’n diepe besorgdheid oor die geestelike welsyn van ons medemens (Mattheüs 22:39). Net soos Paulus het baie van ons die een of ander kwaal. Maar dit maak ons meer afhanklik van God se krag, en in ons swakheid word sy krag besonder opvallend onder diegene vir wie ons preek.—2 Korinthiërs 12:7-10.

22. (a) Hoe word ons deur Jehovah vertroos indien daar van ons vereis word om “ter wille van die geregtigheid” te ly? (b) Alleenlik hoe kan ons “volhard tot” einde toe?

22 Dit ly geen twyfel nie dat krag van bo Paulus onderskraag het reg tot met sy dood as ’n onvolmaakte maar getroue kneg van Jehovah (2 Korinthiërs 4:7; 2 Timotheüs 4:6-8). Dit is eweneens slegs in God se krag dat ons ‘kan volhard tot die einde’ van hierdie goddelose stelsel of tot ons dood in getrouheid (Psalm 29:11; Mattheüs 10:28; 24:3, 13; Markus 13:13). As daar van ons vereis word om te ly “ter wille van die geregtigheid” word ons grootliks vertroos deur Jehovah se heilige gees, sy kosbare beloftes en sy antwoorde op ons gebede. Sulke dinge verseker ons dat “die God van alle vertroosting” met ons is. Net soos die apostel Paulus is ons “verleë, maar nie radeloos nie; vervolg, maar nie verlate nie; neergewerp, maar nie vernietig nie” (2 Korinthiërs 4:8, 9). Ons God stel ons in staat om die evangelie ondanks vervolging en ontbering onverskrokke te verkondig. En in Jehovah se krag kan ons gewis “volhard tot die einde toe”.

Kan jy nou hierdie vrae beantwoord?

◻ Wat word bedoel met ‘volharding tot die einde toe’?

◻ Van watter soort reise het die apostel Paulus gepraat toe hy gesê het dat hy “dikwels op reis” was?

◻ Hoe is die apostel bedreig deur “valse broeders”, en hoe is Jehovah se hedendaagse getuies beestelik versterk teen sulke persone?

◻ Onder watter omstandighede het Paulus “honger en dors” sowel as “koue en naaktheid” ondervind?

◻ Hoe is dit moontlik om te “volhard tot die einde toe” al is ons onvolmaak, net soos Paulus was?

[Prent op bladsy 26]

Tydens sy bedieningsreise was Paulus dikwels in gevare van rowers

[Prent op bladsy 27]

Paulus was in gevare van die heidene, soos in Listre

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel